Behaal welslae in die stryd teen Alkoholisme
“By die werk, ongeveer tienuur soggens, het ek aan ’n drankie begin dink. Teen twaalfuur het ek een of twee drankies gaan drink. Teen drie-uur het ek letterlik die bewerasie gehad. Ek het gewens dit word tyd om huis toe te gaan sodat ek nog ’n drankie kon gaan drink. Dikwels het ek ’n paar op pad huis toe gedrink. Ongeveer sewe-uur het ek weer die drang daarna gehad. Ek het gedrink, bewusteloos van die stoel afgeval, my broek natgemaak en tot die volgende oggend in my urine gelê. Neem dit en vermenigvuldig dit met 7 dae per week; vermenigvuldig dit met 52 weke per jaar; vermenigvuldig dit met 29 jaar.”
HIERDIE man is ’n alkoholis. Hy is nie die enigste een nie. Miljoene wêreldwyd voer ’n stryd teen hierdie dodelike toestand waarby, volgens dr. Vernon E. Johnson, “die hele mens betrokke is: fisies, verstandelik, sielkundig en geestelik”.a
Baie deskundiges sê dat alkoholisme nie geneesbaar is nie, maar dat dit deur ’n program van lewenslange onthouding beheer kan word. Dit is nie ’n onredelike vereiste nie, want alkohol is nie noodsaaklik vir lewe nie. Trouens, die misbruik van alkohol haal ’n mens God se onguns op die hals (1 Korinthiërs 6:9, 10). Dit is beter om alkohol op te offer en in God se nuwe wêreld in te gaan as om jou aan ’n drang daarna oor te gee en die ewige lewe te verloor.—Mattheüs 5:29, 30.
Dit is dikwels ’n frustrerende uitdaging om jou van alkoholmisbruik te bevry—en daarvan vry te bly. (Vergelyk Romeine 7:21-24.) Wat kan help? Laat ons ’n bietjie reguit raad gee. Selfs al drink jy glad nie alkohol nie, sal hierdie raad insiggewend wees en jou in staat stel om ’n vriend of ’n familielid te help wat ’n stryd teen alkoholisme voer.
Eerlike selfondersoek
Een van die grootste struikelblokke wat jy moet oorkom, is die ontkenning van die feit dat jy ’n alkoholis is. Ontkenning is ’n vorm van oneerlikheid. Dit is rasionalisering met ’n doel: om jou vryheid om te drink te beskerm. ‘Ek is nie só sleg nie’, redeneer jy dalk. ‘Ek het nog my gesin. Ek het nog my werk.’ Die belangrikste is dat jy nog jou alkohol het.
Ontkenning keer dalk dat jy na vriende luister wat jou wil help. Robert het opgemerk dat sy vrou se stiefpa ongesonde drinkgewoontes aangeleer en onbeskof begin optree het. “Ná ’n paar dae het ek hom gekonfronteer”, sê Robert, “en hom gevra of hy dink dat sy drinkery tot sy optrede aanleiding gee.” Die gevolg? “Hy het dit heeltemal ontken met kommentare soos: ‘Jy het geen bewyse nie’ en ‘Jy weet nie hoe ek voel nie.’”
As jy deur ’n familielid of ’n vriend genader word wat oor jou drinkery bekommerd is, moet jy ernstige, eerlike selfondersoek doen (Spreuke 8:33). Kan jy ’n hele week, ’n hele maand of verskeie maande lank sonder alkohol klaarkom? Indien nie, waarom nie? Moenie soos die man wees wat homself met valse redenasies mislei nie. Jakobus sê: “Dié is soos ’n man wat sy natuurlike gesig in ’n spieël sien; want hy sien homself en gaan weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het.”—Jakobus 1:22-25.
Selfs nadat jou genesing begin het, moet jy steeds oppas vir ontkenning. Die boek Willpower’s Not Enough verduidelik: “Iemand wat hom kort tevore [van alkohol] begin onthou het, kan verkeerdelik glo dat hy nou genees is, aangesien hy ’n rukkie—miskien die eerste keer—kon ophou drink.” Iemand wat so redeneer, het ’n baie ernstige probleem, en dit is die eerste stap tot ’n terugval. Om sulke ontkenning te kan weerstaan, moet jy alkoholisme nie op jou eie probeer bestry nie.
Kry hulp
Omdat ’n man wat ons Leo kan noem alkoholisme nie op sy eie kon bestry nie, het hy professionele hulp gesoek. Ná ’n tydperk van intensiewe behandeling was hy op pad na genesing. Leo meen dat die waarde van deskundige hulp nie genoeg beklemtoon kan word nie.b As sulke hulp plaaslik beskikbaar is, kan jy moontlik besluit om daarvan gebruik te maak.
Jy moet egter besef dat genesing meer as blote onthouding behels. Daar is waarskynlik dieperliggende geskille wat jou alkoholisme ten grondslag lê en waarvan jy werk moet maak. Om dit te ignoreer, kan gevaarlik wees. Dr. Charlotte Davis Kasl skryf: “Ek het al onderhoude gevoer met mense wat tot veertien keer vir drank- en dwelmmisbruik behandel is, omdat die kernprobleme, naamlik misbruik, afhanklikheid en verwaarlosing, nie behandel is nie.”
Dennis het gevind dat dit die geval is. “Ek was ’n nugter alkoholis wat steeds baie probleme gehad het”, skryf hy. “Dit was nie genoeg om op te hou drink nie. Ek moes na my verlede kyk, die lesse van my kinderjare ondersoek, verstaan hoe hulle my beïnvloed en gedragsveranderinge aanbring.”
Leo moes eweneens diepe selfondersoek doen sodat hy sy genesing kon aanhelp. “Ek was ’n uitermate jaloerse, gewelddadige mens”, sê hy. “Ek het soms min selfrespek en ander kere weer ’n grootheidswaan gehad.” Leo het die Bybel se raad in Efesiërs 4:22 toegepas: ‘Lê die ou persoonlikheid af wat met jou vroeëre lewenswandel ooreenkom’ (NW). Ja, ‘jou vroeëre lewenswandel’ oefen ’n kragtige invloed op jou persoonlikheid uit. Soos gips ’n gietvorm aanneem, is jou persoonlikheid deels deur jou vorige handelswyse gevorm. Wat bly oor wanneer jy met verkeerde gedrag ophou? ’n Persoonlikheid wat moontlik oor ’n tydperk van baie jare gevorm is. Genesing moet dus insluit dat jy die ou persoonlikheid aflê wat met jou vroeëre lewenswandel ooreenkom.
Kweek ’n verhouding met God aan
Leo se genesing het ook behels dat hy ’n persoonlike verhouding met God aankweek. “Dit het my gesindheid, gedrag en sienswyse heeltemal verander toe ek moes leer om ten volle op Jehovah te vertrou”, sê hy.
Sorg is egter gepas. Enige verhouding—met mense of met God—vereis openheid, eerlikheid en vertroue. Dit is juis hierdie eienskappe wat deur alkoholisme vernietig word. Hulle kan aangekweek word, maar dit neem tyd.
As ’n alkoholis weet jy dalk nie hoe dit voel om ’n hegte verhouding te hê nie. Jy het miskien nog nooit so iets gehad nie. Wees dus geduldig. Moenie oorhaastig wees hiermee en verwag dat ’n verhouding met God vanselfsprekend uit onthouding voortspruit nie. Span jou in om God en sy eienskappe te verstaan. Peins gereeld, moontlik deur die Bybelpsalms te lees wat diepe, waarderende gevoelens oor Jehovah en sy weë uitspreek.c
“Krag wat die normale te bowe gaan”
’n Vertrouensverhouding met God kan ’n kragtige invloed op jou hê. Jehovah sal jou steun in jou pogings om gesond te word. (Vergelyk Psalm 51:12-14; 145:14.) Jy kan hom te eniger tyd in vurige gebed nader met die vertroue dat hy jou “die krag wat die normale te bowe gaan”, sal gee.—2 Korinthiërs 4:7, NW; Filippense 4:6, 7.
Die Skepper ken jou samestelling beter as enige mens (Psalm 103:14). Menslike raadgewers, wat op mensewysheid moet staatmaak, kan help; maar hoeveel te meer kan die Skepper van die mens jou in hierdie stryd help! (Jesaja 41:10; 48:17, 18). Hy voorsien liefdevolle steun in die Christengemeente.
’n Steunstelsel
Geestelik ryp ouere manne in die Christengemeente kan ’n groot bron van hulp wees. Min van hulle sal beweer dat hulle op mediese of geestesgesondheidsgebied bedrewe is, maar hulle ken en vertrou God se Woord en beginsels. Hulle kan wees “soos ’n toevlug teen die wind en ’n skuiling teen die stortreën, soos waterstrome in ’n dor streek, soos die skaduwee van ’n swaar rots in ’n land wat versmag” (Jesaja 32:2). Maak ten volle van hulle hulp gebruik.d
Hierdie Christen- ouere manne, asook ander familielede en vriende, sal jou natuurlik nie teen die gevolge van jou eie dade beskerm nie. Die publikasie Coming Off Drink verduidelik: “Die deurslaggewende faktor vir genesing is om alkoholiste met die vernietigende gevolge van verslawing te konfronteer en hulle sover te kry om verantwoordelikheid vir hulle eie gedrag te aanvaar.” Hulle sal dus vriendelik, maar reguit wees en jou aanmoedig om die werklikheid onder die oë te sien en te bly by watter behandeling en gedragspatroon ook al nodig is om jou stryd teen alkohol te wen.
Herstel is jou verantwoordelikheid
Hoewel jy by die hulp van ander baat vind, moet jy weet dat geen mens of gees jou kan dwing om gesond te word nie. Jy het wilsvryheid. Jou herstel is uiteindelik jou verantwoordelikheid. (Vergelyk Genesis 4:7; Deuteronomium 30:19, 20; Filippense 2:12.) As jy daardie verantwoordelikheid aanvaar, sal Jehovah jou seën. Ons word in 1 Korinthiërs 10:13 hierdie versekering gegee: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ’n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan verdra.” Skep dus moed—jy kan welslae in die stryd teen alkoholisme behaal.
[Voetnote]
a Hoewel ons van die alkoholis as ’n man sal praat, is die beginsels hierin net soveel op die vroulike alkoholis van toepassing.
b Daar is baie behandelingsentrums, hospitale en ander genesingsprogramme wat hulp kan voorsien. Die Wagtoring skryf nie enige spesifieke behandeling voor nie. ’n Mens moet versigtig wees dat jy nie by bedrywighede betrokke raak wat jou jou skriftuurlike beginsels sal laat prysgee nie. Maar elkeen sal uiteindelik self moet besluit watter soort behandeling nodig is.
c ’n Paar voorbeelde is Psalm 8, 9, 18, 19, 24, 51, 55, 63, 66, 73, 77, 84, 86, 90, 103, 130, 135, 139, 145.
d Nuttige riglyne vir ouere manne verskyn in Die Wagtoring, 15 Julie 1983, bladsye 8-11.
[Venster op bladsy 24]
Jy ly moontlik weens die vernedering en ellende wat die gevolg van alkoholisme is. Indien dit die geval is, moet jy nie moed opgee nie. Daar is hulp beskikbaar.
[Venster op bladsy 26]
AS JY TERUGVAL
“Om op ’n terugval voorbereid te wees, is soos ’n brandweeroefening”, sê die boek Willpower’s Not Enough. “Dit beteken nie dat jy ’n brand verwag nie, maar dat jy daarop voorbereid is om verantwoordelik op te tree indien daar een sou wees.” As jy terugval:
□ Bid tot Jehovah. Wees gerus dat hy jou probleem verstaan en jou wil help.—Psalm 103:14; Jesaja 14:10.
□ Neem ’n Christen- ouere man in jou vertroue en besluit vooraf met wie jy in aanraking sal kom indien so ’n behoefte sou ontstaan. Wees eerlik oor wat gebeur het en luister aandagtig na sy skriftuurlike raad.
□ Waak teen wanhoop. Selfveragting vergroot net die kanse dat jy heeltemal sal terugval, en daarom moet jy jou fout uit die regte oogpunt beskou. Die feit dat jy een geveg verloor het, beteken nie dat jy die stryd verloor het nie. Wanneer ’n langafstandatleet val, gaan hy nie terug na die wegspringplek toe nie; hy staan op en hardloop verder. Jy moet dieselfde met jou genesing doen. Jy is nog op die pad. Die weke, maande of jare van onthouding agter jou verdwyn nie net nie.
[Prent op bladsy 24, 25]
Weerstaan ontkenning deur ernstige, eerlike selfondersoek te doen