Jehovah se voorsiening, die “gegewenes”
“Die vreemdeling sal staan en julle kleinvee oppas.”—JESAJA 61:5.
1. Waarom kan die woord “gewer” ons aan Jehovah laat dink?
WAT ’n ruimhartige gewer is God tog nie! Die apostel Paulus het gesê: “[Jehovah] self [gee] aan almal lewe en asem en alles” (Handelinge 17:25). Dit sal vir elkeen van ons nuttig wees om na te dink oor die talle ‘goeie gawes en volmaakte geskenke’ wat ons van God ontvang.—Jakobus 1:5, 17, NW; Psalm 29:11; Mattheüs 7:7; 10:19; 13:12; 21:43.
2, 3. (a) Hoe behoort ons op God se gawes te reageer? (b) In watter sin was die Leviete “gegewenes”?
2 Die psalmis het tereg gewonder hoe hy Jehovah kan vergoed (Psalm 116:12). Ons Skepper het nie werklik enigiets nodig wat mense dalk het of kan gee nie (Psalm 50:10, 12). Tog toon Jehovah dat dit hom behaag wanneer mense uit waardering van hulleself in ware aanbidding gee. (Vergelyk Hebreërs 10:5-7.) Alle mense behoort van hulleself in toewyding te gee aan hulle Skepper wat hulle weer op sy beurt, soos in die geval van die eertydse Leviete, verdere voorregte kan verleen. Hoewel al die Israeliete aan God toegewy was, het hy die Levitiese gesin van Aäron gekies om as priesters offerandes by die tabernakel en die tempel te bring. Maar wat van die res van die Leviete?
3 Jehovah het vir Moses gesê: “Laat die stam van Levi nader kom . . . En hulle moet sorg vir al die gereedskap van die tent van samekoms . . . En jy moet die Leviete aan Aäron en sy seuns gee; hulle is heeltemal aan hom gegee [“hulle is gegewenes”, NW; Hebreeus, nethoe·nimʹ] uit die kinders van Israel” (Numeri 3:6, 8, 9, 41). Die Leviete is aan Aäron “gegee” om take in tabernakeldiens te verrig, en daarom kon God sê: “Want hulle is heeltemal aan My gegee [“gegewenes”, NW] onder die kinders van Israel uit” (Numeri 8:16, 19; 18:6). Party Leviete het eenvoudige take verrig; ander het buitengewone voorregte geniet, soos om in God se wette onderrig te gee (Numeri 1:50, 51; 1 Kronieke 6:48; 23:3, 4, 24-32; 2 Kronieke 35:3-5). Laat ons nou die aandag vestig op ’n ander “gegewe” volk en ’n hedendaagse parallel.
Die Israeliete keer terug uit Babilon
4, 5. (a) Watter Israeliete het uit Babiloniese ballingskap teruggekeer? (b) Wat stem in ons dag ooreen met die Israeliete se terugkeer uit ballingskap?
4 Esra en Nehemia vertel hoe ’n oorblyfsel Israeliete, onder leiding van goewerneur Serubbabel, uit Babilon na hulle land teruggekeer het om ware aanbidding daar te herstel. Albei verslae meld dat altesaam 42 360 mense teruggekeer het. Duisende van hulle was “manne van die volk van Israel”. Daarna meld die verslae die priesters. Dan kom die sowat 350 Leviete, wat die Levitiese sangers en die poortwagters ingesluit het. Esra en Nehemia skryf ook van duisende ander wat klaarblyklik Israeliete, moontlik selfs priesters was, maar wat nie hulle stamboom kon bewys nie.—Esra 1:1, 2; 2:2-42, 59-64; Nehemia 7:7-45, 61-66.
5 Hierdie oorblyfsel van Israel wat in ballingskap geneem is en wat later na Jerusalem en Juda teruggekeer het, het buitengewone toegewydheid aan God en ’n diep verbintenis tot ware aanbidding getoon. Soos reeds gemeld is, sien ons vandag ’n gepaste ooreenkoms hiermee in die oorblyfsel van geestelike Israel wat in 1919 uit slawerny aan Babilon die Grote gekom het.
6. Hoe het God die geestelike Israeliete in ons dag gebruik?
6 Sedert hulle bevryding in 1919 het die oorblyfsel van Christus se gesalfde broers ywerig in ware aanbidding vooruitbeweeg. Jehovah het hulle pogings geseën om die laaste lede van die 144 000 in te samel wat die “Israel van God” uitmaak (Galasiërs 6:16; Openbaring 7:3, 4). As ’n groep maak die gesalfde oorblyfsel “die getroue en verstandige dienskneg”-klas uit wat gebruik word om lewegewende geestelike voedsel in oorvloed te voorsien, en hulle werk hard om dit wêreldwyd te versprei.—Mattheüs 24:45-47.
7. Wie gaan in ware aanbidding met die gesalfdes om?
7 Soos die vorige artikel getoon het, sluit Jehovah se volk nou miljoene “ander skape” in wat die godgegewe hoop het om deur die groot verdrukking te kom wat nou voor die deur is. Hulle wil Jehovah vir ewig hier op die aarde dien waar hulle nie meer honger of dors sal hê nie, en waar trane van droefheid nie meer sal vloei nie (Johannes 10:16; Openbaring 7:9-17; 21:3-5). Is daar enigiets in die verslag oor die terugkerendes uit Babilon wat met hierdie mense ooreenstem? Ja!
Nie-Israeliete keer ook terug
8. Wie het die Israeliete wat uit Babilon teruggekeer het, vergesel?
8 Toe die wekroep weerklink het vir liefhebbers van Jehovah in Babilon om na die Beloofde Land terug te keer, het duisende nie-Israeliete daarop gereageer. In die lyste wat deur Esra en Nehemia verskaf is, lees ons van die “tempelbediendes” (“Netinim”, NW; wat “gegewenes” beteken) en van “die kinders van die dienaars van Salomo”, wat saam 392 getel het. Die verslag meld ook meer as 7 500 ander: “slawe en slavinne”, asook nie-Levitiese “sangers en sangeresse” (Esra 2:43-58, 65; Nehemia 7:46-60, 67). Wat het so baie nie-Israeliete daartoe beweeg om terug te keer?
9. Hoe was God se gees betrokke by die terugkeer uit ballingskap?
9 Esra 1:5 praat van “elkeen wie se gees God opgewek het om op te trek, om die huis van die HERE . . . te bou”. Ja, Jehovah het almal wat teruggekeer het daartoe beweeg. Hy het hulle gees, dit wil sê, hulle oorheersende geestesgesindheid, opgewek. Al was hy in die hemele kon God dit doen deur middel van sy heilige gees, sy werkende krag. Almal wat opgestaan het “om op te trek, om die huis van die HERE . . . te bou” is derhalwe “deur [God se] Gees” gehelp.—Sagaria 4:1, 6; Haggai 1:14.
’n Hedendaagse parallel
10, 11. Watter vergelyking kan daar gemaak word met die nie-Israeliete wat uit Babilon teruggekeer het?
10 Wie word deur sulke nie-Israelitiese terugkerendes afgeskadu? Baie Christene sal dalk antwoord dat die Netinim vandag met die “ander skape” ooreenstem. Dit is waar, maar dit geld nie net vir die Netinim nie; want al die nie-Israeliete wat teruggekeer het, beeld hedendaagse Christene af wat nie ’n deel is van geestelike Israel nie.
11 Die boek U kan Armageddon oorlewe in God se nuwe wêreld ina het opgemerk: “Die oorblyfsel van 42 360 Israeliete was nie die enigste persone wat Babilon saam met goewerneur Serubbabel . . . verlaat het . . . nie. Daar was duisende nie-Israeliete . . . Behalwe die Netinim was daar ander nie-Israeliete, die slawe, die manlike en vroulike beroepsangers en die afstammelinge van die dienaars van koning Salomo.” Die boek het verduidelik: “Die Netinim, die slawe, die sangers en die seuns van die dienaars van Salomo, almal nie-Israeliete, het die land van gevangenskap verlaat en saam met die Israelitiese oorblyfsel na Jerusalem teruggekeer . . . Is dit dus reg om te dink dat mense van verskillende nasionaliteite wat nie geestelike Israeliete is nie hulle vandag sou aansluit by die oorblyfsel van geestelike Israel en saam met hulle die aanbidding van Jehovah God sou bevorder? Ja.” Sulke mense ‘het hedendaagse, antitipiese Netinim, sangers en kinders van die dienaars van Salomo geword’.
12. Hoe gebruik God sy gees op ’n spesiale manier ten opsigte van die geestelike Israeliete, maar waarom kan ons seker wees dat dit beskikbaar is aan al sy aanbidders?
12 Getrou aan die eertydse patroon gee God ook sy gees aan diegene wat hoop om vir ewig op die aarde te woon. Hulle word weliswaar nie weergebore nie. Elkeen van die 144 000 geniet die eenmalige ondervinding om weergebore te word as ’n geestelike seun van God en met heilige gees gesalf te word (Johannes 3:3, 5; Romeine 8:16; Efesiërs 1:13, 14). Daardie salwing is natuurlik ’n unieke openbaring van God se gees ten behoewe van die klein kuddetjie. Maar ons het ook God se gees nodig om sy wil te kan uitvoer. Gevolglik het Jesus gesê: ‘Die hemelse Vader gee Heilige Gees aan die wat Hom bid’ (Lukas 11:13). Hetsy die een wat daarom vra die hemelse hoop het of een van die ander skape is, Jehovah se gees is oorvloedig beskikbaar om sy wil te volbring.
13. Hoe kan die gees op al God se dienaars inwerk?
13 God se gees het Israeliete sowel as nie-Israeliete daartoe beweeg om na Jerusalem terug te keer, en dit versterk en help almal onder sy lojale volk vandag. Ongeag of ’n Christen se godgegewe hoop lewe in die hemel of lewe op die aarde is, hy moet steeds die goeie nuus verkondig, en heilige gees stel hom in staat om dit getrou te doen. Ons almal—ongeag ons hoop—behoort die vrug van die gees, wat ons almal in volle maat nodig het, aan te kweek.—Galasiërs 5:22-26.
Gegee vir spesiale diens
14, 15. (a) Watter twee groepe is uitgesonder onder die nie-Israeliete wat teruggekeer het? (b) Wie was die Netinim, en wat het hulle gedoen?
14 Onder die duisende nie-Israeliete wat deur die gees daartoe beweeg is om terug te keer was daar twee groepe wat deur God se Woord uitgesonder is—die Netinim en die kinders van die dienaars van Salomo. Wie was hulle? Wat het hulle gedoen? En waarop kan dit vandag dui?
15 Die Netinim was ’n groep met ’n nie-Israelitiese oorsprong wat die voorreg gehad het om saam met die Leviete diens te doen. Dink weer aan die Kanaäniete van Gibeon wat “houtkappers en waterputters . . . vir die vergadering en vir die altaar van die HERE” geword het (Josua 9:27). Party van hulle nakomelinge, sowel as ander wat tydens Dawid se heerskappy en gedurende ander tye as Netinim begin dien het, het moontlik onder die Netinim getel wat uit Babilon teruggekeer het (Esra 8:20). Wat het die Netinim gedoen? Die Leviete is gegee om die priesters te help, en daarna is die Netinim gegee om die Leviete te help. Selfs vir besnede uitlanders was dit ’n voorreg.
16. Hoe het die rol van die Netinim na verloop van tyd verander?
16 Toe die groep uit Babilon teruggekeer het, was daar net ’n paar Leviete onder hulle vergeleke met die priesters of die Netinim en die “kinders van die dienaars van Salomo” (Esra 8:15-20). Die Dictionary of the Bible deur dr. James Hastings sê: “Na verloop van tyd sien ons [die Netinim] so volkome gevestig as ’n heilige, amptelike klas dat voorregte aan hulle toevertrou word.” Die vakkundige tydskrif Vetus Testamentum merk op: “’n Verandering het plaasgevind. Ná die Terugkeer uit Ballingskap is hierdie [uitlanders] nie meer as slawe van die Tempel beskou nie, maar as dienaars daarin en het hulle ’n stand geniet wat soortgelyk was aan dié van die ander groepe wat diens in die Tempel gedoen het.”—Sien die venster “’n Veranderde status”.
17. Waarom is die Netinim meer gegee om te doen, en watter Bybelse bewys is daar hiervoor?
17 Die Netinim het natuurlik nie die priesters en Leviete se gelykes geword nie. Laasgenoemde groepe was Israeliete wat deur Jehovah self gekies is en sou nie deur nie-Israeliete verdring word nie. Tog dui die Bybel aan dat die Netinim, as gevolg van die klein getal Leviete, meer gegee is om in God se diens te doen. Hulle is woonkwartiere naby die tempel gegee. In Nehemia se dag het hulle saam met die priesters gewerk en die mure naby die tempel herstel (Nehemia 3:22-26). En die koning van Persië het beveel dat die Netinim, net soos die Leviete, as gevolg van hulle diens in die tempel onthef word van die betaling van belastings (Esra 7:24). Dit toon hoe nou hierdie “gegewenes” (Leviete en Netinim) in geestelike sake saamgewerk het en hoe die Netinim se toewysings na gelang van die behoefte vergroot is, hoewel hulle nooit as Leviete gereken is nie. Toe Esra later ballinge versamel het om terug te keer, was daar aanvanklik geen Leviete onder hulle nie. Hy het sy pogings derhalwe verskerp om ’n paar te kry. Die gevolg was dat 38 Leviete en 220 Netinim teruggekeer het om as “dienaars vir die huis van onse God” te dien.—Esra 8:15-20.
18. Watter taak het die kinders van die dienaars van Salomo moontlik gehad?
18 ’n Tweede groep nie-Israeliete wat uitgesonder is, was die kinders van die dienaars van Salomo. Die Bybel verskaf min inligting oor hulle. Party van hulle was “die kinders van Soferet”. Esra voeg ’n bepaalde lidwoord by daardie naam, wat dit Has·so·feʹreth maak, wat moontlik “die skrifgeleerde” beteken (Esra 2:55; Nehemia 7:57). Hulle kon dus ’n groep skrifgeleerdes of kopiïste gewees het, moontlik skrifgeleerdes wat in die tempel gedien het of administratiewe take daar verrig het. Hoewel hulle van vreemde herkoms was, het die kinders van die dienaars van Salomo hulle toegewydheid aan Jehovah getoon deur Babilon te verlaat en terug te keer sodat hulle aan die herstel van Sy aanbidding kon deelneem.
Hoe ons vandag van onsself kan gee
19. Wat is die verhouding vandag tussen die gesalfde oorblyfsel en die ander skape?
19 God het die gesalfde oorblyfsel in ons dag op ’n kragtige wyse gebruik om aan die spits te staan van ware aanbidding en van die verkondiging van die goeie nuus (Markus 13:10). Hoe verheug was hulle nie om tienduisende, honderdduisende en toe miljoene ander skape te sien wat saam met hulle ware aanbidding begin beoefen het nie! En watter heerlike samewerking bestaan daar nie tussen die oorblyfsel en die ander skape nie!—Johannes 10:16.
20. Watter nuwe begrip kan redelikerwys aanvaar word met betrekking tot ’n parallel tussen die Netinim en die kinders van die dienaars van Salomo? (Spreuke 4:18).
20 Daar is ’n parallel tussen die hele groep nie-Israeliete wat uit ballingskap uit eertydse Babilon teruggekeer het en die ander skape wat nou saam met die oorblyfsel van geestelike Israel dien. Maar wat van die feit dat die Bybel die Netinim en die kinders van die dienaars van Salomo uitsonder? Volgens die patroon wat gestel is, het die Netinim en die kinders van die dienaars van Salomo voorregte ontvang bo dié van die ander terugkerende nie-Israeliete. Dit kan gepas afbeeld hoe God in ons tyd voorregte en bykomende pligte aan sommige ryp en gewillige ander skape toegeken het.
21. Hoe het sommige broers met die aardse hoop bykomende pligte en voorregte ontvang?
21 Die Netinim se bykomende voorregte het direk verband gehou met geestelike bedrywighede. Die kinders van die dienaars van Salomo het klaarblyklik administratiewe verantwoordelikhede ontvang. Jehovah het sy volk vandag eweneens met “gawes in mense” geseën om na hulle behoeftes om te sien (Efesiërs 4:8, 11, 12, NW). Hierdie voorsiening sluit etlike honderde ryp, ervare broers in wat ‘as herders na die kuddes omsien’ deur as kring- en streekopsieners, asook op Takkomitees by die Wagtoringgenootskap se 98 takke te dien (Jesaja 61:5). By die wêreldhoofkwartier van die Genootskap ontvang bekwame manne opleiding onder die leiding van ‘die getroue bestuurder’ en sy Bestuursliggaam sodat hulle met die voorbereiding van die geestelike voedsel kan help (Lukas 12:42). Ander vrywilligers wat al baie jare toegewyd dien, is opgelei om Bethelhuise en -fabrieke te bestuur en om toesig te hou oor programme wêreldwyd vir die oprigting van nuwe takkantore en sale vir Christelike aanbidding. Hulle het hulle onderskei in hulle diens as vertroude helpers van die gesalfde oorblyfsel wat ’n deel uitmaak van die koninklike priesterdom.—Vergelyk 1 Korinthiërs 4:17; 14:40; 1 Petrus 2:9.
22. Waarom is dit gepas dat party van die ander skape nou gewigtige verantwoordelikhede ontvang, en hoe behoort ons daarop te reageer?
22 Vroeër het die priesters en Leviete aangehou om onder die Jode te dien (Johannes 1:19). Maar vandag moet die oorblyfsel van geestelike Israel op aarde al hoe minder word. (Vergelyk Johannes 3:30.) Eindelik, na die vernietiging van Babilon die Grote, sal al 144 000 ‘verseëldes’ in die hemel wees vir die bruilof van die Lam (Openbaring 7:1-3; 19:1-8). Die ander skape moet egter nou al hoe meer word. Ondanks die feit dat sommige van hulle, net soos die Netinim en die kinders van die dienaars van Salomo, nou gewigtige verantwoordelikhede onder toesig van die gesalfde oorblyfsel ontvang, raak hulle nie aanmatigend of verwaand nie (Romeine 12:3). Hierdie wete gee ons die vertroue dat daar, wanneer God se volk “uit die groot verdrukking kom”, ervare manne—“prinse”—sal wees wat gereed sal wees om die leiding onder die ander skape te neem.—Openbaring 7:14; Jesaja 32:1; vergelyk Handelinge 6:2-7.
23. Waarom moet ons almal ’n mededeelsame gees met betrekking tot God se diens aankweek?
23 Almal wat uit Babilon teruggekeer het, was bereid om hard te werk en te bewys dat die aanbidding van Jehovah die eerste plek in hulle verstand en hart ingeneem het. Dit is vandag steeds die geval. Saam met die oorblyfsel is daar ‘vreemdelinge wat die kleinvee oppas’ (Jesaja 61:5). Laat ons almal ’n onbaatsugtige, heilsame, mededeelsame gees aankweek, ongeag die godgegewe hoop wat ons koester en ongeag watter voorregte ouere manne, wat onder leiding van die gees aangestel is, voor die dag van Jehovah se regverdiging by Armageddon te beurt mag val. Laat ons almal, hoewel ons Jehovah nooit kan vergoed vir al sy groot weldade nie, heelhartig wees ongeag wat ons in sy organisasie doen (Psalm 116:12-14; Kolossense 3:23). As ander skape wat intiem saam met die gesalfdes dien, wat bestem is om “as konings oor die aarde [te] regeer”, kan ons almal sodoende van onsself in ware aanbidding gee.—Openbaring 5:9, 10, NW.
[Voetnoot]
a Bladsye 142-8; uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
Punte om te onthou
◻ In watter sin was die Leviete “gegewenes” in eertydse Israel?
◻ Watter nie-Israeliete het uit ballingskap teruggekeer, en wie het hulle afgebeeld?
◻ Watter verandering het blykbaar ten opsigte van die Netinim ingetree?
◻ Watter parallel kan ons nou verstaan ten opsigte van die Netinim en die kinders van die dienaars van Salomo?
◻ Watter vertroue skep die samewerking tussen die gesalfdes en die ander skape?
[Venster op bladsy 14]
’N VERANDERDE STATUS
Talle Bybelwoordeboeke en -ensiklopedieë bespreek die veranderinge wat ingetree het met betrekking tot sommige van die nie-Israeliete wat uit ballingskap teruggekeer het. Die Encyclopædia Biblica sê byvoorbeeld onder “Verandering in hulle stand”: “Hulle sosiale stand is, soos reeds vermeld, terselfdertyd noodwendig verhoog. [Die Netinim] tree nie meer op as slawe in die ware sin van die woord nie” (Onder redaksie van Cheyne en Black, Deel III, bladsy 3399). In The Cyclopædia of Biblical Literature skryf John Kitto: “Daar kon nie verwag word dat te veel van hulle [die Netinim] na hierdie nederige stand in Palestina sou terugkeer nie . . . Die vrywillige toegewydheid wat derhalwe deur hierdie mense geopenbaar is, het die stand van die Netinim aansienlik verhoog” (Deel II, bladsy 417). The International Standard Bible Encyclopedia sê: “In die lig van hierdie assosiasie en van hulle geskiedenis gedurende die tyd van Salomo kan daar aanvaar word dat Salomo se dienaars betekenisvolle verantwoordelikhede in die tweede tempel gehad het.”—Onder redaksie van G. W. Bromiley, Deel 4, bladsy 570.
[Prent op bladsy 15]
Duisende nie-Israeliete het die Israeliete vergesel toe hulle teruggekeer het om Jerusalem te herbou
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.
[Prent op bladsy 17]
Die Takkomitee in Korea. Net soos die eertydse Netinim dra manne onder die ander skape vandag gewigtige verantwoordelikhede ten opsigte van ware aanbidding