Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 5/1 bl. 3-5
  • 1914—Die jaar wat die wêreld geskok het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • 1914—Die jaar wat die wêreld geskok het
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Skielik, in Augustus
  • Verby teen Kersfees?
  • ’n Ingrypende verandering
  • Sarajevo—van 1914 tot 1994
    Ontwaak!—1994
  • Wat 1914 vir jou kan beteken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Die ware betekenis van 1914
    Ontwaak!—1994
  • Die geslag van 1914—Waarom betekenisvol?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 5/1 bl. 3-5

1914—Die jaar wat die wêreld geskok het

“Die Groot Oorlog van 1914-18 lê soos ’n strook verskroeide aarde wat daardie tyd van ons s’n skei. Die talle lewens wat daardeur uitgewis is . . . , die opvattings wat vernietig is, die idees wat verander is en die ongeneeslike wonde van ontnugtering wat nagelaat is, het daartoe gelei dat ’n fisiese en sielkundige kloof tussen twee tydvakke geskep is.”—Uit The Proud Tower—A Portrait of the World Before the War 1890–1914, deur Barbara Tuchman.

“Dit is al byna—hoewel nog nie heeltemal nie—’n deel van die geskiedenis, want etlike duisende mense wat aan die begin van hierdie betekenisvolle twintigste eeu jonk was, leef nog.”—Uit die boek 1914, deur Lyn MacDonald, wat in 1987 uitgegee is.

WAAROM moet ons in die jaar 1914 belangstel? ‘Ek bekommer my oor die toekoms’, sê jy dalk, ‘nie oor die verlede nie.’ Met probleme soos wêreldwye besoedeling, die verbrokkeling van die gesinslewe, die toename in misdaad, geestesiektes en werkloosheid lyk die mens se toekoms maar donker. Nogtans het baie mense wat die betekenis van 1914 ondersoek het ’n grondslag vir hoop op ’n beter toekoms ontdek.

Die Wagtoring verduidelik al dekades lank dat die mensdom in 1914 ’n tydperk betree het wat bekend is as “’n begin van die smarte”. Daardie uitdrukking maak deel uit van Jesus Christus se belangrike profesie omtrent gebeure wat die einde van die mens se goddelose stelsel sou kenmerk.—Mattheüs 24:7, 8.

Net ’n geringe persentasie van die mensdom kan vandag nog die dramatiese gebeure van 1914 onthou. Sal daardie reeds bejaarde geslag verbygaan voor God die aarde van verwoesting red? Nie volgens Bybelprofesieë nie. “Wanneer julle al hierdie dinge sien”, het Jesus beloof, “[weet] dat dit naby is, voor die deur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.”—Mattheüs 24:33, 34.

Om te kan verstaan waarom die jaar 1914 van soveel geskiedkundige belang is, kan jy gerus nadink oor die wêreldsituasie tot die middel van 1914. Voor daardie tyd het monarge soos tsaar Nikolaas van Rusland, keiser Wilhelm van Duitsland en keiser Frans-Josef van Oostenryk-Hongarye groot mag uitgeoefen. Elkeen van hierdie manne kon meer as viermiljoen soldate mobiliseer en hulle in die geveg laat tree. Maar hulle voorvaders het die sogenaamde Heilige Alliansie onderteken wat verklaar het dat God hulle gemagtig het om oor verskillende dele van een groot “Christelike nasie” te heers.

Volgens The Encyclopædia Britannica het hierdie dokument “die verloop van Europese diplomasie gedurende die 19de eeu geweldig beïnvloed”. Dit is gebruik om demokratiese bewegings teen te staan en om die sogenaamde goddelike reg van konings te begunstig. “Ons as Christelike konings”, het keiser Wilhelm aan tsaar Nikolaas geskryf, “het een heilige plig wat ons deur die Hemel opgelê is, en dit is om die beginsel van [die goddelike reg van konings] te handhaaf.” Het dit beteken dat Europa se konings op die een of ander manier met die Koninkryk van God verband gehou het? (Vergelyk 1 Korinthiërs 4:8.) En wat van die kerke wat daardie konings ondersteun het? Was die Christelikheid wat hulle bely het eg? Die antwoord op hierdie vrae het in die jare onmiddellik ná 1914 duidelik geword.

Skielik, in Augustus

“Die lente en somer van 1914 was ’n tyd van buitengewone kalmte in Europa”, het die Britse staatsman Winston Churchill geskryf. Mense was oor die algemeen optimisties oor die toekoms. “Die wêreld van 1914 was vol hoop en het baie belofte ingehou”, het Louis Snyder in sy boek World War I gesê.

Daar was weliswaar reeds etlike jare lank hewige wedywering tussen Duitsland en Brittanje. Nogtans verduidelik geskiedskrywer G. P. Gooch in sy boek Under Six Reigns: “In 1914 was die waarskynlikheid van ’n Europese konflik kleiner as in 1911, 1912 of 1913 . . . Die verhouding tussen die twee regerings was beter as wat dit in jare was.” Volgens Winston Churchill, ’n lid van die Britse parlement van 1914, ‘was Duitsland blykbaar net so vasbeslote soos ons om die vrede te bewaar’.

Maar met die moord op die kroonprins van die Oostenryks-Hongaarse Ryk op 28 Junie 1914 in Sarajewo het ’n donker wolk op die horison verskyn. ’n Maand later het keiser Frans-Josef oorlog verklaar teen Serwië en sy troepe beveel om daardie koninkryk binne te val. Intussen, op bevel van keiser Wilhelm, het ’n groot Duitse leër die koninkryk van België gedurende die nag van 3 Augustus 1914 binnegeval en toe sy pad na Frankryk oopgeveg. Die volgende dag het Brittanje oorlog teen Duitsland verklaar. Tsaar Nikolaas het op sy beurt die geweldige groot Russiese leër beveel om te mobiliseer vir oorlog teen Duitsland en Oostenryk-Hongarye. Die Heilige Alliansie kon nie daarin slaag om Europa se konings daarvan te weerhou om die vasteland in ’n bloedbad van wedersydse slagting te dompel nie. Maar die groot skokke het nog voorgelê.

Verby teen Kersfees?

Die uitbreek van oorlog het nie die mense se optimisme gedemp nie. Baie het geglo dat dit ’n beter wêreld teweeg sou bring, en groot skares het oral in Europa vergader om hulle ten gunste daarvan uit te spreek. “In 1914”, skryf A. J. P. Taylor in sy boek The Struggle for Mastery in Europe—1848–1918, “het niemand, behalwe op ’n suiwer militêre vlak, die gevare van oorlog in ’n ernstige lig beskou nie. . . . Niemand het ’n sosiale katastrofe verwag nie.” Inteendeel, baie het voorspel dat die oorlog binne ’n paar maande verby sou wees.

Lank voor die Europeërs hulle Kersfees van 1914 kon vier, het ’n bloedige dooie punt egter ontwikkel langs ’n strook loopgrawe wat 700 kilometer ver, van Switserland in die suide tot aan die Belgiese kus in die noorde, gestrek het. Dit is die Wesfront genoem, en ’n Duitse skrywer Herbert Sulzbach het daarna verwys in ’n inskrywing wat op die laaste dag van 1914 in sy dagboek gemaak is. Die inskrywing lui: “Hierdie verskriklike oorlog sleep steeds voort, en al sou ’n mens met die uitbreek daarvan kon dink dat dit binne ’n paar weke oor sou wees, is daar nou geen einde in sig nie.” Intussen het bloedige gevegte in ander dele van Europa tussen die troepe van Rusland, Duitsland, Oostenryk-Hongarye en Serwië gewoed. Die konflik het spoedig die grense van Europa oorgesteek, en die stryd het gewoed op die oseane en in Afrika, in die Midde-Ooste en op die eilande van die Stille Oseaan.

Vier jaar later het Europa verwoes gelê. Duitsland, Rusland en Oostenryk-Hongarye het elk tussen een- en tweemiljoen soldate verloor. Rusland het selfs sy monargie tydens die Bolsjewistiese revolusie van 1917 verloor. Wat ’n skok was dit nie vir Europa se konings en die geestelikes wat hulle ondersteun het nie! Hedendaagse geskiedskrywers spreek steeds hulle verbasing uit. In sy boek Royal Sunset vra Gordon Brook-Shepherd: “Hoe kon heersers, wat grotendeels deur bloed- of deur huweliksbande verbind was en wat almal toegewy was aan die handhawing van koningskap, dit toegelaat het dat hulle in ’n bloedbad van broedermoord beland wat talle van hulle uitgewis het en al die oorlewendes in ’n verswakte posisie gelaat het?”

Die Franse republiek het ook meer as ’n miljoen soldate verloor, en die Britse Ryk, wie se monargie reeds lank voor die oorlog verswak is, het meer as 900 000 verloor. Meer as 9 miljoen soldate het altesaam gesneuwel en nog 21 miljoen is gewond. Met betrekking tot verliese onder burgerlikes sê The World Book Encyclopedia: “Niemand weet hoeveel burgerlikes weens siekte, hongersnood en ander oorlogverwante oorsake gesterf het nie. Party geskiedskrywers meen dat daar net soveel burgerlikes as soldate gesterf het.” Die Spaanse griepepidemie van 1918 het nog 21 000 000 lewens wêreldwyd geëis.

’n Ingrypende verandering

Ńa die Groot Oorlog, soos dit destyds genoem is, was die wêreld nooit weer dieselfde nie. Aangesien so baie van die Christendom se kerke ywerig daaraan deelgeneem het, het baie ontnugterde oorlewendes godsdiens die rug toegekeer en ateïsme begin aanhang. Ander het materiële rykdom en plesier begin najaag. In sy boek Rites of Spring sê professor Modris Eksteins dat die twintigerjare “’n geweldige vlaag hedonisme en narcisme beleef het”.

“Die oorlog”, verduidelik professor Eksteins, “was ’n aanval op sedelike standaarde.” Manne aan albei kante is deur godsdiens-, militêre en politieke leiers geleer om massamoord as sedelik goed te beskou. Eksteins erken dat dit “eenvoudig die grofste denkbare aanval op ’n sedelike orde was wat beweer het dat dit in ’n Judeo-Christelike etiek gesetel was”. “Aan die Wesfront”, voeg hy by, “was bordele spoedig ’n vaste instelling by basiskampe . . . Sedelikheid aan die tuisfront het eweneens sy borsrok en gordel losgemaak. Prostitusie het opmerklik toegeneem.”

In 1914 het dinge inderdaad baie verander. Dit het nie ’n beter wêreld tot stand gebring nie, en dié oorlog was toe ook nie “die oorlog om ’n einde aan alle oorloë te maak”, soos baie mense gehoop het dit sou wees nie. Pleks daarvan, sê geskiedskrywer Barbara Tuchman, “het grootse planne en entoesiastiese idees wat nog tot in 1914 gekoester kon word stadig weggesink in ’n see van ontsaglike ontnugtering”.

Maar daar was sommige mense wat die tragedie van 1914 aanskou het en wat nie verbaas was oor die gebeure van daardie jaar nie. Trouens, reeds voor die oorlog uitgebreek het, was hulle “’n verskriklike tyd van swaarkry” te wagte. Wie was hulle? En wat het hulle geweet wat ander nie geweet het nie?

[Venster op bladsy 5]

Britse optimisme in 1914

“Vir bykans ’n eeu het geen vyand sy verskyning in die seë rondom ons eiland gemaak nie. . . . Dit was moeilik om jou selfs die moontlikheid in te dink van ’n bedreiging van hierdie vredevolle kuslyn. . . . Londen het nog nooit joliger en welvarender voorgekom nie. Daar was nog nooit soveel dinge wat die moeite werd was om te doen, te sien en te hoor nie. Nóg die ouer garde nóg die jonger geslag het enige vermoede gehad dat dit wat hulle gedurende daardie onvergelykbare tydperk in 1914 aanskou het die einde van ’n era was.”—Before the Lamps Went Out, deur Geoffrey Marcus.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel