Aankondiging
Hulp vir die Bestuursliggaam se komitees
Die lede van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, waarvan daar op die oomblik 12 is, dien steeds getrou in hulle toewysings. Hulle is altyd dankbaar teenoor die lojale lede van die toenemende “groot menigte” wat hulle ywerig ondersteun (Openbaring 7:9, 15). Met die oog op die geweldige toename wat wêreldwyd plaasvind, is dit klaarblyklik gepas om die Bestuursliggaam nou van ekstra hulp te voorsien. Daar is dus besluit om verskeie helpers te nooi, hoofsaaklik uit die geledere van die groot menigte, om ’n aandeel te hê in die vergaderinge van elk van die Bestuursliggaam se komitees, dit wil sê, die Personeel-, Uitgewers-, Diens-, Onderrigtings- en Skryfkomitee. Die aantal persone wat die vergaderinge van elk van hierdie komitees gaan bywoon, sal dus tot sewe of agt vermeerder word. Hierdie assistente sal onder leiding van die Bestuursliggaam se komiteelede aan besprekings deelneem en sal verskillende opdragte uitvoer wat die komitee hulle gee. Hierdie nuwe reëling tree op 1 Mei 1992 in werking.
Die getal van die oorblyfsel van gesalfde Getuies neem nou al etlike jare lank af, terwyl die getal van die groot menigte bo ons grootste verwagtinge toegeneem het (Jesaja 60:22). Hoe dankbaar is ons tog nie teenoor Jehovah vir hierdie wonderlike toename nie! Toe die nuwe naam Jehovah se Getuies in 1931 met dankbaarheid aanvaar is, was die Koninkryksverkondigerhoogtepunt 39 372, en die meeste van hulle het verklaar dat hulle gesalfde broers van Christus is (Jesaja 43:10-12; Hebreërs 2:11). Sestig jaar later, in 1991, was die wêreldwye verkondigerhoogtepunt 4 278 820, waarvan net 8 850 gesê het dat hulle van die gesalfde oorblyfsel is. Soos ons in die lig van die Skrif verwag het, oortref die “groot menigte” nou die “klein kuddetjie” in getal met meer as 480 tot 1 (Lukas 12:32; Openbaring 7:4-9). Die oorblyfsel het die groot menigte se samewerking en steun om na die groter Koninkryksbelange te kan omsien nodig en hulle waardeer dit beslis.
Soos in hierdie nommer van Die Wagtoring verduidelik is, is daar ’n groep wat vandag saam met geestelike Israel dien, en hulle kan vergelyk word met die Netinim en die kinders van die dienaars van Salomo wat saam met die Joodse oorblyfsel uit Babiloniese gevangenskap teruggekeer het; daardie nie-Israeliete het selfs die terugkerende Leviete in getal oortref (Esra 2:40-58; 8:15-20). Die “gegewenes” onder vandag se groot menigte is ryp Christenmanne wat baie ondervinding het omdat hulle as opsieners omgesien het na takkantore, die reisende werk en die 66 000 gemeentes wat nou oor die hele aarde gevestig is.
Koninkryksbedieningskole is onlangs wêreldwyd gehou om opsieners sowel as die bedieningsknegte wat hulle bystaan te onderrig. In die Verenigde State alleen het 59 420 opsieners hierdie skole bygewoon. Hierdie “ouere manne” is gevolglik toegerus om hulle verantwoordelikhede doeltreffender na te kom.—1 Petrus 5:1-3, vgl. NW; vergelyk Efesiërs 4:8, 11.
Sommige “gegewenes” dien al baie jare lank by die Brooklynse hoofkwartier van Jehovah se Getuies. Hulle is uiters bekwame opsieners uit die groot menigte wat al waardevolle ondervinding opgedoen het. Die Bestuursliggaam het dus ’n paar sulke opsieners gekies om hulle te help met die vergaderinge van die Bestuursliggaam se komitees. Hulle is nie noodwendig diegene wat die langste dienservaring het nie. Hulle is eerder ryp, ervare manne met kwalifikasies wat hulle geskik maak om op sekere gebiede te help. Dit gee hulle nie ’n spesiale status wanneer hulle aangewys word om saam met ’n komitee te werk nie. Soos Jesus oor sy dissipels gesê het: “Julle is almal broers” (Mattheüs 23:8). Maar daar sal baie aan hierdie manne toevertrou word, en daar sal dus ‘veel van hulle gevorder word’.—Lukas 12:48.
Ons verheug ons in die vooruitgang wat Jehovah se hedendaagse organisasie maak. Daar was oor die afgelope tien jaar ’n toename van byna 100 persent in die getal van diegene wat die evangelisasiewerk in die veld doen in ooreenstemming met die profesie oor die Grotere Dawid, Jesus Christus: “Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring” (Jesaja 9:6, NAV). Net soos die Netinim saam met die priesters gewerk het om die mure van Jerusalem te herstel, word die profesie oor Jehovah se organisasie vandag ook vervul: “En uitlanders sal jou mure bou” (Jesaja 60:10; Nehemia 3:22, 26). Die hedendaagse Netinim moet geprys word vir die ywer wat hulle toon om ware aanbidding te bevorder terwyl hulle die “priesters van die HERE” bystaan met watter werk of diens hulle ook al in Jehovah se wêreldwye organisasie moet verrig.—Jesaja 61:5, 6.