Goddelike onderrigting behaal die oorwinning
“Jou oë moet oë word wat jou Grootse Onderrigter sien. En jou eie ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: ‘Dit is die weg. Wandel daarop.’”—JESAJA 30:20, 21, NW.
1. Waarom kan dit wat Jehovah ons leer tereg Goddelike onderrigting genoem word?
JEHOVAH GOD is die Bron van die beste onderrigting wat enigiemand kan ontvang. As ons luister wanneer hy spreek, veral deur sy Heilige Woord, sal hy ons Grootse Onderrigter wees (Jesaja 30:20, NW). Die Hebreeuse Bybelteks noem hom ook “die Goddelike” (Psalm 50:1, NW). Wat Jehovah ons leer, is dus Goddelike onderrigting.
2. In watter sin is dit waar dat God alleen wys is?
2 Die wêreld is trots op sy baie opvoedkundige instellings, maar nie een van hulle voorsien Goddelike onderrigting nie. Ja, al die wêreldse wysheid wat deur die eeue heen verkry is, beteken bitter min as dit met Goddelike onderrigting vergelyk word wat op Jehovah se oneindige wysheid gegrond is. Romeine 16:27 sê dat God alleen wys is, en dit is waar in dié sin dat net Jehovah absolute wysheid besit.
3. Waarom is Jesus Christus die grootste onderrigter wat nog op die aarde gewandel het?
3 God se Seun, Jesus Christus, is ’n toonbeeld van wysheid en is die grootste onderrigter wat nog op die aarde gewandel het. En geen wonder nie! Jehovah was eeue lank sy Onderrigter in die hemel. Trouens, Goddelike onderrigting het begin toe God sy eerste skepping, sy eniggebore Seun, begin leer het. Jesus kon derhalwe sê: “Net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek” (Johannes 8:28; Spreuke 8:22, 30, NAV). Christus se eie woorde wat in die Bybel opgeteken is, dra baie by tot ons kennis van Goddelike onderrigting. Wanneer gesalfde Christene ander die dinge leer wat Jesus mense geleer het, gehoorsaam hulle hulle Grootse Onderrigter, wie se wil dit is dat “die menigvuldige wysheid van God” deur middel van die gemeente bekend gemaak word.—Efesiërs 3:10, 11; 5:1; Lukas 6:40, NW.
Die soeke na wysheid
4. Wat is al oor die vermoë van die brein gesê?
4 As ons die wysheid wil verkry wat uit Goddelike onderrigting voortspruit, moet ons ons godgegewe denkvermoëns vlytig inspan. Dit is moontlik omdat die mensebrein ontsaglike vermoëns besit. Die boek The Incredible Machine sê: “Selfs die gevorderdste rekenaars wat ons ons kan voorstel, is maar primitief in vergelyking met die feitlik oneindige kompleksiteit en veelsydigheid van die mensebrein—eienskappe wat moontlik gemaak word deur sy ingewikkelde, gekalibreerde stelsel van elektrochemiese seine. . . . Die miljoene seine wat op enige gegewe oomblik deur jou brein flits, bevat ’n buitengewone hoeveelheid inligting. Hulle bring nuus oor die toestande binne sowel as buite jou liggaam: oor ’n kramp in jou toon of die aroma van koffie of iets snaaks wat ’n vriend gesê het. Terwyl ander seine inligting verwerk en ontleed, bring hulle sekere emosies, herinneringe, gedagtes of planne voort wat tot ’n besluit lei. Seine van jou brein af laat ander dele van jou liggaam feitlik onmiddellik weet wat om te doen: wikkel jou toon, drink die koffie, lag of sê miskien iets grappigs terug. Intussen beheer jou brein ook jou asemhaling, die chemiese samestelling van jou bloed, jou temperatuur en ander lewensbelangrike prosesse wat plaasvind sonder dat jy daarvan bewus is. Dit stuur bevele uit wat jou liggaam goed laat funksioneer ondanks die aanhoudende veranderinge in jou omgewing. Dit berei ook vir toekomstige behoeftes voor.”—Bladsy 326.
5. Wat is wysheid in die skriftuurlike sin?
5 Hoewel die mensebrein ongetwyfeld wonderlike vermoëns het, kan ons ons afvra: Hoe kan ons ons verstand op die beste manier gebruik? Nie deur ons uitsluitlik in ’n moeilike studie van tale, die geskiedenis, die wetenskap of vergelykende godsdienswetenskap te verdiep nie. Ons moet ons denkvermoëns hoofsaaklik gebruik om Goddelike onderrigting te ontvang. Dit is al wat tot ware wysheid lei. Maar wat is ware wysheid? In die skriftuurlike sin lê wysheid klem op gesonde oordeel wat op juiste kennis en ware begrip gegrond is. Wysheid stel ons in staat om kennis en begrip met welslae te gebruik om probleme op te los, gevare te vermy of te voorkom, ander te help en doelwitte te bereik. Dit is interessant dat die Bybel wysheid kontrasteer met dwaasheid—’n eienskap wat ons gewis moet vermy.—Deuteronomium 32:6; Spreuke 11:29; Prediker 6:8.
Jehovah se groot Handboek
6. Waarvan moet ons goed gebruik maak as ons ware wysheid wil openbaar?
6 Ons word deur baie wêreldse wysheid omring (1 Korinthiërs 3:18, 19). Hierdie wêreld het inderdaad baie skole en biblioteke met miljoene boeke! Baie is handboeke wat onderrig verskaf in tale, wiskunde, die wetenskap en ander studierigtings. Maar die Grootse Onderrigter het die handboek voorsien wat alle ander oortref—sy geïnspireerde Woord, die Bybel (2 Timotheüs 3:16, 17). Dit is nie net akkuraat wanneer dit onderwerpe soos die geskiedenis, aardrykskunde en plantkunde aanroer nie, maar ook wanneer dit die toekoms voorspel. Boonop help dit ons om nou reeds die gelukkigste en produktiefste lewe te lei. Net soos leerlinge in ’n wêreldse skool hulle boeke moet gebruik, moet ons natuurlik deeglik met God se groot Handboek vertroud raak en dit gebruik indien ons ware wysheid wil openbaar as mense wat “deur God geleer” is.—Johannes 6:45.
7. Waarom sou jy sê is intellektuele kennis van die Bybel se inhoud nie genoeg nie?
7 Maar intellektuele kennis van die Bybel is nie dieselfde as ware wysheid en die toepassing van Goddelike onderrigting nie. Ter toeligting: In die 17de eeu G.J. wou ’n Katolieke man met die naam Cornelius van der Steen ’n Jesuïet word, maar hy is nie aanvaar nie omdat hy te kort was. Manfred Barthel sê in sy boek The Jesuits—History & Legend of the Society of Jesus: “Die komitee het Cornelius van der Steen laat weet dat hulle bereid is om die lengtevereiste te ignoreer, maar slegs op voorwaarde dat hy die hele Bybel memoriseer. Dit sou beswaarlik die moeite werd gewees het om hierdie verhaal te vertel as Cornelius van der Steen nie hierdie ietwat verregaande versoek nagekom het nie.” Watter inspanning moes dit tog geverg het om die hele Bybel te memoriseer! Maar dit is beslis baie belangriker om God se Woord te verstaan as om dit te memoriseer.
8. Wat sal ons help om by Goddelike onderrigting baat te vind en ware wysheid aan die dag te lê?
8 As ons ten volle by Goddelike onderrigting wil baat vind en ware wysheid aan die dag wil lê, moet ons juiste kennis van die Skrif hê. Ons moet ook deur Jehovah se heilige gees, of werkende krag, gelei word. Dit sal ons in staat stel om diepgaande waarhede, “die diep dinge van God”, te leer (1 Korinthiërs 2:10, NW). Laat ons derhalwe Jehovah se groot Handboek ywerig bestudeer en hom vra om ons deur sy heilige gees te lei. Laat ons, in ooreenstemming met Spreuke 2:1-6, na wysheid luister, ons hart tot verstand neig en na die insig roep. Ons moet dit doen asof ons na verborge skatte soek, want slegs dan sal ons “die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind”. As ons ’n paar van die oorwinnings en voordele van Goddelike onderrigting bespreek, sal dit ons ’n dieper waardering vir godgegewe wysheid gee.
Progressiewe begrip
9, 10. Wat het God, volgens Genesis 3:15, gesê, en wat beteken daardie woorde presies?
9 Goddelike onderrigting behaal die oorwinning deurdat dit Jehovah se volk ’n progressiewe begrip van die Skrif gee. Ons het byvoorbeeld geleer dat dit Satan die Duiwel was wat in Eden deur ’n slang gepraat het en God valslik daarvan beskuldig het dat Hy ’n leuen vertel het toe Hy gesê het dat die mens met die dood gestraf sou word as hy van die verbode vrug sou eet. Maar ons sien dat ongehoorsaamheid aan Jehovah God wel die dood oor die mensdom gebring het (Genesis 3:1-6; Romeine 5:12). Tog het God die mens hoop gegee toe hy vir die slang, en sodoende vir Satan, gesê het: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.”—Genesis 3:15.
10 Daardie woorde het ’n geheim bevat wat progressief deur Goddelike onderrigting geopenbaar is. Jehovah het sy volk geleer dat die Bybel se hooftema die regverdiging van sy soewereiniteit deur middel van die Saad is, wat ’n afstammeling van Abraham en Dawid sou wees en die wetlike reg op Koninkryksheerskappy sou hê (Genesis 22:15-18; 2 Samuel 7:12, 13; Esegiël 21:25-27). Ons Grootse Onderrigter het ons geleer dat Jesus Christus die vernaamste Saad van die “vrou”, God se universele organisasie, is (Galasiërs 3:16). Jesus het, ondanks al die toetse wat Satan oor hom gebring het, sy onkreukbaarheid gehandhaaf—tot die dood toe, toe die Saad in die hakskeen gebyt is. Ons het ook geleer dat 144 000 mede-erfgename van die Koninkryk wat uit die mensdom geneem word saam met Christus die kop van Satan, “die oorspronklike slang”, sal vermorsel (Openbaring 14:1-4; 20:2, NW; Romeine 16:20; Galasiërs 3:29; Efesiërs 3:4-6). Hoe waardeer ons tog sulke kennis van God se Woord!
Tot God se wonderbare lig
11. Waarom kan daar gesê word dat Goddelike onderrigting die oorwinning behaal deurdat dit mense tot die geestelike lig bring?
11 Goddelike onderrigting behaal die oorwinning deurdat dit mense tot die geestelike lig bring. Gesalfde Christene het al daardie ondervinding gehad, ter vervulling van 1 Petrus 2:9: “Julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.” Vandag geniet “’n groot menigte”, wat vir ewig op ’n paradysaarde sal lewe, ook godgegewe lig (Openbaring 7:9; Lukas 23:43, NW). Namate God sy volk leer, word Spreuke 4:18 bewaarheid: “Die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe.” Hierdie progressiewe leerproses verbeter ons begrip van Goddelike onderrigting, net soos leerlinge vordering maak danksy ’n onderwyser se uitstekende hulp wanneer hulle grammatika, geskiedenis of ’n ander vak bestudeer.
12, 13. Teen watter leerstellige gevare het Goddelike onderrigting Jehovah se volk beskerm?
12 Nog ’n oorwinning van Goddelike onderrigting is dat dit die nederige ontvangers daarvan teen die “leringe van demone” beskerm (1 Timotheüs 4:1, NW). Beskou daarenteen die Christendom! Reeds in 1878 het die Rooms-Katolieke prelaat John Henry Newman geskryf: “Met vertroue dan in die krag van die Christelike godsdiens om die besmetting van die boosheid te weerstaan en om selfs die werktuie en aanhangsels van demoonaanbidding tot ’n evangeliese gebruik om te sit, . . . was die Kerkvorste uit die vroeë tye bereid om, indien die geleentheid sou ontstaan, die bestaande ritusse en gebruike van die menigte, sowel as die filosofie van die geleerdes, aan te neem, na te volg of goed te keur.” John Newman het bygevoeg dat dinge soos wywater, priestergewade en beelde “geheel en al van heidense oorsprong [is] en deur hulle aanneming in die Kerk geheilig is”. God se volk is beslis dankbaar dat Goddelike onderrigting hulle teen sulke afvalligheid beskerm. Dit seëvier oor elke vorm van demonisme.—Handelinge 19:20, NW.
13 Goddelike onderrigting behaal in alle opsigte die oorwinning oor godsdiensdwaling. As diegene wat deur God geleer word, glo ons byvoorbeeld nie aan die Drie-eenheid nie, maar ons erken dat Jehovah die Allerhoogste is, dat Jesus sy Seun is en dat die heilige gees God se werkende krag is. Ons vrees nie die helse vuur nie, want ons besef dat die Bybelse hel die mensdom se gemeenskaplike graf is. En hoewel valse godsdiensbeoefenaars sê dat die mensesiel onsterflik is, weet ons dat die dooies glad niks weet nie. Die lys van waarhede wat ons deur Goddelike onderrigting geleer het, is oneindig. Wat ’n seën is dit tog om vry van geestelike slawerny aan Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, te wees!—Johannes 8:31, 32; Openbaring 18:2, 4, 5.
14. Waarom kan God se knegte in geestelike lig bly wandel?
14 Omdat Goddelike onderrigting die oorwinning oor godsdiensdwalinge behaal, kan God se knegte in geestelike lig wandel. Hulle hoor as ’t ware ’n woord agter hulle wat sê: “Dit is die weg, wandel daarop!” (Jesaja 30:21). God se onderrigting beskerm ook sy knegte teen valse redenasies. Toe “valse apostels” probleme in die gemeente in Korinthe veroorsaak het, het die apostel Paulus geskryf: “Die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne [“redenasies”, NW] verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus” (2 Korinthiërs 10:4, 5; 11:13-15). Redenasies wat in stryd met Goddelike onderrigting is, word verbreek deur die onderrigting wat met sagmoedigheid in die gemeente gegee word en deur die verkondiging van die goeie nuus aan diegene wat buite is.—2 Timotheüs 2:24-26.
Aanbid in gees en waarheid
15, 16. Wat beteken dit om Jehovah in gees en waarheid te aanbid?
15 Namate die Koninkrykspredikingswerk vooruitgaan, behaal Goddelike onderrigting die oorwinning deur vir die sagmoediges te toon hoe hulle God “in gees en waarheid” kan aanbid. By die fontein van Jakob naby die stad Sigar het Jesus vir ’n Samaritaanse vrou gesê dat hy water kan voorsien wat ’n mens die ewige lewe gee. Met verwysing na die Samaritane het hy bygevoeg: “Julle aanbid wat julle nie weet nie . . . Daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid” (Johannes 4:7-15, 21-23). Daarna het Jesus homself as die Messias geïdentifiseer.
16 Maar hoe kan ons God in gees aanbid? Deur reine aanbidding uit ’n dankbare hart gevul met liefde vir God wat op juiste kennis van sy Woord gegrond is. Ons kan hom in waarheid aanbid deur godsdiensleuens te verwerp en die Goddelike wil te doen soos dit in Jehovah se groot Handboek geopenbaar word.
Die oorwinning oor beproewinge en die wêreld
17. Hoe kan jy bewys dat Goddelike onderrigting Jehovah se knegte gehelp het om beproewinge te deurstaan?
17 Wanneer God se volk voor beproewinge te staan kom, behaal Goddelike onderrigting herhaaldelik die oorwinning. Dink hieraan: Aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog, in September 1939, het Jehovah se knegte spesiale insig in sy groot Handboek nodig gehad. Hulle is baie gehelp deur ’n artikel in The Watchtower van 1 November 1939, waarin Goddelike onderrigting oor Christelike neutraliteit duidelik uiteengesit is (Johannes 17:16). In die vroeë sestigerjare het artikels in Die Wagtoring oor relatiewe onderworpenheid aan die regerende “hoër owerhede” God se volk eweneens gehelp om te midde van sosiale oproerigheid ooreenkomstig Goddelike onderrigting op te tree.—Romeine 13:1-7; Handelinge 5:29.
18. Hoe het verklaarde Christene van die tweede en derde eeu G.J. verdorwe vermaak beskou, en watter hulp voorsien Goddelike onderrigting vandag in daardie verband?
18 Goddelike onderrigting help ons om versoekings te weerstaan, soos verlokkings om verdorwe vermaak na te jaag. Let op wat verklaarde Christene van die tweede en derde eeu van ons Gewone Jaartelling in dié verband gesê het. Tertullianus het geskryf: “Ons praat nie oor, kyk nie na of luister nie na die waansin van die sirkus, die skaamteloosheid van die teater en die barbaarsheid van die arena nie.” ’n Ander skrywer van daardie tyd het gevra: “Wat soek ’n getroue Christen daar, aangesien hy nie eens oor boosheid mag dink nie? Waarom put hy genot uit die voorstellings van wellus?” Hoewel hierdie skrywers etlike jare ná die eerste-eeuse Christene gelewe het, het hulle nogtans verdorwe vermaak veroordeel. Vandag gee Goddelike onderrigting ons die wysheid om onwelvoeglike, onsedelike en gewelddadige vermaak te vermy.
19. Hoe stel Goddelike onderrigting ons in staat om die wêreld te oorwin?
19 As ons aan Goddelike onderrigting gehoor gee, stel dit ons in staat om die wêreld te oorwin. Ja, as ons die dinge toepas wat ons Grootse Onderrigter ons leer, sal ons die oorwinning behaal oor die bose invloede van hierdie wêreld, wat in Satan se mag lê (2 Korinthiërs 4:4; 1 Johannes 5:19). Efesiërs 2:1-3 sê dat God ons lewend gemaak het hoewel ons deur ons misdade en sondes dood was toe ons volgens die owerste van die mag van die lug gewandel het. Ons dank Jehovah dat Goddelike onderrigting ons help om die oorwinning te behaal oor wêreldse begeertes sowel as oor die gees wat van sy en ons vyand—die aartsverleier, Satan die Duiwel—afkomstig is!
20. Watter vrae moet ons nou oorweeg?
20 Dit is dus duidelik dat Goddelike onderrigting op baie maniere die oorwinning behaal. Trouens, dit is feitlik onmoontlik om al die oorwinnings op te noem. Dit raak mense die wêreld deur. Maar wat doen dit vir jou? Watter uitwerking het Goddelike onderrigting op jou lewe?
Wat het jy geleer?
◻ Hoe kan ware wysheid omskryf word?
◻ Wat het God progressief in verband met Genesis 3:15 geopenbaar?
◻ Hoe het Goddelike onderrigting die oorwinning ten opsigte van geestelike aangeleenthede behaal?
◻ Wat beteken dit om God in gees en waarheid te aanbid?
◻ Hoe het Goddelike onderrigting Jehovah se knegte al gehelp om die oorwinning oor beproewinge en die wêreld te behaal?
[Prente op bladsy 10]
Jesus het sy onkreukbaarheid gehandhaaf tot die dood toe—toe die Saad in die hakskeen gebyt is