Binnekort—’n Wêreld sonder oorloë!
OP 24 Desember 1914 het ’n jong Britse soldaat met die naam Jim Prince niemandsland oorgesteek om met ’n Duitse voetsoldaat te praat. “Ek is ’n Sakser. Jy is ’n Angel-Sakser. Waarom veg ons teen mekaar?” het die Duitser hom gevra. Jare later het Jim Prince erken: “Ek weet steeds nie wat die antwoord op daardie vraag is nie.”
Vir een buitengewone week in 1914 het soldate van die Britse en Duitse leërs mekaar soos broers behandel, saam sokker gespeel en selfs Kersgeskenke uitgeruil. Daardie wapenstilstand was natuurlik onoffisieel. Die generaals wou nie hê hulle troepe moes uitvind dat die “vyand” nie die boosaardige monster was wat deur oorlogspropaganda afgebeeld is nie. Die Britse soldaat Albert Moren het later gesê: “As die skietstilstand nóg ’n week aangehou het, sou dit baie moeilik gewees het om weer met die oorlog te begin.”
Daardie spontane skietstilstand toon dat selfs talle opgeleide soldate eerder na vrede as na oorlog smag. Die meeste soldate wat die afgryslikheid van oorlog deurgemaak het, sal met die Spaanse spreuk saamstem: “Laat hy wat nie weet wat oorlog is nie oorlog toe gaan.” As ’n wêreldwye meningspeiling onder die algemene publiek gehou sou word, sou dit ongetwyfeld toon dat die oorgrote meerderheid vrede bo oorlog verkies. Maar hoe kan hierdie universele begeerte na vrede in ’n wêreld sonder oorloë omskep word?
Voordat oorloë afgeskaf kan word, moet gesindhede eers verander. Die grondwet van die VN se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie sê: “Aangesien oorloë in die mens se verstand begin, moet die voordele van vrede by die mens se verstand ingeplant word.” Tog raak die hedendaagse samelewing, waar wantroue en haat aan die orde van die dag is, al hoe gewelddadiger en nie vreedsamer nie.
God het nietemin self belowe dat vrede eendag by die verstande van regverdiggesinde mense ingeplant sou word. Hy het deur sy profeet Jesaja gesê: “Hy [God] sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”—Jesaja 2:4.
Moedig vrede in die verstand aan
Kan daar so ’n merkwaardige verandering in denkwyse plaasvind? Sal mense ooit leer om eerder die vrede te bewaar as om oorlog te verheerlik? Beskou die voorbeeld van Wolfgang Kusserow. In 1942 het die Nazi’s hierdie 20-jarige Duitser onthoof omdat hy ‘nie wou leer om oorlog te voer nie’. Waarom het hy verkies om te sterf? In ’n geskrewe verklaring het hy skriftuurlike beginsels aangehaal soos: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” en “Almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan” (Mattheüs 22:39; 26:52). Toe het hy reguit gevra: “Het ons Skepper al hierdie dinge vir die bome laat neerskryf?”
God se woord, wat in die Bybel opgeteken staan, is “kragtig” en het hierdie jong Getuie van Jehovah aangespoor om vrede na te jaag, ongeag die gevolge (Hebreërs 4:12; 1 Petrus 3:11). Maar Wolfgang Kusserow was nie die enigste een wat vrede op dié manier nagejaag het nie. In die boek The Nazi Persecution of the Churches 1933-45 meld J. S. Conway amptelike Nazi-argiewe wat bewys dat Jehovah se Getuies as ’n groep geweier het om die wapen op te neem. Soos J. S. Conway toon, het so ’n moedige standpunt beteken dat hulle as ’t ware hulle eie doodsvonnis geteken het.
Jehovah se Getuies jaag vandag steeds vrede na, ongeag hulle ras of nasionaliteit. Waarom? Omdat hulle uit die Bybel geleer het dat God se ware knegte van hulle swaarde pikke moet smee. Alejandro, ’n jong Argentyn wat in 1987 na Israel geïmmigreer het, kan persoonlik van hierdie feit getuig.
Alejandro het drie jaar lank in ’n kibboets gewoon terwyl hy aan ’n universiteit gestudeer en in verskeie hotelle en restaurante gewerk het. Gedurende hierdie tyd het hy die Bybel begin lees en na ’n doel in die lewe gesoek. Hy het bowenal daarna gesmag om ’n wêreld te sien waar mense vrede en geregtigheid kon geniet. Alejandro—’n Jood—het saam met Jode en Arabiere gewerk, maar het verkies om nie aan een van die twee die voorkeur te gee nie.
In 1990 het ’n vriend wat die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer het Alejandro na ’n eendagbyeenkoms in Haifa genooi. Hy was verbaas om te sien hoe 600 Jode en Arabiere mekaar se geselskap geniet en het gedink: ‘Dís hoe mense moet leef.’ Binne ses maande het hy ook ’n Getuie geword, en hy wy tans die meeste van sy tyd daaraan om die Bybel se vredesboodskap te verkondig.
Hoe God vrede sal bring
Hoewel hierdie voorbeelde hartroerend is, is hulle in vandag se wêreld die uitsondering en nie die reël nie. Hoewel die huidige stelsel lippehulde aan vrede bring, kweek dit oorlogsaadjies. Sal jy graag in ’n straat wil woon waar die bewoners tussen 7 en 16 persent van hulle inkomste aan vuurwapens en sekuriteitstelsels bestee? Dit is in werklikheid wat die nasies in onlangse jare aan oorlogstuig bestee het. Dit is geen wonder dat Jesaja se profesie toon dat die mensdom in sy geheel nooit van hul swaarde sal pikke smee totdat God “regspreek oor baie volke” nie. Hoe sal hy dit doen?
Jehovah God se Koninkryk is die vernaamste middel wat Hy sal gebruik om reg te spreek oor baie volke. Die profeet Daniël het voorspel dat ‘die God van die hemel ’n koninkryk sal verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie’. Hierdie Koninkryk, voeg hy by, “sal al daardie koninkryke [aardse regerings] verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Daniël 2:44). Hierdie woorde toon dat God se Koninkryk sy bewind oor die hele aarde sal bevestig. Die Koninkryk sal mededinging uit die weg ruim deur van nasionale grense ontslae te raak. Aangesien sy onderdane “deur die HERE geleer” sal wees, sal hulle vrede boonop “groot wees” (Jesaja 54:13). Dit is geen wonder dat Jesus gesê het ons moet hierdie bede tot God rig nie: “Laat u koninkryk kom”!—Mattheüs 6:10.
Godsdienstige hindernisse word uit die weg geruim
God sal ook godsdienstige hindernisse wat in die weg van vrede staan uit die weg ruim. Godsdiens was die oorsaak van die langste gewapende konflik in die geskiedenis—die Kruistogte, of “Heilige Oorloë”, wat pous Urbanus II in 1095 G.J. van stapel gestuur het.a In ons eeu het die geestelikes ’n groot aandeel daaraan gehad om volksteun vir oorloë te werf, selfs vir dié wat heeltemal sekulêr van aard was.
Die geskiedkundige Paul Johnson het die volgende oor die rol van nominale Christelike kerke tydens die Eerste Wêreldoorlog geskryf: “Die geestelikes kon nie, en wou meestal nie, die Christelike geloof bo nasionaliteit stel nie. Die meeste het die maklike uitweg gekies en die Christelike geloof met patriotisme gelykgestel. Christensoldate van alle gelowe is aangespoor om mekaar in die naam van hulle Verlosser dood te maak.”
Godsdiens het meer gedoen om oorloë aan te stook as om vrede te bevorder. Trouens, die Bybel beeld valse godsdiens af as ’n “hoer” wat die wêreld se leiers probeer behaag (Openbaring 17:1, 2). God veroordeel haar as die een wat die meeste skuld dra vir die vergieting van die bloed van almal wat op die aarde gedood is (Openbaring 18:24). Jehovah God sal gevolglik hierdie hindernis in die weg van vrede eens en vir altyd vernietig.—Openbaring 18:4, 5, 8.
Selfs al bestaan sulke verdelende elemente soos die politiek en valse godsdiens nie meer nie, sal daar nooit blywende vrede wees tensy die grootste oorlogstoker van almal—Satan die Duiwel—uit die weg geruim word nie. Dit is die finale taak wat God se Koninkryk sal onderneem as deel van sy program om algehele vrede op die aarde te bewerkstellig. Die Bybelboek Openbaring verduidelik dat Satan “gegryp” en “gebind” en “in die afgrond gewerp” sal word sodat ‘hy die nasies nie meer sal kan verlei nie’. Daarna sal hy heeltemal vernietig word.—Openbaring 20:2, 3, 10.
Die Bybel se belofte dat oorloë tot ’n einde sal kom, is nie ’n vergeefse droom nie. Jehovah God het reeds sy plan vir vrede in werking gestel. Sy Koninkryk is in die hemel opgerig en is slaggereed om verdere stappe te doen om wêreldwye vrede te waarborg. Intussen het miljoene Getuies van Jehovah, wat hulle steun aan hierdie hemelse regering verleen, geleer om in vrede te leef.
Ons het dus inderdaad gegronde redes om te glo dat oorloë nie onvermydelik is nie. Nog beter, ons kan uitsien na die dag in die nabye toekoms wanneer Jehovah oorloë vir ewig sal laat ophou (Psalm 46:10). Hy sal toesien dat daar binnekort ’n wêreld sonder oorloë is.
[Voetnoot]
a Soms het godsdiensleiers self krygsmanne geword. In die Slag van Hastings (1066) het die Katolieke biskop Odo sy daadwerklike betrokkenheid geregverdig deur die septer te swaai en nie ’n swaard nie. Hy het beweer dat dit vir ’n man van God geoorloof is om iemand dood te maak, solank hy nie self bloed vergiet nie. Vyf eeue later het kardinaal Ximenes persoonlik ’n Spaanse inval in Noord-Afrika aangevoer.
[Prent op bladsy 7]
Jy kán in ’n nuwe wêreld sonder oorloë woon