Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 7/15 bl. 8-13
  • Christus het wetteloosheid gehaat—Haat jy dit?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Christus het wetteloosheid gehaat—Haat jy dit?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Drie soorte haat
  • Waarom ons wetteloosheid moet haat
  • Diegene wat wetteloosheid haat
  • Ons moet toon dat ons wetteloosheid haat
  • Haat geslagsonreinheid
  • Haat valse godsdiens en afvalligheid
  • Haat jy wetteloosheid?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Wetteloosheid raak wêreldwyd al hoe meer – Wat sê die Bybel?
    Nog onderwerpe
  • “Die wettelose mens” word geïdentifiseer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Die enigste manier om haat uit te wis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 7/15 bl. 8-13

Christus het wetteloosheid gehaat—Haat jy dit?

“U het geregtigheid liefgehad en wetteloosheid gehaat. Daarom het God, u God, u gesalf met die olie van uitbundige vreugde, meer as u deelgenote.”—HEBREËRS 1:9, NW.

1. Wat word, benewens ons liefde vir geregtigheid, ook van alle ware knegte van Jehovah God vereis?

JEHOVAH se ware knegte het hom lief met hulle hele hart, siel, verstand en krag (Markus 12:30). Hulle wil Jehovah se hart verbly deur hulle onkreukbaarheid te handhaaf (Spreuke 27:11). Om dit te doen, moet hulle nie net geregtigheid liefhê nie, maar moet hulle ook wetteloosheid haat. Hulle Voorbeeld, Jesus Christus, het dit beslis gedoen. Daar is van hom gesê: “U het geregtigheid liefgehad en wetteloosheid gehaat.”—Hebreërs 1:9.

2. Wat sluit wetteloosheid alles in?

2 Wat is wetteloosheid? Dit is sonde, soos die apostel Johannes getoon het toe hy geskryf het: “Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid” (1 Johannes 3:4). ’n Wettelose mens word “nie deur die wet beperk of bedwing nie” (Webster’s Ninth New Collegiate Dictionary). Wetteloosheid sluit alles in wat sleg, goddeloos, onsedelik, verdorwe en oneerlik is. As ons na die wêreld kyk, sien ons dat wetteloosheid vandag algemener is as ooit tevore. Daar bestaan geen twyfel nie dat ons in die “swaar tye” lewe wat die apostel Paulus in 2 Timotheüs 3:1-5 voorspel het. Hoe goed is dit tog, met die oog op al hierdie wetteloosheid, dat ons beveel word om alle verdorwenheid te haat! Daar word byvoorbeeld vir ons gesê: “o Liefhebbers van die HERE, haat die kwaad” (Psalm 97:10). Ons lees ook dat ons “moet haat wat sleg is en liefhê wat goed is”.—Amos 5:15.

Drie soorte haat

3-5. Op watter drie maniere word die woord “haat” in God se Woord gebruik?

3 Wat beteken dit om te haat? In God se Woord word “haat” op drie verskillende maniere gebruik. Daar is die haat wat weens kwaadwilligheid ontstaan en wat daarop gerig is om die een wat gehaat word kwaad aan te doen. Christene moet hierdie soort haat vermy. Dit is die soort haat wat daartoe gelei het dat Kain sy regverdige broer Abel doodgemaak het (1 Johannes 3:12). Dit is ook die soort haat wat die godsdiensleiers vir Jesus Christus gehad het.—Mattheüs 26:3, 4.

4 Daarbenewens word die woord “haat” in die Skrif gebruik in die sin van minder liefhê. Jesus het byvoorbeeld gesê: “As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie” (Lukas 14:26). Jesus het ongetwyfeld bloot bedoel dat ons dít minder moet liefhê as wat ons hom liefhet. Jakob het ‘Lea gehaat’, maar hy het haar in werklikheid minder liefgehad as Ragel.—Genesis 29:30, 31, NW.

5 Dan is daar die betekenis van die woord “haat” wat hier vir ons veral van belang is. Dit is om so ’n intense teësin te hê in of sterk afkeer te hê van iemand of iets dat ons dit sal vermy om enigiets met so iemand of so iets te doen te hê. In Psalm 139 word dit “’n volkome haat” genoem. Dawid het daar gesê: “HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en ’n afsku hê van die wat teen U opstaan nie? Ek haat hulle met ’n volkome haat; vyande is hulle vir my.”—Psalm 139:21, 22.

Waarom ons wetteloosheid moet haat

6, 7. (a) Wat is die vernaamste rede waarom ons wetteloosheid moet haat? (b) Wat is ’n tweede kragtige rede waarom ons wetteloosheid moet haat?

6 Waarom moet ons wetteloosheid haat? Een rede is sodat ons selfrespek en ’n goeie gewete kan hê. Dit is die enigste manier waarop ons ’n goeie verhouding met ons regverdige, liefdevolle hemelse Vader, Jehovah, kan hê. Dawid het ’n goeie voorbeeld in hierdie verband gestel, soos ons kan sien wanneer ons Psalm 26 lees. Hy het byvoorbeeld gesê: “Ek haat die vergadering van kwaaddoeners, en by die goddelose sit ek nie” (Psalm 26:5). Ons liefde vir God en vir geregtigheid moet ons beweeg om regverdige verontwaardiging—ja, haat—te koester teen alles wat volgens hom wetteloos is, onder andere die wettelose dade van diegene wat aan Jehovah ongehoorsaam is en hom haat. Daarbenewens moet ons wetteloosheid haat vanweë die oneer wat dit op God se naam bring.

7 Nog ’n rede waarom Jehovah se volk wetteloosheid moet haat, is omdat dit baie gevaarlik en skadelik is. Wat sal die gevolge daarvan wees as ’n mens in die vlees saai, wat beteken dat jy in wetteloosheid saai? Paulus het gewaarsku: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai” (Galasiërs 6:7, 8). Ons moet dus absoluut niks met wetteloosheid te doen wil hê nie. Ons moet beslis alle wetteloosheid ter wille van ons eie welsyn en gemoedsrus haat.

Diegene wat wetteloosheid haat

8. Wie het die treffendste voorbeeld gestel van iemand wat wetteloosheid haat, soos watter tekste vir ons toon?

8 God stel vir alle intelligente skepsele die treffendste voorbeeld van iemand wat wetteloosheid haat. Hy toon regverdige verontwaardiging ten opsigte van wetteloosheid, en sy Woord sê: “Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel ’n gruwel: trotse oë, ’n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet, ’n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop, een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.” Ons lees ook: “Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en ’n slegte wandel en ’n huigelagtige mond haat ek” (Spreuke 6:16-19; 8:13). Daar word boonop vir ons gesê: “Ek, die HERE, het die reg lief; Ek haat die roof met onreg.”—Jesaja 61:8.

9, 10. Hoe het Jesus getoon dat hy wetteloosheid haat?

9 Jesus Christus het sy Vader se voorbeeld gevolg deur wetteloosheid te haat. Ons lees in hierdie verband: “U het geregtigheid liefgehad en wetteloosheid gehaat. Daarom het God, u God, u gesalf met die olie van uitbundige vreugde, meer as u deelgenote” (Hebreërs 1:9, NW). Jesus het vir ons ’n voorbeeld ten opsigte van hierdie soort haat gestel. Hy het getoon dat hy wetteloosheid haat deur diegene wat moedswillig wetteloos was—die valse godsdiensleiers—aan die kaak te stel. Hy het hulle herhaaldelik as huigelaars veroordeel (Mattheüs, hoofstuk 23). Jesus het by ’n ander geleentheid vir hulle gesê: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen” (Johannes 8:44). Jesus het getoon dat hy wetteloosheid haat deur selfs so ver te gaan om die tempel by twee geleenthede fisies van hebsugtige godsdienshuigelaars te reinig.—Mattheüs 21:12, 13; Johannes 2:13-17.

10 Jesus het ook getoon dat hy wetteloosheid en sonde haat deur heeltemal vry daarvan te bly. Daarom kon hy sy teenstanders tereg vra: “Wie van julle oortuig My van sonde?” (Johannes 8:46). Jesus was “heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars” (Hebreërs 7:26). Petrus het dit bevestig toe hy geskryf het dat Jesus ‘geen sonde gedoen het nie, en dat daar in sy mond geen bedrog gevind is nie’.—1 Petrus 2:22.

11. Watter skriftuurlike voorbeelde het ons van onvolmaakte mense wat wetteloosheid gehaat het?

11 Maar Jesus was ’n volmaakte man. Het ons skriftuurlike voorbeelde van onvolmaakte mense wat werklik wetteloosheid gehaat het? Ons het beslis! Moses en sy mede-Leviete het byvoorbeeld groot haat teenoor afgodediens getoon deur ongeveer 3 000 afgodedienaars op Jehovah se bevel tereg te stel (Exodus 32:27, 28). Pinehas het groot haat teenoor wetteloosheid getoon toe hy twee hoereerders met ’n spies doodgemaak het.—Numeri 25:7, 8.

Ons moet toon dat ons wetteloosheid haat

12. (a) Hoe kan ons toon dat ons wetteloosheid haat? (b) Wat is sommige praktiese maniere waarop ons wettelose gedagtes kan vermy?

12 Hoe kan ons vandag toon dat ons wetteloosheid haat? Deur ons gedagtes, woorde en dade te beheers. Ons moet die gewoonte aankweek om opbouende dinge te bedink wanneer ons gedagtes nie met iets spesifieks besig is nie. Wanneer ons dalk snags wakker lê, kan ons miskien geneig wees om oor negatiewe dinge te dink, soos om gedurig oor dinge te dink wat ons kwel of ons in geslagsfantasieë te verlustig. Ons moet nooit oor sulke dinge dink nie, maar ons moet die gewoonte aankweek om nuttige dinge te bedink. Probeer byvoorbeeld om tekste, die nege saligsprekinge en die nege vrugte van die gees te memoriseer (Mattheüs 5:3-12; Galasiërs 5:22). Kan jy die 12 apostels opnoem? Ken jy die Tien Gebooie? Met watter sewe gemeentes word daar in Openbaring gepraat? As ons Koninkryksliedere memoriseer, help dit ons ook om dinge wat waar, eerbaar, regverdig, rein, lieflik, loflik en deugsaam is te bedink.—Filippense 4:8.

13. Watter soort gesprekke sal ons haat as ons wetteloosheid haat?

13 Ons wys verder dat ons wetteloosheid haat deur alle vuil taal te vermy. Baie wêreldse mense skep behae daarin om vuil grappe te vertel en daarna te luister, maar Christene moenie eers geneig wees om daarna te wil luister nie. Ons moet liewer wegloop en dit vermy om deel te neem aan enige gesprekke wat tot sulke lae vlakke daal. As ons nie kan wegloop nie, kan ons ten minste deur ons gesigsuitdrukking wys dat ons sulke praatjies haat. Ons moet op hierdie goeie raad ag gee: “Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ’n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor” (Efesiërs 4:29). Ons moet onsself nie verontreinig deur oor onrein dinge te praat of daarna te luister nie.

14. Hoe sal dit ons beveilig as ons wetteloosheid haat wanneer dit kom by dinge soos sakegebruike en ons werk?

14 Die feit dat ons wetteloosheid haat, moet ook maak dat ons alle sondige gebruike haat. As ons wetteloosheid haat, sal dit ons help om die strik te vermy om ’n kompromis in hierdie verband aan te gaan. Ware Christene beoefen nie sonde nie. (Vergelyk 1 Johannes 5:18.) Ons moet byvoorbeeld alle oneerlike sakegebruike haat. Baie Getuies van Jehovah is al in hedendaagse tye onder druk geplaas om oneerlike dinge vir hulle werkgewers te doen, maar hulle het geweier om dit te doen. Christene was selfs al bereid om eerder hulle werk te verloor as om iets te doen wat hulle Bybelopgeleide gewete skend. Daarbenewens wil ons ook toon dat ons wetteloosheid haat deur nie verkeerswette te oortree en nie te kul wanneer ons belasting of doeaneregte moet betaal nie.—Handelinge 23:1; Hebreërs 13:18.

Haat geslagsonreinheid

15. Watter goeie dinge is bereik deurdat die mens met ’n sterk geslagdrang geskep is?

15 As Christene moet ons veral alle onreinheid met betrekking tot geslagsake haat. Deurdat God die mens met ’n sterk geslagsdrang geskep het, het hy twee goeie dinge bereik. Hy het seker gemaak dat die mensdom nie sal uitsterf nie en hy het ook ’n baie liefdevolle voorsiening vir geluk gemaak. Selfs mense wat arm, ongeletterd of op die een of ander wyse minder bevoorreg is, kan groot geluk in die huweliksverhouding vind. Maar Jehovah het perke gestel waarin hierdie verhouding geniet mag word. Hierdie godgegewe perke moet gerespekteer word.—Genesis 2:24; Hebreërs 13:4.

16. Wat moet ons gesindheid ten opsigte van onrein geslagsontspanning en -gebruike wees?

16 As ons wetteloosheid haat, sal ons daarna strewe om alle onrein sedelike gebruike en onsedelike ontspanning te vermy. Ons sal derhalwe alle sedelik twyfelagtige boeke, tydskrifte en koerante vermy. As ons wetteloosheid haat, sal ons ook nie na enige onrein vertonings, of dit nou op televisie, in rolprente of op die verhoog is, kyk nie. Wanneer ons sien dat ’n program onsedelik is, moet ons die televisiestel onmiddellik afskakel of die moed hê om die teater te verlaat. As ons wetteloosheid haat, sal dit ons ook laat waak teen alle musiek waarvan die woorde of maat hartstogwekkend is. Ons sal nie méér oor onsedelike dinge wil uitvind nie, maar ons sal ‘kinders in die boosheid en volwassenes in die verstand wees’.—1 Korinthiërs 14:20.

17. Watter raad gee Kolossense 3:5 ons wat ons kan help om sedelik rein te bly?

17 Ons word baie gepas die volgende raad gegee: “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog” (Kolossense 3:5). Dit ly geen twyfel dat kragtige maatreëls van ons kant nodig is as ons vasbeslote is om sedelik rein te bly nie. The Expositor’s Bible Commentary sê oor die Griekse werkwoord wat in Kolossense 3:5 met “maak dood” weergegee word: “Dit gee te kenne dat ons nie bloot bose dade en gesindhede moet onderdruk nie. Ons moet hulle uitwis, die ou lewenswyse geheel en al uitroei. ‘Maak volkome dood’ gee die gedagte weer van hoe kragtig dit is. . . . Die betekenis van die werkwoord sowel as die krag van die tydvorm dui daarop dat dit ’n kragtige, pynlike daad van persoonlike vasberadenheid is.” Ons moet pornografie dus vermy asof dit ’n gevaarlike, aansteeklike, dodelike siekte is, want dit is wat dit sedelik en geestelik is. Christus het ’n soortgelyke gedagte uitgespreek toe hy gesê het dat ons van ’n hand, ’n voet of selfs ’n oog ontslae moet raak as dit ons laat struikel.—Markus 9:43-48.

Haat valse godsdiens en afvalligheid

18. Hoe kan ons toon dat ons godsdienstige wetteloosheid haat?

18 Soos Jesus getoon het dat hy wetteloosheid haat deur skynheilige godsdiensyweraars aan die kaak te stel, toon Jehovah se Getuies dus vandag ook dat hulle alle skynheilige godsdienstige wetteloosheid haat. Hoe? Deur Bybellektuur te versprei wat Babilon die Grote aan die kaak stel as die godsdienshoer wat sy werklik is. As ons wettelose godsdiensskynheiligheid werklik haat, sal ons Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, reguit blootlê. Ons sal dit doen ter wille van diegene wat opreg van hart is, maar wat deur haar verblind en in geestelike gevangenskap gehou word. In die mate dat ons werklik die wetteloosheid van Babilon die Grote haat, dermate sal ons ywerig aan al die aspekte van die Koninkryksbediening deelneem.—Mattheüs 15:1-3, 7-9; Titus 2:13, 14; Openbaring 18:1-5.

19. Hoe moet ons afvalliges beskou, en waarom?

19 Die verpligting om wetteloosheid te haat, is ook van toepassing op alle bedrywighede van die afvalliges. Ons moet dieselfde gesindheid teenoor afvalliges hê as Dawid wat gesê het: “HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en ’n afsku hê van die wat teen U opstaan nie? Ek haat hulle met ’n volkome haat; vyande is hulle vir my” (Psalm 139:21, 22). Hedendaagse afvalliges werk saam met “die wettelose mens”, die geestelikes van die Christendom (2 Thessalonicense 2:3, NAV). As lojale Getuies van Jehovah het ons dus absoluut niks met hulle gemeen nie. Omdat ons onvolmaak is, kan ons hart maklik geneig wees om krities teenoor ons broers te wees. Diegene wat die “getroue en verstandige dienskneg” uitmaak, is onvolmaakte mense (Mattheüs 24:45-47). Maar hierdie klas is getrou en verstandig. Afvalliges slaan munt uit foute of skynbare foute wat gemaak word deur broers wat die leiding neem. Ons veiligheid hang daarvan af of ons afvallige propaganda soos dodelike gif vermy, wat dit in werklikheid ook is.—Romeine 16:17, 18.

20, 21. Hoe kan ons die redes waarom ons wetteloosheid moet haat, opsom?

20 Ons het gesien dat die wêreld vol wetteloosheid is, wat sinoniem met sonde is. Dit is nie net genoeg dat ons geregtigheid liefhet nie; ons moet ook wetteloosheid haat. Sommige van dié wat uit die Christengemeente gesit is, het moontlik gedink dat hulle geregtigheid liefhet, maar hulle het wetteloosheid nie genoeg gehaat nie. Ons het ook gesien waarom ons wetteloosheid moet haat. Ons kan nie ’n goeie gewete en selfrespek hê tensy ons dit doen nie. Daarbenewens beteken wetteloosheid dat ’n mens nie aan Jehovah God lojaal is nie. En wetteloosheid laat ons baie wrange vrugte pluk—ellende, verdorwenheid en die dood.

21 Ons het ook gesien hoe ons toon dat ons wetteloosheid haat. Ons doen dit deur absoluut niks met enige soort oneerlikheid, geslagsonsedelikheid of afvalligheid te doen te hê nie. Aangesien ons ’n aandeel wil hê aan die regverdiging van Jehovah en dit ons begeerte is om sy hart te verbly, moet ons nie net geregtigheid liefhê en besig bly in sy diens nie, maar moet ons ook wetteloosheid haat, soos ons Leier en Bevelvoerder, Jesus Christus.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Hoe gebruik die Skrif die woord “haat”?

◻ Wat is sommige goeie redes waarom ons wetteloosheid moet haat?

◻ Watter goeie voorbeelde het ons van diegene wat wetteloosheid gehaat het?

◻ Hoe kan ons toon dat ons wetteloosheid haat?

[Prent op bladsy 8]

Jesus het die tempel gereinig omdat hy wetteloosheid gehaat het

[Prent op bladsy 10]

As ons wetteloosheid haat, sal ons onsedelike geslagsontspanning vermy

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel