Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 9/15 bl. 28-31
  • Jy kan frustrasie die hoof bied!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jy kan frustrasie die hoof bied!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Maniere om frustrasie die hoof te bied
  • Sterk ondanks frustrasie
  • Verligting van frustrasie—binnekort!
  • Waarom moet ons redelik wees in ons verwagtinge?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Jy kan onsekerheid die hoof bied
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Hoe om hoop te midde van wanhoop te vind
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Waarom het my ouer my nie lief nie?
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 9/15 bl. 28-31

Jy kan frustrasie die hoof bied!

BESKOU die treurige toestand waarin ’n sekere 23-jarige man hom bevind. Hy het net ’n beperkte onderwys en hy werk vir ’n minimum loon. Dit lyk asof daar vir hom geen sprake van ’n huwelik en ’n bevredigende lewe is nie. Dit is geen wonder nie dat sy ma sê: “Hy is ontsettend neerslagtig en gefrustreerd.” Hierdie jong man se geval is ’n tipiese voorbeeld van miljoene ander mense. Om die een of ander rede is mense op alle lewensterreine gefrustreerd.

Frustrasie is “’n diep chroniese gevoel of toestand van onsekerheid, ontmoediging en ontevredenheid as gevolg van begeertes wat verydel is, innerlike tweestryd of ander onopgeloste probleme” (Webster’s Third New International Dictionary). Ons ondervind frustrasie wanneer ons baie hard probeer om iets uit te voer, maar nie daarin slaag nie. Dit voel asof ons ons om elke draai vasloop, asof ons ons kop teen ’n klipmuur bly stamp, sonder enige kans op sukses. Ons ken almal die gevoel.

Werkers wat skynbaar ondankbare werk moet verrig, kan begin voel dat hulle niks werd is nie. As vrouens en moeders hulle ter wille van die daaglikse sorge en vermoeiende pligte afsloof en geen erkenning ontvang nie, kan hulle onvervuld voel en voel dat hulle nie waardeer word nie. Jongmense wat beproewings op skool ondervind, kan gefrustreerd voel in hulle pogings om ’n opvoeding te kry. Lede van minderheidsgroepe kan innerlik verskeur voel, oortuig daarvan dat hulle die slagoffers van onregverdige diskriminasie is. Sakemanne wat werklik goeie produkte of dienste probeer lewer, kan dalk deur beginsellose en oneerlike mededingers geruïneer word. Hierdie en soortgelyke ondervindinge veroorsaak frustrasie en laat baie wanhopig voel.

’n Wyse man wat eeue gelede gelewe het, kon sy frustrasies in woorde uitdruk waarmee ons ons kan vereenselwig. Israel se koning Salomo het gesê: “Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het—en kyk, dit was alles tevergeefs en ’n gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie. Want wat het die mens vir al sy arbeid en vir die strewe van sy hart waarmee hy hom vermoei onder die son? Want al sy dae is smarte, en sy bemoeienis is verdriet; selfs snags rus sy hart nie. Dit is dan ook tevergeefs” (Prediker 2:11, 22, 23). Salomo verwoord die wanhoop wat soveel mense ervaar wanneer hulle probeer om frustrasies, wat hulle van ’n bevredigende lewe ontneem, die hoof te bied.

Gefrustreerde mense kan selfs desperaat raak. In ernstige gevalle het sommiges die stryd opgesê, uit die gemeenskap uitgesak en ’n onkonvensionele lewe begin lei. Om die dinge te kry waarop hulle dink hulle geregtig is, het party hulle toevlug tot misdaad en geweld geneem. Onophoudelike druk het huwelike en gesinsbande verwoes.

Baie van ons sal hard moet soek na maniere om frustrasie die hoof te bied. Dit lyk dalk, ongeag wat ons doen, asof dinge erger word. Spreuke 13:12 sê: “’n Uitgestelde hoop maak die hart siek.” Ons fisiese en geestelike welsyn kan bedreig word. Is die situasie sonder hoop? Moet ons voortdurend met frustrasie saamleef as vergelding vir ons tekortkominge en foute? Kan ons ’n paar praktiese stappe doen om frustrasie die hoof te bied en sodoende ’n meer bevredigende lewe geniet? Kom ons kyk.

Maniere om frustrasie die hoof te bied

Wanneer ons ’n probleem het en raad nodig het, gaan ons gewoonlik na iemand toe wat goed ingelig en ervare is en op wie ons kan vertrou. Spreuke 3:5, 6 raai ons aan: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.” Praktiese raad kan in God se Woord, die Bybel, gevind word. Beskou van naderby ’n paar voorbeelde van die insig wat dit voorsien.

Frustrasie hou dalk verband met ons pogings om ’n bestaan te maak. Ons sekulêre werk kan byvoorbeeld bevredigend wees, maar lae lone is dalk ’n bron van depressie. Ons is lief vir ons gesin en ons wil die beste vir hulle hê. Tog lyk dit asof ons ons altyd moet bekommer oor hoe ons ons finansiële verpligtinge gaan nakom. Ons werk miskien oortyd en kry selfs ’n tweede werk. Na ’n ruk lyk dit asof die lewe ’n sieldodende kringloop van eet, slaap en werk is. Nogtans hoop rekeninge op, skuld word groter en frustrasie neem toe.

Die hoofdoel van sekulêre werk is om in ons behoeftes te voorsien. Maar hoeveel het ons nodig? Die apostel Paulus het geskryf: “Ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.” Probeer ons om meer as dit aan te skaf en om wat ander besit of kan doen te ewenaar? As dit die geval is, maai ons dalk gevolge in die vorm van frustrasie. Paulus het gewaarsku: “Die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor” (1 Timotheüs 6:7-10). ’n Eerlike evaluasie van ons materiële strewes bring dalk ’n paar dinge aan die lig waarsonder ons kan klaarkom. ’n Paar redelike veranderinge om meer spaarsamig te wees en ’n meer beskeie lewenstyl kan baie help om frustrasie te beperk.

Natuurlike begeertes wat onderdruk word, het al baie frustrasie veroorsaak. Dit is byvoorbeeld natuurlik dat ’n jong vrou ’n sterk begeerte het om te trou en die veiligheid en innige liefde te hê wat ’n gesinslewe meebring. Sy doen dalk alles in haar vermoë om haarself aantrekliker te maak met die nuutste modes of skoonheidsmiddels en word miskien ’n ywerige leser van tydskrifte wat raad gee aan die eensames. Die vrou woon dalk ’n eindelose klomp gesellighede by in die hoop om ’n geskikte huweliksmaat te ontmoet—alles tevergeefs. Jare gaan verby, en die frustrasie word onuithoudbaar. Uit wanhoop kom sy dalk in die versoeking om met iemand te trou wat nie ’n geskikte huweliksmaat is nie. Nog erger, sy raak dalk by onsedelike gedrag betrokke om haar begeerte na liefde te bevredig.

In so ’n geval is geduld en goeie oordeel noodsaaklik. ’n Huwelik met ’n persoon wat nie geskik is nie—veral een wat nie in Jehovah glo nie—sal ’n ernstige fout wees (1 Korinthiërs 7:39; 2 Korinthiërs 6:14, 15). Onsedelikheid lei onvermydelik tot niks anders as hartseer en wanhoop nie (Spreuke 6:32, 33). Eerlike selfondersoek, tesame met ’n verstandige benadering, kan help. ’n “Sagmoedige en stille gees” kan die regte soort huweliksmaat veel eerder tot jou aangetrokke laat voel as wat modieuse klere of eksotiese grimering dit sal doen (1 Petrus 3:3, 4). Pleks van op die raad van wêreldse kenners staat te maak wat dikwels kortsigtig of niksbeduidend is, is dit noodsaaklik om na die Insteller van die huwelik te gaan om uit te vind wat dit behels om ’n geliefde en gekoesterde vrou te wees (Spreuke, hoofstuk 31). Ongetroude mans en vroue moet die eienskappe wat hulle in ’n maat wil hê aan die dag probeer lê. Hoe wys is dit tog om heilsame assosiasie by mense te soek wat Bybelbeginsels respekteer. As ons hierdie dinge in ons lewe toepas, sal ons vooruitsigte op ’n gelukkige huwelik oneindig beter wees. Selfs al vind ’n mens nie dadelik iemand om mee te trou nie sal dit vreugde meebring as ons in harmonie met die Skrif optree en sal dit die lewe as ’n ongetroude persoon baie lonend maak.

’n Swaar verantwoordelikheidslas dryf ons dalk tot ergernis. Dalk is daar druk van alle kante af. Ons is bekommerd oor die dringende behoeftes van ons gesin, en ons werkgewer is dalk nooit tevrede nie. Die familie verwag miskien dat ons hulle moet help elke keer as daar ’n krisis is. As gevolg van baie druk is daar ’n lang lys persoonlike sake wat ons aandag nodig het. Dit lyk dalk of ons ons tyd en energie terselfdertyd in ’n klomp verskillende rigtings moet rig. Frustrasie kan in ergernis verander, en ons het dalk lus om tou op te gooi. Wat moet ons dan doen?

Ons sal verstandig wees om ons prioriteite te hersien. Aangesien ons beperk is in wat ons kan doen, is dit onmoontlik om aan elke eis te voldoen. Dit is noodsaaklik dat ons ons beperk tot “die dinge waar dit op aankom” (Filippense 1:10). Trouens, “’n lewendige hond is beter as ’n dooie leeu” (Prediker 9:4). Party verpligtinge is kritiek en kan nie opsy geskuif word nie, terwyl dié wat nie so belangrik is nie dalk sal moet wag. Ons het dalk die volle verantwoordelikheid aanvaar vir party pligte wat ander behoort te deel. Ons sal party verantwoordelikhede wat nie noodsaaklik is nie miskien heeltemal moet uitskakel. Hoewel dit aanvanklik ongemak mag veroorsaak of ander mag teleurstel, moet ons ons fisiese en emosionele perke respekteer.

’n Aftakelende siekte kan verskriklike frustrasie teweegbring omdat dit ons dae of weke lank bedlêend kan maak. Kwaai pyn kan ons ellendig laat voel. Op soek na ’n kuur gaan ons dalk van een dokter na die ander of neem ons baie medisynes of vitamine met die hoop dat dit sal help. Maar miskien duur ons lyding voort en begin ons wonder of die lewe die moeite werd is.

Dalk is dit ’n probleem wat slegs in God se nuwe wêreld opgelos kan word. (2 Petrus 3:13; vergelyk Jesaja 33:24.) Aangesien mense onvolmaak is, is dokters en medisyne beperk in wat hulle kan doen. Op die ou end sal ons dalk ons lyding moet aanvaar as deel van die lewe. Die apostel Paulus het “’n doring in die vlees” gehad, miskien ’n oogkwaal of ’n ander liggaamskwaal wat hom so geteister het dat hy herhaaldelik om verligting gebid het (2 Korinthiërs 12:7-10). Maar God het Paulus nie genees nie, en die apostel het moontlik tot sy dood met die kwaal te kampe gehad. Hy het met sy lyding saamgeleef, wou nie bejammer word nie, en hy het nooit sy vreugde verloor nie (2 Korinthiërs 7:4). Hoewel die opregte man Job groot beproewings gely het, het hy sy geloof in Jehovah behou, en dit het tot ’n ryk beloning gelei (Job 42:12, 13). As ons dienaars van God is, kan ons, as ons oor hierdie voorbeelde nadink en om Jehovah se hulp bid, krag daaruit put om voort te gaan.—Psalm 41:2-4.

Sterk ondanks frustrasie

Jehovah se volk kan geestelik sterk wees ondanks enige frustrasie. Byvoorbeeld, hoewel ons dalk siekte moet verduur, kan ons “gesond in die geloof” bly deur ten volle gebruik te maak van God se geestelike voorsienings (Titus 2:1, 2). Terwyl ons miskien materieel so arm is dat dit ons frustreer, kan ons geestelik wonderlik ryk wees.

Deur op God te vertrou vir wysheid en krag kan ons frustrasies die hoof bied wat in situasies by die huis kan ontstaan. Neem byvoorbeeld Abigail, die vrou van Nabal. Hy was “grof en boosaardig”, en selfs sy naam beteken “Dwaas; Onnosel”. Hoe frustrerend moes dit tog gewees het om saam met so ’n man te lewe! Tog het Abigail haar “goeie insig” behou en sy het nie moed opgegee nie. Trouens, haar woorde en optrede was gedurende een krisis so verstandig dat sy Dawid oortuig het om nie Nabal se beledigings en ondankbaarheid te vergeld deur bloed te vergiet nie en sodoende nie op Jehovah te vertrou nie.—1 Samuel 25:2-38, NW.

Selfs as ’n frustrerende situasie iemand insluit wat met die Christengemeente omgaan, kan ons dit verduur deur die krag wat Jehovah gee. Dit word getoon deur die feit dat Diotrefes se potensieel frustrerende gedrag nie die godvrugtige man Gajus gekeer het om goed te doen en dus geluk en ryk geestelike seëninge te ontvang nie.—Handelinge 20:35; 3 Johannes 1-10.

Dit kan frustrasie tot gevolg hê as ons ons medegelowiges in die gemeente wil dien, maar oorgesien word wanneer ander as ouere manne of bedieningsknegte aangestel word. Maar pleks van toe te laat dat teleurstelling ons oorweldig, laat ons daarna streef om onsself geestelik te versterk en God se gees toe te laat om sy goeie vrugte in ’n groter mate in ons voort te bring (Galasiërs 5:22). Gedurende die 40 jaar wat Moses in Midian deurgebring het, het God ’n groter mate van sagmoedigheid, geduld en ander eienskappe in hom laat ontwikkel wat hy nodig sou hê om die swaar las en frustrasies die hoof te bied wat hy as die leier van die Israeliete sou teëkom. Jehovah berei ons dalk eweneens voor vir toekomstige diensvoorregte wat ons te beurt mag val as ons geestelik sterk bly en nie aan frustrasie toegee nie.

Verligting van frustrasie—binnekort!

Van watter aard ons frustrasies ook al is, sal dit ooit ophou? Ons situasie lyk dalk vir ons hopeloos, maar nie vir ons Skepper, Jehovah God, nie. Hy is nie aan frustrasie onderworpe nie. God het deur die profeet Jesaja gesê: “So sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur” (Jesaja 55:11). Aangesien Jehovah almagtige krag en gesag het, is niks vir hom onmoontlik nie (Markus 10:27). Sy beloftes om oneindige seëninge vir sy volk te bring, sal verseker vervul word.—Josua 21:45.

Twyfel en onsekerheid is hoofelemente wat frustrasie betref. Maar hier teenoor “is [geloof] ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop” (Hebreërs 11:1). Geloof in God voorsien die versekering dat al ons Bybelgebaseerde verwagtinge verwesenlik sal word. Die hooftema van die Bybel beklemtoon Jehovah se belofte van Koninkryksheerskappy waaronder die aarde ’n volmaakte paradys sal word waarin regverdige mense vir ewig in vreugde sal lewe (Psalm 37:11, 29). Alles wat sleg is—ook frustrasie—sal iets van die verlede wees, want God sal ‘alles wat lewe met welbehae versadig’.—Psalm 145:16.

Totdat daardie seëninge ’n werklikheid word, sal ons almal frustrasies hê. Maar skriftuurlike hoop kan ons die moed en vasberadenheid gee om te volhard. Die verstandige raad wat ons in die Bybel vind kan ons wys hoe om goeie oordeel en redelikheid aan die dag te lê op ’n manier wat standvastigheid in ons lewe en vrede in ons hart sal bring. Ten spyte van ons teleurstellings kan ons “die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan”, ondervind (Filippense 4:6, 7). Die stryd teen frustrasie is dus nie sonder hoop nie. Met Jehovah se hulp kan ons dit vandag die hoof bied en môre oorwin.

[Lokteks op bladsy 31]

God kan jou help om frustrasie die hoof te bied, net soos hy Job, Moses, Abigail en Paulus gehelp het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel