Die vreugde wat ek uit diens aan Jehovah geput het
SOOS VERTEL DEUR GEORGE BRUMLEY
Ek het pas ’n les oor radioherstelwerk vir keiser Haile Selassie se jong polisiekadette aangebied toe een van hulle my privaat kom sê dat hy weet dat ek ’n sendeling van Jehovah se Getuies is. “Sal u die Bybel met my studeer?” het hy gretig gevra.
AANGESIEN daar op daardie tydstip ’n verbod op ons werk in Ethiopië was, sou ek uit die land uitgesit word, soos met ander Getuies gebeur het, as die owerheid sou uitvind dat ek ’n Getuie is. Ek het gewonder of die student opreg was en of hy dalk ’n regeringsagent was met die opdrag om my uit te vang. As ’n gesinshoof wat drie klein kindertjies gehad het om groot te maak, het die gedagte dat ek my werk kan verloor en gedwing kan word om die land en die vriende wat ek liefgekry het, te verlaat my bang gemaak.
‘Maar’, vra jy moontlik, ‘hoekom het ’n Amerikaner met ’n gesin wat hy moes onderhou, verkies om in Noordoos-Afrika te woon, ver van die huis en van sy familie af?’ Laat my toe om te verduidelik.
My grootwordjare in die Verenigde State
My pa het in die twintigerjare, toe ek nog op laerskool was, op Die Wagtoring ingeteken en ’n stel Studies in the Scriptures gekoop. Pa het dit geniet om te lees en hy het die boeke verslind. Hy was gevat en onnutsig van aard, wat geblyk het uit die wyse waarop hy besoekers wat hy uitgenooi het om op Sondae te kom kuier altyd ’n streep getrek het. Hy het ’n pragtige boek met ’n leeromhulsel gehad en die woorde “Heilige Bybel” in goue letters voor en op die rug van die boek. Hy het gewoonlik ’n gesprek begin deur te sê: “Wel, dit is Sondag. Sal jy vir ons ’n paar verse lees?”
Die besoeker het altyd ingestem, maar wanneer hy die boek oopgemaak het, het nie een van die bladsye enige drukwerk bevat nie! Die persoon was natuurlik verbaas. Pa het dan gesê dat ‘predikers niks van die Bybel weet nie’ en dan het hy ’n Bybel gaan haal en Genesis 2:7 gelees. Daar sê die Bybel aangaande die skepping van die eerste mens: “Die mens [het] ’n lewende siel geword.”—Genesis 2:7.
Pa het dan verduidelik dat ’n mens nie ’n siel het nie maar dat jy een is, dat die loon van die sonde die dood is, en dat wanneer ’n mens sterf jy werklik dood is, onbewus van alles (Prediker 9:5, 10; Esegiël 18:4; Romeine 6:23). Selfs voordat ek behoorlik kon lees, het ek Genesis 2:7 uit die hoof geken. Dit is my vroegste herinneringe van die ware vreugde wat dit meebring wanneer jy Bybelwaarhede ken en dit aan ander verkondig.
Aangesien ons toe Die Wagtoring tuis ontvang het, het die hele gesin hierdie geestelike voedsel begin geniet. My ouma aan my ma se kant het by ons gewoon, en sy het die eerste verkondiger van die goeie nuus in ons familie geword. Daar was nie ’n gemeente in Carbondale, Illinois, waar ons gewoon het nie, maar informele vergaderinge is gehou. Ma het ons vyf kinders na die anderkant van die dorp geneem waar bejaarde dames ’n Wagtoring-studie gehou het. Ons het ook aan die veldbediening begin deelneem.
Van radiowerk na die gevangenis
Ek is in 1937 getroud toe ek maar net 17 was. Ek het probeer om ’n bestaan te maak deur radio’s te herstel en ek het ook lesse hieroor aangebied. Na die geboorte van twee kinders, Peggy en Hank, het my huwelik op die rotse geloop. Die egskeiding was my skuld; ek het nie ’n Christelike lewe gelei nie. Die feit dat ek nie my oudste twee kinders kon grootmaak nie, is al my lewe lank vir my ’n saak van groot hartseer.
Die Tweede Wêreldoorlog het uitgebreek en dit het my oor baie dinge laat nadink. Militêre groepe het my die geleentheid gebied om ’n luitenant te word en radioherstelwerk aan dienspligtiges te leer, maar my besorgdheid oor wat Jehovah van oorlog dink, het my aangespoor om daagliks te begin bid. My intekening op Die Wagtoring het verval en Lucille Haworth het die kennisgewingstrokie van die verval ontvang en my besoek. Perry Haworth, Lucille se pa, en die meeste van haar groot familie was al sedert die dertigerjare Getuies. Ek en Lucille het verlief geraak en ons is in Desember 1943 getroud.
Ek is in 1944 gedoop en het by my vrou in die voltydse bediening as ’n pionier aangesluit. Ek is spoedig opgeroep maar het geweier om diensplig te doen. As gevolg hiervan is ek ’n gevangenisstraf van drie jaar opgelê in ’n verbeteringsgestig in El Reno, Oklahoma. Dit was louter vreugde om ter wille van Jehovah te ly. Elke oggend wanneer ek wakker geword en besef het waar ek is en waarom ek daar is, het ek ’n gevoel van diepe tevredenheid ervaar en Jehovah gedank. Na die oorlog het hulle dié van ons wat ouer as 25 was op parool begin vrylaat. Ek is in Februarie 1946 vrygelaat.
Die voltydse bediening
Toe ek weer by Lucille aangesluit het, het sy in die klein dorpie Wagoner, Oklahoma, as pionier gedien. Ons het nie ’n motor gehad nie en het die hele dorp te voet gedek. Ons het later na Wewoka, Oklahoma, verhuis. Ek het spoedig by ’n nabygeleë radiostasie begin werk en het uitsaaiwerk begin doen. Dit was nie ’n maklike taak om ses ure per dag te werk en ook as pionier te dien nie, maar ons was verheug omdat ons die voorreg geniet het om Jehovah te dien. Net voor die byeenkoms in Los Angeles in 1947 het ons ’n ou motor gekoop. Daar het ons begin dink om aansoek te doen vir die Wagtoring- Bybelskool Gilead om as sendelinge opgelei te word.
Ons het besef dat dit ’n groot stap sou wees, en ons wou nie ’n haastige besluit neem om die Verenigde State te verlaat nie. Ek was steeds hartseer omdat ek my kinders verloor het en ons het gevolglik weer probeer om toesig oor hulle te kry. Maar weens my vorige lewenswyse en gevangenisrekord was ons pogings vrugteloos. Daarom het ons besluit om sendelinge te probeer word. Ons is na die 12de klas van Gilead genooi.
Ons het in 1949 uit die skool gegradueer, maar ons is eers aangewys om gemeentes in Tennessee te besoek. Nadat ek drie jaar lank as reisende opsiener in die Verenigde State gedien het, het ons ’n brief van die kantoor van die Wagtoringgenootskap se president ontvang waarin ons gevra is of ons gewillig is om in Ethiopië die predikingswerk te doen én skool te hou. Een van daardie regering se vereistes was dat sendelinge skool moes hou. Ons het ingestem en het in die somer van 1952 na Ethiopië vertrek.
In Ethiopië het ons soggens laerskoolklasse aangebied en smiddae gratis Bybelklasse gehou. Spoedig het so baie die Bybelstudieklasse bygewoon dat ons dikwels elke dag drie of vier uur lank Bybelonderrig moes gee. Party van die studente was polisiemanne; ander was onderwysers of diakens in sendingskole en Ethiopiese Ortodokse skole. Soms was daar 20 of meer persone in elke Bybelstudieklas! Baie van die studente het valse godsdiens verlaat en Jehovah begin dien. Ons was in ekstase. Ek het weer eens elke oggend wanneer ek wakker geword het Jehovah gedank.
Ouerskap en ’n verbod op die predikingswerk
Ons het in 1954 gehoor dat ons ouers gaan word en moes besluit of ons terug wou gaan na die Verenigde State en of ons in Ethiopië wou bly. Ons sou net in Ethiopië kon bly as ek ’n sekulêre werk kon kry. Ek het ’n betrekking as ’n uitsaai-ingenieur gekry en het ’n radiostasie vir keiser Haile Selassie bestuur. Ons het dus gebly.
Op 8 September 1954 is ons dogter Judith gebore. Ek het gedink dat ek verseker is van ’n betrekking omdat ek vir die keiser gewerk het, maar ek het na twee jaar daardie werk verloor. Maar binne ’n maand is ek deur die Polisiedepartement gehuur—en dit teen ’n hoër salaris—om ’n groep jongmanne te leer hoe om tweerigtingradio’s te herstel. Ons seuns, Philip en Leslie, is in die daaropvolgende drie jaar gebore.
Intussen is die vryheid waarmee ons aan die predikingswerk deelgeneem het, beperk. Die Ortodokse Kerk van Ethiopië het die regering oorreed om alle sendelinge van Jehovah se Getuies uit die land te sit. Ek het die raad van die Genootskap gevolg en my visum van sendingwerk na sekulêre werk verander. Ons sendingwerk is verbied en ons moes versigtig en oordeelkundig te werk gaan. Alle gemeentelike vergaderinge het voortgegaan, maar ons het in klein studiegroepe byeengekom.
Die polisie het verskeie huise van vermeende Getuies deursoek. Maar wat hulle nie geweet het nie, was dat ’n luitenant in die polisie, wat ’n aanbidder van Jehovah was, ons altyd gewaarsku het wanneer klopjagte beplan is. As gevolg hiervan is daar gedurende daardie jare op geen lektuur beslag gelê nie. Ons het ons Wagtoring-studies op Sondae gehou deur na restaurante in die buitewyke van die stad te gaan waar piekniektafels beskikbaar was vir mense wat ’n buitelug-ete wou geniet.
Dit was op hierdie tydstip, toe ek radioherstelwerk aan die polisiekadette geleer het, dat die student wat ek aan die begin genoem het my om ’n Bybelstudie gevra het. Ek het aanvaar dat hy opreg was en ons het ’n Bybelstudie begin. Na slegs twee studies het ’n tweede student saam met hom gekom, en toe ’n derde. Ek het hulle vermaan om nooit vir iemand te vertel dat hulle saam met my studeer nie, en hulle het dit nooit gedoen nie.
In 1958 is die Goddelike Wil- Internasionale Byeenkoms in New York se Yankee-stadion en Pologronde gehou. Intussen het Peggy en Hank, asook baie ander lede van my groot familie, bedrywige Getuies geword. Hoe verheug was ek om die byeenkoms by te woon! Ek het nie net my herontmoeting met my twee oudste kinders en ander familielede geniet nie, maar dit was ook ’n belewenis om daardie groot menigte van meer as ’n kwartmiljoen mense te sien wat op die laaste dag van die byeenkoms vergader het!
Die Genootskap se president, Nathan H. Knorr, het ons die daaropvolgende jaar in Ethiopië kom besoek. Hy het goeie wenke gehad oor hoe ons die werk onder die verbod kon voortsit en het ook belanggestel in ons gesin en hoe ons geestelik vorder. Ek het verduidelik dat ons die kinders leer bid. Ek het gevra of hy wou hoor hoe Judith bid. Hy het ja gesê en na die gebed het hy vir haar gesê: “Dit was baie goed, Judith.” Later het ek broer Knorr gevra om aan tafel vir ons te bid, en toe hy klaar is, het Judith gesê: “Dit was baie goed, broer Knorr!”
Ons maak ons kinders in die Verenigde State groot
My kontrak met die Polisiedepartement het in 1959 ten einde geloop. Ons wou bly, maar die regering wou geen nuwe kontrakte vir my goedkeur nie. Waarheen kon ons gaan? Ek het probeer om in ander lande in te kom waar hulle broers baie nodig gehad het, maar dit het misluk. Ons het bra hartseer na die Verenigde State teruggekeer. Toe ons daar aangekom het, het ons ’n vreugdevolle familiereünie gehad; al vyf my kinders het mekaar leer ken en het mekaar onmiddellik liefgekry. Hulle is sedertdien baie na aan mekaar.
Ons het ons in Wichita, Kansas, gevestig waar ek as ’n radio-ingenieur en ’n platejoggie begin werk het. Lucille het huisgehou en die kinders het naby ons huis skoolgegaan. Ek het elke Maandagaand ’n Wagtoring-studie met my gesin gehou en het altyd probeer om dit lewendig en interessant te maak. Ons het die kinders daagliks gevra of hulle enige probleme by die skool het.
Namate die kinders een vir een by die Teokratiese Bedieningskool aangesluit het, het hierdie opleiding hulle met hulle skoolwerk gehelp. Ons het hulle van kleins af in die veldbediening opgelei. Hulle het geleer hoe om Bybellektuur by die deure aan te bied en het saam met ons gegaan wanneer ons tuisbybelstudies gaan hou het.
Ons het ook probeer om hulle basiese dinge van die lewe te leer, deur te verduidelik dat hulle nie altyd almal kon kry wat een van die ander het nie. Dieselfde geskenk was byvoorbeeld nie altyd vir almal beskikbaar nie. Ons het só met hulle hieroor geredeneer: “Sê nou jou broer of suster ontvang ’n geskenk en jy kan nie een kry nie, moet jy dan daaroor kla?” Die ander kinders het natuurlik by ander geleenthede iets ontvang sodat niemand verwaarloos is nie. Ons het hulle almal altyd liefde betoon en nie die een bo die ander twee voorgetrek nie.
Ander kinders kon soms dinge doen wat ons kinders nie toegelaat was nie. Ek het dikwels gehoor: “So-en-so kan dit doen, hoekom kan ons nie?” Ek het probeer verduidelik, maar soms moes die antwoord eenvoudig wees: “Jy is nie in daardie gesin nie, jy is ’n Brumley. Ons het ander reëls.”
Ons dien in Peru
Ek en Lucille wou sedert ons van Ethiopië af teruggekeer het weer aan die sendingwerk deelneem. Uiteindelik het ons in 1972 die geleentheid gekry om na Peru, Suid-Amerika, te verhuis. Ons kon nie ’n beter plek gekies het om ons kinders gedurende hulle tienderjare groot te maak nie. Die omgang wat hulle geniet het met sendelinge, spesiale pioniers en ander wat in Peru kom help het, het hulle gehelp om self te sien hoe vreugdevol diegene is wat Koninkryksbelange waarlik eerste stel. Philip het sy omgang positiewe portuurdwang genoem.
Na ’n ruk het ’n paar ou vriende van Kansas gehoor watter welslae ons in die Koninkryksbediening behaal en het hulle hulle by ons in Peru aangesluit. Ek het ons huis soos ’n sendinghuis georganiseer. Elkeen het pligte gehad wat hulle moes doen sodat almal tyd sou hê om aan die veldbediening deel te neem. Ons het elke oggend aan tafel ’n bespreking van ’n Bybelteks gehad. Dit was só ’n vreugdevolle tyd vir ons almal. Ek het weer eens wanneer ek elke oggend wakker geword het en besef het waar ek was en waarom ek daar was Jehovah stil en innig gedank.
Judith is mettertyd getroud en het na die Verenigde State teruggekeer, waar sy haar voltydse bediening voortgesit het. Na drie jaar van spesiale pionierdiens het Philip aansoek gedoen om Betheldiens in Brooklyn, New York, en is hy aanvaar. Leslie het ook uiteindelik na die Verenigde State teruggekeer. Hulle is met gemengde gevoelens daar weg en het dikwels vir ons vertel dat die beste ding wat ons ooit vir hulle gedoen het, was om hulle na Peru te neem.
Namate Peru se ekonomie verswak het, het ons besef dat ons ook sou moes terugkeer. Toe ons in 1978 na Wichita teruggekeer het, het ons ’n groep Spaanssprekende Getuies ontmoet. Hulle het ons gevra om te bly en hulle te help en ons het dit met graagte gedoen. ’n Gemeente is gestig en dit was gou net so bemind by ons soos die ander waar ons voorheen gedien het.
Ecuador lok ons
Ten spyte van ’n beroerteaanval wat my gedeeltelik verlam gelaat het, het ek verlangend gehoop dat ek en Lucille weer in ’n ander land kon gaan dien. In 1984 het ’n reisende opsiener ons vertel van die groei in Ecuador en die behoefte wat hulle aan Christen- ouere manne het. Ek het vir hom gesê dat ek weens my verlamming nie veel in die veldbediening kon doen nie, maar hy het my verseker dat selfs ’n ouere man van 65 wat gedeeltelik verlam is nuttig kon wees.
Nadat hy weg is, kon ons die hele nag nie slaap nie omdat ons gepraat het oor die moontlikheid om na Ecuador te gaan. Lucille het dieselfde brandende begeerte as ek gehad om te gaan. Ons het gevolglik ons klein plaagbeheeronderneming geadverteer en dit binne twee weke verkoop. Ons huis het ons binne tien dae verkoop. Ons het toe in ons goue jare na ons grootste vreugde teruggekeer, dié van die buitelandse sendingdiens.
Ons het ons in Quito gevestig en die velddiens baie geniet, aangesien elke dag ’n nuwe ondervinding of avontuur meegebring het. Maar toe is daar in 1987 uitgevind dat ek dikdermkanker het; ek moes onmiddellik ’n operasie ondergaan. Ons het na Wichita teruggekeer vir die operasie wat ’n sukses was. Ons was skaars twee jaar terug in Quito toe hulle weer eens kanker opgespoor het en ons moes permanent na Amerika terugkeer. Ons het ons in Noord-Carolina gevestig, waar ons vandag nog woon.
’n Vol, lonende lewe
My fisiese toekoms is onseker. Ek het in 1989 ’n kolostomie ondergaan. Maar ek dien steeds as ’n ouere man en hou verskeie Bybelstudies met mense wat na my huis toe kom. Ons het deur die jare heen letterlik honderde mense gehelp deur die saadjies van die waarheid te plant, nat te maak of te ontwikkel. Dít is ’n vreugde wat nooit verminder nie, maak nie saak hoeveel keer dit herhaal word nie.
Ek het daarbenewens die groot vreugde om te sien dat al my kinders Jehovah dien. Peggy ondersteun haar man, Paul Moske, wat as ’n reisende opsiener in die Verenigde State dien, al 30 jaar lank. Philip en sy vrou, Elizabeth, en Judith verrig steeds spesiale diens in New York. Hank en Leslie en hulle huweliksmaats is bedrywige Getuies en my vier broers en susters en hulle gesinne, waaronder meer as 80 bloedverwante, dien almal Jehovah. En Lucille is al amper 50 jaar lank ’n voorbeeldige Christeneggenote. Sy het in onlangse jare sonder klagtes baie onaangename takies verrig om my te help om vir my liggaam te sorg wat aan die agteruitgaan is.
My lewe was waarlik vol vreugde. Die geluk wat ek ondervind het, kan nie in woorde uitgedruk word nie. Diens aan Jehovah bring soveel vreugde mee dat dit my hartsbegeerte is om hom vir ewig op hierdie aarde te dien. Ek onthou altyd Psalm 59:17, waar dit sê: “Ék sal sing van u sterkte en elke môre jubel oor u goedertierenheid, want U was ’n rotsvesting vir my en ’n toevlug in die dag toe ek benoud was.”
[Prent op bladsy 23]
George Brumley en die Ethiopiese keiser Haile Selassie
[Prent op bladsy 25]
George Brumley en sy vrou, Lucille