Die “Goddelike Onderrigting”-Streekbyeenkomste
ALMAL wat deur Jehovah geleer wil word, sien gretig uit na die “Goddelike Onderrigting”-Streekbyeenkomste. Die vier dae lange program sal belangrike aspekte van skriftuurlike leringe toelig wat Christene beskerm in hierdie tye van toenemende persoonlike probleme en wêreldonrus. Die program sal hulle help om “wat daar anders met die gesonde leer in stryd is” onwrikbaar teë te staan en beter onderrigters van God se Woord te wees.—1 Timotheüs 1:10.
Watter goeie voorbeelde het ons tog nie om na te volg nie! Die Grootste Onderrigter is niemand anders as Jehovah God self nie! Elihu het dus met reg vir Job gesê dat Jehovah “ons meer leer as aan die diere van die aarde en ons wyser maak as die voëls van die hemel”. Hy het ook aangaande Jehovah gevra: “Wie is ’n leermeester soos Hy?” (Job 35:11; 36:22). In Jesaja 30:20 word daar van God gepraat as die “Grootse Leermeester”.—NW.
Naas Jehovah is Jesus Christus ’n onderrigter. Hy was bekend as die “Onderrigter” en as die “Leermeester”, en daar word byna 50 keer in die Evangelies só van hom gepraat. Ten spyte van sy talle opspraakwekkende genesings en ander wonderwerke was Jesus nie bekend as die Geneesheer nie, maar as die Onderrigter, die Leermeester.—Mattheüs 8:19, NW; Lukas 5:5, NW; Johannes 13:13, NAV.
Jesus het heel gepas vir sy dissipels en apostels geleer om onderrigters soos hy te wees. Ons kan dit sien in Mattheüs 10:5 tot 11:1 en Lukas 10:1-11. Kort voordat Jesus na die hemel toe opgevaar het, het hy vir sy dissipels die bekende onderrigtingsopdrag gegee wat in Mattheüs 28:19 opgeteken is. Die boek Handelinge, asook die geïnspireerde briewe wat in die Christelike Griekse Geskrifte daarop volg, toon hoe ywerig, vaardig en getrou Jesus se vroeë volgelinge hierdie onderrigtingsopdrag uitgevoer het.
Hierdie onderrigtingswerk is vandag dringender as ooit tevore. Ons leef in die laaste dae van hierdie stelsel van dinge, en daarom is lewens op die spel. Mense moet onderrig word en gehelp word om uit Babilon uit te kom en hulle aan die kant van Jehovah en sy Koninkryk te skaar as hulle nie wil deel in die sondes van Babilon die Grote en deel van haar plae wil ontvang nie.—Openbaring 18:4.
Jehovah het deur sy organisasie die “Goddelike Onderrigting”-Streekbyeenkomste voorsien om alle Getuies van Jehovah te help in hulle pogings om hulle onderrigtingsopdrag uit te voer. Mag elke toegewyde kneg van Jehovah seker maak dat hy ten minste een van hierdie byeenkomste bywoon en van die openingslied en -gebed die Donderdagmiddag tot die slotgebed die Sondagmiddag teenwoordig is en aandag skenk.