Wanneer natuurrampe tref
Accra, Ghana, 4 Julie 1995: Die swaarste reën in byna 60 jaar het kwaai oorstromings veroorsaak. Ongeveer 200 000 het alles verloor, 500 000 kon nie by hulle huise uitkom nie en 22 het hulle lewe verloor.
San Angelo, Texas, VSA, 28 Mei 1995: Tornado’s en hael het verwoesting aangerig in hierdie stad van 90 000 inwoners en na raming R522 miljoen se skade veroorsaak.
Kobe, Japan, 17 Januarie 1995: ’n Aardbewing wat net 20 sekondes geduur het, het daartoe gelei dat duisende gesterf het, tienduisende beseer is en honderdduisende dakloos gelaat is.
ONS lewe in wat ’n era van rampe genoem kan word. ’n Verenigde Nasies-verslag toon dat die aantal mense wat in die 30 jaar van 1963-92 in rampe gesterf het, beseer is of moes vlug elke jaar gemiddeld met 6 persent toegeneem het. As gevolg van die droewige situasie het die VN die negentigerjare benoem as “die Internasionale Dekade vir die Vermindering van Natuurrampe”.
’n Natuurkrag—soos ’n storm, ’n vulkaniese uitbarsting of ’n aardbewing—veroorsaak natuurlik nie altyd ’n ramp nie. Honderde vind elke jaar plaas sonder dat mense enige skade ly. Maar wanneer dit baie lewens eis en eiendom erg beskadig, word dit tereg ’n ramp genoem.
Dit lyk asof ’n toename in natuurrampe onafwendbaar is. Die boek Natural Disasters—Acts of God or Acts of Man? sê: “Mense verander hulle omgewing sodat dit meer blootgestel is aan sekere rampe, en hulle tree só op dat hulle hulle kwesbaarder maak vir daardie gevare.” Die boek gee ’n denkbeeldige voorbeeld: “As ’n geringe aardbewing ’n krotbuurt tref wat uit swaar kleisteenhuise bestaan en teen die hang van ’n steil kloof gebou is, kan dit heel moontlik ’n ramp wees wat mensesterftes en -lyding betref. Maar is die ramp te wyte aan die aardskokke of eerder aan die feit dat mense in sulke gevaarlike huise op sulke gevaarlike grond woon?”
Vir studente van die Bybel is daar boonop ’n ander rede waarom die toename in natuurrampe hulle nie verbaas nie. Byna 2 000 jaar gelede het Jesus Christus voorspel dat “die voleinding van die stelsel van dinge” gekenmerk sou word deur dinge soos “voedseltekorte en aardbewings op die een plek na die ander” (Matteus 24:3, 6-8). Die Bybel het ook voorspel dat mense in “die laaste dae” liefhebbers van hulleself sou wees, asook liefhebbers van geld, sonder natuurlike geneentheid en sonder liefde vir goedheid (2 Timoteus 3:1-5).a Hierdie eienskappe veroorsaak dikwels dat die mens nie in harmonie met sy omgewing werk nie, en dit maak mense kwesbaarder vir natuurkragte. Rampe wat deur mense veroorsaak word, is ook ’n gevolg van die liefdelose gemeenskap waarin die meeste van ons moet lewe.
Namate ons planeet meer digbevolk raak, namate mensegedrag mense aan groter gevaar blootstel en namate die aarde se hulpbronne al hoe meer uitgeput word, sal rampe voortgaan om die mens te teister. Dit bied ’n uitdaging om hulp in tye van nood te verleen, soos die volgende artikel sal toon.
[Voetnoot]
a Sien die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, bladsye 98-107, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir verdere inligting oor die teken van die laaste dae.
[Foto-erkenning op bladsy 3]
Bo: Information Services Department, Ghana; regs: San Angelo Standard-Times
[Foto-erkenning op bladsy 2]
BUITEBLAD: Maxie Roberts/Met vergunning van THE STATE