Goddelike onderrigting oefen ’n kragtige invloed uit
1 Hoe bevoorreg is ons tog om van die Goddelike Wese, ons Skepper, Jehovah God, onderrigting te ontvang! (Ps. 50:1, NW; Jes. 30:20b, NW). Vandag stroom menigtes uit alle nasies na sy berg van ware aanbidding om deur hom geleer te word (Miga 4:2). Miljoene ander skryf by skole in wat menslike denke en wêreldse wysheid verhef. Maar die wysheid wat Jehovah en sy geskrewe Woord ignoreer, is dwaas in God se oë, en diegene wat daardeur gelei word, word onverstandig.—Ps. 14:1; 1 Kor. 1:25.
2 Die tema “Goddelike Onderrigting” sal hierdie jaar deur ons hele streekbyeenkomsprogram beklemtoon word. Ons sal leer dat God se Woord saam met sy gees ons in ’n wêreldwye broederskap verenig, ons persoonlikheid vorm, ons teen demoniese leringe beskerm en ons oplei om beter bedienaars te wees. Sal jy by een van hierdie byeenkomste wees sodat jy persoonlik by Goddelike onderrigting baat kan vind?
3 Uitwerking op die Christelike lewe: Goddelike onderrigting help ons om ons gewete te vorm. Almal word met ’n gewete gebore, maar dit moet opgelei word sodat dit ons in die weg van regverdigheid kan lei en in diens wat Jehovah behaag (Ps. 19:8, 9; Rom. 2:15). Wêreldse mense het nie hulle denke ooreenkomstig God se Woord gevorm nie, en daarom is hulle verward en onseker oor wat reg en wat verkeerd is. Twiste woed oor sedelike en etiese geskille omdat elkeen daarop aandring om te doen wat reg is in sy oë. Die meeste wil algehele vryheid hê om oor hulle eie lewensweg te besluit. Hulle weier om op die enigste bron van ware wysheid ag te slaan (Ps. 111:10; Jer. 8:9; Dan. 2:21). Maar Goddelike onderrigting het sulke geskille vir ons opgelos, en ons bly verenig as die huis van God omdat ons deur hom geleer word. Ons gaan met vertroue die toekoms met ’n goeie gewete tegemoet, terwyl ons in ons bediening besig bly.
4 Goddelike onderrigting help ons om “elke wind van lering” te weerstaan (Ef. 4:14). Die studie van filosofie wat mense foutsoekerig en skepties maak, selfbeskikking aanmoedig en tot sedelike verval lei, beïndruk ons nie. Ons is verheug om deur Jehovah geleer te word, en ons vermy dus die hartseer en verdriet wat baie ervaar. Jehovah se wette en herinneringe is soos ‘’n woord agter ons’ wat sê: “Dit is die weg, wandel daarop!”—Jes. 30:21.
5 Ons vergaderinge en bediening: Ons beskou Hebreërs 10:23-25 as ’n bevel van God af. By die gemeentelike vergaderinge word ons deur Jehovah geleer. Is dit ons gewoonte om altyd by die vergaderinge te wees of beskou ons vergaderinge as minder belangrik? Onthou, om saam te vergader is deel van ons aanbidding. Dit moet nie as opsioneel beskou word nie. Ons kan dit nie bekostig om enige deel van die geestelike voedingsprogram te mis wat Jehovah vir ons voorberei het nie.
6 Moses het tot God gebid: “Leer ons om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart mag bekom!” (Ps. 90:12). Is dit ook ons bede? Waardeer ons elke kosbare dag? As dit die geval is, sal ons “’n wyse hart bekom” deur elke dag nuttig te bestee tot die verheerliking van ons Groot Onderrigter, Jehovah God. Goddelike onderrigting sal ons help om dit te doen.