Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 2/22 bl. 9-11
  • Is Christelike eenheid moontlik?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is Christelike eenheid moontlik?
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Katolieke Kerk en eenheid
  • Voldoen hulle aan die vereistes om eenheid te bevorder?
  • Die Wêreldraad en eenheid
  • Ware eenheid is moontlik
  • Pogings om te verenig
    Ontwaak!—1991
  • ’n Dilemma vir die Katolieke Kerk
    Ontwaak!—1991
  • Belangrike datums in die geskiedenis van die ekumeniese beweging
    Ontwaak!—1991
  • Waarom die verdeeldheid?
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 2/22 bl. 9-11

Is Christelike eenheid moontlik?

DIE Christendom is ’n verdeelde huis. Sy ledetal wat na raming meer as 1500 miljoen mense insluit, word verdeel in Rooms-Katolieke, Oosters-Ortodokse, Protestantse en ander kerke en sektes wat bely dat hulle Christene is. Baie opregte mense wonder of Christelike eenheid ooit bereik sal word.

’n Dokument van die Tweede Vatikaanse Konsilie, waarin die godsdiensverdeeldheid betreur word, het gesê: “Almal bely dat hulle dissipels van die Here is, maar hulle oortuigings bots en hulle paaie loop uiteen, asof Christus self verdeeld is (vgl. 1 Kor. 1:13). Dit ly geen twyfel nie dat hierdie onenigheid openlik in stryd met die wil van Christus is, ’n struikelblok vir die wêreld is en die allerheiligste saak, naamlik die verkondiging van die goeie nuus aan elke skepsel, benadeel.”

Die Katolieke Kerk en eenheid

Die Katolieke Kerk wat beweer dat omtrent die helfte van die totale ledetal van die Christendom Katolieke is, het sy eie beskouing van Christelike eenheid. Verskeie “verenigings van gebed” is by die eeuwisseling gestig. Onder hulle was die Aartsbroederskap van Ons Liewe Vrou van Medelye vir die Terugkeer van Engeland tot die Katolieke Geloof, die Vroom Vereniging van Gebed tot Ons Liewe Vrou van Medelye vir die Bekering van Ketters en die Aartsbroederskap van Gebede en Goeie Werke vir die Hereniging van die Oosterse Skeurkerke met die Kerk.

Op inisiatief van ’n Anglikaanse priester wat ’n Katoliek geword het, is ’n jaarlikse Katolieke gebedsweek in 1908 (18-25 Januarie) gereël “vir die bekering en terugkeer van die verdeelde broeders”. Dit het later die jaarlikse Week van Gebed vir Christelike Eenheid geword, waarmee die WRK (Wêreldraad van Kerke) hom vanaf die vroeë vyftigerjare verbind het.

Die Katolieke boek The Documents of Vatican II sê: “Rooms-Katolieke het dekades lank elke jaar in Januarie agt dae aan gebed vir kerkeenheid gewy. Tot 1959 was die algemene idee agter daardie dae van gebed, 18-25 Januarie, die hoop dat Protestante sou ‘terugkeer’ tot die een ware Kerk en dat die Ortodokse skisma sou ophou.”

Het Vatikaan II die Katolieke Kerk se siening van Christelike eenheid in wese verander? Pous Johannes se opvolger, Paulus VI, het Vatikaan II se Dogmatiese Konstitusie oor die Kerk uitgevaardig wat sê: “Dit is die enigste Kerk van Christus wat ons in die Geloofsbelydenis as een, heilig, katoliek en apostolies bely. . . . Hierdie Kerk, wat as ’n genootskap in die teenswoordige wêreld gestig en georganiseer is, bestaan in die Katolieke Kerk, wat bestuur word deur die opvolger van Petrus en deur die biskoppe wat in gemeenskap met hom is.”

Die Katolieke Kerk se standpunt oor Christelike eenheid het dus nie in wese verander nie. Die standpunt wat by Vatikaan II uitgespreek is, kom daarop neer dat enige goeie dinge wat buite die Katolieke Kerk bestaan in werklikheid aan hom behoort en derhalwe, soos die Dogmatiese Konstitusie van die Kerk sê, “kragte [is] wat Katolieke eenheid bevorder”.

Voldoen hulle aan die vereistes om eenheid te bevorder?

Wat kan gesê word van die Katolieke Kerk se dikwels herhaalde belydenis dat hulle “een, heilig, katoliek en apostolies” is? Ten eerste, die onlangse skisma van tradisievaste Katolieke onder leiding van aartsbiskop Lefebvre, om nie te praat van die openlike opstand van honderde Katolieke teoloë nie, loënstraf die kerk se bewering dat dit “een” is.a

Ten tweede, die geskiedenis van die Katolieke Kerk met sy anti-Semitisme, sy marteling van “ketters”, sy bevordering van “heilige oorloë” en sy betrokkenheid in politieke aangeleenthede en smerige finansiële skandale verraai dat dit allesbehalwe heilig is.

Ten derde, die Roomse Kerk kan nouliks sy bewering regverdig dat dit “katoliek” of “universeel” is, aangesien net sowat die helfte van diegene wat verklaar dat hulle Christene is, of ongeveer 15 persent van die wêreldbevolking, Katoliek is.

Ten laaste, nòg die feite van die geskiedenis, die geskiedenis van die pousdom, nòg die rykdom, die onsedelikheid, die politieke betrokkenheid van baie Katolieke prelate, kan die kerk se bewering regverdig dat dit “apostolies” is. Dit is dus duidelik dat die Katolieke Kerk nie in ’n posisie is om te beweer dat hy die middelpunt van ware Christelike eenheid is nie.

Die Wêreldraad en eenheid

Die Wêreldraad van Kerke sluit oor die 300 Protestantse en Oosters-Ortodokse kerke in wat meer as 400 miljoen lidmate in meer as honderd lande het. Die doel van die raad is “om die onontbeerlike eenheid van die Kerk van Christus te verkondig en om die kerke voortdurend te herinner aan die verpligting om daardie eenheid en die dringende noodsaaklikheid daarvan vir die evangelisasiewerk te openbaar”. Maar bied die WRK enigsins meer hoop vir ware Christelike eenheid as die Rooms-Katolieke Kerk?

Op watter grondslag hoop die WRK om Christene te verenig? ’n Ensiklopedie sê: “Wêreldraad van Kerke”. . . . Die lede stem oor die algemeen saam dat verdeeldheid onder Christene in stryd is met God se wil en ’n ernstige struikelblok is vir die aanvaarding van die Christelike godsdiens deur nie-Christene. . . . Die oortuiging het sterker geword dat eenheid op waarheid gegrond moet wees.” Wat word dus as fundamentele waarheid deur die meer as 300 ledekerke van die WRK beskou?

In 1948 is die oorspronklike grondslag vir lidmaatskap in die WRK deur sommige kerke as nie Trinitaries genoeg nie beskou. In 1961 is die grondslag vir lidmaatskap dus gewysig sodat dit gelui het: “Die Wêreldraad van Kerke is ’n gemeenskap van kerke wat bely dat die Here Jesus Christus volgens die Skrif God en Saligmaker is en derhalwe daarna streef om tesame hulle gemeenskaplike roeping tot die eer van die een God, Vader, Seun en Heilige Gees te vervul.”—Ons kursiveer.

Daardie einste grondslag vir lidmaatskap in die WRK is ’n selfweerspreking. Waarom? Omdat die geloof in “een God, Vader, Seun en Heilige Gees” nie “volgens die Skrif” is nie. The Encyclopedia of Religion sê: “Hedendaagse teoloë is dit eens dat die Hebreeuse Bybel nie ’n Drie-eenheidsleer bevat nie.” The New International Dictionary of New Testament Theology verduidelik eweneens: “Die primitiewe Christelike godsdiens het nie ’n uitdruklike Drie-eenheidsleer gehad nie.” En The New Encyclopædia Britannica verklaar: “Nòg die woord Drie-eenheid, nòg die uitdruklike leerstelling kom in die Nuwe Testament voor, en Jesus en sy volgelinge het ook nie bedoel om die Sjema in die Ou Testament: ‘Hoor, Israel, die Here onse God is ’n enige Here’ te weerspreek nie (Deut. 6:4).”

Bowendien het die WRK diep in politieke konflikte betrokke geraak. Dit het byvoorbeeld gewapende vryheidsbewegings van geld voorsien. The New Encyclopædia Britannica sê: “Die feit dat WRK-groepe hulle met verskeie revolusionêre bewegings vereenselwig, het kritiek van party konstituerende kerke uitgelok.” Onchristelike betrokkenheid in politieke aangeleenthede kan nie ware Christelike eenheid tot stand bring nie, en ’n onbybelse leerstellige grondslag kan dit ook nie doen nie.

Ware eenheid is moontlik

Dit is interessant dat die Franse Encyclopædia Universalis (1989) sê dat ekumenisme beoog “om aan die verdeelde familie van Christene diepgaande en tasbare eenheid, in ooreenstemming met die leer van Jesus, terug te gee. . . . Wanneer hulle sien dat Christene mekaar liefhet, moet nie-Christene beweeg word om te glo en by die Kerk aan te sluit, as ’n voorafskaduwing van die nuwe wêreld waarin diensbetoning, regverdigheid en vrede die heersende beginsels sal wees, soos Christus voorspel en gedemonstreer het. . . . Dit is opmerklik dat . . . die sendbrief aan die Hebreërs (II, 5) praat van die ‘oi·kou·meʹne [bewoonde aarde] wat kom’, en sodoende beklemtoon dat die Christene nie hoop op ’n nie-vleeslike geestelike wêreld nie, maar hoop dat hierdie bewoonde wêreld [aarde] hom met sy Skepper sal versoen.”

Al hoe meer lidmate van die Christendom se kerke begin besef dat hulle kerk se leer nie in ooreenstemming met die leer van Jesus is nie. Hulle merk in skaamte op dat die lidmate van hulle kerk mekaar nie liefhet nie. Talle het egter ’n familie van Christene gevind wat waarlik verenig is, en hulle sien dat hierdie persone mekaar opreg liefhet. Ja, hulle het ware Christelike eenheid en hoop onder die wêreldwye familie van Jehovah se Getuies gevind.

Gevolglik het miljoene gewese lede van die Christendom se kerke hulle hoop in God se verenigde nuwe wêreld begin stel, waarin diensbetoning, regverdigheid en vrede die heersende beginsels sal wees.

[Voetnoot]

a Sien die Ontwaak! van 22 Junie 1990, “Waarom die verdeeldheid in die Katolieke Kerk?” vir besonderhede.

[Lokteks op bladsy 11]

Baie mense het ’n wêreldwye familie van Christene gevind wat reeds verenig is

[Prent op bladsy 10]

Hierdie monument by die hoofkwartier van die Wêreldraad van Kerke, Genève, Switserland, simboliseer hulle gebede om kerkeenheid, wat tot nog toe onbeantwoord gebly het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel