Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 5/15 bl. 4-7
  • Hoe betroubaar is Bybelvoorspellings?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe betroubaar is Bybelvoorspellings?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Israel en Assirië op die wêreldtoneel
  • Babilon se vernietiging is voorspel
  • Voorspellings oor ’n belowende toekoms
  • ’n Boek van profesieë
    ’n Boek vir alle mense
  • Jehovah se Woord is onfeilbaar!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Profesieë wat bewaarheid is
    Die Bybel—God se woord of die mens s’n?
  • Kan jy God se beloftes vertrou?
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 5/15 bl. 4-7

Hoe betroubaar is Bybelvoorspellings?

DAAR is vandag baie geskiedenisboeke. Hierdie verslae oor wat in die verlede gebeur het, is dikwels werklik fassinerend. Terwyl ons dit lees, stel ons onsself miskien in antieke omgewings voor. Ons verbeelding laat moontlik die mense, plekke en gebeurtenisse op die dooie bladsye lewe kry.

Die Bybel is so ’n boek—een gevul met aangrypende, geskiedkundige verslae. Deur sy bladsye kan ons vertroud raak met mans en vroue soos Abraham, sy vrou Sara, koning Dawid, koningin Ester en die Groot Onderwyser, Jesus Christus. Ons kan in werklikheid saam met hulle loop, hoor wat hulle gesê het en sien wat hulle gesien het. Maar baie beskou die Bybel as veel meer as net ’n geskiedenisboek. Hulle glo dit bevat wat bekend staan as geskiedenis wat vooruit geskrywe is. Waarom? Omdat die Bybel gevul is met voorspellings, of profesieë.

Maar hoe betroubaar is die Bybel se voorspellings? As Bybelprofesieë in gebeurtenisse van die verlede vervul is, moet ons dan nie verwag dat sulke voorspellings oor toekomstige gebeurtenisse bewaarheid sal word nie? Kom ons beskou nou ’n paar voorbeelde om te sien of Bybelvoorspellings betroubaar is.

Israel en Assirië op die wêreldtoneel

God se profeet Jesaja, wat in ongeveer 778 v.G.J. begin profeteer het, het voorspel: “Met voete sal vertrap word die trotse kroon van die dronkaards van Efraim [Israel]; en die blom wat verwelk, sy pronksieraad, wat daar is op die top van die vrugbare dal, sal wees soos ’n voorvy voor die vrugte-oes; iemand sien dit skaars of, terwyl dit nog in sy hand is, sluk hy dit weg” (Jesaja 28:3, 4). Soos dus voorspel is, het Israel se hoofstad, Samaria, teen die middel van die agste eeu v.G.J. soos ’n ryp vy geword wat reg was om deur die militêre magte van Assirië gepluk en ingesluk te word. Dit is presies wat gebeur het toe Samaria in 740 v.G.J. deur die Assiriërs verower is.—2 Konings 17:6, 13, 18.

Mettertyd was dit Assirië se beurt om ’n ryk van die verlede te word. Sy hoofstad was Nineve, wat so berug was vir sy wrede behandeling van gevangenes dat dit “die bloedstad” genoem is (Nahum 3:1). Jehovah God self het die raadsbesluit aangaande Nineve se ondergang uitgevaardig. God het byvoorbeeld deur die profeet Nahum gesê: “Kyk, Ek het dit teen jou . . . Ek sal . . . jou aan minagting prysgee en van jou ’n skouspel maak, sodat elkeen wat jou sien, van jou af sal wegvlug en sê: Verwoes is Nineve!” (Nahum 3:5-7). Sefanja het ook die vernietiging van Assirië en die verwoesting van Nineve voorspel (Sefanja 2:13-15). Hierdie profesieë is in 632 v.G.J vervul toe die gesamentlike magte van die Babiloniese koning Nabopolassar en Cyaxares die Meder Nineve onverwags geplunder en uitgewis het—so deeglik dat selfs die ligging van die stad meer as 2 000 jaar lank onbekend was. Die Babiloniese Ryk was volgende op die wêreldtoneel.

Babilon se vernietiging is voorspel

Die Bybel het die ondergang van die Babiloniese Ryk voorspel asook die manier waarop sy hoofstad, Babilon, sou val. Die profeet Jesaja het byna twee eeue vooruit gewaarsku dat die Eufraatrivier verdroog sou word. Dit het deur Babilon gevloei, en poorte al met die rivier langs was ’n belangrike deel van die stad se verdedigingsmiddele. Die profesie het gesê dat Kores die oorwinnaar sou wees en dat Babilon se “deure” nie vir die invallers gesluit sou wees nie (Jesaja 44:27–45:7). God het gevolglik daarvoor gesorg dat Babilon se deure met dubbele vleuels al met die Eufraat langs oopgelaat is tydens ’n fees op die aand dat die magte van Kores die Grote hulle aanval gedoen het. Hulle het dus sonder enige moeite die stad deur die rivierbedding binnegegaan en Babilon ingeneem.

Die geskiedskrywer Herodotos het geskryf: “Kores . . . het ’n deel van sy magte gestasioneer by die punt waar die Eufraatrivier in [Babilon] invloei en ’n ander deel by die teenoorgestelde kant waar dit uitvloei, met opdragte aan al twee om ’n ingang oop te forseer al met die rivierbedding langs sodra hulle sien dat die water vlak genoeg was. . . . Deur middel van ’n uitgegrawe kanaal het hy die rivier in die meer (wat toe ’n moeras was) afgelei en sodoende die watervlak in die eintlike rivierbedding soveel verminder dat dit deurgaanbaar was, en die Persiese magte, wat om daardie rede by Babilon gelaat is, het die rivier binnegegaan wat nou net diep genoeg was om ongeveer by die middel van ’n man se bobeen te kom en deur dit te volg, het hulle in die stad ingekom. . . . Daar was ’n fees aan die gang, en selfs terwyl die stad geval het, het hulle aangehou om te dans en dit te geniet, totdat die wrede werklikheid hulle tot besinning laat kom het.”—Herodotus—The Histories, vertaal deur Aubrey de Selincourt.

Daardie selfde nag het God se profeet Daniël Babilon se heerser teen naderende rampspoed gewaarsku (Daniël, hoofstuk 5). ’n Minderwaardige Babilon het nog ’n paar eeue daarna bestaan. Dit is van daar af dat die apostel Petrus byvoorbeeld sy eerste geïnspireerde brief in die eerste eeu G.J. geskryf het (1 Petrus 5:13). Maar Jesaja se profesie het gesê: “So sal dan Babel . . . wees soos toe God Sodom en Gomorra omgekeer het. Mense sal daar in ewigheid nie woon nie.” God het ook gesê: “So sal Ek dan . . . van Babel uitroei die naam en die oorblyfsel, kroos en nageslag” (Jesaja 13:19-22; 14:22). Soos voorspel is, het Babilon uiteindelik ’n puinhoop geword. Enige moontlike herstel van daardie antieke stad lok dalk toeriste, maar dit sal steeds sonder sy “kroos en nageslag” wees.

Daniël—Jehovah se profeet wat in Babilon was toe dit geval het—het ’n gesig gehad aangaande die verowerende Meders en Perse. Hy het ’n ram met twee horings gesien en ’n bokram wat ’n opvallende horing tussen sy oë het. Die bok het die ram aangeval en hom omgestamp en sy twee horings gebreek. Vervolgens is die bok se groot horing gebreek en het daar vier klein horinkies in sy plek uitgekom (Daniël 8:1-8). Soos die Bybel voorspel het en die geskiedenis bevestig het, het die ram met twee horings Medo-Persië voorgestel. Die bokram het Griekeland verteenwoordig. En wat van sy “groot horing”? Dit was Alexander die Grote. Toe daardie figuurlike groot horing gebreek is, het vier simboliese horings (of, koninkryke) dit vervang. Net soos voorspel is, het vier van Alexander se generaals hulleself in mag bevestig nadat hy gesterf het—Ptolemeus Lagus in Egipte en Palestina; Seleukos Nikator in Mesopotamië en Sirië; Cassander in Macedonië en Griekeland en Lusimachos in Thrasië en Klein-Asië.—Daniël 8:20-22.

Voorspellings oor ’n belowende toekoms

Bybelvoorspellings oor sulke gebeurtenisse soos die verwoesting van Babilon en die omverwerping van Medo-Persië is net voorbeelde van die talle skriftuurlike profesieë wat in die verlede bewaarheid is. Die Bybel bevat ook voorspellings oor ’n belowende toekoms wat ’n werklikheid sal word weens die Messias, God se Gesalfde.

Party van die voorspellings oor die Messias in die Hebreeuse Geskrifte is op Jesus Christus toegepas deur skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte. Evangelieskrywers het byvoorbeeld daarop gewys dat Jesus in Betlehem gebore is, soos voorspel is deur die profeet Miga (Miga 5:1; Lukas 2:4-11; Johannes 7:42). Ter vervulling van Jeremia se profesie is babas na Jesus se geboorte om die lewe gebring (Jeremia 31:15; Mattheüs 2:16-18). Die woorde van Sagaria (9:9) is vervul toe Christus Jerusalem op ’n jong esel binnegery het (Johannes 12:12-15). En toe die soldate Jesus se klere verdeel het nadat hy aan ’n paal gehang is, het dit die psalmis se woorde vervul: “Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot oor my gewaad.”—Psalm 22:19.

Ander Messiaanse voorspellings wys op ’n vreugdevolle tyd vir die mensdom. Daniël het in ’n gesig iemand “soos die Seun van ’n mens” gesien wat “heerskappy en eer en koningskap” van Jehovah, “die Oue van dae”, ontvang (Daniël 7:13, 14). Jesaja het aangaande die Messiaanse heerskappy van daardie hemelse Koning, Jesus Christus, gesê: “Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.”—Jesaja 9:5, 6.

Voordat die Messias se regverdige heerskappy in volle swang is, moet iets belangriks eers plaasvind. Dit is ook in die Bybel voorspel. Die psalmis het aangaande die Messiaanse Koning gesing: “Gord u swaard aan die heup, o held . . . ja, u heerlikheid! Ry voorspoedig ter wille van waarheid en ootmoed en geregtigheid” (Psalm 45:4, 5). Die Skrif het ook op ons dag gewys en voorspel: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”—Daniël 2:44.

Psalm 72 gee ons ’n voorsmakie van die toestande wat onder die Messiaanse heerskappy sal heers. Byvoorbeeld, “in sy dae sal die regverdige bloei en volheid van vrede, totdat die maan nie meer is nie” (Vers 7). Daar sal dan geen verdrukking of geweld wees nie (Vers 14). Niemand sal honger ly nie, want “daar [sal] volheid van koring wees in die land, op die top van die berge” (Vers 16). En stel jou voor! Jy kan hierdie en ander seëninge in ’n aardse paradys geniet wanneer die teenswoordige stelsel van dinge deur God se beloofde nuwe wêreld vervang word.—Lukas 23:43; 2 Petrus 3:11-13; Openbaring 21:1-5.

Daar is dus geen twyfel dat dit jou sal loon om Bybelvoorspellings te ondersoek nie. Waarom vra jy dus nie vir Getuies van Jehovah vir verdere inligting nie? ’n Ondersoek van Bybelprofesieë kan jou help om te sien waar ons in die tydstroom is. Dit kan moontlik ook in jou hart ’n diep waardering bevorder vir Jehovah God en sy wonderlike reëling vir die ewige seëning van almal wat hom liefhet en gehoorsaam.

[Prent op bladsy 5]

Weet jy wat Daniël se gesig aangaande ’n bokram en ’n ram beteken?

[Prent op bladsy 7]

Sal jy daar wees om die vervulling te geniet van die Bybel se voorspellings oor vreugdevolle lewe op ’n paradysaarde?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel