Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 2/1 bl. 29-30
  • ‘Sy liefderyke goedhartigheid het magtig geblyk’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Sy liefderyke goedhartigheid het magtig geblyk’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • In die leër en daarna
  • My lewe verander
  • Die voltydse bediening
  • Ek dien met my hele siel ondanks beproewinge
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Kan jy dien waar meer Koninkryksverkondigers nodig is?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Toe bloed in die naam van Christus vergiet is
    Ontwaak!—2005
  • Die pous se besoek aan Mexiko—Sal dit die Kerk tot nut strek?
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 2/1 bl. 29-30

‘Sy liefderyke goedhartigheid het magtig geblyk’

SOOS VERTEL DEUR JOSÉ VERGARA OROZCO

Dink jy jou lewe kan op 70 met iets gevul word wat nuwe betekenis daaraan gee? Dit is wat met my gebeur het. En dit was meer as 35 jaar gelede.

Deur Jehovah se liefderyke goedhartigheid dien ek reeds van 1962 af as ’n gewone pionierbedienaar, en van 1972 af is ek ’n opsiener in die El Carrizal-gemeente van Jehovah se Getuies in die staat Jalisco, Mexiko. Kom ek vertel julle so ’n ietsie van my agtergrond.

EK IS op 18 Augustus 1886 in die staat Michoacán, in Mexiko, gebore. My vader was ’n Vrymesselaar, daarom het ons gesin nie na die Katolieke Kerk gegaan nie, en ons het ook nie aan enige Katolieke godsdiensvieringe deelgeneem of enige gewyde beelde in ons huis gehad nie.

Toe ek 16 was, het my vader in die Verenigde State gaan werk, maar hy het gereël dat ’n man my ’n ambag sou leer. Die man het my egter twee jaar later na Mexikostad geneem sodat ek aan ’n krygsakademie opleiding kon ontvang. Daarna het ek ’n loopbaan in die Mexikaanse leër gevolg.

In die leër en daarna

Ek het in die Mexikaanse Revolusie geveg wat in 1910 uitgebreek het. Ons jong mans aan die akademie het almal Francisco I. Madero ondersteun, wat ’n opstandeling teen die diktatorskap van Porfirio Díaz was. Ons het Madero tot sy dood in 1913 ondersteun, en daarna het ons Venustiano Carranza ondersteun wat van 1915 tot 1920 die president van die Republiek was. Ons is Carranzistas genoem.

Ek het by vier verskillende geleenthede sonder welslae probeer om my ontslag uit die leër te kry. Op die ou end het ek gedros en ’n voortvlugtige geword. Dit het daartoe gelei dat my vader, wat al na Mexiko teruggekeer het, in hegtenis geneem is. Ek het eendag voorgegee dat ek sy neef is en hom in die gevangenis besoek. Ons het gesels deur op stukkies papier te skryf sodat die wagte ons nie kon hoor nie. Om te verhoed dat iemand uitvind wie ek is, het ek die papier geëet.

Nadat my vader uit die gevangenis vrygelaat is, het hy my besoek en gevra dat ek my aan die owerheid moet oorgee. Ek het dit gedoen, en tot my verbasing het die generaal in bevel my nie in hegtenis geneem nie. Hy het my daarenteen aangeraai om na die Verenigde State te verhuis. Ek het sy raad gevolg en van 1916 tot 1926 daar gewoon.

In 1923 is ek met ’n Mexikaanse vrou getroud wat ook in die Verenigde State gewoon het. Ek het ’n ambag in die boubedryf geleer, en ons het ’n babadogtertjie aangeneem. Sy was 17 maande oud toe ons na Mexiko teruggekeer en in Jalpa, Tabasco, gaan woon het. Toe het die ‘Cristero-opstand’ begin, en dit het van 1926 tot 1929 geduur.

Die Cristeros wou hê dat ek by hulle moes aansluit. Ek en my gesin het egter verkies om eerder na die staat Aguascalientes te vlug. Nadat ons op verskeie plekke in die Mexikaanse republiek gewoon het, het ons ons in 1956 in Matamoros, Tamaulipas, gevestig, waar ek as ’n opsiener oor boubedrywighede begin werk het.

My lewe verander

Dit is toe dat my lewe begin verander het. My dogter, wat teen hierdie tyd getroud was en oorkant die grens in Brownsville, Texas, VSA, gewoon het, het ons dikwels besoek. Eendag het sy gesê: “Paps, baie gesinne kom op die oomblik in die gemeenskapsaal byeen. Kom ons gaan kyk wat is daar aan die gang.” Dit was ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies. Ek en my vrou, dogter, skoonseun en kleinseun het ál vier dae van die byeenkoms bygewoon.

Van daardie jaar af het ons die Christelike vergaderinge van Jehovah se Getuies begin bywoon. Ek het in Mexiko geestelik vordering gemaak, terwyl my dogter dieselfde in die Verenigde State gedoen het. Ek het gou die Bybelwaarhede wat ek geleer het aan my werksmaats begin verkondig. Ek het van elke nommer van Die Wagtoring en die Ontwaak! tien tydskrifte ontvang, wat ek onder my werksmaats versprei het. Vyf van die kantoorpersoneel en drie van die ingenieurs, asook sommige van die ander werkers, het Getuies geword.

Mense, maar dit was vir jou koud daardie 19de Desember 1959 toe ek in die rivier gedoop is! Almal wat daardie dag gedoop is, het siek geword omdat die water so ontsettend koud was. My dogter was reeds gedoop toe ek gedoop is, en my vrou het, hoewel sy nooit gedoop is nie, so goed gevorder dat sy Bybelwaarhede geken het, en sy was baie behulpsaam.

Die voltydse bediening

Ek het gevoel dat ek soveel aan God verskuldig was vir al sy liefderyke goedhartigheid, daarom het ek in Februarie 1962, toe ek 75 jaar was, as ’n pionier in die voltydse bediening getree. ’n Paar jaar later, in 1968, is my vrou oorlede. Toe wou ek in ’n ander land gaan dien, maar weens my ouderdom het die broers gemeen dat dit nie raadsaam sou wees nie. In 1970 is ek egter as pionier na Colotlán in die staat Jalisco gestuur, waar daar ’n klein gemeentetjie was.

In September 1972 het die kringopsiener aanbeveel dat ek na die dorpie El Carrizal gaan, wat naby Colotlán geleë is. In November daardie jaar is daar ’n gemeente gestig en is ek as ’n ouere man aangestel. Al is dit ’n baie afgesonderde dorpie woon tot 31 die gemeentelike vergaderinge by.

Ondanks my ouderdom is ek nog bedrywig in die bediening en probeer my bes om mense te help om oor hulle geloof te redeneer. In die Rosekrans herhaal opregte Katolieke byvoorbeeld die weesgegroet: ‘Wees gegroet, Maria, begenadigde! Die Here is met jou.’ Dan lui die gebed verder: ‘Heilige Maria, Moeder van God.’ Ek vra hulle: ‘Hoe kan dit wees? As God die een is wat Maria red, hoe kan Hy dan terselfdertyd haar seun wees?’

Ek is nou 105 en dien reeds bykans 20 jaar as ’n ouere man en ’n gewone pionier in El Carrizal, Jalisco. Ek glo dit is deur Jehovah se toedoen dat ek so lank gelewe het, want op hierdie manier kan ek vergoed vir die tyd wat ek verloor het toe ek Hom nie gedien het nie.

Een ding wat ek geleer het, is dat ons altyd die volle vertroue moet hê dat ons Opperregter van sy regverdige troon af sy oë op ons hou en in ons behoeftes voorsien. Soos Psalm 117:2, (NW), sê: “Teenoor ons het sy liefderyke goedhartigheid magtig geblyk.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel