’n Bediening vir jou?
JEHOVAH het sy vrygewigheid getoon deur die aarde volmaak toe te rus sodat ons die lewe kan geniet. Hy het hierdie voorsienings selfs ná Adam en Eva se opstand grootmoediglik laat bly. Boonop het hy sy oorvloedige liefde getoon deur sy Seun te stuur om gelowige mense van die rampspoedige gevolge van sonde te red.—Mattheüs 5:45; Johannes 3:16.
Hoe kan ons op sulke liefde reageer? Jesus het gesê dat ons Jehovah ons God uit ons hele hart, siel, verstand en krag moet liefhê. Dit gee te kenne dat ons hom aanbidding en lojaliteit verskuldig is en dat ons in ooreenstemming met sy wil moet lewe.—Markus 12:30; 1 Petrus 4:2.
Maar wat behels dit om God se wil te doen? Is daar ’n diens wat ons aan hom kan lewer—’n bediening waarin ons ’n aandeel behoort te hê?
’n Behoefte aan bedienaars
Die kerke het mense verwar oor hoe om God te aanbid en te dien. Maar die Bybel toon dat daar net een ware godsdiens is, “een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal”. Jesus het gesê dat “die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid”. Daarom word hulle vermaan om “almal eenstemmig [te] wees, en dat daar geen skeuringe onder [hulle] moet wees nie”.—Efesiërs 4:3-6; Johannes 4:23; 1 Korinthiërs 1:10.
Verwarring oor wat die ware godsdiens is, het in Eden ontstaan toe Satan die regmatigheid van Jehovah se soewereiniteit betwis het deur God se manier van regeer te bevraagteken (Genesis 3:1-6, 13). Satan handhaaf nou hierdie teenstand teen God met vervalste leringe wat versprei word deur bedrieglike godsdiensleraars wat “hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid”. Die Bybel sê dus: “Geliefdes, glo nie elke gees [“geïnspireerde uiting”, NW] nie . . . want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.”—2 Korinthiërs 11:14, 15; 1 Johannes 4:1.
Gelukkig het God stappe gedoen om hierdie geskil omtrent heerskappy te besleg. Aangesien hy sy Seun gestuur het om die mensdom los te koop, het hy Jesus nou aangestel as Koning van God se hemelse Koninkryk en hom met die gesag beklee om Satan en sy profete, of bedienaars, te vernietig. Dit sal verseker dat God se wil op die aarde geskied, tot ewige seën vir gehoorsame mense.—Daniël 7:13, 14; Hebreërs 2:9.
Satan het hierdie waarhede verbloem (2 Korinthiërs 4:4). Daarom is dit nodig dat ons bedienaars van God moet wees en Satan se valshede blootlê en vir die waarheid getuig. Jehovah dwing ons nie in hierdie diens in nie. Hy wil hê dat ons, soos Jesus, ons gewillig moet aanbied uit waardering vir hom en vir wat hy vir ons gedoen het.—Psalm 110:3; Hebreërs 12:1-3.
Die Christelike bediening
Jesus het “die een stad en dorp ná die ander deurgereis en gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig” (Lukas 8:1). Hy het ook sy dissipels opgelei om bedienaars soos hy te wees en het hulle uitgestuur om te preek (Mattheüs 10:1-14, 27). Later het hy hulle beveel om die bediening tot aan die uiterste van die aarde voort te sit.—Mattheüs 28:19; Handelinge 1:8.
Hierdie opdrag is bindend vir ware Christene, en God se gees motiveer hulle om te preek. Soos met Pinkster 33 G.J. aanvaar almal wat die goeie nuus aanneem die verantwoordelikheid om hulle geloof in die openbaar bekend te maak.—Handelinge 2:1-4, 16-21; Romeine 10:9, 13-15.
Die meeste mense kan hulleself egter nie as bedienaars sien nie. Peter, een van Jehovah se Getuies, sê: “In Duitsland beskou die mans dit dikwels as benede hulle waardigheid om oor godsdiens te praat. ‘Dit is die geestelikes se taak’, sê hulle.” Volgens Tony, wat al dekades lank ’n sendeling is, sê mense in Engeland: “Wat julle sê is goed, en ek dink Jehovah se Getuies is goeie mense. Maar om van huis tot huis te preek—ek sal dit eenvoudig nie kan doen nie.” Ben het die Bybel ’n tyd lank saam met ’n Nigeriese man gestudeer wat vir hom gesê het: “Ek kan myself nie van huis tot huis sien preek nie; maar ek kan vir julle gemeente geld gee om diegene te help wat bereid is om dit te doen.” Ja, die meeste mense kom die geloof en oortuiging kort wat nodig is vir die Christelike bediening.
Openbare prediking is nietemin die verantwoordelikheid van almal in die Christengemeente, ongeag ouderdom of geslag. Dit geld nie net vir die ouere manne en die bedieningsknegte wat ‘die leiding neem’ nie, maar ook vir Christene oor die algemeen. Almal word vermaan om “aan God ’n lofoffer [te] bring, naamlik die vrug van lippe wat sy naam in die openbaar bekendmaak. . . . Wees gehoorsaam aan hulle wat onder julle die leiding neem.”—Hebreërs 13:15, 17, NW.
Toe Jesus ’n gemengde skare in sy Bergpredikasie toegespreek het, het hy gesê: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.” By ’n ander geleentheid het hy getoon dat die uitvoering van God se wil ook behels dat ’n mens vir ongelowiges preek. Sy dissipels het by hom aangedring om op te hou om vir sekere Samaritane te preek sodat hy kon eet, maar hy het gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring.”—Mattheüs 7:21; Johannes 4:27-38.
Behoort dit jou loopbaan te wees?
Mense verkies gewoonlik om materiële voedsel en rykdom na te jaag. Maar vroeër in die Bergpredikasie het Jesus sy luisteraars afgeraai om sulke dinge gretiglik na te jaag. “Maar”, het Jesus gesê, “maak vir julle skatte bymekaar in die hemel . . . Soek eers die koninkryk van God en [God se] geregtigheid.”—Mattheüs 6:20, 33.
As ons die Koninkryk eerste stel, beteken dit dat ons nie toelaat dat ander belange ons bediening oorskadu nie. Dit beteken egter nie dat alle ander dinge uitgesluit moet word nie. Die Bybel vermaan ons byvoorbeeld om nie werklike gesinsverpligtinge te verwaarloos nie. Ons het sulke verpligtinge met alle mense gemeen. As ons hulle verwaarloos, tree ons op ’n manier op wat strydig is met die Christelike geloof (1 Timotheüs 5:8). Ons moet nietemin ons uiterste bes in die bediening doen, terwyl ons steeds ons ander verantwoordelikhede op ’n gebalanseerde wyse nakom.
Jesus het gesê: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word . . . tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). Die konteks van daardie profesie plaas sy vervulling in ons dag. Sedert 1914 is die goeie nuus die feit dat daardie Koninkryk volmag ontvang het om ten gunste van Jehovah se soewereiniteit en teen Satan en sy wêreld op te tree (Openbaring 11:15-18). Ons behoort ernstig oor die implikasies hiervan na te dink. Die einde gaan kom, en ons moet die predikingswerk voor daardie tyd afhandel. Lewens is op die spel; ons kan baie van hulle help red.
Streef na ’n volwaardiger bediening
Baie van Jehovah se Getuies bestee tien uur of meer elke maand daaraan om die goeie nuus aan ander te verkondig. Duisende bestee twee uur of meer per dag aan die predikingswerk as hulppioniers, en ander dien voltyds as gewone en spesiale pioniers. Hulle besef die noodsaaklikheid van hierdie werk en wil die groots moontlike aandeel daarin hê om die werk te voltooi voor die einde van hierdie ongelukkige wêreld aanbreek.
Is jy reeds ’n bedrywige Getuie van Jehovah? Streef dan na ’n voller aandeel in die bediening. Verbeter jou bekwaamheid in die predikings- en onderrigtingswerk, en probeer om meer in die bediening te bereik. Indien jou omstandighede jou toelaat om ’n pionier te word, kan jy dit gerus doen. As jou omstandighede jou werklik nie toelaat om dit te doen nie, moedig dan diegene wat dit kan doen aan om na hierdie diensvoorreg te streef.
As jy nie ’n toegewyde Getuie van Jehovah is nie, moet jy nie sê dat die bediening nie vir jou is nie. ’n Ander man met die naam Peter, ’n meganiese ingenieur, het sterk beswaar gemaak teen die feit dat sy vrou die goeie nuus aan ander verkondig. “Hoe kan ek toelaat dat my vrou van huis tot huis preek?” het hy gevra. Nadat hy haar standvastigheid ten opsigte van God se woord jare lank waargeneem het, het hy ook besluit om die Bybel te bestudeer. Nou is hy, net soos sy vrou, ’n toegewyde, gedoopte bedienaar van die goeie nuus.
Jy moet jou dus nie die voorreg ontneem om Jehovah te dien nie. Ons moedig jou aan om die Bybel te bestudeer en om met ware Christene by hulle vergaderinge te assosieer. Dit sal jou help om jou lewe ooreenkomstig God se geregtigheid te vorm en om ’n vaste geloof in sy voornemens op te bou. As jy vordering hierin maak, sal jy ook aan die vereistes voldoen om ’n bedienaar van God te word. Dan sal jy die voorreg hê om ’n aandeel te hê in die uitvoering van hierdie bevel van Jesus: “Gaan dan heen, maak dissipels . . . leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”—Mattheüs 28:19.
Ja, daar is ’n bediening waaraan jy kan deelneem, en dit is belangriker as ooit dat jy dit doen.
[Venster op bladsy 25]
’n Verpleegster met ’n gesin waarvoor sy moet sorg, sê: “Ek reis elke dag meer as ’n uur na die hospitaal waar ek werk, en daarom het ek gedink dat ek nie hulppionierdiens sal kan doen nie. Maar ek het my bedrywighede sorgvuldig gereël sodat ek elke oggend voor ek werk toe gaan, gedurende etenstye en op vry dae in die veldbediening kon uitgaan. Jy kan jou net my vreugde voorstel toe ek aan die einde van een maand 117 uur aan die predikingswerk bestee het! Ek het 263 tydskrifte geplaas, 22 intekeninge op die tydskrifte verkry en het drie Bybelstudies begin.”
[Venster op bladsy 27]
Michael het sewe jong kinders en beklee ’n verantwoordelike pos aan ’n Nigeriese kollege. Hy is ook ’n ouere man in die Christengemeente. Hy spreek die beskouing van duisende Getuies uit:
“Ek beskou die bediening as my loopbaan en hou altyd in gedagte dat Paulus gesê het: ‘Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei.’ Ek en my vrou ‘plant’ tydens kort besprekings van die goeie nuus van huis tot huis. Ons ‘maak nat’ deur, soos Jesus ons beveel het, terug te gaan na belangstellendes toe om hulle uit die Bybel te leer. Weeklikse tuisbybelstudies het al baie mense gehelp—in party gevalle hele gesinne—om die waarheid te leer ken.”