Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 5/15 bl. 28-31
  • Jehovah het na ons omgesien terwyl die werk verbied was—Deel 3

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah het na ons omgesien terwyl die werk verbied was—Deel 3
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die voorsiening van geestelike voedsel
  • ’n Noue ontkoming
  • In die gevangenis, maar vry
  • Ons kinders se geloof word op die proef gestel
  • Groter openbare predikingsbedrywighede
  • Veranderinge namate vryheid nadergekom het
  • Jehovah het na ons omgesien terwyl die werk verbied was—Deel 2
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Jehovah het na ons omgesien terwyl die werk verbied was—Deel 1
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Aangemoedig deur my gesin se lojaliteit aan God
    Ontwaak!—1998
  • Berlyn—’n Spieël van ons wêreld?
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 5/15 bl. 28-31

Jehovah het na ons omgesien terwyl die werk verbied was—Deel 3

DIT was 14 Maart 1990. Op daardie betekenisvolle dag was ek onder diegene wat teenwoordig was toe ’n hooggeplaaste staatsamptenaar by die Ministerie vir Godsdienssake in Oos-Berlyn die dokument oorhandig het wat Jehovah se Getuies wetlike status gegee het in wat destyds as die Duitse Demokratiese Republiek, of Oos-Duitsland, bekend gestaan het. Gedurende daardie dag se verrigtinge het my gedagtes teruggegaan na die tyd toe ek ’n Getuie geword het, en ek het nagedink oor die moeilike tye wat ons beleef het.

In die middel-vyftigerjare, toe Margarete, ’n werkmaat wat ’n Getuie was, die eerste keer met my oor haar Bybelse opvattings gepraat het, het Jehovah se Getuies in Oos-Duitland hewige vervolging verduur. Sy is kort daarna weg om iewers anders te gaan werk en ek het begin om die Bybel saam met ’n ander Getuie te studeer. Ek is in 1956 gedoop, en ek en Margarete is daardie selfde jaar getroud. Ons het met die Lichtenberg-gemeente in Berlyn geassosieer. Daar was ongeveer 60 Koninkryksverkondigers wat aan die predikingswerk deelgeneem het.

Twee jaar na my doop het staatsamptenare besoek afgelê by die huis van die persoon wat die leiding in ons gemeente geneem het. Hulle was van plan om hom te arresteer, maar hy was by sy werk in Wes-Berlyn. Sy gesin kon hom laat weet dat hy daar moet bly, en hulle het ’n paar maande later in die Weste by hom aangesluit. Hoewel ek maar net 24 was, is ek toe groot verantwoordelikhede in die gemeente gegee. Ek is dankbaar dat Jehovah die wysheid en krag voorsien wat nodig is om na sulke pligte om te sien.—2 Korinthiërs 4:7.

Die voorsiening van geestelike voedsel

Toe die Berlynse Muur in Augustus 1961 opgerig is, is Jehovah se Getuies in die Ooste skielik van hulle broers in die Weste afgesny. So het daar ’n tydperk aangebreek waartydens ons kopieë van ons lektuur gemaak het, eers met behulp van tikmasjiene en toe met ’n reeks kopieermasjiene. Ek het van 1963 af twee jaar lank aan ’n skuilplek in ons huis gebou waar ons hierdie drukwerk kon doen. Nadat ek die hele dag lank as gereedskapmaker gewerk het, het ek die nagte daaraan bestee om met die hulp van ’n paar ander broers kopieë van Die Wagtoring te maak. Die owerheid was daarop uit om ons drukkersorganisasie binne te dring, maar Jehovah het ons gehelp sodat ons voedsel, soos ons dit genoem het, betyds verskyn het.

Ten einde genoeg kopieë van ons tydskrifte te kon maak, het ons groot hoeveelhede papier nodig gehad, en dit was nie maklik om hierdie hoeveelhede in die hande te kry nie. Dit sou die aandag van die owerheid getrek het as ons gereeld groot hoeveelhede papier gekoop het. Ons het dus verskillende Getuies gekry om vir ons klein hoeveelhede papier te koop en dit na ons groepbybelstudie toe te bring. Van daar af is dit na die plek geneem waar ons die tydskrifte gekopieer het. Ander Getuies het dan die tydskrifte wat klaar was, versprei.

Aangesien die amptenare vermoed het dat ek betrokke was by die druk van lektuur, het hulle my fyn dopgehou. Ek het aan die einde van 1965 agtergekom dat hulle my meer dikwels as gewoonlik agtervolg en het besef dat hulle iets in die mou het. Vroeg een oggend het hulle skielik toegeslaan.

’n Noue ontkoming

Ek was daardie winteroggend op pad werk toe. Dit was voor dagbreek en ek het my teen die ysige koue gestaal. Terwyl ek aangestap het, het ek vier koppe bo die heinings gesien. Die mans het om die hoek gekom en met die paadjie af in my rigting gestap. Ek was baie bang toe ek besef het dat hulle staatsamptenare is. Wat het my te doen gestaan?

Daar was net ’n nou paadjie wat deur ’n dik laag sneeu oopgegrawe was. Ek het aangehou loop. Kop onderstebo en met my oë op die grond gerig, het ek vorentoe gebeur. Ek het saggies ’n skietgebedjie opgestuur. Die mans het al hoe nader gekom. Het hulle my herken? Ek kon skaars glo wat besig was om te gebeur toe ons op die nou paadjie by mekaar verbyskuif. Ek het al hoe vinniger geloop. “Haai”, het een van hulle geskreeu, “dis hy. Stop!”

Ek het gehardloop so al wat ek kon. Ek is met ’n vaart om die hoek en het oor ’n buurman se heining in ons agterplaas ingespring. Terwyl ek by die huis ingevlieg het, het ek die deur gesluit en gegrendel. “Almal op!” het ek geskreeu. “Hulle is hier om my te vang.”

Margarete was blitsvinnig onder en het stelling by die deur ingeneem. Ek was in ’n ommesientjie in die kelder besig om die stoof te stook. Ek het al die gemeentelike rekords wat in my besit was, gegryp en dit in die vlamme gegooi.

“Maak oop!” het die mans gebulder. “Maak oop die deur! Dit is die staatsaanklaer.”

Margarete het haar man gestaan terwyl ek alles onherkenbaar verbrand het. Toe het ek my by Margarete aangesluit en vir haar geknik om die deur oop te maak. Die mans het by die huis ingebars.

“Waarom het jy weggehardloop?” het hulle gevra.

Kort daarna het daar versterkings opgedaag en die hele huis is deursoek. Die geheime plek waar ons kopieermasjien en 40 000 velle papier was, was my grootste bekommernis. Maar die verskuilde ingang het onontdek gebly. Hoewel hulle ons ure lank ondervra het, het Jehovah my gehelp om kalm te bly. Daardie ondervinding het ons nader aan ons liefdevolle hemelse Vader gebring en ons versterk sodat ons kon volhard.

In die gevangenis, maar vry

Aan die einde van die sestigerjare is ek in kennis gestel dat ek my vir militêre diens moet aanmeld. Aangesien ek gewetensbeswaar daarteen gehad het, was ek verplig om sewe maande in gevangenskap in ’n arbeidskamp deur te bring. Daar was 15 Getuies in die kamp by Cottbus, suidoos van Berlyn. Ons was almal daar vanweë ons Christelike neutraliteit (Jesaja 2:2-4; Johannes 17:16). Ons werkdae was lank en die werk was hard. Ons het om 4:15 vm. opgestaan en is uit die kamp geneem om aan die spoorbane te werk. Ons het nietemin geleenthede gehad om ander van Jehovah se Koninkryk te vertel terwyl ons in die gevangenis was.

Daar was byvoorbeeld twee fortuinvertellers saam met ons in Cottbus. Ek het eendag gehoor dat die jonger een dringend met my wou praat. Wat sou hy wou hê? Hy het sy hart aan my uitgestort. Sy ouma was ’n fortuinvertelster gewees, en hy het soortgelyke kragte ontwikkel nadat hy haar boeke gelees het. Hoewel hierdie man baie graag vryheid wou hê van die magte wat hom oorheers het, was hy bang dat iets aakligs met hom sal gebeur. Hy het gehuil en gehuil. Maar hoe het al hierdie dinge my geraak?

Tydens ons gesprek het hy verduidelik dat sy vermoë om die toekoms te voorspel teëgewerk word wanneer hy in die geselskap van Jehovah se Getuies is. Ek het aan hom verduidelik dat daar bose geeste, of demone, sowel as goeie geeste, of regverdige engele, is. Deur diegene wat in eertydse Efese Christene geword het as voorbeeld te gebruik, het ek verduidelik hoe noodsaaklik dit is om van alle artikels ontslae te raak wat met fortuinvertellery of enige ander spiritistiese gebruik verband hou (Handelinge 19:17-20). “Dan moet jy met die Getuies in aanraking kom”, het ek vir hom gesê. “Jy sal oral Getuies aantref.”

Die jong man het die kamp ’n paar dae later verlaat, en ek het nooit weer iets van hom gehoor nie. Maar die ondervinding met daardie verskrikte en ontroosbare man wat na vryheid gehunker het, het my liefde vir Jehovah verinnig. Ons 15 Getuies was in die kamp as gevolg van ons godsdiens, maar ons was geestelik vry. Daardie jong man is uit die gevangenis vrygelaat, maar hy was nog in slawerny aan ’n “god” vir wie hy baie bang was (2 Korinthiërs 4:4). Ons as Getuies behoort ons geestelike vryheid werklik te koester!

Ons kinders se geloof word op die proef gestel

Dit is nie net volwassenes nie, maar ook jongmense wat ’n ferm standpunt vir hulle Bybelse oortuiging moes inneem. Hulle is by die skool en by die werk onder druk geplaas om hulle geloof prys te gee. Al vier ons kinders moes al ’n standpunt vir hulle opvattings ingeneem het.

Daar is elke Maandag ’n vlagsalueringsplegtigheid in die skool gehou. Die kinders het in rye op die skoolterrein gaan staan, ’n lied gesing en die sogenoemde Thälmann-saluut gegee terwyl die vlag gehys is. Ernst Thälmann was ’n Duitse Kommunis wat in 1944 deur die Nazi-SS vermoor is. Thälmann het ná die Tweede Wêreldoorlog ’n held in Oos-Duitsland geword. As gevolg van ons Bybelse oortuiging dat heilige diens net aan Jehovah God gegee moet word, het ek en my vrou ons kinders geleer om tydens sulke plegtighede eerbiedig te staan sonder om daaraan deel te neem.

Skoolkinders is ook Kommunistiese liedere geleer. Ek en Margarete het na ons kinders se skool gegaan en verduidelik waarom hulle nie sulke politieke liedere kon sing nie. Ons het gesê dat hulle wel bereid sou wees om ander liedjies te leer. Ons kinders het dus van kleins af geleer om standvastig en anders as hulle portuurs te wees.

Teen die einde van die sewentigerjare wou ons oudste dogter ’n leertyd in ’n kantoor deurmaak. Maar elke vakleerling moes eers 14 dae lank premilitêre diens doen. Aangesien Renate se gewete haar nie toegelaat het om daaraan deel te neem nie, het sy moedig haar standpunt ingeneem en is sy eindelik vrygestel van die verpligting om sulke opleiding te ontvang.

Gedurende haar leerlingskap was Renate in ’n klas waar daar van haar verwag is om te leer skiet. “Renate, jy kom ook na die skietoefening toe”, het die onderwyser gesê. Hy het nie in haar besware belanggestel nie. “Jy hoef nie te skiet nie”, het hy belowe. “Jy kan na die verversings omsien.”

Daardie aand het ons as ’n gesin daaroor gepraat. Ons het gemeen dat dit verkeerd sou wees as Renate die skietoefening bywoon, selfs al sou sy nie regstreeks daaraan deelneem nie. Ons bespreking en gebed het haar krag gegee en sy het haar nie laat intimideer nie. Wat ’n aanmoediging was dit tog vir ons om te sien hoe ons jong dogter ’n standpunt vir regverdige beginsels inneem!

Groter openbare predikingsbedrywighede

Toe daar aan die einde van die sewentigerjare minder teenstand teen ons werk was, is daar begin om groot voorrade van ons Christelike publikasies van die Weste af te bring. Hoewel dit ’n gevaarlike werk was, het moedige broers vrywillig onderneem om dit te doen. Ons het hierdie groter lektuurvoorrade en die pogings van diegene wat dit moontlik gemaak het grootliks waardeer. Dit was ’n ware uitdaging om die predikingswerk van huis tot huis te doen toe die vervolging gedurende die vroeë jare so hewig was. Trouens, sommige het nie daaraan deelgeneem nie omdat hulle bang was vir die owerheid. Maar ons openbare predikingswerk het mettertyd dramaties toegeneem. In die sestigerjare het net ongeveer 25 persent van die Koninkryksverkondigers gereeld aan die huis-tot-huisbediening deelgeneem. Maar diegene wat gereeld aan daardie aspek van die bediening deelgeneem het, het aan die einde van die tagtigerjare tot 66 persent gestyg! Teen daardie tyd het die owerheid minder aandag aan ons openbare predikingsbedrywigheid geskenk.

Ek het eenkeer saam met ’n broer in die bediening gewerk wat sy dogtertjie saamgebring het. ’n Bejaarde vrou met wie ons gepraat het se hart het week geraak toe sy die dogtertjie sien, en sy het ons ingenooi. Sy het ons skriftuurlike aanbieding waardeer en ingestem dat ons haar weer kon besoek. Ek het later die besoek aan my vrou gegee, wat onmiddellik ’n tuisbybelstudie met die vrou begin het. Ten spyte van haar hoë ouderdom en swak gesondheid het hierdie vrou ons suster geword, en sy is steeds bedrywig in Jehovah se diens.

Veranderinge namate vryheid nadergekom het

Jehovah het ons voorberei op die tyd wanneer ons groter vryheid sou geniet. Ter toeligting: Kort voor die verbod opgehef is, is daar vir ons gesê dat ons mekaar anders moet aanspreek. Ons het mekaar om veiligheidsredes op die voornaam genoem. Baie wat mekaar jare lank geken het, het nie geweet wat ’n medegelowige se van was nie. Maar ter voorbereiding op die talle belangstellendes wat by ons vergaderinge verwelkom sou moes word, is ons aangemoedig om mekaar op die van aan te spreek. Vir sommige was dit onpersoonlik, maar diegene wat die raad gevolg het, het later makliker aangepas toe ons ons vryheid gekry het.

Ons is ook aangemoedig om ons vergaderinge met ’n lied te begin. Ons het sodoende gewoond geraak aan die prosedure wat by gemeentes op ander plekke gevolg is. Nog ’n verandering was die grootte van ons studiegroepe. Hulle is geleidelik van vier mense in die vyftigerjare tot agt vergroot. Later is hulle tot 10 en eindelik tot 12 vergroot. Daarbenewens is daar ’n ondersoek gedoen om te verseker dat elke gemeente se vergaderplek vir die meeste Getuies sentraal geleë is.

Ons kon soms eers ná ’n verandering aangebring is, sien dat dit ’n wyse besluit was. Hoe dikwels het Jehovah tog nie getoon dat hy ’n wyse en bedagsame Vader is nie! Hy het ons geleidelik in ooreenstemming gebring met die res van sy aardse organisasie en dit het vir ons al hoe meer begin voel of ons deel van die wêreldwye broederskap van sy volk is. Jehovah God het sy volk beslis liefdevol beskerm deur die byna 40 jaar heen wat hulle onder verbod in Oos-Duitsland gewerk het. Hoe verheug is ons tog nie dat ons nou wetlike status geniet nie!

Vandag is daar meer as 22 000 Getuies van Jehovah in wat vroeër Oos-Duitsland was. Hulle is ’n bewys van Jehovah God se wyse en liefdevolle sorg. Sy steun gedurende die jare wat ons werk verbied was, toon dat hy enige situasie kan bemeester. Watter wapen ook al teen sy volk gesmee word, dit sal niks uitrig nie. Jehovah sorg altyd goed vir diegene wat op hom vertrou (Jesaja 54:17; Jeremia 17:7, 8).—Soos vertel deur Horst Schleussner.

[Prent op bladsy 31]

Horst en Margarete Schleussner by die Genootskap se gebou in Oos-Berlyn

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel