‘En toe val die muur’
“WIE sou dit ooit kon glo?” “Ek het nooit gedink ek sou dit in my lewe sien nie!” Wat het hierdie kommentare uitgelok? Die feit dat daar in November 1989 begin is om die bekende Berlynse Muur en alles wat daardeur voorgestel word, af te breek.a Oos-Berlyners het in Wes-Berlyn ingestroom, sommige om ’n voorsmaak te kry van die duur genietinge van die kapitalisme en ander om as families herenig te word.
Daardie gat in die dyk het ’n stortvloed veroorsaak. Baie het gemeen dat Oos-Europa nooit weer dieselfde sou wees nie.
Het die Koue Oorlog geëindig?
Van veel groter belang as die val van die Berlynse Muur is die ineenstorting van die ideologiese muur wat die Ooste van die Weste geskei het. Eensklaps is daar feitlik geen Koue Oorlog nie. Soos David Hackworth, ’n afgetrede kolonel in die Amerikaanse leër, in Newsweek geskryf het: “Die Koue Oorlog is verby. Selfs die onversetlike haters van die kommunisme erken nou dat dit verby is.”
Volgens die Duitse koerant Stuttgarter Zeitung het selfs NAVO (Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie), in ’n vergadering wat in Julie 1990 in Londen gehou is, erken dat die Koue Oorlog verby is. Onder die titel “Atlantiese Alliansie sê die era van die koue oorlog finaal vaarwel”, haal The German Tribune die Stuttgartse koerant soos volg aan: “Na 41 jaar van konfrontasie [met die Sowjetbloknasies] het die 16 Navo-leiers die weg gebaan vir ’n nuwe strategie en die era van die koue oorlog ’n laaste vaarwel toegeroep. . . . Vyandigheid sou deur samewerking vervang word. . . . Veiligheid en stabiliteit . . . sou nie meer hoofsaaklik deur militêre metodes verseker word nie, maar deur ’n beleid van balans, gesprekvoering en samewerking deur die hele Europa.” Die konfliktoneel het nou van Europa na die Midde-Ooste verskuif.
Demokrasie het sy prys
Demokrasie, die sogenaamde vrye keuse vir die volk, is die jongste politieke mode. En byna almal volg dié mode. Maar daar is ’n prys wat betaal moet word. ’n Vriendeliker verhouding tussen die Ooste en die Weste en sy kapitalistiese demokrasie is nie goedkoop nie. ’n Hoofartikel in Asiaweek het gesê: “Die lande van wat nie meer heeltemal die Sowjetblok genoem kan word nie, is in ’n ekonomiese warboel . . . Demokrasie kom teen ’n prys. . . . Demokrasie het baie deugde, maar volmaakte stabiliteit is nie een daarvan nie.” Wie betaal die prys vir hierdie veranderinge na ’n vryer, demokratiese gemeenskap, soos dit genoem word?
Miljoene in Pole, oostelike Duitsland en elders kom agter dat die beweging van ’n staatsbeheerde ekonomie na ’n vryemarkstelsel aanvanklik werkloosheid en teenspoed meebring. Wanneer nywerhede probeer om te moderniseer en meer mededingend te word, tree oortolligheid in. Ander sektore van die gemeenskap word ook ernstig geraak—die leër en die wapenbedryf. Hoe so?
Namate die wedersydse vrees en vyandigheid tussen die Ooste en die Weste afneem, neem die behoefte aan ontsaglike leërs ook af. Honderdduisende soldate en hulle gesinne sal hulle nou moet aanpas by die burgerlike lewe en al sy druk. Verdedigingsbegrotings word dalk besnoei. Bestellings aan wapenfabrieke word dalk minder, en die vervaardigers moet dalk ’n verskeidenheid van produkte vervaardig. Werkers moet dalk na ander gebiede trek en nuwe vaardighede aanleer.
Hierdie ongelooflike en onstuimige ommekeer in Oos-Europa het ’n wesenlik nuwe internasionale situasie geskep. Hoe het dit alles gebeur?
Betekenisvolle woorde, betekenisvolle veranderinge
Die Sowjetunie se veranderde gesindheid van nie-inmenging was deurslaggewend in hierdie veranderinge. In die verlede het die herinnering aan die Sowjetinvalle in Hongarye (1956) en Tsjeggo-Slowakye (1968) hervormingsmagte in Oos-Europa in toom gehou. Maar Pole se ondervinding in die tagtigerjare met die uitdaging van die Solidariteitsbeweging en die land se geleidelike beweging na ’n demokratieser regering het getoon dat die vorige Sowjetbeleid van militêre inmenging verander het. Pole se ondervinding het getoon dat daar wel krake in die Kommunistiese monoliet was en dat vreedsame, geleidelike verandering bereik kon word, teen ’n prys. Maar waardeur is dit alles moontlik gemaak?
Volgens party politieke kommentators was die pragmatiese beleid van die leierskap in die Sowjetunie onder leiding van die president van die USSR, Mikhail Gorbatsjof, fundamenteel tot al die veranderinge in Oos-Europa. In Februarie 1990 het hy gesê: “Die Kommunistiese Party in die Sowjetunie het met perestroika [herstrukturering van die gemeenskap] begin en die konsep en beleid daarvan ontwikkel. Ingrypende revolusionêre veranderinge wat alle sfere van die lewe en alle bevolkingsdele insluit, is op grond hiervan in die land van stapel gestuur. . . . Vinnige veranderinge, buitengewoon in omvang en oorspronklikheid, vind binne die raamwerk van perestroika plaas.”
Soos Asiaweek gesê het: “Vandag het [Gorbatsjof se] veldtogte vir glasnost (openheid) en perestroika (herstrukturering), ondanks ’n paar terugslae, hervormers in Hongarye, Pole en oral in die Sowjetblok aangemoedig.” Hierdie twee betekenisvolle Russiese woorde, glasnost en perestroika, is in die wêreld se woordeskat opgeneem sedert Gorbatsjof in 1985 in die Sowjetunie aan bewind gekom het. Hulle het ’n nuwe gesindheid teenoor regering in die kommunistiese wêreld verteenwoordig.
Politieke kommentator Philippe Marcovici, wat in die konserwatiewe Franse tydskrif Le Quotidien de Paris oor die veranderinge in Tsjeggo-Slowakye geskryf het, het gesê dat hulle tot stand gekom het “deur Moskou se toedoen, want een ding is duidelik: Die Russe het dit nie net laat gebeur nie; hulle het gesorg dat Tsjeggo-Slowakye, soos die ander volksdemokrasieë, uit die dwangbuis waarin dit beperk was, sou uitbreek. . . . In Praag sowel as Oos-Berlyn het massabetogings aanleiding gegee tot verandering; betogers het die owerhede gedwing om te kapituleer en te onttrek.”
Demokrasie en onafhanklikheid het gevolglik, soos ’n politieke berg St. Helens wat ontplof, in ’n kwessie van ’n paar maande oor die hele Oos-Europa uitgebars—Pole, Oos-Duitsland, Hongarye, Tsjeggo-Slowakye, Bulgarye en Roemenië.
Duitse hervereniging—’n Seën of ’n vloek?
Dit is ’n vraag wat baie in Europa hulle nou afvra. Die twee Duitslande het in Julie 1990 dieselfde geldeenheid begin gebruik en het in Oktober politieke eenheid verkry. Hoewel miljoene hulle daaroor verheug, laat dit ook baie in Europa bewe. Dit sluit party in oostelike Duitsland in wat hulle huis dalk aan die vorige eienaars in westelike Duitsland sal moet afstaan. Ondanks bedenkinge wat deur party Britse leiers uitgespreek is, het een opskrif in ’n Britse koerant gesê: “Ons sal die pasgebore Duitsland eenvoudig moet vertrou.”
Die Sowjetunie, wat verskriklike en duur invalle aan die hand van Napoleon (1812) en Hitler (1941) deurgemaak het, wou aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog sy veiligheid met ’n buffersone in Oos-Europa waarborg. Gevolglik is die Sowjetblok van agt Oos-Europese kommunistiese lande binne ’n paar jaar na 1945 gevorm.b Die Sowjetunie voel nou minder bedreig deur Duitsland of die Verenigde State, en sy ystergreep op die vorige satellietlande het verslap. Dit lyk asof die Ystergordyn, wat in 1946 die naam by Churchill gekry het, gesmelt het, en nuwe lig nou deurgelaat word.
Hoe hierdie veranderinge jou kan raak
Ons het alreeds party ekonomiese gevolge van hierdie veranderinge vir baie lande genoem—nuwe werk, nuwe omgewings en nuwe vaardighede vir party. Baie ander sal werkloos wees en swaar kry. Dit is ’n neweproduk van die filosofie van die vryemarkwêreld—oorlewing van die geskikste.
Daarenteen laat die verandering na demokratisering ’n vryer beweging van mense toe. En dit beteken internasionale toerisme. Soos ander lande (byvoorbeeld Spanje en Italië) gedurende die afgelope 30 jaar agtergekom het, kan buitelandse toerisme vir enige regering ’n groot verskil maak in ’n probleem met die betalingsbalans. Miljoene in die Weste is gretig om die beroemde stede van Oos-Europa te besoek, stede wie se name ’n vervloë tydperk van glorie te voorskyn roep—Boedapest, Praag, Boekarest, Warschau en Leipzig, om net ’n paar te noem. Mense wil ook Leningrad, Moskou en Odessa vryelik kan besoek. Mense van Oos-Europa wil insgelyks die Weste besoek. Internasionale toerisme ruim beslis vooroordeel en onkunde uit die weg. Soos menige toeris al ontdek het, kan dit vyandigheid gou laat verdwyn as ’n mens ’n strand met ’n sogenaamde vorige vyand deel.
Daar is ’n ander aspek van die gevalle Muur waarin miljoene mense belangstel—die moontlikheid van vrye omgang met hulle medegelowiges in ander lande. In watter mate sal dit moontlik wees? Watter veranderinge vind nou op godsdiensgebied in Oos-Europa plaas? Die volgende artikel sal hierdie en ander vrae bespreek.
[Voetnote]
a Die Berlynse Muur, wat 47 kilometer lank was en Oos- en Wes-Berlyn van mekaar geskei het, is in 1961 deur Oos-Duitsland opgerig om die uittog van vlugtelinge na die Weste te stuit.
b Die agt lande was Tsjeggo-Slowakye, Hongarye, Roemenië, Bulgarye, Pole, Oos-Duitsland, Albanië en Joego-Slawië.
[Kaart op bladsy 5]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
DUITSLAND
Berlyn
JOEGO-SLAWIË
HONGARYE
POLE
ROEMENIË
TSJEGGO-SLOWAKYE
ALBANIË
BULGARYE
USSR