Versorging van die bejaarde—uitdagings en belonings
SJINETSOE, ’n Christenbedienaar, het sy toewysing besonder baie geniet. Sy gesin van drie het sy vrou se ma ingesluit. Hulle het dit geniet om saam met ’n klein gemeentetjie van Jehovah se Getuies te werk en mense die Bybel te leer, totdat hy op ’n dag gevra is om dit te oorweeg om saam met sy vrou te reis en ander gemeentes te besoek. Dit sou vereis dat hulle elke week op ’n ander plek bly. Hy was verheug oor die vooruitsig, maar wie sou na Moeder omsien?
Baie gesinne sal uiteindelik voor ’n soortgelyke uitdaging te staan kom—hoe om die beste na hulle bejaarde ouers om te sien. Gewoonlik word daar nie veel oor die saak gedink terwyl die ouers redelik goeie gesondheid geniet en nog werk nie. Maar klein dingetjies verraai dalk dat hulle oud word, soos bewende hande wanneer hulle ’n naald probeer inryg of ’n verswakkende geheue wanneer hulle sukkel om te onthou wanneer laas hulle die een of ander misplaasde artikel gesien het. Maar dikwels is dit ’n skielike ongeluk of siekte wat jou van hulle behoeftes bewus maak. Iets moet gedoen word.
In party lande verkies ouers wat relatief goeie gesondheid geniet om hulle goue jare eerder alleen saam met hulle huweliksmaat deur te bring as saam met hulle kinders. In ander lande, soos in baie Oosterse en Afrika-lande, is dit die reël dat bejaardes by hulle kinders woon, vernaamlik by die oudste seun. Dit is veral die geval as een van die ouers bedlêend is. In Japan byvoorbeeld, word ongeveer 240 000 van diegene wat 65 jaar en ouer is en in ’n sekere mate bedlêend is tuis deur hulle gesin versorg.
Morele en skriftuurlike verpligtinge
Hoewel ons in die geslag lewe waarin baie mense “liefhebbers van hulleself” geword het en ’n gebrek aan “natuurlike liefde” het, het ons ongetwyfeld morele en skriftuurlike verpligtinge teenoor bejaardes (2 Timotheüs 3:1-5). Tomiko, wat haar bejaarde moeder versorg wat aan Parkinson-siekte ly, het die morele verpligting wat sy teenoor haar voel, uitgespreek toe sy van haar ma gesê het: “Sy het 20 jaar lank vir my gesorg. Nou wil ek dieselfde vir haar doen.” Wyse koning Salomo het gemaan: “Luister na jou vader wat jou verwek het, en verag jou moeder nie as sy oud geword het nie.”—Spreuke 23:22.
Nóg godsdiensvooroordeel nóg vyandigheid aan die kant van ’n ongelowige ouer maak hierdie skriftuurlike opdrag ongeldig. Die Christenapostel Paulus is geïnspireer om te skryf: “Iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ’n ongelowige” (1 Timotheüs 5:8). Jesus het vir ons die voorbeeld gestel toe hy, as een van sy laaste dade voor sy dood, gereël het dat sy moeder versorg word.—Johannes 19:26, 27.
Hoe om probleme wat opduik die hoof te bied
Daar is baie aanpassings wat deur almal gemaak moet word wanneer families na baie jare weer saamwoon. Hierdie veranderinge vereis baie liefde, geduld en wedersydse begrip. As die oudste seun, of ’n ander seun of dogter, sy gesin by sy ouers laat intrek, skep dit op sigself ’n hele nuwe reeks omstandighede. Daar is dalk ’n nuwe werk, nuwe skole vir die kinders en ’n nuwe woonbuurt om aan gewoond te raak. Dit beteken dikwels dat die vrou meer pligte sal hê.
Dit sal vir die ouers net so moeilik wees om aan te pas. Hulle het dalk aan ’n mate van privaatheid, stilte en vryheid gewoond geraak; nou sal hulle die gewoel van energieke kleinkinders en hulle maats om hulle hê. Hulle was daaraan gewoond om hulle eie besluite te neem, en enige pogings om hulle sake vir hulle te reël, kan hulle dalk gegrief laat voel. Met die oog op die dag wanneer hulle seuns se gesinne by hulle sal kom bly, het baie ouers aparte huise naby hulle eie huis gebou of met verbindingsgange aan hulle huis aangebou, wat almal ’n mate van onafhanklikheid bied.
As die huis klein is, kan groter aanpassings nodig wees om vir die nuwe intrekkers plek te maak. Een ma onthou met ’n glimlag hoe ontsteld haar vier dogters was toe al hoe meer meubels en ander dinge by hulle kamers ingedra is om vir hulle 80-jarige ouma plek te maak. Nogtans word die meeste van hierdie probleme gewoonlik vanself opgelos wanneer almal besef dat aanpassings nodig is en hulle die Bybel se vermaning in gedagte hou dat liefde ‘nie sy eie belang soek nie’.—1 Korinthiërs 13:5.
’n Verlies aan vryheid
’n Ernstige probleem kan vir ’n Christenvrou ontstaan as haar man nie aan dieselfde geloof behoort nie en besluit dat die gesin by sy ouers moet intrek. Die eise wat die versorging van die familie meebring, laat dit dalk vir haar byna onmoontlik lyk om ’n balans te vind tussen haar Christelike verpligtinge en haar ander pligte. Setsoeko het gesê: “My man het gemeen dat dit gevaarlik is om sy ietwat seniele moeder alleen by die huis te laat, en hy wou hê dat ek die hele tyd by die huis moes wees. As ek ’n vergadering wou bywoon, het hy omgekrap geraak en daaroor gekla. In die begin het ek, weens my Japannese agtergrond, ook gemeen dat dit verkeerd is om haar alleen te laat. Maar mettertyd het ek besef dat die probleem opgelos kon word.”
Hisako het ’n soortgelyke probleem gehad. “Toe ons by my man se familie ingetrek het”, vertel sy, “wou hy hê dat ek my godsdiens moes verander en my godsdiensbedrywighede moes stopsit omdat hy bang was vir wat die familie sou dink. Om sake te vererger, het die familie wat naby ons woon op Sondae kom kuier, wat dit vir my moeilik gemaak het om vergaderinge by te woon. Boonop wou die kinders eerder met hulle neefs en niggies speel as om na vergaderinge toe te gaan. Ek kon sien dat ons geestelikheid daaronder ly. Ek moes ’n ferm standpunt inneem en vir my man verduidelik dat my godsdiens nie iets is wat ek kan verander soos om ander klere aan te trek nie, maar dat dit vir my belangrik is. Mettertyd het die familie hulle daarby aangepas.”
Party het die probleem van te min vrye tyd opgelos deur ’n huishulp een of twee dae ’n week te laat inkom om te help. Ander het ’n mate van vryheid vir persoonlike sake en Christelike bedrywighede gevind deur hulle kinders, familielede wat naby woon en selfs vriende in die gemeente se hulp te vra. Mans kon ook al in die aande of oor naweke wanneer hulle tuis is ’n hand bysit.—Prediker 4:9.
Hou hulle aktief
Nog ’n uitdaging om die hoof te bied, is om bejaardes aktief te hou. Party bejaardes help graag om te kook en ander takies by die huis te verrig. As hulle gevra word om na die kinders te kyk, voel hulle dat die gesin hulle nodig het, en dit gee hulle voldoening om ’n groentetuintjie in stand te hou, blomme te kweek of die een of ander stokperdjie te beoefen.
Ander wil egter die grootste deel van die dag slaap en verwag dat ander hulle moet bedien. Maar om hulle so aktief moontlik te hou, is blykbaar belangrik vir hulle welsyn, langlewendheid en verstandelike wakkerheid. Hoewel Hideko se ma in ’n rystoel was, het sy haar na die vergaderinge geneem en gevind dat dit net die regte aanmoediging vir haar ma was. Almal het haar hartlik verwelkom, en sy is by die gesprekke ingesluit. Die aandag wat hulle haar gegee het, het uiteindelik daartoe gelei dat sy ingestem het om die Bybel saam met ’n ouer vrou te studeer. ’n Egpaar met ’n ouer wat aan Alzheimer se siekte ly, neem haar saam na hulle Christelike vergaderinge toe. “Oor die algemeen wil sy niks doen nie”, het hulle gesê, “maar sy is gelukkig by die vergaderinge. Sy word hartlik verwelkom, en daarom is sy gewillig om te kom. Ons voel dit is baie voordelig vir haar.”
Sjinetsoe, wat aan die begin van die artikel gemeld is, het sy probleem opgelos deur vir sy skoonma ’n woonstel te kry wat sentraal geleë is in die gebied waar hy as reisende bedienaar dien. Hy en sy vrou sou dus by haar bly tussen sy besoeke elke week aan verskillende gemeentes. Sy vrou, Kjoko, het gesê: “My ma voel dat sy ’n belangrike deel van ons werk is, en sy voel dat ons haar nodig het. Sy is verheug wanneer my man haar vra om die een of ander spesiale gereg te kook.”
Hoe om seniliteit te hanteer
Namate ouers ouer word, kan verskillende grade van seniliteit ontwikkel, en daarom het hulle al hoe meer aandag nodig. Hulle vergeet dae, tye, seisoene en beloftes. Hulle sny dalk nie hulle hare nie en was nie hulle klere nie. Hulle kan selfs vergeet hoe om hulleself aan te trek en te bad. Baie raak deurmekaar, terwyl ander dit moeilik vind om snags te slaap. Hulle is geneig om dinge te herhaal en raak dan geïrriteerd as dit onder hulle aandag gebring word. Hulle verstand bedrieg hulle. Hulle hou dalk vol dat iets van hulle gesteel is of dat diewe by die huis probeer inbreek. Een gesin met vier dogters moes voortdurende, ongegronde aantygings van seksuele wangedrag verduur. “Dit was onaangenaam”, het hulle gesê, “maar ons het maar net geleer om die beskuldigings te verduur en die onderwerp probeer verander. Om van Ouma te verskil, was nutteloos.”—Spreuke 17:27.
Voorsien in emosionele behoeftes
Ouderdom bring vir die bejaarde beproewinge mee. Hulle moet pynlike siektes, die verlies aan beweeglikheid en geestesangs verduur. Baie voel hulle lewe is doelloos. Hulle voel dalk hulle is ’n las en spreek die begeerte uit om te sterf. Dit is belangrik dat hulle voel dat ander hulle liefhet, respekteer en van hulle notisie neem (Levitikus 19:32). Hisako het gesê: “Wanneer Mams teenwoordig is, probeer ons haar altyd by ons gesprek betrek en waar moontlik haar die onderwerp van bepreking maak.” Nog ’n gesin probeer hulle oupa se selfrespek verhoog deur hom te vra om die daaglikse bespreking van ’n Bybelteks te lei.
’n Mens moet voortdurend daarna streef om die regte beskouing van bejaardes te handhaaf. Dit grief bedlêende pasiënte as hulle voel dat daar met hulle gepraat word asof hulle kinders is, of as hulle oneerbiedig behandel word. “Ma was oplettend”, het Kimiko, wat by haar skoonma gewoon het, verduidelik, “en sy het geweet wanneer ek haar halfhartig versorg het of ’n meerderwaardige houding gehad het.” Hideko moes ook haar gesindheid verander. “In die begin het dit my gefrustreer dat ek my skoonma moes versorg. Ek was ’n pionier gewees [’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies], en ek het die bediening gemis. Toe het ek besef dat ek my denke moes regstel. Hoewel die huis-tot-huis-bediening belangrik is, was hierdie ook ’n belangrike manier om gehoorsaamheid aan God te toon (1 Timotheüs 5:8). Ek het besef dat ek meer liefde en empatie moes aankweek as ek gelukkig wou wees. My gewete het my gepla as ek dinge bloot meganies uit ’n pligsgevoel gedoen het. Toe ek ’n ongeluk gehad het en pyn moes verduur, het ek aan my skoonma gedink en die pyn wat sy verduur. Daarna was dit vir my makliker om hartliker te wees en meer empatie aan die dag te lê.”
Versorgers het ook sorg nodig
Daar moenie oor die hoof gesien word hoe nodig dit is om waardering uit te spreek teenoor die een op wie die las om die bejaarde te versorg veral rus nie. (Vergelyk Spreuke 31:28.) Die meeste vroue gaan voort om na hulle verpligtinge om te sien met of sonder woorde van waardering. Maar wanneer ons in aanmerking neem wat hulle werk behels, is sulke woorde beslis gepas. Hulle sal heel waarskynlik ekstra skoonmaakwerk en wasgoed hê en ekstra moet kook. Neem ook in aanmerking dat ’n bejaarde hospitaal of dokter toe geneem moet word, asook dat ’n bejaarde pasiënt gevoer of gebad moet word. Een vrou wat haar skoonma lank versorg het, het gesê: “Ek weet dit is moeilik vir my man om dit in woorde uit te druk, maar hy wys tog op ander maniere dat hy waardeer wat ek doen.” Eenvoudige dankwoorde kan dit alles die moeite werd maak.—Spreuke 25:11.
Daar is ook belonings
Baie gesinne wat bejaarde ouers jare lank moes versorg, sê dat dit hulle gehelp het om belangrike Christelike eienskappe aan te kweek: uithouvermoë, selfopoffering, onselfsugtige liefde, ywer, nederigheid en teerheid. Baie gesinne het emosioneel nader aan mekaar gekom. ’n Bykomende voordeel is die geleentheid om meer met jou ouers te gesels en hulle beter te leer ken. Hisako het van haar skoonma gesê: “Sy het ’n interessante lewe gehad. Sy het baie dinge deurgemaak. Ek het haar beter leer ken en geleer om eienskappe in haar te waardeer wat ek voorheen nie raakgesien het nie.”
“Daar was ’n tyd, voor ek die Bybel bestudeer het, toe ek ’n egskeiding wou kry en die situasie wou ontvlug”, het Kimiko verduidelik wat haar man se ouers en sy bedlêende ouma versorg het. “Toe het ek gelees dat ons ‘weduwees in hul verdrukking moet versorg’ (Jakobus 1:27, NW). Ek is bly dat ek my bes gedoen het, want nou kan niemand in die familie met reg oor my oortuigings kla nie. My gewete is skoon.” Nog iemand het gesê: “Ek het met my eie oë die verskriklike gevolge van Adam se sonde gesien en besef nou selfs meer hoe nodig ons die losprys het.”
Gaan jy binnekort nog ’n lid van jou familie by jou huisgesin verwelkom? Of sal jy miskien by jou bejaarde ouers intrek? Voel jy dalk ’n bietjie skrikkerig? Dit is te verstane. Aanpassings sal gemaak moet word. Maar jy sal vind dat jy ryklik beloon sal word as jy hierdie uitdaging suksesvol die hoof bied.
[Prent op bladsy 24]
Dit is belangrik dat bejaardes voel dat ander hulle liefhet en respekteer