Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 8/22 bl. 12-14
  • Toe bloed in die naam van Christus vergiet is

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Toe bloed in die naam van Christus vergiet is
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die ontstaan van die konflik
  • Oorlog breek uit
  • Die einde van die oorlog
  • Wat het dit bereik?
  • Hoe reageer Christene op onderdrukking?
  • Mexiko verander sy godsdienswette
    Ontwaak!—1994
  • ‘Sy liefderyke goedhartigheid het magtig geblyk’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Die pous se besoek aan Mexiko—Sal dit die Kerk tot nut strek?
    Ontwaak!—1990
  • Waarom verloor die kerk sy invloed?
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 8/22 bl. 12-14

Toe bloed in die naam van Christus vergiet is

Deur Ontwaak!-medewerker in Mexiko

“By die mis het die priesters van die preekstoel af geskree: ‘Seuns van die heilige Moederkerk, tree toe tot die stryd! Die regering wil die kerke oorneem!’”—Pedro Rosales Vargas, ’n ooggetuie.

WAAROM sou godsdienstige mense die wapen opneem ter verdediging van hulle oortuigings? Wat kan gebeur as mense hulle tot geweld wend om hulle godsdiens te verdedig? Mexiko se Cristero-rebellie, wat ook die Cristeros genoem word—vernoem na diegene wat daaraan deelgeneem het—gee ons insig in hierdie vrae.

Die Enciclopedia Hispánica verduidelik: “Cristeros is die naam wat gegee is aan Mexikaanse Katolieke wat in 1926 teen president Plutarco Elías Calles in opstand gekom het weens sekere stappe wat hy teen die kerk gedoen het, soos om godsdienssentrums en -geboue te sluit.” Aanvanklik was dit die regering wat die rebelle Cristeros genoem het, weens hulle strydkreet: “Lank lewe Christus die Koning!” Die konflik het egter heelwat vroeër ontstaan.

Die ontstaan van die konflik

Die Hervormingswette, wat in die 1850’s aangeneem is, is uiteindelik in 1917 bekragtig. Die oogmerk van die wette was onder andere “om eiendom wat aan die kerk behoort het, te nasionaliseer” (Historia de México). Die regering het hierdie wette gemaak om die vermeerdering van rykdom en grond deur die Katolieke Kerk te beperk. Die bekragtiging van die wette is gou gevolg deur sterk protes deur die geestelikes. Die regering het gereageer deur ’n aantal priesters in hegtenis te neem.

Een van die doelwitte van die Mexikaanse Revolusie (1910-20) was om grond aan die armes te voorsien. Die nuwe wette het dus voorgestel dat grond van groot grondeienaars gekonfiskeer word en in ’n proses van landhervorming onder die armes verdeel word. Die meeste van die geestelikes wou in hierdie saak tussenbeide tree. Invloedryke geestelikes wat groot stukke grond besit het, is per slot van rekening deur die nuwe wette geraak. Die kerk het beweer dat dit nie die herverdeling van grond teëstaan nie, maar dit het ’n plan voorgestaan wat verskil het van wat die regering voorgestel het.

Party mense het egter geglo dat die kerk net die belange van groot grondeienaars op die hart dra, insluitende ryk geestelikes. Aan die ander kant was daar party priesters, wat bekend gestaan het as agraristas, wat ten gunste daarvan was om die grond onder die armes te verdeel. Die konflik in die kerk het die skeur tussen die kerk en die regering net laat vererger.

Vroeg in 1925 het Plutarco Elías Calles, wat kort tevore die president van die Mexikaanse Republiek geword het, die artikels van die nuwe grondwet wat met die kerk verband gehou het, streng begin toepas. Hy het byvoorbeeld talle buitelandse Katolieke priesters uit Mexiko verdryf. Daarbenewens is die aartsbiskop van Mexiko in hegtenis geneem nadat hy gesê het dat die geestelikes die anti-geestelike artikels van die grondwet sou beveg. Sommige geboue wat die kerk besit het, is ook gekonfiskeer. Baie mense het geglo dat dit alles gedoen is om te verhoed dat groot hoeveelhede Mexikaanse geld in Rome beland.

In Julie 1926 het die Mexikaanse biskoppe self beveel dat dienste in die kerke gestaak word. Die regering het hierdie stap as politieke oëverblindery beskou wat bedoel is om die publiek teen die regering op te sweep. Hoe dit ook al sy, die staking van kerkdienste het die lont aangesteek wat die tragiese Cristero-rebellie laat losbars het.

Oorlog breek uit

Duisende Katolieke, wat deur hulle priesters aangehits is, het geveg om hulle godsdiens te verdedig. Hulle het ’n beeld van die Maagd van Guadalupe as hulle vaandel met hulle saamgedra. Hoewel sommige Cristeros verwag het dat die geestelikes die kerk sou help verdedig, het die meeste van die biskoppe en priesters uit vrees vir vergelding deur die regering nie by die konflik betrokke geraak nie. Inteendeel, die meeste van hulle het in die huise van ryk gesinne toevlug gesoek, waar hulle uit die geveg gebly het terwyl die gewone mense aan ’n gewelddadige godsdiensopstand deelgeneem het.

Maar party priesters het óf die een óf die ander kant aktief ondersteun. Volgens die boek The Cristiada (Deel 1, The War of the Cristeros) het sowat 100 Katolieke priesters die Cristeros teëgestaan, terwyl 40 die gewapende stryd aktief ondersteun het. Vyf ander priesters het aan die gevegte deelgeneem.

Die gevolge van die rebellie was rampspoedig. In baie gebiede het dit tot uitermatige armoede gelei. Wat meer is, daar was talle berigte van jong mans wat met geweld deur die Cristeros weggeneem is om te veg. Daar is ook berig dat die Cristeros sowel as regeringsmagte knaend by gesinne opgedaag en kos geëis het. En daar was berigte van verkragtings deur albei kante en van die dood van geliefdes.

Die Cristeros sowel as die regeringsmagte was skuldig aan gruweldade, met inbegrip van die moord op baie mense wat niks met die konflik te doen gehad het nie. Uiteindelik vertel die koue syfers die verhaal—ten minste 70 000 mense is gedurende die drie jaar van die gewapende stryd doodgemaak.

Die einde van die oorlog

Nadat ’n formele ooreenkoms in Junie 1929 tussen die Katolieke Kerk en die regering bereik is, is vyandelikhede gestaak, en teen Augustus het die gevegte opgehou. Maar die Cristeros-vegters is nie in die onderhandelinge ingesluit nie, en hulle kon nie verstaan hoe die kerk kon toegee aan wat baie as ’n vyand van hemelse gesag beskou het nie. Uiteindelik het die Cristeros, gefrustreerd maar onderdanig aan die bevele van die geestelikes, die stryd gewonne gegee en na hulle huise teruggekeer. Die regering het belowe om meer verdraagsaam te wees en om toe te laat dat die mis weer gehou word. Die wette wat godsdienste beperk het, het egter onveranderd gebly.

Die Cristero-rebellie is al soms beskryf as ’n poging deur sommige in die Katolieke Kerk om die mag te herwin wat die kerk in die tyd voor die Hervormingswette geniet het. Ten spyte van die oorlog het hierdie wette tot 1992 in Mexiko van krag gebly, toe ’n wet rakende godsdiensorganisasies aangeneem is. Daar bestaan nog altyd heelwat wantroue teen godsdiensorganisasies. Priesters en predikante mag nog steeds nie aan die politiek deelneem nie, en hoewel godsdiensorganisasies nou grond mag besit, behoort kerkeiendom wat voor 1992 gekoop is, nog steeds aan die regering. Nogtans het die wet nie verhoed dat talle priesters in Mexiko by politieke sake betrokke raak nie.

Wat het dit bereik?

Het die feit dat die Cristeros die wapen opgeneem het, blywende voordele vir hulle meegebring? María Valadez, wat die onrus oorleef het, sê nou: “Ek glo dat die hele slagting tevergeefs was. Dit was sinloos.” Pedro Rosales Vargas, wat in die inleiding aangehaal is, het in verband met die oorlog se tragiese gevolge gesê: “Mense het hulle medemens doodgemaak, selfs mense van hulle eie godsdiens. Dis hoe ek ’n weeskind geword het—hulle het my pa vermoor.”

Die pynlike lesse van die Cristero-rebellie het nie gekeer dat godsdiensgevoelens verdere konflikte aanblaas nie, soos dié in Noord-Ierland en die voormalige Joego-Slawië. Slegs deur die suiwer godsdiens van Christus te beoefen, kan sulke tragedies voorkom word. Jesus het sy volgelinge beveel om uit die politiek te bly, om “geen deel van die wêreld” te wees nie (Johannes 17:16; 18:36). Hy het vir die apostel Petrus, wat met geweld probeer keer het dat Jesus in hegtenis geneem word, gesê: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan.”—Matteus 26:52.

Hoe reageer Christene op onderdrukking?

Beteken dit dat ware Christene veronderstel is om niks te doen as hulle vind dat hulle vryheid van aanbidding bedreig word nie? Nee. Toe die eerste-eeuse Christene vervolg is, het hulle hulleself by ’n hele paar geleenthede verdedig deur gebruik te maak van die wetlike middele wat tot hulle beskikking was. Hulle het appèl aangeteken by die howe. Hoewel hulle soms in die tronk gesit is, het hulle nie hulle geloof of hulle politieke neutraliteit prysgegee nie.—Handelinge 5:27-42.

Onder geen omstandighede het die vroeë Christene die wapen opgeneem om vir hulle godsdiensregte te veg nie. Ware Christene maak nie mense van enige ander godsdiens dood nie, en beslis nie mense van hulle eie geloof nie. Hulle bly eerder by hulle Meester se lering: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Johannes 13:35.

[Prent op bladsy 12]

’n Priester met ’n Cristero- vegter aan weerskante van hom

[Erkenning]

© (Inventory image number: 422036) SINAFO-Fototeca Nacional

[Prent op bladsy 13]

President Plutarco E. Calles

[Erkenning]

© (Inventory image number: 66027) SINAFO-Fototeca Nacional

[Prent op bladsy 13]

Party van die Cristero-leiers

[Erkenning]

© (Inventory image number: 451110) SINAFO-Fototeca Nacional

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel