Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 5/1 bl. 26-29
  • Jehovah het na ons omgesien terwyl die werk verbied was—Deel 2

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah het na ons omgesien terwyl die werk verbied was—Deel 2
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek aanvaar verantwoordelikheid
  • Voorbereiding vir afsondering
  • ’n Ondergrondse skool
  • Voordele van die skool
  • Bedrywig in die bediening
  • Die owerheid is nog op ons spoor
  • Berlyn—’n Spieël van ons wêreld?
    Ontwaak!—1990
  • Jehovah het na ons omgesien terwyl die werk verbied was—Deel 1
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Jehovah het na ons omgesien terwyl die werk verbied was—Deel 3
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Aangemoedig deur my gesin se lojaliteit aan God
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 5/1 bl. 26-29

Jehovah het na ons omgesien terwyl die werk verbied was—Deel 2

GEDURENDE die Tweede Wêreldoorlog het die gespe aan die gordel van my Nazi-krygsuniform die inskripsie “God is met ons” op gehad. Vir my was dit net nog ’n voorbeeld van die kerke se betrokkenheid by oorlog en bloedvergieting. Dit het my gewalg. Toe twee Getuies van Jehovah in Limbach-Oberfrohna, Oos-Duitsland, met my gesels het, was ek dus reeds sat van godsdiens en was ek ’n ateïs en ’n evolusionis.

“Moenie dink dat ek ’n Christen gaan word nie”, het ek vir die Getuies gesê wat my besoek het. Maar hulle redenasie het my oortuig dat daar wel ’n God is. Omdat ek nuuskierig was, het ek ’n Bybel gekoop en dit mettertyd saam met hulle begin studeer. Dit het in die lente van 1953 gebeur toe die bedrywighede van die Getuies in Oos-Duitsland reeds byna drie jaar lank deur die Kommuniste verbied was.

The Watchtower van 15 Augustus 1953 het die destydse situasie van Jehovah se Getuies só beskryf: “Al word daar voortdurend op hulle gespioeneer en al word hulle voortdurend bedreig, al kan hulle mekaar nie besoek sonder om eers seker te maak dat hulle nie agtervolg word nie, al beteken dit twee of drie jaar gevangenisstraf vir die ‘verspreiding van opruiende lektuur’ as ’n mens met Wagtoringlektuur in jou besit betrap word en al is honderde van die ryper broers, dié wat die leiding geneem het, in die gevangenis, hou Jehovah se knegte in Oos-Duitsland nietemin aan preek.”

In 1955 het ek en my vrou Regina die internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies in Neurenberg, Wes-Duitsland, bygewoon, en die daaropvolgende jaar is ons albei in Wes-Berlyn gedoop. Dit was natuurlik voordat die Berlynse Muur wat Oos-Duitsland van Wes-Berlyn afgesny het in 1961 opgerig is. Maar my lojaliteit aan Jehovah God is op die proef gestel nog voor ek gedoop is.

Ek aanvaar verantwoordelikheid

Die gemeente van Jehovah se Getuies waarna ons in Limbach-Oberfrohna begin gaan het, het iemand nodig gehad wat Bybellektuur in Wes-Berlyn kon gaan afhaal. Ons het ’n klein sakeonderneming en twee kindertjies gehad, maar ons diens aan Jehovah het reeds die middelpunt van ons lewe geword. Ons het veranderinge aan ons ou motor aangebring, wat dit moontlik gemaak het om 60 boeke te versteek. Dit was gevaarlik om ’n koerier te wees, maar dit het my geleer om op Jehovah te vertrou.

Dit was nie maklik om per motor van Oos-Berlyn na die Westerse sektor te gaan nie, en ek wonder dikwels hoe ons dit ooit reggekry het. Wanneer ons eers in die vrye sektor was, het ons die lektuur afgehaal en die boeke in die motor versteek voordat ons die grens op pad terug na Oos-Duitsland oorgesteek het.

Eenkeer het ons die boeke nét versteek toe ’n vreemdeling uit ’n woonstelgebou gekom het. “Julle daar”, het hy geskreeu. My hart het in my keel gesit. Het hy ons dopgehou? “Julle beter volgende keer ’n ander plek gebruik. Die Oos-Duitse polisiemotor parkeer gewoonlik op daardie hoek, en hulle sal julle dalk vang.” Ek het ’n sug van verligting geslaak. Niks het by die grens skeef geloop nie, en ons vier het die hele pad terug huis toe in die motor gesing.

Voorbereiding vir afsondering

Die broers in Oos-Duitsland het in die vyftigerjare op broers in die Weste staatgemaak vir lektuur en leiding. Maar in 1960 is daar veranderinge aangebring wat elke Getuie in Oos-Duitsland gehelp het om in nouer aanraking te bly met mede-Getuies in die gebied waar hy gewoon het. Toe, in Junie 1961, is die eerste klas van die Koninkryksbedieningskool vir ouere manne in Berlyn gehou. Ek het hierdie eerste kursus van vier weke bygewoon. Skaars ses weke later is ons skielik van die Weste afgesny toe die Berlynse Muur opgerig is. Ons het nou nie net ondergronds nie, maar ook afgesonderd gewerk.

Party was bang dat die bedrywighede van Jehovah se Getuies in Oos-Duitsland tot stilstand sou kom. Maar die organisatoriese veranderinge wat minder as ’n jaar tevore aangebring is, het ons gehelp om ons geestelike eenheid en krag te behou. Daarbenewens het die opleiding van die ouere manne wat die eerste klas van die Koninkryksbedieningskool bygewoon het hulle gehelp om ander ouere manne op te lei. Jehovah het ons dus op ons afsondering voorberei, net soos hy ons met die streekbyeenkomste van 1949 op die verbod in 1950 voorberei het.

Aangesien ons van die Weste afgesny was, was dit duidelik dat ons die inisiatief sou moes neem om die organisasie aan die gang te hou. Ons het aan ons Christenbroers in Wes-Berlyn geskryf en voorgestel dat ons mekaar op ’n hoofweg in die Ooste ontmoet wat vir reisigers uit die Weste toeganklik was. Ons het op die afgesproke plek gemaak asof ons motor gebreek het. Die broers het enkele minute later daar opgedaag en vir ons Bybellektuur gebring. Hulle het gelukkig ook my Koninkryksbedieningskoolhandboek, die aantekeninge wat ek gemaak het en die Bybel wat ek veiligheidshalwe in Berlyn gelos het vir my gebring. Wat ’n vreugde was dit om hulle terug te kry! Min het ek geweet hoeveel ek dit gedurende die volgende twee jaar nodig sou kry.

’n Ondergrondse skool

’n Paar dae later het ons instruksies ontvang om klasse vir die Koninkryksbedieningskool in alle dele van Oos-Duitsland te reël. Vier instrukteurs, waarvan ek een was, is aangestel. Maar dit het vir my na ’n onmoontlike taak gelyk om al die ouere manne op te lei terwyl daar ’n verbod op die werk was. Om ons bedrywighede geheim te hou, het ek besluit om die klasse as ’n kampeervakansie te reël.

Elke klas het uit my as instrukteur en vier studente bestaan, asook ’n sesde broer wat as kok gedien het. Die vrouens en kinders het ook saamgegaan. Ons was dus gewoonlik ’n groep van 15 tot 20 mense. Dit was buite die kwessie om na ’n gewone kampeerplek te gaan, en ek en my gesin het dus na ’n geskikte plek begin soek.

Terwyl ons eenkeer deur ’n dorpie gery het, het ons ’n paadjie gesien wat gelei het na ’n bos wat ver van die hoofpaaie af was. Dit het na die ideale plek gelyk en ek het dus met die burgemeester daaroor gaan praat. “Ons soek na ’n plek waar ons ’n paar weke lank saam met ander gesinne kan kampeer”, het ek verduidelik. “Ons wil graag op ons eie wees sodat die kinders kan baljaar. Mag ons die bos daar anderkant gebruik?” Hy het ingestem en ons het toe ons reëlings getref.

By die kampeerplek het ons die tente en my woonwa so gerangskik dat dit ’n soort binnehof gevorm het wat nie van buite af sigbaar was nie. Die woonwa het as ons klaskamer gedien. Ons het vir 14 dae 8 uur lank per dag vir intensiewe studie daar bymekaargekom. Daar was stoele en ’n tafel in die binnehof ingeval ons onverwagte besoekers sou kry. En ons het hulle gekry! Wanneer dit gebeur het, het ons die liefdevolle steun van ons gesinne werklik waardeer.

Ons gesinne het waggestaan terwyl ons met die klasse besig was. By een spesifieke geleentheid het iemand die burgemeester, wat ook die plaaslike sekretaris van die Kommunistiese Party was, in die paadjie na ons bos toe sien aankom. Die wag het ’n skakelaar gedruk wat met ’n alarm in die woonwa verbind was. Ons het onmiddellik uit die woonwa gespring, op voorafbepaalde plekke om die tafel gaan sit en begin kaart speel. Daar was selfs ’n bottel schnapps om die toneel realisties te laat lyk. Die burgemeester het ’n vriendelike besoek by ons afgelê en is terug huis toe sonder enige vermoede van wat werklik daar aan die gang was.

Daar is van die lente van 1962 af tot aan die einde van 1965 deur die hele land klasse vir die Koninkryksbedieningskool gehou. Die intensiewe opleiding wat hier ontvang is, wat inligting ingesluit het soos hoe om ons spesifieke situasie in Oos-Duitsland die hoof te bied, het die ouere manne voorberei om toesig oor die predikingswerk te hou. Die ouere manne het nie net hulle vakansie opgeoffer om die klasse by te woon nie, maar hulle het ook die gevaar geloop om gevange geneem te word.

Voordele van die skool

Die owerheid het ons bedrywighede sorgvuldig dopgehou, en aan die einde van 1965, nadat die meeste ouere manne die skool deurloop het, het hulle probeer om ons organisasie die nekslag te gee. Hulle het 15 Getuies wat na hulle mening die leiding in die werk geneem het, gearresteer. Dit was goed beplande optrede, want hulle het landwyd toegeslaan. Talle het weer eens gedink dat dit die Getuies sou lam lê. Maar met Jehovah se hulp het ons ons by die situasie aangepas en ons werk soos voorheen voortgesit.

Wat dit veral moontlik gemaak het, was die opleiding wat die ouere manne in die Koninkryksbedieningskool ontvang het en die onverbreeklike bande van vertroue wat hulle gesmee het as gevolg van die omgang wat hulle gedurende hierdie klasse geniet het. Die organisasie het dus gewys waartoe hy in staat is. Hoe belangrik was dit tog dat ons die organisasie se instruksies noukeurig gevolg het!—Jesaja 48:17.

Dit het gedurende die volgende paar maande duidelik begin blyk dat die strawwe optrede deur die regeringsowerheid ons bedrywigheid maar min benadeel het. Ons kon die klasse van die Koninkryksbedieningskool spoedig hervat. Toe die owerheid eers ons herstelvermoë gesien het, was hulle verplig om hulle taktiek te verander. Wat ’n oorwinning vir Jehovah!

Bedrywig in die bediening

Op daardie tydstip was daar sowat vyf mense in elk van ons Gemeentelike Boekstudiegroepe. Ons het almal ons Bybellektuur deur hierdie boekstudiereëling gekry en die predikingswerk is van hierdie studiegroepies af gelei. Jehovah het my en Regina van die begin af geseën met baie mense wat die Bybel wou studeer.

Die werk van huis tot huis is ’n bietjie aangepas om te voorkom dat ons gesien en gearresteer word. Ons het byvoorbeeld een huis besoek en dan ’n paar huise oorgeslaan voordat ons aan die volgende deur geklop het. By een huis het ’n vrou vir my en Regina ingenooi. Ons was besig om ’n skriftuurlike onderwerp met haar te bespreek toe haar seun in die vertrek ingekom het. Hy was baie reguit.

“Het julle al ooit julle God gesien?” het hy gevra. “Ek wil net vir julle sê dat ek net glo wat ek sien. Die res is alles onsin.”

“Ek kan nie met jou saamstem nie”, het ek geantwoord. “Het jy al ooit jou brein gesien? Alles wat jy doen, toon dat jy wel een het.”

Ek en Regina het voorbeelde van ander dinge genoem wat ons aanvaar sonder dat ons dit sien, soos elektrisiteit. Die jong man het aandagtig geluister, en ’n tuisbybelstudie is met hom en sy ma begin. Hulle het albei Getuies geword. Trouens, 14 van die mense saam met wie ek en my vrou gestudeer het, het Getuies geword. Ons het met die helfte van hulle in aanraking gekom terwyl ons besoeke van huis tot huis gedoen het, en die ander helfte het ons tydens die informele getuieniswerk ontmoet.

Wanneer ’n tuisbybelstudie eers gereeld gehou is en ons die persoon as betroubaar beskou het, het ons hom na ons vergaderinge genooi. Maar die belangrikste oorweging was of die student die veiligheid van God se volk in gevaar sou kon stel. Dit het dus soms ’n jaar of wat geduur voordat ons ’n Bybelstudent na ’n vergadering genooi het, en soms het dit baie langer geduur. Ek onthou nog een man wat taamlik prominent was; hy het hooggeplaaste amptenare in die Kommunistiese Party persoonlik geken. Hy het nege jaar lank ’n Bybelstudie gehad voordat hy toegelaat is om vergaderinge by te woon! Vandag is hierdie man ons Christenbroer.

Die owerheid is nog op ons spoor

Ná 1965 was daar nie meer massa-arrestasies nie, maar ons is ook nie in vrede gelaat nie. Die owerheid het ons nog goed dopgehou. Ek het om en by hierdie tyd al hoe meer te doene gehad met die werking van ons organisasie, en die amptenare het dus veral op my doen en late gelet. Hulle het my tallose kere laat haal en my na die polisiestasie geneem vir ondervraging. “Jy kan nou maar tot siens sê vir jou vryheid”, het hulle dan gesê. “Jy is op pad tronk toe.” Maar hulle het my altyd uiteindelik weer laat gaan.

In 1972 het twee amptenare my besoek en ons organisasie onbewustelik lof toegeswaai. Hulle het ons gemeentelike Wagtoring-studie afgeluister. “Ons dink die artikel was baie beledigend”, was hulle beswaar. Hulle was klaarblyklik bekommerd oor wat ander oor die Kommunistiese ideologie kon dink as hulle daardie artikel sou lees. Hulle het gesê: “Die Wagtoring het op stuk van sake ’n oplaag van vyf- of sesmiljoen, en dit word in ontwikkelende lande gelees. Dit is nie net ’n goedkoop nuusblaadjie nie.” Ek het gedink: ‘Nou praat jy die waarheid!’

Teen 1972 was die werk reeds 22 jaar verbied, en Jehovah het ons met liefde en wysheid gelei. Ons het sy instruksies sorgvuldig gevolg, maar dit sou nog 18 jaar duur voordat die Getuies wetlike erkenning in Oos-Duitsland sou kry. Hoe dankbaar is ons tog vir die wonderlike vryhede wat ons nou geniet om ons God, Jehovah, te aanbid!—Soos vertel deur Helmut Martin.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel