Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 4/15 bl. 26-30
  • Jehovah het na ons omgesien terwyl die werk verbied was—Deel 1

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah het na ons omgesien terwyl die werk verbied was—Deel 1
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons probleme begin
  • Ons werk word verbied
  • Vergaderinge tydens die verbod
  • My eerste groot toewysing
  • Vertroue in Jehovah
  • Jehovah se persoonlike sorg
  • Jehovah het na ons omgesien terwyl die werk verbied was—Deel 2
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Berlyn—’n Spieël van ons wêreld?
    Ontwaak!—1990
  • Jehovah het na ons omgesien terwyl die werk verbied was—Deel 3
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Aangemoedig deur my gesin se lojaliteit aan God
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 4/15 bl. 26-30

Jehovah het na ons omgesien terwyl die werk verbied was—Deel 1

Jehovah se Getuies het dekades lank gewonder oor hulle broers in lande waar hulle bedrywighede as Christene beperk was. Ons is bly om die eerste van drie artikels aan te bied wat ’n bietjie vertel van wat gebeur het. Dit is persoonlike verslae van getroue Christene in die destydse Oos-Duitsland

IN 1944 was ek ’n Duitse krygsgevangene en het as ’n hospitaalsoldaat in die Cumnock-kamp naby Ayr, Skotland, gewerk. Ek is toegelaat om die kamp te verlaat, maar ons is nie toegelaat om te vryelik met die plaaslike mense te assosieer nie. Toe ek een Sondag gaan stap het, het ek ’n man ontmoet wat ernstig probeer het om dinge in die Bybel aan my te verduidelik. Ons het daarna dikwels saam gaan stap.

Hy het my later na ’n vergadering in ’n huis genooi. Dit was ’n waagstuk, aangesien ek lid van ’n vyandelike moondheid was. Ek het nie toe besef dat hy een van Jehovah se Getuies was nie—die vergadering was natuurlik een van hulle klein Bybelstudiegroepe. Hoewel ek nie veel verstaan het nie, kan ek ’n prent waarop daar ’n kind met ’n lang wit kleed aan, asook ’n leeu en ’n lam was nog duidelik onthou. Hierdie afbeelding van die nuwe wêreld, soos dit in die Bybelboek Jesaja beskryf word, het ’n diep indruk op my gemaak.

Ek is in Desember 1947 uit die krygsgevangenekamp vrygelaat. Ná ek weer in Duitsland, my tuisland, aangekom het, is ek getroud met Margit wat ek voor die oorlog geken het. Ons het in Zittau, naby die grens van Pole en Tsjeggo-Slowakye, gaan woon. Binne ’n paar dae het een van Jehovah se Getuies aan ons deur geklop. “As dit dieselfde groep is waarmee ek in Skotland kennis gemaak het”, het ek vir my vrou gesê, “moet ons by hulle aansluit.” Daardie selfde week het ons ons eerste vergadering saam met die Getuies bygewoon.

Ons het spoedig uit die Bybel geleer hoe belangrik dit is om Christelike vergaderinge gereeld by te woon en om aan die predikingswerk deel te neem. Trouens, dit wat die Getuies uit die Bybel geleer het, het spoedig die belangrikste ding in ons lewe geword. Ek het mettertyd ’n groepbybelstudie begin lei. Toe, in Februarie 1950, het twee reisende Christenopsieners gevra: “Wanneer gaan julle julle dan laat doop?” Daardie selfde middag het ek en Margit ons toewyding aan God deur doop gesimboliseer.

Ons probleme begin

Zittau was in die Sowjetgedeelte van Duitsland geleë, en daar is in 1949 doelbewus begin om probleme vir Jehovah se Getuies te skep. Ons kon eers ná ’n groot gesukkel ’n plek vir ’n klein byeenkoms in Bautzen kry. Toe, gedurende die somer, is spesiale treine vir die groter streekbyeenkoms in Berlyn skielik gekanselleer. Tog het duisende dit bygewoon.

Daar was ook steurnisse by gemeentelike vergaderinge. Hekelaars het die vergaderinge bygewoon net om te skreeu en te fluit. By een geleentheid moes ’n reisende opsiener amper sy toespraak beëindig. Die pers het ons doemprofete genoem. Koerantartikels het selfs beweer dat ons op heuweltoppe bymekaarkom en wag om in die wolke weggeneem te word. Die koerante het ook geskryf dat ’n paar meisies gesê het dat die Getuies probeer het om hulle sover te kry om hulle aan onsedelikheid skuldig te maak. Die verduideliking dat ‘diegene wat hulle aan Jehovah toewy die ewige lewe sou kry’, is verdraai om te sê dat diegene wat geslagsomgang met die Getuies het die ewige lewe sou kry.

Later is ons ook daarvan beskuldig dat ons oorlogstokers is. Dit wat ons oor God se oorlog Armageddon gesê het, is verkeerd vertolk sodat dit geklink het asof ons die wapenwedloop en oorlog aanmoedig. Hoe absurd tog! Nietemin, toe ek in Augustus 1950 vir my nagskof opgedaag het by die plaaslike koerant waar ek as ’n drukker gewerk het, is ek by die hek voorgekeer. “Jy is afgedank”, het die wag gesê, wat vergesel was van die polisie. “Julle mense is ten gunste van oorlog.”

Margit was verlig toe ek by die huis aangekom het. “Nou hoef jy nie meer laat te werk nie”, het sy gesê. Ons het ons nie bekommer nie. Ek het gou ’n ander werk gekry. Ons het op God vertrou om na ons om te sien, en hy het.

Ons werk word verbied

Die werk van Jehovah se Getuies in die Duitse Demokratiese Republiek is op 31 Augustus 1950 verbied. ’n Vlaag van arrestasies het gevolg. Getuies is verhoor en party is tot lewenslange gevangenisstraf veroordeel. Twee mense van Zittau wat onder die Nazi’s in konsentrasiekampe gely het, is deur die Kommuniste opgesluit.

Die gemeentelike opsiener en sy vrou is gearresteer. Die mense wat hulle gearresteer het, het hulle twee kindertjies alleen in die huis agtergelaat waar hulle na hulleself moes omsien. Die ma se ouers het die kinders geneem, en vandag is albei dogters ywerige verkondigers van God se Koninkryk.

Koeriers van die gemeentes in Oos-Duitsland het na en van Berlyn gereis om lektuur by spesifieke plekke in die vrye westerse deel af te haal. Baie van hierdie moedige koeriers is gearresteer, verhoor en gevangenisstraf opgelê.

Regeringsamptenare het vroeg een oggend opgedaag om ons huis te deursoek. Ons het verwag dat hulle sou kom, en ek het derhalwe al die gemeentelike verslae wat ek gehou het langs ’n perdebynes in ons skuur weggesteek. Die perdebye het my nooit gehinder nie, maar toe die mans daar begin rondsoek het, was hulle skielik toe onder die perdebye. Al wat die mans kon doen, was om na veiligheid te hardloop!

Jehovah het ons deur middel van die byeenkomste wat in 1949 gehou is op die verbod voorberei. Die program het ons aangespoor om baie meer te doen wat persoonlike studie, vergaderingbywoning en ons predikingsbedrywigheid betref, en dit het ons aangespoor om op mekaar staat te maak vir ondersteuning en aanmoediging. Dit het ons werklik gehelp om lojaal te bly. Hoewel mense ons dus dikwels gekritiseer en verwens het, het ons ons nie daaraan gesteur nie.

Vergaderinge tydens die verbod

Nadat daar aangekondig is dat die werk verbied is, het ek en twee mede-Getuies ’n vergadering gehou om te bespreek hoe ons ons gemeentelike vergaderinge kan voortsit. Dit was gevaarlik om vergaderinge by te woon, aangesien arrestasie gevangenisstraf kon beteken. Ons het die Getuies in ons omgewing besoek. Party was bang, maar dit was bemoedigend dat almal besef het hoe belangrik dit is om vergaderinge by te woon.

’n Belangstellende wat ’n skuur gehad het, het gesê dat ons dit as ’n vergaderplek kon gebruik. Hoewel dit op ’n landery gestaan het waar almal dit kon sien, het die skuur ’n agterdeur gehad wat na ’n pad gelei het wat deur struike verberg is. Niemand het dus van ons kom en gaan geweet nie. Ons het die hele winter lank in daardie skuur bymekaargekom waar ons vergaderinge, wat deur ongeveer 20 mense bygewoon is, by kerslig gehou het. Ons het elke week bymekaargekom vir ons Wagtoring-studie en vir die Diensvergadering. Die program is by ons behoeftes aangepas en het beklemtoon dat ons geestelik bedrywig moes bly. Ons het kort daarna die vreugde gesmaak om daardie selfde belangstellende as ons nuwe broer in die waarheid te verwelkom.

In die middel-vyftigerjare het strawwe wat deur die howe opgelê is ligter geword, en sommige broers is uit die gevangenis vrygelaat. Baie is na Wes-Duitsland gedeporteer. In my geval het sake ná die besoek van ’n broer uit Wes-Duitsland ’n onverwagte wending geneem.

My eerste groot toewysing

Die broer het homself as Hans voorgestel. Ná ons gesprek is ek gevra om na ’n sekere adres in Berlyn te gaan. Nadat ek die wagwoord op die deurklokkie gevind het, is ek ingenooi. Twee mans het by my aangesluit en vriendelik oor ditjies en datjies gesels. Uiteindelik het hulle met die eintlike rede vir die gesprek vorendag gekom: “Sal jy ’n spesiale toewysing aanvaar as dit vir jou aangebied word?”

“Natuurlik”, het ek geantwoord.

“Goed”, het hulle gesê, “dit is al wat ons wil weet. Ons wens jou ’n veilige rit huis toe.”

Drie weke later is ek gevra om weer na Berlyn te gaan, en weer het ek my in daardie vertrek bevind. Die broers het my ’n kaart van die gebied om Zittau gegee en die rede vir die besoek verduidelik. “Ons het geen kontak met die Getuies in hierdie omgewing nie. Kan jy vir ons weer met hulle kontak maak?”

“Natuurlik sal ek”, het ek dadelik geantwoord. Dit was ’n ontsaglike gebied wat oor meer as 100 kilometer van Riesa af tot by Zittau gestrek het en dit was amper 50 kilometer breed. En al wat ek gehad het, was ’n fiets. Nadat ons met individuele Getuies kontak gemaak het, het ons elkeen van hulle by sy eie gemeente geïnkorporeer wat gereeld ’n verteenwoordiger na Berlyn moes stuur om lektuur en instruksies af te haal. Hierdie werkwyse het voorkom dat ander gemeentes in gevaar gestel is wanneer die owerheid enige spesifieke gemeente vervolg het.

Vertroue in Jehovah

In gehoorsaamheid aan Bybelvoorskrifte het ons ten spyte van die vervolging nooit opgehou om van huis tot huis te gaan met ons boodskap oor God se Koninkryk nie (Mattheüs 24:14; 28:19; Handelinge 20:20). Ons het na die adresse gegaan wat vir ons gegee is deur mense wat ons reeds geken het en het ’n paar wonderlike ondervindinge gehad. Soms is selfs ons foute in seëninge verander, soos die volgende toon.

Ek en my vrou moes na ’n sekere adres gaan, maar ons het by die verkeerde huis aangeklop. Toe die deur oopgaan, het ons ’n polisie-uniform aan die kapstok sien hang. Margit se gesig het bleek geword; my hart het in my keel gesit. Dit kon gevangenisstraf beteken. Daar was net tyd vir ’n skietgebed.

“Wie is julle?” het die man kortaf gevra. Ons het kalm gebly.

“Ek is seker ek het jou al iewers gesien”, het Margit gesê, “maar ek kan net nie dink waar nie. Ja, jy is ’n polisieman. Ek moes jou gesien het terwyl jy aan diens was.”

Dit het hom kalmeer en hy het vriendelik gevra: “Is julle Jehovas?”

“Ja”, het ek gesê, “ons is, en jy moet toegee dat dit moed verg van ons om aan jou deur te klop. Ons stel in jou persoonlik belang.”

Hy het ons ingenooi. Ons het hom ’n paar keer besoek en ’n Bybelstudie begin. Hierdie man het later ons Christenbroer geword. Hoe het daardie ondervinding tog ons vertroue in Jehovah versterk!

Susters het dikwels as koeriers opgetree, wat van hulle geverg het om ten volle op Jehovah te vertrou. Dit was die geval toe Margit eenkeer na Berlyn gereis het om lektuur af te haal. Daar was baie meer as wat ons verwag het. ’n Stuk wasgoedlyn is gebruik om die swaar, oorlaaide tas toe te bind. Alles het goed gegaan totdat Margit op die trein was. Toe het ’n grensamptenaar daar aangekom.

“Wie s’n is dit en wat is daarin?” het hy gevra terwyl hy na die tas gewys het.

“Dit is my wasgoed”, het Margit geantwoord.

Hy was agterdogtig en het haar beveel om die tas oop te maak. Margit het met opset tydsaam begin om die knope in die wasgoedlyn om die tas die een na die ander los te maak. Aangesien die grensamptenaar se werk behels het dat hy net vir ’n sekere afstand op die trein moes bly en dan moes afklim en met ’n ander trein moes terugry, het hy al hoe ongeduldiger geraak. Eindelik, toe daar nog net drie knope oor was, het hy opgegee. “Maak dat jy wegkom en vat jou wasgoed saam met jou!” het hy geskreeu.

Jehovah se persoonlike sorg

Ek kon dikwels nie meer as vier uur per nag slaap nie, aangesien ek gewoonlik onder die sluier van die nag na gemeentelike sake omgesien het. Dit was ná ’n nag van sulke bedrywigheid dat amptenare een oggend hard aan ons deur geklop het. Hulle het gekom om die huis te deursoek. Dit was te laat om iets weg te steek.

Dit het die amptenare die hele oggend geneem om die huis van bo tot onder te deursoek, en hulle het selfs die toilet deursoek ingeval ons iets daarin weggesteek het. Niemand het daaraan gedink om my baadjie te deursoek wat aan die kapstok gehang het nie. Ek het haastig dokumente in die baadjie se baie sakke ingedruk. Die sakke het gebult met presies dít waarna die amptenare gesoek het, maar hulle is met leë hande daar weg.

By ’n ander geleentheid, in Augustus 1961, was ek in Berlyn. Dit sou die laaste keer wees dat ek lektuur sou afhaal voordat die Berlynse Muur opgerig is. Die Berlynse spoorwegstasie het gewemel van mense toe ek op pad terug was na Zittau. Die trein het op die stasie aangekom en almal het die platform afgestorm om op te klim. Ek is deur die skare meegesleur en het my skielik in ’n leë deel van die trein bevind. Ek was skaars op die trein toe die wag die deure van buite af gesluit het. Ek het alleen in een deel van die trein gestaan terwyl die ander passasiers in die res van die trein saamgedrom het.

Ons het na Zittau vertrek. Ek was ’n ruk alleen in die wa. Toe het die trein stilgehou en die deure wat na my deel lei, is oopgemaak. Tientalle Sowjetsoldate het ingeklim. Ek het toe eers besef dat ek in ’n deel gereis het wat vir Sowjetsoldate gereserveer was. Ek het gewens dat die aarde my wou insluk. Tog het dit nie gelyk of die soldate enigiets agtergekom het nie.

Ons het die reis na Zittau hervat, waar die deure wat na ons deel gelei het, oopgegooi is en die soldate uitgespring het. Hulle het al die passasiers by die stasie begin deursoek. Ek is die enigste wat met rus gelaat is. Baie van die soldate het my selfs gesalueer, omdat hulle gedink het dat ek ’n hooggeplaaste amptenaar was.

Ons het eers agterna besef hoe belangrik die lektuur was, want die oprigting van die Berlynse Muur het veroorsaak dat ons voorraadroete tydelik onderbreek is. Daar was nogtans genoeg lektuur om ’n hele paar maande lank in ons behoeftes te voorsien. Intussen kon daar reëlings getref word om met ons in aanraking te bly.

Die bou van die Berlynse Muur in 1961 het vir ons in Oos-Duitsland veranderinge beteken. Maar soos altyd was Jehovah dinge een voor. Hy het aangehou om na ons om te sien terwyl die werk verbied was.—Soos vertel deur Hermann Laube.

[Prent op bladsy 27]

Ons het ’n klein byeenkoms in Bautzen geniet

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel