Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 8/1 bl. 4-7
  • Waardeer die kosbare gawe van die lewe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waardeer die kosbare gawe van die lewe
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Verandering is moontlik!
  • God se gawe van die ewige lewe
  • Eerbied vir die lewe as ’n gawe
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • God se grootste geskenk—Waarom is dit so kosbaar?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2017
  • Waardeer die geskenk van lewe
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
  • Waardeer God se geskenk van lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 8/1 bl. 4-7

Waardeer die kosbare gawe van die lewe

LEWE—wat ’n kosbare besitting is dit tog! Daarsonder kan ons niks doen nie. As dit eers verlore is, is daar geen menslike manier om dit terug te kry nie. As ons lewe in gevaar is, sal ons alles doen wat redelik is om dit te beskerm. Party sal dan selfs om bomenslike hulp roep wanneer hulle in nood verkeer!

Dit herinner ons aan die Bybelverslag van ’n skip wat in ’n hewige storm op see vasgevang was. Toe die skip op die punt was om te vergaan, het “die seeliede bang [geword]—hulle het elkeen tot sy god geroep”. Later het hulle almal die ware God gesmeek: “Ag, HERE laat ons tog nie vergaan [nie].” Die Bybelverslag sê ook: “[Hulle het] die lading wat in die skip was, in die see gegooi om vir hulle verligting aan te bring.”—Jona 1:4-6, 14; vergelyk Handelinge 27:18, 19.

Daardie seemanne was selfs bereid om waardevolle materiële besittings op te offer in ’n poging om hulle lewe te behou. Ons kan materiële besittings vervang—maar nie die lewe nie. En omdat ons ons lewe instinktief koester, deins ons terug van gevaar. Ons voed, klee en versorg ons liggaam. Wanneer ons siek is, raadpleeg ons ’n dokter vir mediese behandeling.

Nogtans vereis die Gewer van die lewe meer van ons as om net ons instinkte om selfbehoud te volg. Die lewe is immers ’n baie kosbare gawe, en dit is van die belangrikste Persoon in die ganse heelal afkomstig. Behoort ons nie uit opregte waardering vir sowel die Gewer as die gawe ons lewe lief te hê nie? En sal dit nie agting vir ander se lewe insluit nie?

Daarom behoort dit ons nie te verbaas dat die Wet wat Jehovah God aan die nasie Israel gegee het gebooie ingesluit het wat ontwerp was om die lewe en gesondheid van ander te beskerm nie (Exodus 21:29; Deuteronomium 22:8). Christene moet vandag eweneens veiligheidsbewus wees. Laat jy byvoorbeeld, as jy kindertjies in die huis het, dinge soos krale, spelde of skerp voorwerpe onverskillig rondlê wat ’n kind ernstig kan beseer wanneer hy onskuldig daarmee speel of dit insluk? Word gevaarlike chemikalieë en medisyne buite die bereik van kinders gebêre? Droog jy water wat op die vloer gemors is vinnig op om sodoende ’n ongeluk te voorkom? Laat jy stukkende toestelle onmiddellik herstel? Word jou voertuig gereeld nagesien? Is jy ’n veilige motorbestuurder? As jy die kosbaarheid van die lewe werklik waardeer, sal dit jou beweeg om redelike voorsorgmaatreëls in hierdie en soortgelyke gebiede te tref.

Maar ongelukkig waardeer party mense nie eers hulle eie lewe nie. Wie weet vandag byvoorbeeld nie dat dit ongesond is om sigarette te rook nie? Tog is miljoene aan die gewoonte verslaaf, terwyl hulle gesondheid met elke teug van die giftige rook agteruitgaan. Ander misbruik dwelmmiddels en baie ander alkohol, wat alles tot hulle nadeel is. Vigs is ’n dodelike siekte waarvoor daar geen geneesmiddel bekend is nie. Maar baie mense kon verhoed het dat hulle die siekte opdoen as hulle onsedelikheid, sekere vorme van dwelmmisbruik en bloedoortappings vermy het. Wat ’n tragiese gebrek aan waardering vir die lewe is dit tog!—Romeine 1:26, 27; 2 Korinthiërs 7:1.

Verandering is moontlik!

Diegene wat hulle Grootse Skepper, Jehovah, waardeer, het ’n kragtige rede om die lewe as kosbaar te beskou. Die lewe is sy heilige gawe. Daarom is hulle bereid om watter veranderinge ook al nodig is, te maak om dit as ’n goddelike gawe te beskou. Beskou die voorbeeld van Kwaku, ’n onderwyser in Ghana. As ’n roekelose alkoholis was hy besig om sy lewe te verwoes.

Kwaku vertel: “Ek het my vrou probeer dwing om my te respekteer, wat dikwels op hewige argumente en stryery uitgeloop het, veral wanneer ek dronk was. Omdat ek te veel gedrink het, was ek dikwels sonder geld, en ek het baiekeer nie my verpligting nagekom om geld vir die gesin te voorsien nie. Dit is te begrype dat dit my vrou baie geïrriteer het. Elke keer as ek nie meer geld gehad het nie (en dit het baie dikwels gebeur), het ek alles moontlik gedoen om my drinkgewoonte te finansier. Ek het eenkeer selfs van die geld gebruik waarmee ek my leerlinge vir ’n openbare eksamen moes registreer. Ek het gaan drink en ook drankies vir my drinkmaats gekoop. Die dag van afrekening het my gou ingehaal. As dit nie was dat my skoolhoof so tydig ingegryp het nie, sou ek my werk verloor het.

“My lewe was chaoties. Ek was verleë, maar dit het gou oorgewaai. Toe het ek selfmoordgedagtes begin ontwikkel omdat ek gedink het my lewe is nutteloos. Nogtans kon ek nie my verslawing aan alkohol te bowe kom nie. Maar toe ek eendag by ’n kroegbakleiery betrokke geraak het en met ’n mes gesteek is, het die pynlike besef tot my deurgedring dat my liefde vir alkohol my nog eendag my lewe gaan kos.

“Gedurende daardie tyd het Jehovah se Getuies ons van tyd tot tyd besoek om ons in die Bybel te probeer interesseer. Ek en my vrou het hulle altyd vermy omdat ons gedink het hulle is ’n oorlas. Maar by een geleentheid het ek uit simpatie besluit om na hulle te luister. ’n Studie van die Bybel het gou my oë geopen vir die wonderlike vooruitsig om vir ewig in God se nuwe stelsel te lewe. Hoe meer ek die Bybel met die hulp van Jehovah se Getuies bestudeer het, hoe dieper het my waardering vir Jehovah as ons Lewegewer en vir sy gawe van die lewe geword en hoe meer het die praktiese sin van die Bybel se raad my beïndruk. Dit het my nog verder aangespoor om my lewe in orde te kry. Dit was nie maklik nie, omdat ek voortdurend die sopie [drank] sowel as my ou metgeselle moes weerstaan. Jehovah, die Hoorder van gebed, het die vasbeslotenheid in my hart gesien en my gebed verhoor.a

“Hoewel my vrou nie een van Jehovah se Getuies is nie, ag sy my en my godsdiens nou hoog vanweë die groot verandering wat sy in my lewe en in ons huwelik sien. Ons bure hoef nie meer in rusies tussen my en my vrou in te gryp nie. Die gemoedsrus wat ek nou geniet, is vir my baie kosbaar. Om Jehovah God as ons Lewegewer te waardeer, om sy beskouing van die kosbaarheid van die lewe aan te neem en om sy bevele oor hoe ons ons lewe moet lei te gehoorsaam, is sonder twyfel die enigste lewenswyse wat die moeite werd is.”

God se gawe van die ewige lewe

Duisende mense soos Kwaku is deur Jehovah se Getuies gehelp om hulle “met die nuwe mens . . . [te] beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Efesiërs 4:24). Hulle het nie net hulle huidige lewe begin waardeer nie, maar ook die hoop op ewige lewe in ’n aardse paradys. Die Bybel belowe dat geen bewoner van die aarde in daardie Paradys wat God tot stand sal bring weer knaende hongerpyne sal ondervind nie, want die “HERE van die leërskare sal . . . vir al die volke berei ’n maaltyd van vetspyse”.—Jesaja 25:6.

Hoewel dit ’n wonderlike gawe is, is die lewe vandag net tydelik. Almal kom voor die dood te staan, en wat ’n traumatiese slag is die dood tog nie! Om iemand wat jy liefhet te sien sterf en in die stilte van die graf te sien verdwyn, is uiters ontstellend om die minste te sê. Maar onder God se Koninkryk, met Christus as heerser, sal Jehovah se belofte vervul word: “Daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:4.

Dan sal die gawe van die lewe op ’n wonderbaarlike manier uitgebrei word. Diegene wat die finale verdrukking op hierdie aarde oorleef, sal die geleentheid hê om die volheid van die lewe binne te gaan. En dan, deur middel van die opstanding, wanneer mense lewend gemaak sal word, sal Jehovah God sy kosbare gawe teruggee aan dié wat in die dood slaap (Johannes 5:24, 28, 29). Dit beteken dat geliefdes wat dood is en godvresende manne van die ou tyd sal terugkeer!

Is al hierdie dinge te goed om waar te wees? Nee, want “geen ding sal by God onmoontlik wees nie”.—Lukas 1:37; vergelyk Job 42:2.

Verder het Jehovah God self die mensdom van ’n versekering voorsien dat al hierdie dinge sal plaasvind. Hoe? Deur die een naaste aan sy hart, sy geliefde Seun, Jesus Christus, te offer om ons van sonde en die dood vry te koop. Romeine 8:32 verseker ons: “Hy [Jehovah God] wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” Die Bybel sê vir ons dat dit sal insluit dat die mensdom van sedelike verval gereinig word en dat alle vorme van onregverdigheid, misdaad en geweld verwyder sal word (Jesaja 11:9). Die lewe sal nooit weer as goedkoop beskou word nie.

Die lewe kan selfs nou, onder onvolmaakte omstandighede, baie genotvol wees. Wie geniet nie die aanloklike geur van voedsel, die gevoel van ’n ligte briesie op ’n warm dag, die gesig van ’n majestueuse berg, ’n pragtige sonsondergang, ’n stroom wat rustig vloei, kleurryke blomme wat jou na jou asem laat snak, die soet klanke van musiek of die sang van voëls nie? Dink ’n oomblik na. Hoe sal dit wees om sulke dinge vir ewig te geniet?

Het dit dan enige sin om die kosbare voorreg om vir ewig te lewe, weg te gooi vir enige tydelike genot wat ’n onverstandige, genotsugtige lewenswyse kan bied? (Vergelyk Hebreërs 11:25.) Die Bybel vermaan ons wyslik om ‘ons orige tyd nie meer volgens die begeerlikhede van die mense te leef nie, maar volgens die wil van God’ (1 Petrus 4:2). Ons moedig jou hartlik aan, ja, ons pleit by jou om dit te doen deur God se Woord, die Bybel, te bestudeer en toe te pas wat jy leer (Johannes 13:17). Jy sal dan ’n goeie verhouding aanknoop met Jehovah, die God wat oorvloedig is in goedheid en genade, wat jou met die ewige lewe kan beloon!

[Voetnoot]

a Om van alkoholisme genees te word, is ’n gedugte taak wat dikwels professionele hulp vereis. Sien ons medetydskrif, die Ontwaak! van 22 Mei 1992, vir nuttige inligting oor hierdie onderwerp.

[Prent op bladsy 5]

Weerspieël jou lewenswyse ’n waardering vir die lewe?

[Prent op bladsy 7]

God se nuwe wêreld sal dit vir ons moontlik maak om die vreugdes van die lewe vir ewig te geniet!

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel