Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 3/15 bl. 21-23
  • “Voed die mond, nie die voete nie”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Voed die mond, nie die voete nie”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Tradisionele begrafnisgebruike
  • Tradisionele opvattings in Afrika
  • Wat die Bybel sê
  • Waarom tree party verskillend op?
  • Moet die dooies vereer word?
    Ontwaak!—1999
  • Die Christelike beskouing van begrafnisgebruike
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Waar is ons voorouers?
    Die weg na die ewige lewe—Het jy dit gevind?
  • Pas op vir gebruike wat God mishaag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 3/15 bl. 21-23

“Voed die mond, nie die voete nie”

’n Kykie na tradisionele begrafnisgebruike in Afrika

“HULLE begrawe nie hulle dooies nie!” Dit word gewoonlik van Jehovah se Getuies in Wes-Afrika gesê. Tog is dit ’n bekende feit dat die Getuies wel hulle dooies begrawe.

Waarom sê mense dat Jehovah se Getuies nie hulle dooies begrawe nie? Hulle sê so omdat die Getuies baie van die algemene, plaaslike begrafnisgebruike nie nakom nie.

Tradisionele begrafnisgebruike

Aliu woon in ’n klein dorpie in Sentraal-Nigerië. Toe sy ma gesterf het, het hy sy familielede van haar dood in kennis gestel en toe gereël dat ’n Bybeltoespraak in haar huis gehou word. Die toespraak is deur ’n ouere man van die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies gehou en het die aandag gevestig op die toestand van die dooies en die bemoedigende opstandingshoop waarvan die Bybel praat. Ná die toespraak is Aliu se ma begrawe.

Die familielede was hoogs verontwaardig. Vir hulle is ’n begrafnis nie volledig sonder ’n lykwaak nie, wat gewoonlik die nag ná iemand se dood gehou word. In Aliu se gemeenskap is ’n lykwaak ’n tyd om fees te vier, nie om te rou nie. Die lyk word gewas, in wit geklee en op ’n bed uitgelê. Die bedroefde familie laat musikante kom, koop kaste bier en kanne palmwyn en reël dat ’n bul of ’n bok geoffer word. Dan daag die familielede en vriende op, en hulle sing, dans, eet en drink tot sonop die volgende dag.

Gedurende hierdie feestelikhede word voedsel by die lyk se voete geplaas. Stukkies van die dooie persoon se hare, vingernaels en toonnaels word afgesny en vir die “tweede begrafnis” gebêre. Dit vind dae, weke of selfs jare later plaas.

Die dag ná die lykwaak word die lyk begrawe, maar die begrafnisplegtighede hou ’n week of langer aan. Later vind die tweede begrafnis plaas. Die stukkies hare, vingernaels en toonnaels word in ’n wit lap toegedraai, wat aan ’n houtplank van 1,5-1,8 meter vasgemaak word. Terwyl die stoet sing en dans, word die plank na die begraafplaas gedra en naby die persoon begrawe wat daardeur verteenwoordig word. Weer eens word daar baie musiek gemaak, gedrink en feesgevier. Om die begrafnisverrigtinge af te sluit, word ’n geweer een keer in die lug afgevuur.

Aangesien Aliu niks hiervan toegelaat het nie, is hy daarvan beskuldig dat hy nie respek vir die dooies of die tradisies tot eer van hulle het nie. Maar waarom het Aliu, ’n Getuie van Jehovah, geweier om tradisies te volg? Omdat sy gewete hom nie toegelaat het om die godsdiensidees te aanvaar waarop hierdie tradisies gegrond is nie.

Tradisionele opvattings in Afrika

Mense regoor Afrika glo dat alle mense uit die geesteryk kom en daarheen terugkeer. Die Joroebas van Nigerië sê: “Die aarde is ’n mark, maar die hemel is ons tuiste.” En die Ibo’s het die volgende gesegde: “Elkeen wat gebore word, sal eindelik weer huis toe moet gaan, ongeag hoe lank hy op die aarde vertoef.”

Dink aan die gebruike wat vroeër gemeld is. Die doel van ’n lykwaak is om die gees ’n goeie afskeid te gee. Wit klere word as gepaste drag vir die geesteryk beskou. Voedsel word by die voete neergesit omdat hulle glo dat die lyk deur sy twee bene eet en gevoed moet word sodat hy nie honger raak op sy reis na die land van die voorouers nie.

Daarbenewens glo die mense oor die algemeen dat die gees, wanneer dit die liggaam verlaat, naby die lewendes bly en nie na die voorouers terugkeer totdat dit eindelik deur die tweede begrafnis bevry word nie. Mense is bang dat die gees kwaad sal word en die lewendes met siekte of die dood sal tref as die tweede begrafnis nie gehou word nie. Die geweer word afgevuur om “die gees weg te stuur” hemel toe.

Hoewel begrafnisgebruike grootliks van plek tot plek in Afrika verskil, is die hoofopvatting gewoonlik dat die gees ná die dood van die liggaam voortlewe. Die hoofdoel van die rituele is om die gees te help om “huis toe” te gaan.

Hierdie opvattings en gebruike word aangemoedig deur die Christendom se leerstelling van die onsterflikheid van die mensesiel en sy verering van “heiliges”. ’n Tipiese kommentaar is dié van ’n weermagskapelaan in Swaziland wat gesê het dat Jesus nie gekom het om tradisionele opvattings te vernietig nie, maar om dit te vervul of te bevestig. Aangesien die geestelikes gewoonlik die leiding tydens begrafnisverrigtinge neem, glo baie mense dat die Bybel tradisionele opvattings en die gebruike wat daaruit voortspruit, steun.

Wat die Bybel sê

Steun die Bybel hierdie opvattings? Prediker 3:20 sê oor die toestand van die dooies: “Alles [mense sowel as diere] gaan na een plek toe; alles is uit die stof, en alles keer na die stof terug.” Die Skrif sê ook: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie . . . Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn . . . Daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.”—Prediker 9:5, 6, 10.

Hierdie en ander tekste toon duidelik dat die dooies ons nie kan sien of hoor of help of kwaad aandoen nie. Strook dit nie met wat jy al gesien het nie? Jy weet dalk van ’n ryk en invloedryke man wat gesterf het en wie se gesin daarna gely het hoewel hulle die gebruiklike begrafnisplegtighede ten volle nagekom het. Indien daardie man in die geesteryk lewe, waarom help hy dan nie sy gesin nie? Hy kan nie, want wat die Bybel sê, is waar—die dooies is beslis leweloos, “magteloos in die dood”, en daarom is hulle nie in staat om enigiemand te help nie.—Jesaja 26:14, NW.

Die Seun van God, Jesus Christus, het geweet dat dit waar is. Let op wat ná Lasarus se dood gebeur het. Die Bybel sê: “Daarna sê Hy [Jesus] vir hulle [sy dissipels]: Lasarus, ons vriend, slaap [“rus”, NW]; maar Ek gaan om hom wakker te maak. Sy dissipels sê toe: Here, as hy slaap, sal hy gesond word. Maar Jesus het gespreek van sy dood.”—Johannes 11:11-13.

Let op dat Jesus die dood met slaap, met rus, vergelyk het. Toe hy in Betanië aangekom het, het hy Lasarus se susters Maria en Martha getroos. Jesus was baie bewoë en het geween. Maar hy het niks gesê of gedoen wat te kenne gegee het dat Lasarus se gees nog geleef het en hulp nodig gehad het om die land van sy voorouers te bereik nie. Jesus het eerder gedoen wat hy gesê het hy sou. Hy het Lasarus deur middel van ’n opstanding uit die slaap van die dood gewek. Dit het bewys dat God Jesus mettertyd gaan gebruik om almal in die gedenkgrafte ’n opstanding te gee.—Johannes 11:17-44; 5:28, 29.

Waarom tree party verskillend op?

Is dit dan verkeerd om begrafnisgebruike te volg wat op onskriftuurlike opvattings gegrond is? Aliu en miljoene ander Getuies van Jehovah glo dat dit verkeerd is. Hulle weet dit sal verkeerd—selfs huigelagtig—wees as hulle enige gebruik steun wat klaarblyklik op valse en misleidende leerstellings gegrond is. Hulle wil nie soos die skrifgeleerdes en die Fariseërs wees wat weens hulle godsdienshuigelary deur Jesus veroordeel is nie.—Mattheüs 23:1-36.

Die apostel Paulus het sy medewerker Timotheüs gewaarsku: “Die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels [“demone”, NW] sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars” (1 Timotheüs 4:1, 2). Is die konsep dat die mensdom se dooies in ’n geesteryk lewe ’n lering van demone?

Ja, dit is. Satan die Duiwel, ‘die vader van die leuen’, het vir Eva gesê dat sy nie sal sterf nie en het daardeur te kenne gegee dat sy as ’n mens sou bly lewe (Johannes 8:44; Genesis 3:3, 4). Dit was nie dieselfde as om te sê dat ’n onsterflike siel ná die dood van die liggaam voortlewe nie. Maar Satan en sy demone probeer mense van die waarheid van God se Woord weglei deur die gedagte te bevorder dat die lewe ná die dood voortduur. Omdat Jehovah se Getuies glo wat God in die Bybel sê, het hulle niks te doen met beskouings en gebruike wat Satan se leuens steun nie.—2 Korinthiërs 6:14-18.

Deur onskriftuurlike begrafnisgebruike te vermy, het Jehovah se knegte in onguns geraak by sommige wat nie met hulle beskouings saamstem nie. Party Getuies is al onterf. Ander is deur hulle familie verstoot. Maar as ware Christene besef hulle dat getroue gehoorsaamheid aan God die wêreld se onguns meebring. Soos die lojale apostels van Jesus Christus, is hulle vasbeslote om “aan God meer gehoorsaam [te] wees as aan die mense”.—Handelinge 5:29; Johannes 17:14.

Hoewel ware Christene die nagedagtenis aan hulle geliefdes wat gesterf het, koester, strewe hulle daarna om liefde aan die lewendes te betoon. Aliu het sy ma byvoorbeeld ná sy pa se dood by hom laat intrek en haar vir die res van haar lewe gevoed en vir haar gesorg. Wanneer ander sê dat Aliu nie vir sy ma omgegee het nie omdat hy haar nie volgens volksgebruik begrawe het nie, verwys hy na hierdie bekende gesegde onder sy volk: “Voed my mond voordat julle my voete voed.” Om die mond te voed, of vir iemand te sorg terwyl hy of sy nog lewe, is baie belangriker as om die voete te voed—die gebruik wat vroeër beskryf is en met die lykwaak ná iemand se dood verband hou. Trouens, dit help die afgestorwene niks as sy voete gevoed word nie.

Aliu vra vir die wat hom kritiseer: ‘Wat sal jy verkies—dat jou gesin vir jou sorg wanneer jy oud is of dat hulle ná jou dood vir jou ’n groot fees hou?’ Die meeste sê dat hulle versorg wil word terwyl hulle nog lewe. Hulle waardeer ook die wete dat hulle, wanneer hulle sterf, ’n waardige, Bybelse gedenkdiens en ’n eerbare begrafnis sal hê.

Dit is wat Jehovah se Getuies vir hulle geliefdes probeer doen. Hulle voed die mond, nie die voete nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel