Natuurrampe—’n Teken van die tye?
“DIE een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte.” Met hierdie woorde het Jesus Christus 19 eeue gelede aan sy dissipels verduidelik dat sulke rampspoedige gebeure, tesame met ’n vermeerdering van ongeregtigheid en die wêreldwye verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk, die begin van ’n saamgestelde teken sou wees wat “die voleinding van die wêreld” sou identifiseer.—Mattheüs 24:3-14.
In die lig hiervan moet ons vra: Sien ons meer katastrofiese aardbewings, orkane, vloede, droogtes en hongersnode as vorige geslagte? En is daar, ten spyte van vooruitgang op wetenskaplike en tegnologiese gebied, proporsioneel meer mense wat as gevolg daarvan ly?
Vir baie is die antwoord ja. Die tydskrif New Scientist waarsku byvoorbeeld dat “die wêreld meer rampe in die negentigerjare as in vorige dekades kan verwag”. In die UN Chronicle vir Junie 1991 het die direkteur van die Wêreld- Meteorologiese Organisasie eweneens gesê: “Die tendens is baie duidelik. Tussen die sestiger- en die tagtigerjare . . . was daar ’n vyfvoudige toename in die voorkoms van groot natuurrampe en ’n drievoudige toename in die totale ekonomiese verliese.” World Health, die tydskrif van die VN se Wêreldgesondheidsorganisasie, het die saak meer in perspektief gestel en gesê: “Deur die hele geskiedenis heen is daar voorbeelde van natuurrampe en die verwoesting wat hulle saai. Maar namate ons die 21ste eeu nader, het ons gelyktydig te kampe met veranderende demografiese, ekologiese en tegnologiese toestande wat daartoe lei dat baie bevolkings swaarder getref word deur natuurrampe sowel as rampe wat deur die mens veroorsaak word.”
Enigiemand wat op hoogte van huidige gebeure is, is nie verbaas wanneer hy sulke verklarings hoor nie. Daar is gedurig sensasionele berigte in die nuusmedia, hetsy dit oor ’n vulkaniese uitbarsting in die Filippyne, ’n aardbewing in Kalifornië, ’n vloed in Bangladesj, ’n hongersnood in Somalië, ’n orkaan in Hawaii of ’n vloedgolf in Nicaragua is. Daar gaan selde ’n maand verby waarin ’n mens nie van ’n ramp in een of ander wêrelddeel hoor nie.
Party mense beskou dit as onbeduidend. Hulle redeneer dat die merkbare vermeerdering in rampe in ons tyd bloot aan beter verslaggewing of beter verslae toegeskryf moet word. Hulle voer ook aan dat meer mense vandag weens rampe ly bloot omdat daar meer mense is. Is hierdie argumente deurslaggewend?
Kyk wat sê die bogemelde artikel in die New Scientist. “In die sestigerjare is 523 rampe aangemeld en in die sewentigerjare 767. Teen die tagtigerjare het die syfer tot 1387 gestyg.” Dit verduidelik verder dat “die merkbare toename gedurende die afgelope dekade deels toegeskryf kan word aan die feit dat rampe in China en die Sowjetunie openliker aangemeld word”. Dan voeg dit by: “Hoe dit ook al sy, die syfer styg.” Die drastiese toename in die aantal rampe kan nie net aan beter verslaggewing of beter verslae toegeskryf word nie.
Die UN Chronicle vir Maart 1992 berig ook: “Gedurende die afgelope twee dekades het sowat 3 miljoen mense hulle lewe verloor en is ’n verdere 800 miljoen deur ‘die chaos, ontberinge en lyding’ geraak wat deur die natuurrampe veroorsaak is.” Dit beteken dat ongeveer 1 uit elke 7 mense wat op die aarde woon deur die een of ander ramp of tragedie geraak is. Dit is waarlik verstommend en toon ongetwyfeld dat ons in ’n tyd van beroeringe en onrus lewe.
Aangesien die Bybel so ’n tyd van groot benoudheid voorspel, is die vraag: Is God verantwoordelik vir die rampe en die lyding wat dit meebring? Baie mense dink so. Maar wat toon die feite? En nog belangriker, wat toon die Bybel?
[Foto-erkennings op bladsy 2]
Cover: W. Faidley/Weatherstock
[Foto-erkennings op bladsy 3]
Middle photo: Mark Peters/Sipa Press
WHO/League of Red Cross