Diens gemotiveer deur ’n besef van dringendheid
SOOS VERTEL DEUR HANS VAN VUURE
Een oggend in 1962 het Paul Kushnir, die Wagtoringgenootskap se takopsiener in Nederland, my in Rotterdam se hawegebied ontmoet. Terwyl hy oor ’n tafeltjie in ’n donkerige restaurant na my gekyk het, het hy gesê: “Hans, besef jy dat jy en jou vrou net ’n enkelkaartjie sal kry as jy hierdie toewysing aanvaar?”
“JA, EN ek is baie seker dat Susie ook daartoe sal instem.”
“Wel, bespreek dit met Susie. Hoe gouer julle my laat weet wat julle besluit het, hoe beter.”
Die volgende oggend het hy ons antwoord gekry: “Ons sal gaan.” Op 26 Desember 1962 het ons dus ons familie en vriende op Amsterdam se sneeubedekte Schiphol-lughawe omhels en vertrek na ’n onaangeraakte sendinggebied—Nederlands-Nieu-Guinee (nou Wes-Irian, Indonesië)—die land van die Papoeas.
Het ons getwyfel of ons hierdie uitdagende toewysing moet aanvaar? Nie werklik nie. Ons het ons lewe heelhartig aan God toegewy om sy wil te doen, en ons het vertrou dat hy ons sal onderskraag. Wanneer ons op ons lewe terugkyk, kan ons sien dat ons vertroue in Jehovah nooit misplaas was nie. Maar kom ek vertel julle van ons vroeër jare voor ek vertel wat in Indonesië gebeur het.
Opleiding in oorlogstyd
Ek was net tien jaar oud toe my gesin in 1940 vir die eerste keer deur die moedige Getuie Arthur Winkler besoek is. My ouers was geskok toe hulle uitvind wat die Bybel oor die valse leerstellings van die Christendom te sê het. Aangesien Nederland toe deur Nazi-Duitsland beset was en Jehovah se Getuies vervolg is, moes my ouers besluit of hulle met ’n verbode organisasie geassosieer wou word. Hulle het besluit om dit te doen.
Daarna het my ma se moed en haar gewilligheid om haar vryheid en selfs haar lewe in gevaar te stel my beïndruk. Eenkeer het sy 11 kilometer met haar fiets gery en in die donker met ’n sak vol Bybeltraktate gewag. Op die vasgestelde tyd wat ’n spesiale veldtog moes begin, het sy so vinnig as moontlik met haar fiets gejaag terwyl sy gedurig traktate uit haar sak gehaal en in die strate gestrooi het. ’n Fietsryer wat haar agternagesit het, het haar uiteindelik ingehaal en uitasem geskreeu: “Dame, dame, jy verloor iets!” Ons kon nie ophou lag toe my ma ons hierdie staaltjie vertel het nie.
Ek was baie jonk, maar ek het geweet wat ek met my lewe wou doen. Tydens een van ons vergaderinge in die middel van 1942 het ek my hand opgesteek toe die studiehouer gevra het: “Wie wil by die volgende geleentheid gedoop word?” My ouers het bekommerd na mekaar gekyk en getwyfel of ek die betekenis van so ’n besluit verstaan. Maar hoewel ek net 12 jaar oud was, het ek verstaan wat toewyding aan God beteken.
Met die Nazi’s op ons hakke moes ons versigtig te werk gaan om die predikingswerk van huis tot huis te doen. Om te voorkom dat ons by huise van mense aanklop wat ons sou weggee, het ek op dae wanneer mense wat die Nazi’s goedgesind was plakkate op hulle vensters geplak het met my fiets rondgery en hulle adres neergeskryf. ’n Man het my eenkeer gesien en geskreeu: “Mooi so, boetman. Skryf hulle neer—die hele klomp!” Ek was ywerig maar beslis nie versigtig genoeg nie! Teen die einde van die oorlog in 1945 het ons ons verheug in die vooruitsig om met groter vryheid aan die predikingswerk deel te neem.
Die begin van ’n loopbaan
Op 1 November 1948, nadat ek my skoolopleiding voltooi het, het ek my eerste voltydse predikingstoewysing as ’n pionier ontvang. ’n Maand later het broer Winkler die gesin besoek by wie ek gebly het. Hy het seker gekom om my deur te kyk, want kort daarna is ek genooi om by die Genootskap se takkantoor in Amsterdam te gaan werk.
Later is ek gevra om die gemeentes van Jehovah se Getuies as ’n kringopsiener te besoek. Toe, in die herfs van 1952, het ek ’n uitnodiging ontvang om die 21ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead in New York by te woon om sendingopleiding te ontvang. Teen die einde van 1952 het agt van ons uit Nederland gevolglik aan boord van die passasiersboot Nieuw Amsterdam gegaan en Amerika toe gevaar.
Teen die einde van die skoolkursus het Maxwell Friend, een van die instrukteurs, gesê: “Julle sal die meeste van die dinge vergeet wat julle hier geleer het, maar ons hoop dat julle drie dinge sal onthou: geloof, hoop en liefde.” Die kosbare herinneringe aan hoe Jehovah se organisasie met ’n besef van dringendheid gewerk het, het ook in my verstand en hart bewaar gebly.
Later het ek ’n groot teleurstelling gekry. Die helfte van ons Nederlandse groep—onder andere ek—het ’n toewysing ontvang om na Nederland toe terug te keer. Hoewel ek teleurgesteld was, was ek nie ontsteld nie. Ek het net gehoop dat ek nie, soos Moses van die ou tyd, 40 jaar sou moes wag voordat ek ’n buitelandse toewysing ontvang nie.—Handelinge 7:23-30.
’n Kosbare lewensmaat
Toe Fritz Hartstang, my vaderlike vriend, van my trouplanne te hore gekom het, het hy vertroulik aan my gesê: “Ek kan glad nie aan ’n beter keuse dink nie.” Susie se pa, Casey Stoové, was tydens die Tweede Wêreldoorlog een van die voorste stryders in die Versetbeweging teen die Nazi’s. Maar toe die Getuies hom in 1946 besoek het, het hy Bybelwaarhede geredelik aanvaar. Kort voor lank is hy en drie van sy ses kinders—Susie, Marian en Kenneth—gedoop. Op 1 Mei 1947 het hierdie kinders almal die voltydse bediening as pioniers betree. In 1948 het Casey sy sakeonderneming verkoop en ook as ’n pionier begin dien. Hy het later gesê: “Dit was die gelukkigste jare van my lewe!”
Ek het Susie in 1949 leer ken toe sy genooi is om by die Amsterdamse takkantoor te kom werk. Maar sy en haar suster Marian het die volgende jaar weggegaan om die 16de klas van Gilead by te woon en is toe per skip na hulle sendingtoewysing—Indonesië. In Februarie 1957, ná vyf jaar se sendingdiens daar, het Susie teruggekom Nederland toe om met my te trou. Op daardie tydstip het ek as ’n kringopsiener gedien, en deur al die jare van ons getroude lewe het sy keer op keer getoon dat sy gewillig is om persoonlike opofferings ter wille van Koninkryksdiens te maak.
Ná ons troue het ons voortgegaan om gemeentes in verskillende dele van Nederland te besoek. Susie se jare in moeilike sendingtoewysings het haar goed voorberei op die fietsritte van die een gemeente na die ander. Dit was terwyl ons in 1962 in die kringwerk was dat broer Kushnir my in Rotterdam besoek het en ons genooi het om na Wes-Irian, Indonesië, te gaan.
Sendingdiens in Indonesië
Ons het in die dorp Manokwari aangekom—’n heel ander wêreld! Daar was die onheilspellende geluide van tropiese nagte en die hitte en die stof. En dan was daar die Papoeas van die binneland wat net ’n lendekleed aangehad het, kapmesse gedra het en daarvan gehou het om reg agter ons te loop en aan ons wit vel te probeer raak—alles dinge wat ons ’n rukkie geneem het om aan gewoond te raak.
Binne enkele weke ná ons aankoms het geestelikes ’n brief van hulle kerke se kansel af gelees wat die mense teen Jehovah se Getuies gewaarsku het, en hulle het vir almal wat teenwoordig was ’n afskrif daarvan gegee. Die brief is selfs deur die plaaslike radiostasie uitgesaai. Toe het drie geestelikes ons besoek en gesê ons moet na die binneland toe gaan om daar te werk onder mense wat hulle “die heidene” genoem het. ’n Hooggeplaaste Papoea-polisiebeampte het ook by ons aangedring om weg te gaan, en ’n lid van die geheime polisie het vir ons gesê dat daar planne beraam word om ons te laat vermoor.
Tog het nie almal ons teëgestaan nie. ’n Politieke raadgewer van die Papoeas, ’n Nederlandse burger wat op die punt gestaan het om na Nederland te vertrek, het ons aan verskeie Papoea-hoofmanne voorgestel. “Jehovah se Getuies sal ’n beter soort Christelike geloof bring as wat julle tot dusver geken het”, het hy vir hulle gesê. “Daarom behoort julle hulle te verwelkom.”
Later het ’n staatsamptenaar Susie op straat genader en gefluister: “Daar is aan ons gerapporteer dat julle ’n nuwe werk hier begin het, en daarom kan ons julle nie laat bly nie. Maar, uh, . . . as julle net ’n kerk gehad het.” ’n Wenk! Ons het gou mure in ons huis uitgebreek, bankies in rye gepak, ’n rostrum gekry en ’n uithangbord met die woord “Koninkryksaal” voor die huis aangebring. Toe het ons die amptenaar genooi om ons te besoek. Hy het sy kop geknik, geglimlag en met sy wysvinger teen die kant van sy kop getik asof hy wou sê: ‘Slim, slim.’
Op 26 Junie 1964, een en ’n half jaar ná ons aankoms, is ons eerste 12 Papoea-Bybelstudente gedoop. Kort daarna is nog 10 gedoop, en die gemiddelde opkoms by ons vergaderinge was 40. Twee Indonesiese pioniers is gestuur om ons te help. Toe die gemeente in Manokwari goed gevestig was, het die Genootskap se takkantoor in Indonesië ons in Desember 1964 ’n ander predikingstoewysing gegee.
Voor ons vertrek het die hoof van die regering se Departement Openbare Betrekkinge ons eenkant toe geneem en gesê: “Ek is jammer dat julle weggaan. Die geestelikes het elke week by my gepleit om julle weg te stuur, want hulle het gesê julle pluk hulle vrugte. Maar ek het vir hulle gesê: ‘Nee, inteendeel, hulle gee julle bome kunsmis.’” Hy het bygevoeg: “Hou aan veg waar julle ook al heengaan. Julle sal wen!”
Te midde van ’n staatsgreep
Een nag in September 1965, terwyl ons in die hoofstad Djakarta gedien het, het Kommunistiese rebelle baie militêre leiers om die lewe gebring, Djakarta aan die brand gesteek en ’n landswye stryd begin waardeur die nasie se president, Sukarno, uiteindelik tot ’n val gebring is. Sowat 400 000 mense het hulle lewe verloor!
Eenkeer was ons met die predikingswerk besig terwyl daar in die volgende straat ’n skietery en brandstigting aan die gang was. Die volgende dag het ons gehoor dat die weermag op die punt gestaan het om ’n nabygeleë Kommunistefasiliteit te vernietig. Die huisbewoners het bang gelyk toe ons na hulle toe gekom het, maar toe hulle ons Bybelse boodskap hoor, het hulle ontspan en ons ingenooi. Hulle het veilig gevoel om ons by hulle te hê. Daardie tydperk het ons almal geleer om op Jehovah te vertrou en om ons balans onder ongunstige omstandighede te handhaaf.
Verdere teëstand word verydel
Aan die einde van 1966 het ons na die stad Ambon op die skilderagtige suidelike Molukke getrek. Daar, onder die vriendelike, spontane bevolking, het ons baie gevind wat in geestelike dinge belangstel. Ons gemeentetjie het vinnig gegroei, en byna honderd het die vergaderinge bygewoon. Gevolglik het die Christendom se kerkamptenare die Kantoor van Godsdienssake besoek om druk op die hoof uit te oefen om ons uit Ambon te verdryf. Maar daar op die hoof se lessenaar het hulle die Wagtoringgenootskap se boeke oop en bloot sien staan! Toe hulle die hoof nie van mening kon laat verander nie, het hulle met amptenare van die Ministerie van Godsdiens in Djakarta in aanraking gekom om ons uitsetting, nie net uit Ambon nie, maar ook uit die hele Indonesië, te bewerkstellig.
Hierdie keer het hulle blykbaar welslae behaal, want 1 Februarie 1968 is as ons uitsettingsdatum vasgestel. Maar ons Christenbroers in Djakarta het met ’n hooggeplaaste Moslemamptenaar in die Ministerie van Godsdiens in aanraking gekom, en hy het gehelp om die besluit herroep te kry. Daarbenewens is ’n vorige beleid verander en is nog sendelinge toegelaat om die land binne te kom.
Ons het dus vir die volgende tien jaar in ’n omgewing met pragtige berge, woude en mere in noordelike Sumatra saam met sendelinge gewerk van Australië, Duitsland, die Filippyne, Oostenryk, Swede en die Verenigde State. Die predikingswerk het vooruitgegaan, veral onder die streek se vernaamste etniese groep, die Batakke.
Maar in Desember 1976 het godsdiensknoeiers uiteindelik daarin geslaag om ons predikingswerk verbied te kry, en die volgende jaar het die meeste sendelinge na toewysings in ander lande vertrek. Uiteindelik, in 1979, moes ons ook gaan.
Na Suid-Amerika toe
Teen hierdie tyd was ons al amper 50 jaar oud, en ons het gewonder of ons die aanpassing sou kon maak om na nóg ’n ander land toe te gaan. “Sal ons ’n nuwe toewysing aanvaar of sal ons ons liewer êrens vestig?” het Susie gevra.
“Wel, Susie”, het ek geantwoord, “waarheen Jehovah ons ook al genooi het om te gaan, het hy na ons omgesien. Wie weet watter verdere seëninge die toekoms inhou?” Gevolglik het ons in ons nuwe toewysing in die Suid-Amerikaanse land Suriname aangekom. Binne twee maande was ons terug in die reisende werk en het gou weer tuis gevoel.
Wanneer ons terugkyk op meer as 45 jaar in die voltydse bediening besef ek en Susie hoe belangrik die ondersteuning van ons ouers was om ons te help om in die sendingwerk te volhard. In 1969, toe ek my ouers weer ná ses jaar gesien het, het my pa my eenkant toe geneem en gesê: “As jou ma eerste tot sterwe kom, hoef julle nie huis toe te kom nie. Bly in julle toewysing. Ek sal regkom. Maar as dit andersom is, sal julle jou ma daaroor moet vra.” My ma het dieselfde gesê.
Susie se ouers het dieselfde onselfsugtige gesindheid gehad. Op een tydstip was Susie 17 jaar lank van hulle af weg, en tog het hulle nooit enigiets ontmoedigends vir haar geskryf nie. Ons sou natuurlik teruggegaan het huis toe as ons ouers geen ander hulp gehad het nie. Wat ek wil beklemtoon, is dit: Ons ouers het dieselfde waardering vir die sendingwerk gehad en het tot hulle dood die dringendheid van hulle diens aan Jehovah besef en dit is wat hulle by ons hart ingeskerp het.—Vergelyk 1 Samuel 1:26-28.
Ons is ook deur getroue briefskrywers bemoedig. ’n Paar het in die meer as 30 jaar wat ons as sendelinge gedien het nie ’n enkele maand nagelaat om vir ons te skryf nie! Maar bowenal dink ons aan ons dierbare hemelse Vader, Jehovah, wat weet hoe om sy dienaars hier op aarde te onderskraag. Terwyl ons dus nou die hoogtepunt nader van die gebeure waarna ons uitgesien het, is dit my en Susie se wens om ‘die teenwoordigheid van die dag van Jehovah goed in gedagte te hou’ deur aan te hou om die dringendheid van ons diens aan Jehovah te besef.—2 Petrus 3:12, NW.
[Prent op bladsy 26]
Getroud in 1957
[Prent op bladsy 29]
Hoe opwindend tog—ses jongmense as pioniers!