Die seëninge van Gileadopleiding versprei deur die wêreld
OPLEIDING in hierdie ou wêreld het slegs beperkte nut. Aangesien dit grotendeels op menslike idees pleks van God se waarheid gegrond is, kan dit nie ’n ware doel in die lewe bied nie. Maar die Gileadskool is anders. In sy inleiding by die graduering van die 93ste klas van Gilead het Theodore Jaracz van die Bestuursliggaam verduidelik dat hierdie skool opleiding met ware betekenis voorsien. Soos Psalm 119:160 sê, is “die hele inhoud van [God se] woord . . . waarheid”. Daarom was dit met groot opgewondenheid dat ’n gehoor van byna 6 000 mense na die gradueringsprogram op 13 September 1992 geluister het.
Die eerste toespraak van die oggend, wat deur Lon Schilling van die Watchtower Farms-komitee gehou is, het die titel “Hou aan om die wêreld en sy heerser te oorwin” gehad. Broer Schilling het die aandag op Openbaring 12:11 gevestig en daarop gewys dat die vers drie maniere toon waarop hulle kan oorwin: (1) deur die bloed van die Lam, (2) deur die getuienis en (3) deur ’n selfopofferende gees te hê. Hy het die studente daaraan herinner dat baie van Jehovah se knegte so ’n gees geopenbaar het en selfs bereid was om te sterf sodat hulle hulle lojaliteit en onkreukbaarheid kon bewaar.
“Bewaar jou goeie pand” was die tema wat deur John E. Barr van die Bestuursliggaam ontwikkel is. In sy kenmerkende warm stem, het hy die wedersydse vertroue tussen Jehovah en sy knegte vergelyk met die vertroue wat in ’n goeie huwelik ontwikkel. Hy het gedagtes uit 2 Timotheüs 1:12, 13 gebruik en die studente aangespoor om hulle pand te bewaar deur by die Bybel se “voorbeeld van gesonde woorde” te bly. Hy het beklemtoon dat persoonlike studie ’n onontbeerlike deel van hulle daaglikse rooster moet wees en het die studente vriendelik vermaan om nooit toe te laat dat hulle kommentare by die vergaderinge outomaties word nie, maar dit altyd betekenisvol te maak.
William van de Wall van die Diensafdelingkomitee het die volgende toespraak “Toon liefdevolle besorgdheid vir skaapgeaarde mense” gehou. Hy het die studente gevra waarna hulle in ’n huisdokter sal soek en hulle aangespoor om dieselfde empatie, medelye en ontferming aan te kweek as waaraan hulle waarde sal heg.
Daniel Sydlik van die Bestuursliggaam het besielend oor die tema “By God is alle dinge moontlik” gepraat. Hy het die studente daaraan herinner dat Abraham en Sara gelag het oor die oënskynlik onmoontlike vooruitsig om ’n seun op hulle ouderdom te hê. Baie van God se beloftes lyk onmoontlik vanuit ’n menslike standpunt; maar soos die engel vir Abraham gevra het: “Sou iets vir die HERE te wonderbaar wees?” (Genesis 18:14). Broer Sydlik het die studente aangespoor om vertroue te hê in God se vermoë om die onmoontlike te doen en nooit daardie geloof, ongeag watter beproewing hulle dalk teëkom, te laat verswak of te laat weifel nie.
Die onderrigters gee raad
Die twee Gileadonderrigters was volgende aan die beurt. Eers het Jack D. Redford die tema “Maak ’n goeie naam by God” ontwikkel. Die persoon wat die naam dra, het hy geredeneer, maak die naam goed of sleg. Hy het name soos Adam, Nimrod, Isebel, Saul en Judas teenoor name soos Noag, Abraham, Rut, Paulus en Timotheüs gestel. Elke naam het ’n magdom assosiasies wat toe te skryf is aan die lewenswyse van die eienaar daarvan. Hy het die studente gevra watter soort naam hulle oor 10, 100 of selfs 1 000 jaar sal hê—die naam van ’n tou-opgooier of ’n klaer of dié van ’n getroue sendeling? Spits julle aandag eerder toe op oplossings en doelwitte as op probleme, het hy hulle aangeraai.
“Hoe goed bewaar jy jou geloof?” was die gedagteprikkelende tema wat deur Ulysses V. Glass ontwikkel is. Hy het sterk geloof met ’n goeie kompas vergelyk wat altyd in die regte rigting wys. ’n Kompas in ’n voertuig kan deur ander magnetiese velde buiten dié van die aarde beïnvloed word, en sulke velde moet geneutraliseer word. Net so het hierdie ou wêreld baie invloede wat ons geloof kan laat wankel of verswak as ons dit toelaat. Nadat hy die klas teen sulke invloede gewaarsku het, het broer Glass hulle ook geprys dat hulle so fyn ingestel is op die gesindhede en gevoelens van ander.
Die laaste toespraak van die oggend is deur Albert D. Schroeder, ’n lid van die Bestuursliggaam, gehou. Hy het die studente met die toespraak “Behou die sendinggees” aangemoedig en hulle geprys omdat hulle dieselfde sendinggees openbaar het as die eerste klas van 1943, toe hy die skool se registrateur was. Hy het opgemerk dat hulle op mense ingestel is, van nature predikers is, wat graag deur God se gees gelei word. Hy het hulle aangespoor om daardie gees te bly ontwikkel deur ten volle gebruik te maak van die New World Translation in hulle persoonlike studie. Hy het afgesluit met ’n vers-vir-versbespreking van Psalm 24 as voorbeeld.
Vervolgens het die Gileadstudente Gileadgegradueerdes geword! Hulle diplomas is aan hulle oorhandig terwyl hulle sendingtoewysings hardop, onder luide applous, gelees is.
In die middag het Calvin Chyke van die Fabriekskomitee die Wagtoring-studie gehou. Volgende was ’n genotvolle studenteprogram waartydens studente se velddiensondervindinge vertel is wat hulle gedurende die vyf maande lange kursus geniet het, en skyfies is ook vertoon van party van die lande waarna hulle toegewys is. Daarbenewens is daar ’n onderhoud met ’n ouer paartjie gevoer wat van die wysheid en ervaring vertel het wat hulle deur baie jare as sendelinge opgedoen het. Die middag is afgesluit met ’n tydige drama met die titel Moenie mislei word of God bespot nie.
Die gehoor het verkwik daarvandaan vertrek, bly om te sien wat opleiding in God se waarheid kan doen en verheug om te weet dat die voordele van sulke opleiding sal voortgaan om oor die hele wêreld ’n uitwerking te hê. Wanneer hierdie 48 sendelinge na hulle toewysings gaan, gaan baie gebede met hulle saam waarin opregte hoop en vertroue uitgespreek word dat hierdie getroues ’n seën vir God se volk sal wees, waar hulle ook al mag gaan.
[Venster op bladsy 19]
Klasstatistiek
Aantal lande verteenwoordig: 7
Aantal lande waarheen gestuur: 18
Aantal studente: 48
Aantal egpare: 24
Gemiddelde ouderdom: 32,8
Gemiddelde jare in die waarheid: 15,3
Gemiddelde jare in voltydse bediening: 10,4
[Venster op bladsy 20]
GEGRADUEERDES AAN DIE GILEAD-UITBREIDINGSKLAS
Op 21 Junie 1992 het ’n groep van 24 sendelinge aan die Gilead-uitbreidingsklas se vierde klas in Selters/Taunus, Duitsland, gegradueer. Die 11 egpare en 2 ongetroude susters waaruit die klas bestaan het, was uit sewe lande afkomstig, gemiddeld 32 jaar oud, 14 jaar gedoop en het 8,5 jaar diens in die voltydse evangelisasiewerk gehad. Meer as 2 000 het die graduering bygewoon.
Broer Jaracz het die program begin met ’n bespreking van Spreuke 11:24 wat sê: “Daar is een wat ruim uitdeel en nog meer kry.” Hy het gemeld dat die studente op die punt staan om uitmekaar te gaan en dat hulle sekerlik vooruitgang sal bevorder.
Aanmoedigende skriftuurlike toesprake is gehou deur Richard Kelsey, die koördineerder van die Duitse Takkomitee; Wolfgang Gruppe van die Diensafdeling; Werner Rudtke en Edmund Anstadt, ook lede van die Takkomitee, en die twee onderrigters Dietrich Förster en Lothar Kaemmer. Albert Schroeder van die Bestuursliggaam het die interessante hooftoespraak gehou met die titel “Hou aan om soekers van geestelike skatte te wees”. Die hoogtepunt van die program was die oorhandiging van hulle toewysings na 11 lande in Afrika, Middel-Amerika en Oos-Europa, waarna een van die gegradueerdes ’n brief van die klas aan die Bestuursliggaam gelees het waarin hulle hulle opregte waardering uitgespreek het.
[Prent op bladsy 18]
93ste Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead
In die lys hieronder word rye van voor na agter genommer, en name word van links na regs in elke ry aangegee.
(1) Hitesman, C.; West, P.; Evans, D.; Hipps, M.; Simonelli, N.; Wood, S.; Corkle, M.; Flores, C.; Thomas, J. (2) Jones, M.; Nissinen, J.; Sponenberg, M.; Zachary, K.; Ravn, G.; Backman, M.; Wettergren, A.; Evans, D.; Flores, R.; Caporale, G. (3) Simonelli, N.; Rechsteiner, M.; Rechsteiner, M.; Ruiz-Esparza, L.; Gerbig, B.; Simpson, C.; Zanewich, C.; Zachary, B.; Ricketts, L. (4) Simpson, J.; Backman, J.; Corkle, G.; Gerbig, M.; Ricketts, B.; Bagger-Hansen, L.; Jones, A.; Zanewich, K.; Ravn, J.; Hipps, C. (5) Sponenberg, S.; Hitesman, A.; Caporale, L.; Ruiz-Esparza, S.; Thomas, R.; Bagger-Hansen, B.; Wood, M.; West, M.; Wettergren, C.; Nissinen, E.