Die Spaanse Bybel se stryd om behoue te bly
OP ’N dag in Oktober 1559 het ongeveer 200 000 Spaanse Katolieke na die noordelike stad Valladolid gestroom. Die attraksie was ’n auto-da-fé, waar “twee slagoffers lewend verbrand en tien verwurg is”. Hulle was “ketters”.
Die gewilde jong koning Filips II het self oor hierdie geleentheid toesig gehou. Toe ’n veroordeelde man die koning om genade gesmeek het, het hy hom toegesnou: “As my eie seun so ’n ellendeling soos jy was, sou ek self die bondels hout aangedra het om hom te verbrand.” Wat was die ongelukkige slagoffer se misdaad? Hy het maar net die Bybel gelees.
Terselfdertyd was die organisasie van die Katolieke Inkwisisie ook in die Andalusiese stad Sevilla bedrywig. Daar het ’n groep monnike by die San Isidro del Campo-klooster pas ’n geheime besending Bybels in Spaans ontvang. Sou hulle verraai word? Dié wat besef het dat hulle in lewensgevaar verkeer, het uit die land gevlug. Maar 40 van diegene wat agtergebly het, was nie so gelukkig nie en is op die brandstapel verbrand. Onder hulle was die einste man wat die Bybels die land ingesmokkel het. In die sestiende eeu was Spanje ’n lewensgevaarlike plek vir mense wat die Bybel gelees het—min van hulle het aan die kloue van die Inkwisisie ontsnap.
Onder die min wat ontsnap het, was ’n voormalige monnik, Cassiodoro de Reyna (c. 1520-94). Hy het na Londen gevlug, maar selfs daar kon hy nie veiligheid vind nie. Die Inkwisisie het ’n beloning aangebied vir sy inhegtenisneming, en die Spaanse ambassadeur aan die Engelse hof het planne beraam om hom tot elke prys na Spaansbeheerde gebied terug te lok. Binne ’n kort tydjie het valse aantygings van egbreuk en homoseksualiteit hom gedwing om Engeland te verlaat.
Met onvoldoende geldmiddele en ’n groeiende gesin om te onderhou, het hy eers in Frankfurt skuiling gevind. Sy soeke na godsdiensbeskerming het hom later na Frankryk, Holland en uiteindelik na Switserland geneem. Tog het hy gedurende al hierdie tyd besig gebly. ‘Afgesien van die tye wat ek siek was of gereis het, . . . het ek nooit die pen neergesit nie’, het hy verduidelik. Hy het baie jare daaraan bestee om die Bybel in Spaans te vertaal. Uiteindelik is daar in 1568 in Switserland begin om 2 600 eksemplare van Reyna se Bybel te druk, en dit is in 1569 voltooi. Een uitstaande kenmerk van Reyna se vertaling was dat hy vir die Tetragrammaton, die vier Hebreeuse letters vir die persoonsnaam van God, eerder Iehoua (Jehová) as Señor gebruik het.
Die Spaanse Bybel in wording
Vreemd genoeg was daar op daardie tydstip, danksy die uitvinding van die drukpers, ’n oorvloed van Bybels in Europa, terwyl hulle in Spanje al hoe skaarser geword het. Dit was nie altyd die geval nie. Eeue lank was die Bybel die boek wat die grootste verspreiding in Spanje geniet het. Handgeskrewe eksemplare was in Latyn beskikbaar en ’n paar eeue lank selfs in Goties. Gedurende die Middeleeue, het ’n geskiedskrywer verduidelik, “was die Bybel—as ’n bron van inspirasie en gesag en ’n standaard vir geloof en gedrag—belangriker in Spanje as in Duitsland of Engeland”. Verskeie Bybelverhale, Psalters (of Psalms), glossariums, sedelesse en soortgelyke werke het suksesboeke van die tyd geword.
Ervare kopiïste het Bybelmanuskripte voortreflik en nougeset gekopieer. Hoewel 20 skrywers ’n hele jaar lank aan net een eersteklas manuskrip gewerk het, was daar teen die vyftiende eeu in Spanje baie Latynse Bybels en duisende kommentare op die Latynse Bybel in omloop.
Toe Spaans begin ontwikkel het, was daar boonop belangstelling om die Bybel in die volkstaal te hê. Die Bybel is reeds in die 12de eeu vertaal in die Romaanse taal, of vroeë Spaans, die taal wat deur die volk gepraat is.
’n Kortstondige oplewing
Maar hierdie oplewing het nie lank geduur nie. Toe die Waldensers, Lollards en Hussiete die Skrif begin gebruik om hulle opvattings te verdedig, was die reaksie vinnig en heftig. Die Katolieke owerhede het Bybellesing met agterdog bejeën, en die nuwe vertalings in die volkstale is openlik veroordeel.
Die Katolieke Konsilie van Toulouse (Frankryk) wat in 1229 vergader het, het verklaar: “Ons verbied enige leek om die boeke van die Ou of Nuwe Testament te besit wat in die volkstaal vertaal is. As ’n gelowige wil, mag hy ’n Psalter of ’n Brevier [boek met gesange en gebede] besit . . . maar onder geen omstandighede mag hy die bogenoemde boeke besit wat in die Romaanse taal vertaal is nie.” Vier jaar later het Jakobus I van Aragon (koning oor ’n groot deel van die Iberiese Skiereiland) beveel dat almal wat ’n Bybel in die volkstaal besit dit binne agt dae aan die plaaslike biskop moes oorhandig om verbrand te word. Versuim om dit te doen, sou van die geestelike of die leek wat so ’n Bybel besit ’n vermeende ketter maak.
Ondanks hierdie verbooie—wat nie altyd streng nagekom is nie—het party Spanjaarde teen die einde van die Middeleeue nog ’n Romaanse Bybel besit. Dit het in 1478 tot ’n skielike einde gekom met die stigting van die Spaanse Inkwisisie onder koningin Isabella en koning Ferdinand. In 1492 is daar in die stad Salamanca alleen 20 handgeskrewe eksemplare van die Bybel, wat van onskatbare waarde was, verbrand. Die enigste Romaanse Bybelmanuskripte wat behoue gebly het, is dié wat bewaar is in die persoonlike biblioteke van die koning en ’n paar invloedryke edelmanne wat bo verdenking gestaan het.
Gedurende die daaropvolgende tweehonderd jaar was die enigste amptelike Katolieke Bybel wat in Spanje uitgegee is—buiten die Latynse Vulgaat—die Complutensiese Poliglot, die eerste poliglottiese Bybel wat deur kardinaal Cisneros voorgestaan is. Dit was ongetwyfeld ’n werk vir geleerdes en beslis nie vir die gewone man geskryf nie. Net 600 eksemplare is gemaak, en min mense kon dit verstaan omdat dit die Bybelteks in Hebreeus, Aramees, Grieks en Latyn—nie in Spaans nie—gehad het. Boonop was die Bybel buitensporig duur. Dit het drie goue dukate gekos (gelykstaande met ses maande se salaris vir ’n gewone arbeider).
Daar word ondergronds aan die Spaanse Bybel gewerk
In die vroeë 16de eeu het ’n Spaanse “Tyndale”, Francisco de Enzinas, op die toneel verskyn. Hy was die seun van ’n ryk Spaanse landheer, en toe hy nog ’n jong student was, het hy die Christelike Griekse Geskrifte in Spaans begin vertaal. Later het hy die vertaling in Nederland laat druk, en in 1544 het hy onverskrokke probeer om koninklike toestemming te kry om dit in Spanje te versprei. Die keiser van Spanje, Karel I, was op daardie tydstip in Brussel, en Enzinas het hierdie geleentheid benut om koninklike toestemming vir sy projek te vra.
Volgens berig het die buitengewone gesprek tussen die twee mans soos volg verloop: “Watter soort boek is dit?” het die keiser gevra. Enzinas het geantwoord: “Dit is dié deel van die Heilige Skrif wat die Nuwe Testament genoem word.” “Wie is die skrywer van die boek?” het die keiser hom gevra. “Die heilige gees”, het hy geantwoord.
Die keiser het publisering van hierdie Bybel op een voorwaarde gemagtig—dat sy persoonlike biegvader, ’n Spaanse monnik, ook sy goedkeuring daarvoor gee. Ongelukkig het Enzinas nie daardie goedkeuring gekry nie, en die Inkwisisie het hom kort daarna opgesluit. Na twee jaar het hy daarin geslaag om te ontsnap.
’n Paar jaar later is ’n hersiene uitgawe van hierdie vertaling in Venesië, Italië, gedruk, en dit was hierdie uitgawe van die Skrif wat Julián Hernández in die geheim na Sevilla, Spanje, gebring het. Maar hy is gevang, en nadat hy twee jaar lank gemartel is en in die tronk was, is hy saam met ander mede-Bybelstudente tereggestel.a
By die Konsilie van Trente (1545-63) het die Katolieke Kerk sy veroordeling van Bybelvertalings in die volkstaal herhaal. Die konsilie het ’n indeks verbode boeke gepubliseer wat al daardie Bybelvertalings ingesluit het wat sonder die kerk se goedkeuring uitgegee is. In die werklikheid het dit beteken dat alle Spaanse Bybels onwettig verklaar is en dat die blote besit van een daartoe kon lei dat die doodsvonnis opgelê word.
’n Paar jaar na die publisering van Reyna se vertaling het Cipriano de Valera, nog ’n voormalige monnik wat aan die woede van die Inkwisisie in Sevilla ontsnap het, dit hersien. Hierdie vertaling is in 1602 G.J. in Amsterdam gedruk, en ’n paar eksemplare is in die geheim na Spanje gebring. In sy oorspronklike en hersiene weergawes is die Reyna-Valera-Bybel steeds die vertaling wat die meeste deur Spaanssprekende Protestante gebruik word.
Die sluise gaan oop
In 1782 het die beslissingsraad van die Inkwisisie uiteindelik besluit dat die Bybel gepubliseer kan word mits dit aantekeninge oor geskiedenis en dogma bevat. In 1790 het die Katolieke biskop van Segovia, Felipe Scio de San Miguel, die Latynse Vulgaat gebruik om ’n Bybel in Spaans te vertaal. Ongelukkig was dit baie duur—1 300 reale was destyds ’n onmoontlike prys—en die bewoording was so onduidelik dat ’n Spaanse geskiedskrywer dit as “’n groot jammerte” beskryf het.
’n Paar jaar later het die Spaanse koning Fernando VII die biskop van Astorga, Félix Torres Amat, beveel om ’n verbeterde vertaling te maak wat ook op die Latynse Vulgaat gebaseer is. Hierdie vertaling is in 1823 vrygestel en dit het ’n groter verspreiding as Scio se vertaling geniet. Omdat dit egter nie op die oorspronklike Hebreeus en Grieks gebaseer is nie, het dit die gewone tekortkominge gehad van ’n vertaling wat vertaal is.
Ondanks hierdie vooruitgang was die kerk en die land se heersers steeds nie daarvan oortuig dat gewone mense die Skrif moes lees nie. Toe George Borrow, ’n verteenwoordiger van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap, in die 1830’s toestemming gevra het om Bybels in Spanje te druk, het staatsminister Mendizábal vir hom gesê: “My liewe meneer, ons wil nie Bybels hê nie, maar eerder gewere en buskruit om die rebelle te onderdruk, en bowenal het ons geld nodig om die troepe te betaal.” Borrow het voortgegaan en die Evangelie van Lukas in die taal van die Spaanse Sigeuners vertaal, en in 1837 is hy vir sy pogings in die tronk gegooi!
Uiteindelik kon die gety nie meer teruggehou word nie. In 1944 het die Spaanse kerk sy eerste vertaling van die Heilige Skrif gedruk wat op die oorspronklike tale gebaseer was—ongeveer 375 jaar na die vertaling van Cassiodoro de Reyna. Dit was die vertaling van die Katolieke geleerdes Nácar en Colunga. Dit is in 1947 gevolg deur die vertaling van Bover en Cantera. Sedertdien is dit gevolg deur ’n vloed van Spaanse vertalings van die Bybel.
’n Gewisse oorwinning
Hoewel die Spaanse Bybel eeue lank moes stry om behoue te bly, is die stryd uiteindelik gewen. Die groot opofferings van onverskrokke vertalers soos Reyna was beslis nie tevergeefs nie. Hoeveel mense wat vandag ’n Bybel koop, staan stil en dink aan die tyd toe die besit van ’n Bybel verbode was?
Vandag is die Bybel in Spanje en in Spaanssprekende lande ’n suksesboek, en daar is baie vertalings beskikbaar. Hieronder is die Versión Moderna (Moderne Vertaling, 1893), wat God se naam, Jehová, deurgaans gebruik; die Pauline-uitgawe van die Bybel (1964) wat die naam Yavé in die Hebreeuse Geskrifte gebruik; die Nueva Biblia Española (Nuwe Spaanse Bybel, 1975) wat ongelukkig nóg Jehová nóg Yavé gebruik; en die Traducción del Nuevo Mundo (Nuwe Wêreld-vertaling, 1967) wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee is en wat die naam Jehová gebruik.
Jehovah se Getuies besoek elke week die huise van miljoene Spaanssprekende mense om hulle te help om die waarde van die Heilige Skrif te besef—’n boek om voor te sterf en ’n boek waarvolgens jy kan lewe. Trouens, die verhaal van die Spaanse Bybel se stryd om behoue te bly, is ’n verdere bewys dat “die woord van onse God . . . stand [hou] in ewigheid”.—Jesaja 40:8.
[Voetnoot]
a Op daardie tydstip kon hoegenaamd geen boek sonder ’n spesiale lisensie ingevoer word nie, en geen bibliotekaris kon enige besending boeke sonder die amptelike toestemming van die Heilige Offisie (Inkwisisie) oopmaak nie.
[Prent op bladsy 10]
Afskrifte is van die Complutensiese Poliglot gemaak en dit kan dus maklik ondersoek word. (Sien bladsy 8.)
[Erkenning]
Courtesy of the Biblioteca Nacional, Madrid, Spain