Word verander in die verstand en verlig in die hart
“Dit sê ek gevolglik en lê daarvan getuienis af in die Here, dat julle nie langer moet bly wandel soos die nasies ook wandel nie.”—EFESIËRS 4:17, NW.
1. Wat doen ons verstand en hart vir ons?
DIE verstand en die hart is twee van die wonderlikste gawes wat die mens het. Hoewel hulle tallose funksies vervul, is elke persoon s’n uniek. Ons persoonlikheid, spraak, gedrag, emosies en waardes word alles diep beïnvloed deur die manier waarop ons verstand en hart funksioneer.
2, 3. (a) Hoe gebruik die Bybel die woorde “hart” en “verstand”? (b) Waarom moet ons oor die hart sowel as die verstand besorg wees?
2 In die Bybel verwys “hart” oor die algemeen na motivering, emosies en innerlike gevoelens en “verstand” na die intellek en denkvermoëns. Tog sluit die een nie die ander uit nie. Moses het die Israeliete byvoorbeeld aangespoor: “Daarom moet jy vandag weet en ter harte neem [voetnoot in NW, “in jou gedagte terugroep”] dat die HERE God is” (Deuteronomium 4:39). Jesus het vir die skrifgeleerdes wat planne teen hom gesmee het, gesê: “Waarom bedink julle slegte dinge in julle harte?”—Mattheüs 9:4; Markus 2:6, 7.
3 Dit toon dat die verstand en die hart nou verwant is. Hulle werk op mekaar in en versterk mekaar soms om as ’n verenigde span saam te werk, maar hulle is ook dikwels teen mekaar in ’n stryd om oorheersing gewikkel. (Mattheüs 22:37; vergelyk Romeine 7:23.) Daarom moet ons, as ons Jehovah se guns wil verkry, nie net seker wees van die toestand van ons verstand en hart nie, maar ons moet hulle ook oplei om harmonieus saam te werk, om in dieselfde rigting te trek. Ons moet verander word in die verstand en verlig word in die hart.—Psalm 119:34; Spreuke 3:1.
‘Soos die nasies wandel’
4. Hoe het Satan mense se verstand en hart beïnvloed, en wat is die gevolg?
4 Satan is ’n meester in bedrog en manipulasie. Hy weet dat hy mense se verstand en hart sy teiken moet maak as hy beheer oor hulle wil verkry. Reg van die begin van die mens se geskiedenis af het hy allerhande liste gebruik om sy doel te bereik. Gevolglik ‘lê die hele wêreld in die mag van die Bose’ (1 Johannes 5:19). Trouens, Satan het so goed daarin geslaag om die mense van die wêreld se hart en verstand te beïnvloed dat die Bybel hulle as “’n krom en verdraaide geslag” beskryf (Filippense 2:15). Die apostel Paulus beskryf op aanskoulike wyse die toestand van hierdie krom en verdraaide geslag se hart en verstand, en sy woorde dien as waarskuwing vir ons almal vandag. Lees asseblief ter toeligting Efesiërs 4:17-19, en vergelyk dit met Paulus se woorde in Romeine 1:21-24.
5. Waarom het Paulus sterk raad in sy brief aan die Efesiërs gegee?
5 Ons kan insien waarom Paulus sulke sterk woorde gebruik het toe hy aan die Christene in Efese geskryf het as ons in gedagte hou dat die stad berug was vir sy sedelike verdorwenheid en afgodsaanbidding. Hoewel die Grieke hulle vermaarde denkers en filosowe gehad het, lyk dit asof Griekse geleerdheid vir baie van die mense die weg gebaan het om groter boosheid te bedryf, en hulle kultuur het hulle net meer in hulle verdorwenhede verfyn. Paulus was diep besorg oor sy mede-Christene wat in hierdie milieu geleef het. Hy het geweet dat baie van hulle voorheen mense van die nasies was en dat hulle ‘soos hierdie sondige wêreld gelewe het’. Maar nou het hulle die waarheid aangeneem. Hulle verstand is verander en hulle hart is verlig. Paulus wou veral hê dat hulle ‘die roeping waardig moes wandel’.—Efesiërs 2:2, NAV; 4:1.
6. Waarom behoort ons in Paulus se woorde belang te stel?
6 ’n Soortgelyke situasie bestaan vandag. Ons lewe ook in ’n wêreld van verdraaide standaarde, waardelose sedes en valse godsdiensgebruike. Baie onder ons het voorheen soos hierdie sondige wêreld gelewe. Ander van ons is dag na dag met wêreldlinge in aanraking. Sommige van ons woon in huise waar die wêreldse gees heers. Dit is derhalwe gebiedend noodsaaklik dat ons verstaan wat Paulus se woorde beteken en by sy raad baat vind.
Vrugtelose en verduisterde verstand
7. Wat het Paulus bedoel met die uitdrukking “die vrugteloosheid van hulle verstand”?
7 Om sy vermaning te staaf dat Christene “nie langer moet bly wandel soos die nasies ook wandel nie”, het Paulus eerstens melding gemaak van “die vrugteloosheid van hulle verstand” (Efesiërs 4:17, NW). Wat beteken dit? Volgens The Anchor Bible dui die woord wat met “vrugteloosheid” vertaal word op “leegheid, ledigheid, nutteloosheid, dwaasheid, doelloosheid en frustrasie”. Paulus het dus daarop gewys dat die roem en glorie van die Griekse en Romeinse wêreld dalk indrukwekkend gelyk het, maar dat die najaging daarvan in werklikheid leeg, dwaas en doelloos was. Diegene wat hulle dit ten doel gestel het om roem en glorie te verkry, sou op die ou end niks behalwe frustrasie en teleurstelling ondervind nie. Dieselfde beginsel geld van die hedendaagse wêreld.
8. In watter opsigte is die wêreld se strewes vrugteloos?
8 Die wêreld het sy intellektueles en sy elite na wie mense hulle wend om antwoorde op sulke diep vrae soos die oorsprong en doel van die lewe en die lot van die mensdom te kry. Maar watter insig en leiding kan hulle bied? Ateïsme, agnostisisme, evolusie en ’n menigte ander verwarrende en strydende idees en teorieë wat geensins meer verligtend is as die rituele en bygelowe van die verlede nie. Talle wêreldse strewes bied oënskynlik ’n mate van bevrediging en vervulling. Mense praat van sukses en prestasie op die gebied van die wetenskap, kuns, musiek, sport, politiek, ensovoorts. Hulle verlustig hulle in hulle vlietende oomblikke van glorie. Nogtans is die annale van die geskiedenis en boeke oor prestasies vol vergete helde. Dit is alles net leegheid, ledigheid, nutteloosheid, dwaasheid, doelloosheid en frustrasie.
9. Op watter vrugtelose strewes lê baie hulle toe?
9 Baie besef dat sulke strewes vrugteloos is, en hulle wend hulle tot materialistiese strewes—hulle gaar geld en die dinge wat geld kan koop op—en maak hierdie strewes hulle doel in die lewe. Hulle is oortuig dat geluk deur rykdom, besittings en die najaging van genot verkry kan word. Hulle lê hulle nie alleen daarop toe nie, maar hulle is ook bereid om alles daarvoor op te offer—hulle gesondheid, gesin en selfs hulle gewete. Met watter gevolg? In plaas daarvan dat hierdie strewes hulle bevrediging gebied het, het hulle “hulleself met baie smarte deurboor” (1 Timotheüs 6:10). Dit is geen wonder dat Paulus sy mede-Christene aangespoor het om nie meer soos die nasies te wandel nie, want so ’n denkwyse is vrugteloos.
10. Hoe is die mense van die wêreld “verstandelik in duisternis”?
10 Om te toon dat die wêreld niks het wat vir ons die moeite werd is om te beny of na te volg nie, het Paulus vervolgens gesê dat hulle “verstandelik in die duisternis verkeer” (Efesiërs 4:18, NW). Die wêreld het natuurlik intelligente en kundige mense op amper elke lewensterrein. Tog het Paulus gesê dat hulle verstandelik in die duisternis is. Waarom? Hy het nie oor hulle verstandelike kundigheid of vermoëns gepraat nie. Die woord “verstand” kan ook na die setel van menslike gewaarwording, die setel van begrip, die innerlike mens, verwys. Hulle is in die duisternis omdat hulle geen lig het wat hulle lei of geen sin van rigting in hulle strewes het nie. Dit kan gesien word uit hulle benewelde sin van reg en verkeerd. Mense kan dink dat vandag se denkwyse—dat jy nie ander moet oordeel nie, dat enigiets toelaatbaar is—verligtend is, maar volgens Paulus is dit in werklikheid ’n verduisterde denkwyse. Geestelik gesproke tas hulle in algehele duisternis rond.—Job 12:25; 17:12; Jesaja 5:20; 59:6-10; 60:2; vergelyk Efesiërs 1:17, 18.
11. Wat is die oorsaak van die wêreld se verstandelike duisternis?
11 Hoe is dit moontlik dat mense op soveel gebiede intelligent, selfs briljant, kan wees en nogtans in geestelike duisternis verkeer? In 2 Korinthiërs 4:4 gee Paulus ons die antwoord: “Onder wie die god van hierdie stelsel van dinge die sinne van die ongelowiges verblind het sodat die verligtende lig van die glorieryke goeie nuus oor die Christus, wat die beeld van God is, nie sou deurskyn nie” (NW). Wat ’n kosbare seën is dit tog dat diegene wat die glorieryke goeie nuus aanneem in hulle verstand verander en in hulle hart verlig is!
Onkundige en ongevoelige harte
12. In watter opsig is die wêreld “vervreemd van die lewe wat aan God behoort”?
12 Om ons verder te help om te sien waarom ons in ons verstand verander en in ons hart verlig moet word, het Paulus ons aandag gevestig op die feit dat die weg van die wêreld “vervreemd [is] van die lewe wat aan God behoort” (Efesiërs 4:18, NW). Nie dat mense nie meer in God glo of dat hulle heeltemal godloos geword het nie. ’n Koerantrubriekskrywer het dit só gestel: “Pleks van godloos kan ons ’n nuwe woord skep: bietjie-God. Bietjie-God-mense wil erkenning ontvang vir die feit dat hulle in die Godheid glo, terwyl hulle Hom terselfdertyd in ’n kis hou, Hom slegs Sondagoggende uitlaat en Hom nooit toelaat om hulle beskouing van wêreldpolitiek of hulle persoonlike lewe van Sondag tot Sondag te beïnvloed nie. [Hulle] glo in ’n meerdere of mindere mate in God, maar dink nie dat Hy veel seggenskap oor die hedendaagse gemeenskap het nie.” Paulus het dit só in sy brief aan die Romeine gestel: “Alhoewel hulle God geken het, [het hulle] Hom nie as God verheerlik of gedank . . . nie” (Romeine 1:21). Ons sien daagliks hoe mense deur die lewe gaan sonder enige gedagte aan God. Hulle verheerlik of dank hom beslis nie.
13. Wat is “die lewe wat aan God behoort”?
13 Die uitdrukking “die lewe wat aan God behoort” is betekenisvol. Dit toon verder hoe verstandelike en geestelike duisternis mense se waardebegrip verwar. Die Griekse woord wat hier met “lewe” vertaal word, is nie biʹos (waarvandaan woorde soos “biologie”, “biografie” afkomstig is), wat lewenswyse, of lewensstyl, beteken nie. Dit is eerder zo·eʹ (waarvandaan die Engelse woord zoo en woorde soos “soölogie” afkomstig is). Dit beteken “lewe op sigself, lewe in die absolute sin, lewe soos God dit het. . . . Van hierdie lewe het die mens vervreemd geraak as gevolg van die Sondeval”, volgens Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words. Paulus het derhalwe vir ons gesê dat verstandelike en geestelike duisternis die mense van die wêreld nie alleen tot verdorwenheid van die vlees gelei het nie, maar hulle ook afgeskei het van die hoop op die ewige lewe wat God aan hulle bied (Galasiërs 6:8). Waarom is dit so? Paulus het verder gegaan om ons die redes te gee.
14. Wat is een rede waarom die wêreld vervreemd is van die lewe wat aan God behoort?
14 Eerstens het hy gesê dit is “deur die onkunde wat in hulle is” (Efesiërs 4:18). Die uitdrukking “wat in hulle is”, beklemtoon die feit dat die onkunde nie die gevolg van ’n gebrek aan geleenthede is nie, maar dit is die gevolg van opsetlike verwerping van die kennis van God. Ander weergawes van hierdie uitdrukking is: “hulle inherente weiering om God te ken” (The Anchor Bible); “sonder kennis omdat hulle hulle hart daarvoor gesluit het” (Jerusalem Bible). Omdat hulle die juiste kennis van God verwerp, of dit moedswillig verag, het hulle geen grondslag waarop hulle die soort lewe kan verwerf wat Jehovah vir diegene bied wat geloof beoefen in sy Seun nie, wat gesê het: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”—Johannes 17:3; 1 Timotheüs 6:19.
15. Wat dra by tot hierdie wêreld se vervreemding van die lewe wat aan God behoort?
15 Volgens Paulus is nog ’n rede waarom die wêreld oor die algemeen vervreemd is van die lewe wat aan God behoort “die verharding van hulle hart” (Efesiërs 4:18). “Verharding” beteken hier hulle hart is ongevoelig, as ’t ware deur eelte bedek. Ons weet almal hoe eelte ontwikkel. Die vel is aanvanklik sag en gevoelig, maar as dit herhaaldelik aan sekere druk of wrywing blootgestel word, verhard en verdik die vel en vorm dit ’n eelt. Dit voel nie meer die irritasie nie. Mense word eweneens nie met ’n verharde of vereelte hart gebore sodat hulle werktuiglik ongevoelig teenoor God is nie. Maar omdat ons in die wêreld woon en aan die gees daarvan blootgestel word, neem dit nie lank vir ons hart om te vereelt of te verhard as ons dit nie bewaak nie. Daarom het Paulus gewaarsku: “Pas op . . . sodat niemand van julle verhard word deur die bedrieglike krag van die sonde nie” (Hebreërs 3:7-13, NW; Psalm 95:8-10). Hoe noodsaaklik is dit derhalwe dat ons ons veranderde verstand en verligte hart moet behou!
‘Hulle het alle sedelikheidsbegrip verloor’
16. Wat is die gevolg van die wêreld se verstandelike duisternis en vervreemding van die lewe wat aan God behoort?
16 Die gevolg van hierdie duisternis en vervreemding word deur Paulus se verdere woorde opgesom: “Daar hulle alle sedelikheidsbegrip verloor het, het hulle hulle oorgegee aan losbandige gedrag om hebsugtig allerlei onreinheid te bedryf” (Efesiërs 4:19, NW). Die uitdrukking dat hulle “alle sedelikheidsbegrip verloor het”, beteken letterlik “om nie meer pyn te voel nie”, dit wil sê, sedelike pyn. Dit is hoe ’n vereelte hart word. Wanneer dit nie meer gewetenswroeging en verantwoording teenoor God voel nie, het dit geen perke nie. Paulus het gevolglik gesê dat “hulle hulle oorgegee” het aan losbandige gedrag en onreinheid. Dit is ’n doelbewuste, moedswillige stap. “Losbandige gedrag” soos dit in die Bybel gebruik word, dui op ’n vermetele, skaamtelose gesindheid, een wat wet en gesag verag. “Allerlei onreinheid” sluit eweneens nie net seksuele perversiteite in nie, maar ook die verdorwe dinge wat in die naam van godsdiens gedoen is, soos die vrugbaarheidsgebruike en rituele wat by die tempel van Artemis in Efese uitgevoer is en waarmee Paulus se lesers goed bekend was.—Handelinge 19:27, 35.
17. Waarom het Paulus gesê dat mense wat alle sedelikheidsbegrip verloor het “hebsugtig” sondig?
17 Asof bandelose oorgawe aan losbandige gedrag en allerlei onreinheid nie erg genoeg is nie, voeg Paulus by dat sulke mense “hebsugtig” is. Wanneer mense wat nog ’n mate van sedelikheidsbegrip het, sondig, is hulle ten minste berouvol en probeer hulle hard om nie weer te sondig nie. Maar diegene wat “alle sedelikheidsbegrip verloor het”, sondig “hebsugtig” (“en vra nog meer”, The Anchor Bible). Hulle betree gretig ’n bose weg wat hulle soos ’n draaikolk afwaarts voer tot hulle in die dieptes van verdorwenheid verval—en hulle dink niks daarvan nie. Wat ’n noukeurige uitbeelding van “die wil van die heidene [“nasies”, NW]” is dit tog!—1 Petrus 4:3, 4.
18. Ter opsomming, hoe het Paulus die wêreld se verstandelike en geestelike toestand geskets?
18 Paulus lê dus in net drie verse, Efesiërs 4:17-19, die ware sedelike en geestelike toestand van die wêreld bloot. Hy wys daarop dat die idees en teorieë wat deur wêreldse denkers bevorder word, sowel as die meedoënlose najaging van rykdom en genot, heeltemal vrugteloos is. Hy stel dit duidelik dat die wêreld weens verstandelike en geestelike duisternis in ’n sedelike moeras is en dat hulle al hoe dieper daarin wegsink. Die wêreld het uiteindelik, weens selfopgelegde onkunde en verharding, heeltemal vervreemd geraak van die lewe wat aan God behoort. Ons het tog sekerlik goeie rede om nie te wandel soos die nasies ook wandel nie!
19. Watter belangrike vrae moet nog bespreek word?
19 Aangesien dit duisternis van die verstand en hart is wat veroorsaak dat die wêreld van Jehovah God vervreemd is, kan ons ons afvra: Hoe kan ons alle duisternis uit ons verstand en hart verdryf? Ja, wat moet ons doen sodat ons kan voortgaan om as kinders van die lig te wandel en God se guns te behou? Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.
Kan jy verduidelik?
◻ Wat het aanleiding gegee tot Paulus se sterk raad in Efesiërs 4:17-19?
◻ Waarom is die wêreld se weë vrugteloos en in duisternis?
◻ Wat word bedoel met die uitdrukking “vervreemd van die lewe wat aan God behoort”?
◻ Wat is die gevolge van ’n verduisterde verstand en ’n ongevoelige hart?
[Prente op bladsy 9]
Efese was berug vir sy sedelike verdorwenheid en afgodsaanbidding
1. Romeinse gladiator in Efese
2. Ruïnes van die tempel van Artemis
3. Teater in Efese
4. Artemis van Efese, vrugbaarheidsgodin
[Prent op bladsy 10]
Watter insig bied die elite van die wêreld?
Nero
[Erkenning]
Musei Capitolini, Roma