STUDIEARTIKEL 12
LIED 77 Lig in ’n donker wêreld
Vermy die duisternis – Bly in die lig
“Julle was eens duisternis, maar julle is nou lig.” – EF. 5:8.
DOEL
Wat ons kan leer uit die woorde “duisternis” en “lig” wat Paulus in Efesiërs hoofstuk 5 gebruik het.
1-2. (a) Onder watter omstandighede was die brief aan die Efesiërs geskryf? (b) Watter vrae sal ons bespreek?
TERWYL hy onder huisarres in Rome was, wou die apostel Paulus sy broers en susters aanmoedig. Hy kon hulle nie in persoon besoek nie, en daarom het hy briewe geskryf. Hy het een van hierdie briewe in omtrent 60 of 61 HJ aan die Efesiërs geskryf. – Ef. 1:1; 4:1.
2 Amper tien jaar vroeër was Paulus ’n ruk lank in Efese en het hy die goeie nuus verkondig en dit aan ander geleer (Hand. 19:1, 8-10; 20:20, 21). Hy was baie lief vir sy broers en wou hulle help om getrou aan Jehovah te bly. Maar hoekom het hy aan die gesalfde Christene geskryf oor duisternis en lig? En watter lesse kan alle Christene uit hierdie raad leer? Kom ons bespreek die antwoorde op hierdie vrae.
VAN DUISTERNIS NA LIG
3. Watter vergelyking het Paulus in sy brief aan die Efesiërs gebruik?
3 Paulus het aan die Christene in Efese geskryf: “Julle was eens duisternis, maar julle is nou lig” (Ef. 5:8). Paulus het hier die woorde “duisternis” en “lig” gebruik om verskillende of teenoorgestelde toestande te verduidelik. Kom ons bespreek hoekom Paulus kon sê dat die Efesiërs “eens duisternis” was.
4. In watter sin was die Efesiërs in godsdiensduisternis?
4 Godsdiensduisternis. Voordat hulle die waarheid geleer het en Christene geword het, was die Efesiërs aan wie Paulus geskryf het slawe van valse godsdiensidees en bygelowe. In die stad Efese kon die tempel van die Griekse godin Artemis gevind word, wat mense daardie tyd beskou het as een van die sewe wonders van die wêreld. Mense het na daardie tempel gegaan om afgode te aanbid. Ambagsmanne het baie geld gemaak deur beeldjies van die tempel en die godin te maak en te verkoop (Hand. 19:23-27). Baie van die mense in Efese het ook toorkuns beoefen. – Hand. 19:19.
5. In watter sin was die Efesiërs in sedelike duisternis?
5 Sedelike duisternis. Die mense in Efese was bekend vir hulle onsedelikheid en skaamtelose gedrag. Die toneelstukke by die teaters en hulle godsdiensvieringe was baie keer oor seks (Ef. 5:3). Baie van hulle het “glad nie meer ’n gevoel vir wat reg en wat verkeerd is [gehad] nie,” ’n uitdrukking wat letterlik beteken “om nie meer pyn te voel nie” (Ef. 4:17-19). Voordat hulle geleer het wat werklik reg of werklik verkeerd is, het hulle gewete hulle nie gepla wanneer hulle iets verkeerds gedoen het nie. Hulle het ook nie omgegee oor hoe Jehovah oor hulle dade gevoel het nie. Daarom kon Paulus hulle beskryf as mense wat “verstandelik in duisternis en vervreemd [is] van die lewe wat van God kom”.
6. Hoekom kon Paulus vir die Efesiërs sê dat hulle “nou lig” was?
6 Maar party van die Efesiërs het nie in duisternis gebly nie. Paulus het geskryf dat hulle “nou lig in verband met die Here” was (Ef. 5:8). Hulle het nou volgens Jehovah se Woord gelewe, wat soos ’n lig was wat hulle gelei het (Ps. 119:105). Hierdie Efesiërs het hulle valse godsdiensgebruike en onsedelike gedrag agtergelaat. Hulle het “navolgers van God [geword]” en hulle bes gedoen om Jehovah te aanbid en hom gelukkig te maak. – Ef. 5:1.
7. Op watter manier is ons situasie soortgelyk aan dié van baie Christene in Efese?
7 Net so was ons in godsdiens- en sedelike duisternis voordat ons die waarheid geleer het. Party van ons het vakansiedae gevier wat deel is van valse godsdiens; ander het ’n onsedelike lewe gelei. Maar toe ons geleer het oor Jehovah se standaarde van wat reg en verkeerd is, het ons veranderinge gemaak. Ons het begin om ons lewe in ooreenstemming te bring met sy regverdige vereistes. En as gevolg daarvan het ons baie seëninge geniet (Jes. 48:17). Maar nou ondervind ons nog steeds uitdagings. Ons moet wegbly van die duisternis wat ons agtergelaat het en “[voortgaan] om as kinders van die lig te lewe”. Hoe kan ons dit doen?
Image digitally reproduced with the permission of the Papyrology Collection, Graduate Library, University of Michigan, P.Mich.inv. 6238. Licensed under CC by 3.0
Paulus het liefdevolle raad aan die Efesiërs gegee wat ons vandag kan toepas (Sien paragraaf 7)b
VERMY DIE DUISTERNIS
8. Volgens Efesiërs 5:3-5, wat moes die Efesiërs vermy?
8 Lees Efesiërs 5:3-5. Om ver weg te bly van sedelike duisternis moes die Christene in Efese aanhou om gebruike te verwerp wat Jehovah ongelukkig gemaak het. Dit het nie net seksueel onsedelike gedrag ingesluit nie, maar ook vuil praatjies. Paulus het die Efesiërs daaraan herinner dat hulle sulke dinge moes vermy as hulle “’n erfdeel in die Koninkryk van die Christus en van God” wou hê.
9. Hoekom moet ons baie versigtig wees om nie enige iets te doen wat tot onsedelikheid kan lei nie?
9 Ons moet ook aanhou om te veg teen enige iets wat kan veroorsaak dat ons betrokke raak by “die onvrugbare werke . . . wat aan die duisternis behoort” (Ef. 5:11). Ondervinding het oor en oor bewys dat wanneer ’n persoon na onrein of onsedelike dinge kyk, daarna luister of daaroor praat, dit dan vir hom makliker word om te doen wat verkeerd is (Gen. 3:6; Jak. 1:14, 15). In een land het ’n hele paar broers “vriende” begin word toe hulle aanlyn met mekaar gesels het. Baie van hulle het aan die begin oor geestelike dinge gepraat. Maar met verloop van tyd het hulle oor dinge begin praat wat Jehovah ongelukkig maak. Hulle gesprekke het meestal oor seks gegaan. ’n Hele paar van hierdie broers het later erken dat hierdie onrein praatjies veroorsaak het dat hulle seksueel onsedelik was.
10. Hoe probeer Satan ons mislei? (Efesiërs 5:6)
10 Satan se wêreld probeer ons mislei deur ons te laat glo dat wat Jehovah as onsedelik en onrein beskou glad nie verkeerd is nie (2 Pet. 2:19). Dit verbaas ons nie! Die Duiwel het nog altyd probeer om mense deurmekaar te maak sodat hulle nie weet wat reg en wat verkeerd is nie (Jes. 5:20; 2 Kor. 4:4). Dit is geen wonder dat baie films, televisieprogramme en webwerwe idees bevorder wat teen Jehovah se regverdige standaarde gaan nie! Satan wil ons laat dink dat onrein gebruike en lewenstyle nie net aanvaarbaar is nie maar ook lekker en skadeloos is. – Lees Efesiërs 5:6.
11. Hoe wys Angela se ondervinding hoe belangrik dit is om die wyse raad toe te pas in Efesiërs 5:7? (Sien ook prent.)
11 Satan wil hê dat ons met mense assosieer wat dit vir ons moeiliker maak om by Jehovah se standaarde te bly. Dit is hoekom Paulus die Efesiërs aangespoor het: “Moet . . . nie doen wat hulle doen nie”, dit wil sê dié wat verkeerde dinge in God se oë doen (Ef. 5:7). Ons moet onthou dat ons assosiasie nie beperk is tot dié met wie ons tyd in persoon spandeer nie. Dit sluit dié in met wie ons op sosiale media te doen het, ’n gevaar wat die eertydse Efesiërs nie gehad het nie. Angela,a wat in Asië bly, het gesien hoe gevaarlik sosiale media kan wees. Sy erken: “Dit kan ’n strik wees wat die manier hoe jy dink geleidelik kan verander. Ek het die punt bereik waar dit nie meer vir my gepla het om ‘vriende’ te hê wat nie Bybelbeginsels respekteer nie. Ek het uiteindelik begin dink dat dit oukei is om ’n lewe na te streef wat Jehovah ongelukkig maak.” Gelukkig het liefdevolle ouermanne Angela gehelp om die nodige veranderinge te maak. Sy sê: “Ek vul nou my verstand met geestelike dinge eerder as met sosiale media.”
Om goeie vriende te kies, maak dit makliker om Jehovah se standaarde te volg (Sien paragraaf 11)
12. Wat sal ons help om by Jehovah se standaarde van wat reg en verkeerd is te bly?
12 Ons moet veg teen die wêreld se denke dat onsedelike gedrag aanvaarbaar is. Ons weet van beter (Ef. 4:19, 20). Dit sal goed wees as ons onsself vra: ‘Maak ek ’n punt daarvan om alle onnodige assosiasie te vermy met werksmaats, klasmaats of ander wat nie Jehovah se regverdige standaarde respekteer nie? Volg ek moedig Jehovah se standaarde, al sê party dalk dat ek te streng is?’ Volgens 2 Timoteus 2:20-22 moet ons dalk ook versigtig wees wanneer ons ons vriende in die Christengemeente kies. Ons hou in gedagte dat party ons dalk nie sal help om getrou in ons diens aan Jehovah te bly nie.
LEWE “AS KINDERS VAN DIE LIG”
13. Wat beteken dit om ‘voort te gaan om as kinders van die lig te lewe’? (Efesiërs 5:7-9)
13 Paulus het die Christene in Efese aangemoedig om nie net aan te hou om die duisternis te verwerp nie, maar om ook ‘voort te gaan om as kinders van die lig te lewe’. (Lees Efesiërs 5:7-9.) Wat beteken dit? Dit beteken eenvoudig dat ons altyd soos ware Christene moet optree. Een manier om hierdie doelwit te bereik, is deur die Bybel saam met ons Bybelpublikasies deeglik te lees en te studeer. Dit is veral belangrik om mooi aandag te skenk aan die voorbeeld en leringe van Jesus Christus, “die lig van die wêreld”. – Joh. 8:12; Spr. 6:23.
14. Hoe kan heilige gees ons help?
14 Ons het ook die hulp van God se heilige gees nodig sodat ons kan aanhou om “as kinders van die lig” op te tree. Hoekom? Omdat dit baie moeilik is om rein te bly in hierdie onsedelike wêreld (1 Tess. 4:3-5, 7, 8). Heilige gees kan ons help om te veg teen die denke van die wêreld, insluitende die filosofieë en beskouings wat nie met God se denke ooreenstem nie. Heilige gees kan ons ook help om “elke soort goedheid en regverdigheid” te ontwikkel. – Ef. 5:9.
15. Op watter maniere kan ons heilige gees ontvang? (Efesiërs 5:19, 20)
15 Een manier hoe ons heilige gees kan ontvang, is deur daarvoor te bid. Jesus het gesê dat Jehovah “heilige gees [sal] gee vir dié wat hom vra” (Luk. 11:13). En wanneer ons Jehovah saam by Christelike vergaderinge loof, ontvang ons ook heilige gees. (Lees Efesiërs 5:19, 20.) Die goeie invloed van God se heilige gees sal ons help om op ’n manier te lewe wat God gelukkig maak.
16. Wat sal ons help om wyse besluite te maak? (Efesiërs 5:10, 17)
16 Wanneer ons belangrike besluite moet maak, moet ons verstaan “wat die wil van Jehovah is” en dan in ooreenstemming daarmee optree. (Lees Efesiërs 5:10, 17.) Deur Bybelbeginsels te vind wat van toepassing is op ons situasie soek ons eintlik God se denke oor die saak. Dan soos ons sy beginsels toepas, sal ons goeie besluite kan maak.
17. Hoe kan ons ons tyd wyslik gebruik? (Efesiërs 5:15, 16) (Sien ook prent.)
17 Paulus het ook die Christene in Efese aangemoedig om hulle tyd wyslik te gebruik. (Lees Efesiërs 5:15, 16.) “Die Duiwel”, ons vyand Satan, wil ons graag so besig hou met die dinge van hierdie wêreld dat ons nie tyd het vir ons diens aan God nie (1 Joh. 5:19). ’n Christen kan daarop begin fokus om materiële besittings, sekulêre opvoeding of sy loopbaan bo geleenthede te stel om Jehovah te dien. As dit sou gebeur, sou dit wys dat hy deur die wêreld se denke geaffekteer word. Hierdie dinge is natuurlik nie verkeerd nie, maar dit moet nooit die belangrikste in ons lewe wees nie. Om te lewe “as kinders van die lig” moet ons “die beste gebruik [maak] van [ons] tyd,” dit beteken dat ons fokus op wat werklik belangrik is.
Die Christene in Efese was aangemoedig om hulle tyd wyslik te gebruik (Sien paragraaf 17)
18. Wat het Donald gedoen om sy tyd beter te gebruik?
18 Kyk uit vir geleenthede om Jehovah beter te dien. Dit is wat Donald, wat in Suid-Afrika bly, gedoen het. Hy sê: “Ek het na my situasie gekyk en Jehovah gesmeek om my te help om meer produktief in die bediening te wees. Ek het vir werk gebid wat my sou toelaat om meer tyd in die bediening te spandeer. Met Jehovah se hulp het ek ’n gepaste werk gevind. Ek en my vrou het toe begin om Jehovah saam voltyds te dien.”
19. Hoe kan ons aanhou om “as kinders van die lig” te lewe?
19 Paulus se brief aan die Efesiërs het hulle sekerlik gehelp om getrou aan Jehovah te bly. En daardie geïnspireerde raad kan ons ook help. Soos ons geleer het, kan dit ons help om ons vermaak en ons vriende wyslik te kies. Dit kan ons motiveer om die Bybel gereeld te studeer sodat die lig van waarheid ons kan aanhou lei in alles wat ons doen. En dit beklemtoon hoe belangrik heilige gees is, wat goeie eienskappe in ons kan ontwikkel. As ons toepas wat Paulus geskryf het, kan dit ons help om wyse besluite te maak, besluite wat in ooreenstemming is met Jehovah se denke. Deur hierdie dinge te doen, sal ons die duisternis van hierdie wêreld kan vermy en in die lig bly!
HOE SAL JY ANTWOORD?
Waarna verwys “duisternis” en “lig” wat in Efesiërs 5:8 genoem word?
Hoe kan ons “duisternis” vermy?
Hoe kan ons “[voortgaan] om as kinders van die lig te lewe”?
LIED 95 Die lig word helderder
a Party name is verander.
b BESKRYWING VAN PRENT: ’n Eertydse kopie van die apostel Paulus se brief aan die Efesiërs.