Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 10/1 bl. 5-9
  • ’n Seldsame Christelike erfenis

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Seldsame Christelike erfenis
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My pa leer Bybelwaarheid
  • ’n Vroeë begin in die bediening
  • Saam met my ouers in God se diens
  • Opleiding deur my grootouers
  • Jare van vervolging
  • Dankbaar vir ouerlike leiding
  • Die huwelik en die reisende werk
  • Die versorging van my ouers
  • Ons ouers het ons geleer om God lief te hê
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Ons ryk geestelike erfenis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Sê nou my ouer is siek?
    Jongmense vra
  • Ek volg in my ouers se voetstappe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 10/1 bl. 5-9

’n Seldsame Christelike erfenis

SOOS VERTEL DEUR BLOSSOM BRANDT

Dit het op 17 Januarie 1923, die dag toe ek in San Antonio, Texas, gebore is, gesneeu. Dit was koud buite, maar ek is hartlik deur liefdevolle Christenouers, Judge en Helen Norris, verwelkom. Vandat ek kan onthou, het alles wat my ouers gedoen het om hulle aanbidding van Jehovah God gedraai.

IN 1910, toe my ma agt was, het haar ouers van ’n plek naby Pittsburgh, Pennsilvanië, na ’n plaas buite Alvin, Texas, verhuis. Daar was hulle verheug om Bybelwaarhede by ’n buurman te leer. My ma het die res van haar lewe daaraan gewy om mense se belangstelling in die Koninkrykshoop te wek. Sy is in 1912 gedoop nadat die gesin na Houston, Texas, verhuis het.

My ma en haar ouers het Charles T. Russell, die eerste president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, die eerste keer ontmoet toe hy hulle gemeente in Houston besoek het. Die gesin het dikwels gasvryheid betoon teenoor reisende verteenwoordigers van die Genootskap, wat toe pelgrims genoem is. ’n Paar jaar later het my ma saam met haar ouers na Chicago, Illinois, verhuis, en broer Russell het later die gemeente daar ook besoek.

In 1918 het my ouma Spaanse griep gekry, en omdat dit haar gesondheid aangetas het, het dokters aanbeveel dat sy in ’n warmer klimaat gaan woon. Aangesien my oupa vir die Pullman-treinmaatskappy gewerk het, kon hy in 1919 na Texas terugverplaas word. Daar, in San Antonio, het my ma Judge Norris, ’n jong, ywerige lid van die gemeente, ontmoet. Hulle het dadelik van mekaar gehou en het later getrou, en Judge het my pa geword.

My pa leer Bybelwaarheid

Judge (regter) het sy ongewone naam by geboorte gekry. Toe sy pa hom die eerste keer sien, het hy gesê: “Daardie baba is so ernstig soos ’n regter”, en dít het sy naam geword. In 1917, toe my pa 16 was, het iemand vir hom die traktate Where Are the Dead? en What Is the Soul? gegee wat deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap gedruk is. My pa het sy pa twee jaar tevore deur die dood verloor, en die traktate het hom die antwoorde oor die toestand van die dooies gegee waarna hy gesoek het. Kort daarna het hy vergaderinge van die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies toe bekend gestaan het, begin bywoon.

My pa wou onmiddellik aan die gemeentelike bedrywighede begin deelneem. Hy het gebied gekry waar hy kon preek, en ná skool het hy op sy fiets daarheen gery om traktate te versprei. Hy het die Koninkrykshoop met volle oorgawe verkondig, en op 24 Maart 1918 het hy sy toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer.

Die volgende jaar toe my ma na San Antonio verhuis het, is my pa onmiddellik bekoor deur wat hy gesê het “die pragtigste glimlag en die blouste oë” was wat hy nog gesien het. Hulle het dit kort voor lank bekend gemaak dat hulle wil trou, maar dit was moeilik om my ma se ouers te oorreed. Nogtans het die huwelik op 15 April 1921 plaasgevind. Albei het die voltydse diens as hulle doelwit gehad.

’n Vroeë begin in die bediening

Toe my ma en pa besig was met planne om in 1922 die byeenkoms in Cedar Point, Ohio, by te woon, het hulle ontdek dat my ma met my swanger was. Kort ná my geboorte, toe my pa maar 22 was, is hy as die gemeentelike diensleier aangestel. Dit het beteken dat hy al die velddiensreëlings getref het. Binne ’n kwessie van weke het my ma my saam met hulle in die huis-tot-huis-bediening begin uitneem. Eintlik het my grootouers ook daarvan gehou om my saam met hulle in die bediening uit te neem.

Toe ek maar twee jaar oud was, het my ouers na Dallas, Texas, verhuis, en drie jaar later het hulle die voltydse bediening as pioniers betree. Snags het hulle op ’n kampbedjie langs die pad geslaap en my op die motor se agtersitplek gesit. Ek het natuurlik gedink dit is pret, maar dit het gou duidelik geword dat hulle op daardie stadium nog nie heeltemal gereed was vir die lewe van ’n pionier nie. My pa het gevolglik ’n onderneming begin. Later het hy ’n klein woonwa gebou sodat hulle mettertyd weer die pionierdiens kon betree.

Voordat ek skool toe is, het my ma my geleer lees en skryf, en ek kon my tafels tot by die vier-maal-tafel opsê. Sy het altyd probeer om my iets te leer. Wanneer sy skottelgoed gewas het, het sy my langs haar op ’n stoel laat staan sodat ek die skottelgoed kon afdroog, en dan het sy my geleer om tekste te memoriseer en Koninkryksliedere, of gesange soos ons hulle destyds genoem het, te sing.

Saam met my ouers in God se diens

In 1931 het ons almal die opwindende byeenkoms in Columbus, Ohio, bygewoon waar ons die naam Jehovah se Getuies aangeneem het. Hoewel ek maar agt was, het ek gedink dit is die pragtigste naam wat ek nog gehoor het. Kort ná ons tuiskoms het my pa se onderneming afgebrand, en my ma en pa het dit as “die Here se wil” beskou dat hulle weer die pionierdiens moet betree. Ons het derhalwe van die somer van 1932 af talle genotvolle jare in die voltydse bediening deurgebring.

My ouers het in Sentraal-Texas pionierdiens gedoen sodat hulle naby my ma se ouers kon wees, wat steeds in San Antonio gewoon het. Aangesien ons van een toewysing na ’n ander gegaan het, het ek redelik dikwels van skool verander. Soms het vriende onnadenkend gesê: “Waarom bly julle nie nou op een plek sodat die kind ’n huis kan hê nie”, so asof ek nie goed versorg was nie. Maar ek het gedink dat ons lewe opwindend is en dat ek my pa en ma in hulle bediening help. In werklikheid is ek destyds opgelei en voorberei vir wat later my eie leefwyse sou word.

Ek het maande lank vir my pa en ma gesê dat ek gedoop wil word, en hulle het dikwels met my daaroor gepraat. Hulle wou seker maak dat ek weet hoe ernstig my besluit is. Op 31 Desember 1934 het die dag aangebreek vir hierdie belangrike gebeurtenis in my lewe. Maar die vorige aand het my pa seker gemaak dat ek Jehovah in gebed genader het. Toe het hy iets pragtigs gedoen. Hy het ons almal laat kniel en toe gebid. Hy het vir Jehovah gesê dat hy so bly is dat sy dogtertjie besluit het om haar lewe aan Hom toe te wy. Jy kan seker wees dat ek daardie nag nooit in der ewigheid sal vergeet nie!

Opleiding deur my grootouers

Tussen 1928 en 1938 het ek my grootouers in San Antonio dikwels besoek. Hulle roetine was baie soos my ouers s’n. My ouma was eers ’n kolporteur, soos hulle pioniers destyds genoem het, en toe het sy ’n deeltydse pionier geword. My oupa is in Desember 1929 as ’n pionier aangestel, en die velddiens was dus altyd ’n deel van die daaglikse roetine.

My oupa het my saans in sy arms gehou en my die name van die sterre geleer. Hy het altyd vir my gedigte opgesê. Ek het baie keer saam met hom op die Pullman-treine gery toe hy vir die spoorweë gewerk het. Hy was iemand na wie ek altyd kon gaan wanneer ek probleme gehad het; hy het my vertroos en my trane afgevee. Maar wanneer ek gestraf is omdat ek iets verkeerds gedoen het en vir vertroosting na hom toe gegaan het, het hy eenvoudig gesê (woorde wat ek op daardie stadium nie verstaan het nie, maar waarvan die boodskap baie duidelik was): “My kind, die weg van die oortreder is baie swaar.”

Jare van vervolging

In 1939 het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek, en Jehovah se volk het weens vervolging en gepeupelgeweld gely. Teen die einde van 1939 was my ma baie siek en het sy naderhand ’n operasie nodig gehad, en daarom het ons weer na San Antonio verhuis.

Oproeriges het in groepe saamgekom wanneer ons tydskrifte op die strate van San Antonio aangebied het. Maar as ’n gesin was ons elke week daar, elkeen op sy toegewese hoek. Ek het dikwels gesien hoe hulle my pa na die polisiestasie wegneem.

My pa het in die pionierdiens probeer bly ten spyte van die feit dat my ma moes ophou. Hy kon egter nie genoeg met ’n deeltydse werk verdien nie, en hy moes dus ook ophou. Ek het my skoolloopbaan in 1939 voltooi, en toe het ek ook gaan werk.

My pa se naam Judge (regter) het gedurende daardie jare goed te pas gekom. ’n Groep vriende het byvoorbeeld getuieniswerk in ’n dorp net noord van San Antonio gaan doen, en die polisiehoof het hulle almal begin opsluit. Hy het ongeveer 35, onder andere my grootouers, in hegtenis geneem. Hulle het my pa laat weet, en hy het soontoe gery. Hy het in die polisiehoof se kantoor ingestap en gesê: “Ek is Judge (regter) Norris van San Antonio.”

“Ja meneer, Regter, waarmee kan ek u help?” het die polisiehoof gevra.

“Ek het kom kyk wat gedoen kan word om hierdie mense uit die tronk te kry”, het my pa geantwoord. Die polisiehoof het hulle dadelik sonder borgtog vrygelaat—en geen verdere vrae is gevra nie!

My pa het daarvan gehou om getuieniswerk in die kantoorgeboue in die middestad te doen, en hy het veral daarvan gehou om regters en prokureurs te besoek. Hy het altyd vir die ontvangsdame gesê: “Ek is Judge (regter) Norris, en ek het regter So-en-so kom spreek.”

Daarna, wanneer hy die regter ontmoet het, het hy altyd eers gesê: “Voordat ek oor die doel van my besoek gesels, wil ek eers verduidelik dat ek langer as jy ’n regter is. Ek is my hele lewe lank al een.” En dan het hy verduidelik hoe hy sy naam gekry het. Dit het hulle gesprek op ’n vriendskaplike grondslag geplaas, en hy het gevolglik destyds ’n goeie verhouding met baie regters gehad.

Dankbaar vir ouerlike leiding

My onstuimige tienerjare het aangebreek, en ek weet my pa en ma het dikwels hulle asem opgehou terwyl hulle my dopgehou en gewonder het wat ek volgende gaan aanvang. Soos alle kinders het ek my pa en ma baie keer op die proef gestel deur te vra of ek iets mag doen of êrens heen mag gaan, terwyl ek goed geweet het dat hulle antwoord nee sou wees. Soms was daar trane. Eintlik sou ek verpletter gewees het as hulle ooit gesê het: “Ja, doen maar wat jy wil. Ons gee nie om nie.”

Die wete dat ek niks kon doen wat hulle hulle standaarde sou laat verander nie, het my veilig laat voel. Trouens, dit was as gevolg hiervan makliker vir my wanneer ander jongmense twyfelagtige vermaak voorgestel het, want ek kon sê: “My pa sal my dit nie toelaat nie.” Toe ek 16 was, het my pa seker gemaak dat ek leer bestuur en my bestuurderslisensie kry. Hy het my ook om en by hierdie tyd ’n sleutel vir die huis gegee. Ek was so beïndruk dat hy my vertrou het. Ek het so volwasse gevoel, en dit het my ’n verantwoordelikheidsbesef gegee sowel as ’n begeerte om hulle nie teleur te stel nie.

Destyds is daar nie baie raad oor die huwelik gegee nie, maar my pa het die Bybel geken en het geweet dit sê dat ’n mens “net in die Here” mag trou (1 Korinthiërs 7:39). Hy het dit baie duidelik gestel dat hy vreeslik teleurgesteld sou wees as ek ooit ’n wêreldse seun huis toe sou bring of selfs na een sou kyk. Ek het geweet hy is reg, want ek het die geluk en eenheid in hulle huwelik gesien omdat húlle “in die Here” getrou het.

In 1941, toe ek 18 was, het ek gedink ek is verlief op ’n jong man in die gemeente. Hy was ’n pionier en het vir prokureur geleer. Ek was opgewonde. Toe ons vir my ouers vertel het dat ons wil trou, het hulle, pleks van misnoeë te wys of ontmoedigend te wees, eenvoudig gesê: “Ons wil jou net een ding vra, Blossom. Ons dink jy is te jonk, en ons wil julle vra om ’n jaar te wag. As julle werklik vir mekaar lief is, sal een jaar geen verskil maak nie.”

Ek is so dankbaar dat ek na daardie wyse raad geluister het. Gedurende daardie jaar het ek meer volwasse geraak en begin sien dat hierdie jong man nie die nodige eienskappe vir ’n goeie huweliksmaat het nie. Hy het later die organisasie verlaat, en ek het ’n situasie vrygespring wat ’n ramp in my lewe kon gewees het. Hoe wonderlik is dit tog om verstandige ouers te hê op wie se oordeel jy kan staatmaak!

Die huwelik en die reisende werk

Gedurende die winter van 1946, nadat ek ses jaar in die pionierdiens was en deeltyds gewerk het, het die wonderlikste jong man wat ek nog ontmoet het by ons Koninkryksaal ingestap. Gene Brandt was aangestel as ’n metgesel vir ons reisende kneg vir die broers, soos die kringopsiener destyds genoem is. Ons het van mekaar gehou, en op 5 Augustus 1947 het ons in die huwelik getree.

Kort daarna het my pa en Gene ’n rekeningkundige onderneming begin. Maar my pa het vir Gene gesê: “Die dag as hierdie onderneming ons van ’n vergadering of van ’n teokratiese toewysing weghou, gaan ek die deur sluit en die sleutel weggooi.” Jehovah het hierdie geestelike beskouing geseën, en die onderneming het voldoende in ons materiële behoeftes voorsien en tyd vir die pionierdiens gelaat. My pa en Gene was goeie sakemanne, en ons kon maklik ryk gewees het, maar dit was nooit hulle doelwit nie.

In 1954 is Gene genooi om as ’n kringopsiener te dien, wat ’n groot verandering in ons lewe beteken het. Hoe sou my ouers reageer? Weer eens was hulle nie oor hulleself besorgd nie, maar oor die belange van God se Koninkryk en oor hulle kinders se geestelike welsyn. Hulle het nooit vir ons gesê: “Waarom gee julle ons nie kleinkinders nie?” Dit was eerder altyd: “Wat kan ons doen om julle in die voltydse diens te help?”

Toe die dag van ons vertrek dus aanbreek, was daar net aanmoedigende woorde en vreugde oor ons wonderlike voorreg. Hulle het ons nooit laat voel dat ons hulle in die steek laat nie, maar het ons altyd ten volle ondersteun. Nadat ons weg is, het hulle nog tien jaar in die pionierdiens besig gebly. My pa is as stadsopsiener van San Antonio aangestel, ’n posisie waarin hy 30 jaar gedien het. Hy het die vreugde gesmaak om te sien hoe die gemeentes in die stad toegeneem het van een in die twintigerjare tot 71 voor sy dood in 1991.

Vir my en Gene was die lewe vol opwinding. Ons het die oorvloedige vreugde ervaar om dierbare broers en susters in meer as 31 state te bedien, en die hoogtepunt was waarskynlik die voorreg om die 29ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead in 1957 by te woon. Daarna het ons na die reisende werk teruggekeer. In 1984, ná 30 jaar in die kring- en streekwerk, was die Genootskap so gaaf om Gene ’n kringtoewysing in San Antonio te gee, aangesien my ouers in die 80 was en hulle gesondheid swak was.

Die versorging van my ouers

Slegs ’n jaar en ’n half nadat ons na San Antonio teruggekeer het, het my ma in ’n semikoma gegaan en gesterf. Dit het so vinnig gebeur dat ek nie ’n kans gekry het om van die dinge te sê wat ek graag vir haar wou sê nie. Dit het my geleer om baie met my pa te gesels. Ná 65 jaar van getroude lewe het hy my ma baie gemis, maar ons was daar om hom liefde en ondersteuning te gee.

My pa het tot sy dood toe ’n voorbeeld gestel wat die bywoning van Christelike vergaderinge, studie en die velddiens betref. Hy het baie van lees gehou. Aangesien hy alleen moes bly wanneer ons in die bediening uit was, het ek wanneer ek tuisgekom het, gevra: “Was Pa eensaam?” Hy was so besig om te lees en te studeer dat die gedagte nie eens by hom opgekom het nie.

Daar was nog ’n gewoonte wat ons ons hele lewe deur gevolg het. My pa het altyd daarop aangedring dat die gesin saam eet, veral in die oggend, wanneer ons die daaglikse teks uit die Skrif bespreek het. Ek is nooit toegelaat om soggens uit te gaan totdat ons dit gedoen het nie. Partykeer het ek gesê: “Maar Pa, ek gaan laat wees vir skool (of vir werk).”

“Dit is nie die dagteks wat jou laat maak nie; jy het nie vroeg genoeg opgestaan nie”, het hy dan gesê. En ek moes bly en na die dagteksbespreking luister. Hy het seker gemaak dat hy hierdie goeie voorbeeld tot op die laaste dag van sy lewe stel. Dit is nog ’n erfenis wat hy vir my nagelaat het.

My pa se verstand het tot die einde toe helder gebly. Omdat hy nooit veeleisend geword of gekla het nie, was dit maklik om vir hom te sorg. O, partykeer het hy oor sy artritis gepraat, maar ek het hom daaraan herinner dat hy eintlik “Adamitis” het, en dan het hy gelag. My pa het die oggend van 30 November 1991, terwyl ek en Gene by hom gesit het, stil gesterwe.

Ek is nou oor die 70 en vind nog steeds baat by die goeie voorbeeld wat my liefdevolle Christenouers gestel het. En dit is my innige bede dat ek my volle waardering vir hierdie erfenis sal bewys deur dit tot in ewigheid op ’n voortreflike wyse te gebruik.—Psalm 71:17, 18.

[Prent op bladsy 5]

Ek en my ma

[Prente op bladsy 7]

1. My eerste byeenkoms: San Marcos, Texas, September 1923

2. My pa se laaste byeenkoms: Fort Worth, Texas, Junie 1991 (my pa links voor)

[Prent op bladsy 9]

Gene en Blossom Brandt

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel