“Die hand van Jehovah” in my lewe
SOOS VERTEL DEUR LAWRENCE THOMPSON
EEN aand in 1946 het ek en my pa in die motor gesit en kyk hoe die noorderligte in die hemel dans. Ons het oor Jehovah se grootsheid en ons nietigheid gesels. Ons het episodes herleef uit die jare toe die werk van Jehovah se Getuies in Kanada verbied was. Pa het my dit op die hart gedruk hoe Jehovah Sy volk deur daardie jare heen nderskraag en gelei het.
HOEWEL ek maar 13 was, het ek besef hoe waar Pa se woorde is. Hy het my ook die dringendheid en die ontsaglike omvang van die predikingswerk wat nog gedoen moes word op die hart gedruk. Pa het Numeri 11:23 aangehaal en beklemtoon dat Jehovah se hand nooit te kort is nie. Net ons gebrek aan geloof en vertroue in hom beperk wat hy vir ons sal doen. Dit was ’n kosbare gesprek tussen vader en seun—een wat ek nooit sal vergeet nie.
Die bestudering van die Wagtoringpublikasies, veral die boek Redding, wat in 1939 uitgegee is, het ook ’n groot invloed op my lewe gehad. Ek sal die boek se dramatiese inleidingsillustrasie nooit vergeet nie: “Die vaartbelynde sneltrein is oorlaai met passasiers; dit snel voort teen ’n honderd myl [160 km] per uur. Dit moet die rivier by ’n brug oor wat ’n draai van byna vyftig persent maak, sodat die persone op die agterste balkon van die trein die lokomotief kon sien. . . . Twee manne . . . het op die agterste balkon van die uitsigwa gereis . . . [en het] tot hulle verbasing bemerk . . . hoe ’n spanwydte van die brug aan die oorkant van die rivier aan die brand is en in die rivier tuimel. Hulle besef dat ’n groot gevaar hulle in die aangesig staar. Dit was ’n ware noodtoestand. Kon die trein betyds tot stilstand gebring word om die lewens van die groot aantal passasiers wat aan boord was, te red?”
Die boek het die illustrasie toegepas en só afgesluit: “So ook vandag, wanneer al die nasies en volke van die aarde van aangesig tot aangesig verkeer met die grootste noodtoestand. Hulle word gewaarsku volgens Gods gebod, dat die ramp van Armageddon net voor die deur staan. . . . Noudat hulle gewaarsku is, moet elkeen wat so gewaarsku word, die gedragslyn kies wat hy wil volg.”
Die voortsnellende trein, die brandende brug en die dringendheid van die predikingswerk is onuitwisbaar in my verstand ingeprent.
Vroeë predikingsbedrywigheid
Ek het in 1938, toe ek vyf was, aan die predikingswerk begin deelneem. Henry en Alice Tweed, twee pioniers (voltydse bedienaars), het my gewoonlik saam met hulle geneem, en dan het ons 10 tot 12 uur lank per dag met mense gesels. Ek het daardie vol dae in Jehovah se diens terdeë geniet. Ek was dus in ekstase toe Pa en Ma die volgende jaar toegelaat het dat ek ’n verkondiger word en my eie bedrywigheid rapporteer.
Destyds het ons aan inligtingsoptogte deelgeneem en in die hoofstrate van dorpe afgestap met plakkate waarop daar slagspreuke was wat valse godsdiens blootgelê en God se Koninkryk geadverteer het. Ons het ook draagbare grammofone gebruik en Bybelse boodskappe op huisbewoners se drumpel gespeel. Ons het toesprake van J. F. Rutherford, die Wagtoringgenootskap se president, gespeel, waarvan ek sommige uit die hoof geken het. Ek kan hom nog hoor sê: “Daar is al dikwels gesê: Religie is ’n strik en ’n bedrogspel!”
Ons werk word in Kanada verbied
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is die werk van Jehovah se Getuies in Kanada, soos in Nazi-Duitsland en ander lande, verbied. Ons het dus net die Bybel gebruik, maar het in gehoorsaamheid aan die Bybelopdrag aangehou met die werk wat God aan ons opgedra het (Mattheüs 28:19; Handelinge 5:29). Ons het geleer om met polisieklopjagte op ons vergaderinge en ons huise saam te leef. Ons het ook bedrewe daarin geraak om voor regters te getuig en kruisvraers te antwoord.
Ek en my broer Jim was naderhand uitstekend daarmee om boekies uit bewegende voertuie op mense se drumpels en stoepe te gooi. Daarbenewens het ons as koeriers gedien en soms as wagte vir diegene wat die grens oorgesteek het om byeenkomste in die Verenigde State by te woon.
Ons huis was aan die buitewyke van Port Arthur (nou Thunder Bay), Ontario, op ’n paar hektaar wat deur bome en bosse omring was. Ons het ’n koei, ’n kalf, varke en hoenders gehad—wat alles as goeie kamoeflering gedien het vir ons werk om jong mede-Christene te help wat agtervolg is sodat hulle opgesluit kon word omdat hulle God se Koninkryk verkondig.
Snags het motors, vragmotors en sleepwaens met jong Christene by ons afgeleë erf in- en uitgery. Ons het hierdie jongmense gehuisves, vir hulle wegkruipplek gegee, hulle vermom en hulle van voedsel voorsien sodat hulle verder kon gaan. My pa en ma, asook daardie vroeë werkers, was heelhartige knegte wat my jong hart gevorm het om Jehovah God te dien en lief te hê.
In Augustus 1941 het ek my lewe aan Jehovah toegewy en is ek in ’n meertjie diep in die woud gedoop. ’n Klomp van ons het laat die nag in ’n hut by lamplig vir hierdie geleentheid bymekaargekom. Die polisie was blykbaar agterdogtig en het die plek gepatrolleer en heeltyd met soekligte heen en weer oor die meer gegaan, maar hulle kon ons nie opspoor nie.
Baie fasette van die voltydse bediening
In 1951 het ek my hoërskoolloopbaan voltooi en byna 1 600 kilometer gereis om by my pioniertoewysing in Cobourg, Ontario, te kom. Die gemeente was klein, en ek het nie ’n pioniermaat gehad nie. Maar met die wete dat Jehovah se hand nie te kort is nie, het ek ’n kamer gehuur, self kos gekook en Jehovah vreugdevol gedien. Die volgende jaar is ek genooi om by die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Toronto te dien. Daar het ek talle waardevolle lesse geleer wat my vir toekomstige Koninkryksdiens voorberei het.
Nadat ek meer as ’n jaar as ’n pionier in Toronto gedien het, is ek en Lucy Trudeau getroud, en in die winter van 1954 het ons ’n pioniertoewysing in Levis, Quebec, ontvang. Dit was bitterlik koud, die gepeupel en polisieteistering was intimiderend en dit was ’n uitdaging om Frans te leer. Deur al hierdie dinge was Jehovah se hand nooit te kort nie, en hoewel ons moeilike tye deurgemaak het, het ons ook baie seëninge geniet.
Ons is byvoorbeeld gevra om twee skepe te inspekteer (die Arosa Star en die Arosa Kulm) wat die Genootskap wou gebruik om byeenkomsgangers in 1955 na die groot internasionale Europese byeenkomste te neem. Die bestuurders van rederye wat gretig was om met die Genootskap sake te doen, het soms aan ons gasvryheid betoon—’n aangename verandering van die spanningsvolle bediening destyds in Quebec.
In die herfs van 1955 is ek genooi om as ’n reisende opsiener te dien, en daardie winter het ons afgeleë gemeentes in die yskoue noordelike Ontario besoek. Die daaropvolgende jaar het ons die Wagtoring-Bybelskool Gilead in die Verenigde State bygewoon, en daarna is ons as sendelinge na Brasilië, Suid-Amerika, gestuur.
Ons het ons met hart en siel op ons nuwe toewysing toegelê en kon spoedig die predikings- en onderrigtingswerk in Portugees doen. Vroeg in 1957 is ek weer as reisende opsiener aangestel. Nou het ons, in plaas van die yskoue weer van die Noorde, met skroeiende hitte te kampe gehad. Ons moes dikwels stop om vuurwarm sand uit ons skoene te verwyder of suikerriet afsny om aan te kou sodat ons ons kragte kon hernieu. Maar daar was seëninge.
In die dorp Regente Feijo het ek met die polisiehoof gesels, en hy het beveel dat al die winkels toemaak en gesê dat almal na die dorpsplein moet gaan. In die skaduwee van ’n breëblaar-blomboom het ek vir al die dorpsmense ’n Bybeltoespraak gehou. Vandag is daar ’n gemeente Getuies.
Ons maak ons kinders in Brasilië groot
Toe Lucy in 1958 swanger geraak het, het ons in Juiz de Fora gaan woon en as spesiale pioniers gedien. Gedurende die volgende twee jaar is ons dogters Susan en Kim gebore. Hulle was ’n ware seën in die bediening en het die belangstelling van die dorp gaande gehad. Wanneer ons hulle stootwaentjies in die keisteenstrate gestoot het, het die mense uitgekom om na hulle te kyk. Aangesien daar ’n groot behoefte was aan Koninkryksverkondigers in Recife, net suid van die ewenaar, het ons na daardie snikhete plek verhuis.
Ek het in 1961 nie net met die vliegreëlings gehelp vir Getuies wat na die byeenkoms in Sao Paulo gegaan het nie, maar ek kon self ook daardie onvergeetlike byeenkoms bywoon. Maar ongeveer 20 minute nadat ons opgestyg het, het die vliegtuig vinnig begin neertol en die passasiers is in die kajuit rondgegooi. Die binnekant van die vliegtuig was ’n wrak; sitplekke is losgeruk en passasiers was vol kneusplekke en bloed. Gelukkig kon die vlieënier die vliegtuig weer onder beheer kry en het ons veilig geland. Nie een van ons was so erg beseer dat ons nie met ’n ander vliegtuig na Sao Paulo toe kon gaan nie. Ons het ’n wonderlike byeenkoms geniet, maar ek het gesê dat ek nooit weer sou vlieg nie!
Toe ek egter ná die byeenkoms tuisgekom het, het daar ’n ander toewysing op my gewag. Ek moes na ’n byeenkoms diep in die woud by Teresina, in die staat Piaui, omsien. Ek sou daarheen moes vlieg. Hoewel ek baie bang was, het ek die toewysing aanvaar en op Jehovah se hand vertrou.
In 1962 is ons seun, Greg, in Recife gebore. Hoewel ek vanweë my groeiende gesin nie meer as pionier kon dien nie, kon ek ’n positiewe invloed op die gemeentetjie uitoefen. Die kinders het altyd graag saam met ons in die bediening gewerk, aangesien ons dit vir hulle interessant gemaak het. Hulle kon almal sedert hulle drie was ’n aanbieding by die deure doen. Ons het dit ’n gewoonte gemaak om nooit van vergaderinge of velddiensreëlings af weg te bly nie. Selfs wanneer ’n gesinslid siek was en een van die ander saam met hom by die huis gebly het, het die res die vergadering bygewoon of aan die veldbediening deelgeneem.
As ’n gesin het ons gereeld deur die jare heen die kinders se skoolvakke en hulle doelwitte in die lewe bespreek en hulle vir ’n loopbaan in Jehovah se organisasie voorberei. Ons was versigtig om hulle nie aan afbrekende invloede, soos televisie, bloot te stel nie. Ons het nie ’n TV in ons huis gehad voor die kinders in hulle tienderjare was nie. En hoewel ons die geld gehad het, het ons hulle nie met materiële dinge bederf nie. Ons het byvoorbeeld net een fiets gekoop wat hulle al drie moes gebruik.
Ons het soveel dinge moontlik saam gedoen, soos om korfbal te speel, te swem en op gesinsuitstappies te gaan. Die bywoning van Christelike byeenkomste of besoeke aan Bethelhuise in verskillende lande het deel van ons reise uitgemaak. Hierdie reise het ons die tyd gegee om openlik met mekaar te gesels sodat ek en Lucy kon vasstel wat in ons kinders se harte is. Ons is Jehovah so dankbaar vir daardie genotvolle jare!
Ons tien jaar in die Trope naby die ewenaar het eindelik Lucy se gesondheid aangetas. Ons het dus ’n verandering van toewysing na die meer gematigde klimaat van die suide, by Curitiba, in die staat Paraná, verwelkom.
Ons keer terug na Kanada
In 1977, ná ongeveer 20 jaar in Brasilië, het ek en Lucy met ons kinders na Kanada teruggekeer om my siek vader te help versorg. Wat ’n kultuurskok was dit tog vir ons gesin! Maar geestelik was dit nie ’n skok nie, aangesien ons ons selfde roetine met ons liefdevolle Christenbroederskap behou het.
In Kanada het die voltydse bediening ’n gesinsaangeleentheid geword toe ons dogters die een ná die ander die voltydse pionierbediening betree het. Ons het almal tot ons gesinsonderneming bygedra. Enige geld wat deur deeltydse werk verdien is, is bymekaargesit sodat ons ons huis en die drie motors wat nodig was om die verspreide gebied te dek aan die gang kon hou. Elke week ná die gesinsbybelstudie het ons ons gesinsplanne bespreek. Hierdie besprekings het almal in staat gestel om te weet wat ons doelwitte is.
Ons seun, Greg, het ook, soos sy ouer susters, die voltydse bediening as sy doelwit gestel. Hy het sedert hy vyf was die begeerte uitgespreek om by ’n takkantoor van die Genootskap, wat Bethel genoem word, te dien. Hy het daardie doelwit nooit uit die oog verloor nie, en nadat hy sy hoërskoolloopbaan voltooi het, het hy vir my en sy ma gevra: “Dink pa-hulle ek moet vir Bethel aansoek doen?”
Hoewel dit vir ons baie moeilik was om ons seun te laat gaan, het ons sonder aarseling gesê: “Jy sal nooit die hand van Jehovah so ervaar soos by Bethel nie—die hart van Jehovah se organisasie.” Binne twee maande was hy op pad na die Kanadese Bethel. Dit was in 1980, en hy dien steeds daar.
Die tagtigerjare het nuwe uitdagings vir my en Lucy ingehou. Ons was weer waar ons begin het—net die twee van ons. Teen daardie tyd was Susan getroud en het sy saam met haar man pionierdiens gedoen, en Kim en Greg het albei in Bethel gedien. Wat sou ons doen? Daardie vraag is in 1981 spoedig beantwoord toe ons genooi is om op ’n Portugese kring te dien wat sowat 2 000 kilometer oor Kanada uitgestrek gelê het. Ons geniet steeds die reisende werk.
Kim is sedertdien getroud en het Gilead bygewoon, en sy dien nou saam met haar man in die kringwerk in Brasilië. Susan en haar man is nog in Kanada waar hulle hulle twee kinders grootmaak en waar Susan se man pionierdiens doen. Hoewel ons gesin in onlangse jare fisies van mekaar geskei is vanweë ons verskillende toewysings in die voltydse bediening bly ons geestelik en emosioneel na aan mekaar.
Ek en Lucy sien uit na ’n gelukkige toekoms saam met ons gesin op die gereinigde aarde (2 Petrus 3:13). Soos Moses van die ou tyd het ons eerstehands ervaar hoe waar die antwoord is op die retoriese vraag in Numeri 11:23: “Sou die hand van die HERE te kort wees? Nou sal jy sien of my woord vir jou uitkom of nie.” Niks kan Jehovah inderdaad keer om sy knegte vir hulle heelhartige diens te seën nie.
[Prent op bladsy 25]
Saam met my vrou, Lucy