Vrae van lesers
◼ Wat was “die goeie” in Romeine 7:19 wat die apostel Paulus gesê het hy nie kon doen nie?
Paulus het hoofsaaklik gepraat van sy onvermoë om al die goeie dinge in die Mosaïese Wet te onderhou. Weens onvolmaaktheid en sonde was dit onmoontlik vir Paulus en alle ander mense, met inbegrip van ons. Maar daar is geen rede om moed te verloor nie. Christus se offer het die weg gebaan vir vergifnis deur God en dat ons ’n goeie naam by Hom kan verkry.
Romeine 7:19 sê: “Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek.” Die konteks toon dat Paulus hoofsaaklik van “die goeie” gepraat het in die sin van wat deur die Wet bepaal is. Hy het in vers 7 gesê: “Is die wet sonde? Nee, stellig nie! Inteendeel, ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie; want ek sou ook die begeerlikheid nie geken het nie as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie.” Ja, die Wet het duidelik getoon dat alle mense sondaars is, aangesien hulle dit nie heeltemal kon onderhou nie.
Paulus het voorts gesê dat hy ‘vroeër sonder die wet gelewe het’. Wanneer was dit? Wel, dit was toe hy in Abraham se lendene was voordat Jehovah die Wet gegee het. (Romeine 7:9; vergelyk Hebreërs 7:9, 10.) Die Wet was nog nie gegee nie, gevolglik kon Abraham, al was hy onvolmaak, nie aan sy sondigheid herinner word deur sy onvermoë om al die gebooie daarvan te onderhou nie. Beteken dit dat, toe die Wet eers gegee is en dit die menslike onvolmaaktheid geopenbaar het, dit slegte resultate tot gevolg gehad het? Nee, Paulus sê voorts: “Dus is die wet heilig en die gebod is heilig en regverdig en goed.”—Romeine 7:12.
Let daarop dat Paulus die Wet as “heilig” en “goed” beskryf het. In die volgende verse het hy verduidelik dat “die goeie”—die Wet—dit duidelik gestel het dat hy ’n sondaar is en dat hy as gevolg van hierdie sonde die dood verdien het. Paulus het geskryf: “Die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon.”—Romeine 7:13-20.
Paulus het dus in hierdie konteks nie van goedheid oor die algemeen of eenvoudig net van goeie dade gepraat nie. (Vergelyk Handelinge 9:36; Romeine 13:3.) Hy het veral daarvan gepraat om dinge te doen (of nie te doen nie) wat met God se goeie Wet strook. Hy het voorheen die Joodse geloof ywerig beoefen, en hy was—in vergelyking met ander—“onberispelik”. Maar al was hy na sy mening ’n pligsgetroue slaaf van daardie goeie Wet kon hy nogtans nie heeltemal daaraan gehoorsaam bly nie (Filippense 3:4-6). Die Wet het God se volmaakte standaarde weerspieël en aan die apostel getoon dat hy nog in sy vlees ’n slaaf van die wet van die sonde was en dus tot die dood veroordeel was. Maar Paulus kon dankbaar wees dat hy deur Christus se offer regverdig verklaar is—gered van die wet van die sonde en van sy gepaste gevolg, ’n doodsvonnis.—Romeine 7:25.
Hedendaagse Christene is nie onder die Mosaïese Wet nie, aangesien dit aan die folterpaal genael is (Romeine 7:4-6; Kolossense 2:14, NW). Dit is nietemin goed as ons besef dat dit nie ’n swaar stel reëls is wat ons maar net kan vergeet nie. Nee, die Wet was in wese goed. Ons het dus rede om die Bybelboeke wat die Wet bevat te lees en te leer wat dit van Israel vereis het. Jehovah se Getuies in alle wêrelddele sal dit binnekort deur middel van hulle weeklikse Skriflesing doen.
Terwyl ons die Wet lees, moet ons peins oor die onderliggende beginsels van sy verskeie wette en oor die voordele wat God se volk verkry het toe hulle daardie goeie gebooie probeer onderhou het. Ons moet ook besef dat ons onvolmaak is en dus nie die goeie wat ons uit God se Woord leer heeltemal sal kan toepas nie. Maar terwyl ons teen die wet van die sonde stry, kan ons ons verheug oor die vooruitsig om gered te word omdat Christus se offer ten behoewe van ons aangewend word.