’n Beter wêreld—Op hande!
“DIE hunkering na die paradys is een van die kragtige hunkerings wat mense blykbaar voortdurend bybly. Dit is moontlik die kragtigste en blywendste hunkering wat daar is. ’n Sekere verlange na die paradys kom op alle vlakke van die godsdienslewe voor”, sê The Encyclopedia of Religion.
Alle kulture het blykbaar die begeerte na ’n beter wêreld met mekaar gemeen—asof hulle treur oor ’n oorspronklike ideaal wat nie meer bestaan nie. Dit dui op die moontlikheid dat daar ’n oorspronklike paradys bestaan het, maar waar? ’n Psigoanalis sê moontlik dat hierdie begeerte daarop dui dat die mens na die verlore veiligheid van die baarmoeder terugverlang. Maar hierdie verduideliking oortuig nie die geleerdes wat die godsdiensgeskiedenis bestudeer nie.
“Hunkering na die paradys”—Waarom?
Sommige meen dat hierdie hunkering bloot bestaan om die probleme en die kortstondigheid van die menselewe draagliker te maak—maar is dit so? Of is daar ’n ander verduideliking?
Waarom smag die mens na ’n beter wêreld? Die Bybel gee ’n verduideliking wat net so duidelik is as wat dit eenvoudig is: Die mens kom van ’n beter wêreld af! Daar het wel oorspronklik ’n paradys bestaan. God se Woord beskryf dit as “’n tuin” wat in ’n spesifieke gebied in die Midde-Ooste geleë was en met “allerhande bome . . . begeerlik om te sien en goed om van te eet”, geseën was. God het die versorging daarvan aan die eerste mensepaar toevertrou (Genesis 2:7-15). Dit was ’n ideale omgewing waarin mense waarlik gelukkig kon wees.
Waarom het daardie Paradystoestande nie voortgeduur nie? Weens die opstand, eers van ’n geesskepsel, en daarna van die mensepaar (Genesis 2:16, 17; 3:1-6, 17-19). Die mens het gevolglik nie net die Paradys verloor nie, maar ook volmaaktheid, gesondheid en eindelose lewe. Die toestande wat begin heers het, het beslis nie die mens se lewe verbeter nie. Inteendeel, dit het progressief versleg tot die algehele laagtepunt wat ons vandag sien.—Prediker 3:18-20; Romeine 5:12; 2 Timotheüs 3:1-5, 13.
Die soeke na die Paradys—die geskiedenis van ’n idee
Soos ’n mens jou kan voorstel, het “die hunkering na die paradys” ’n baie lang geskiedenis. Die Soemeriërs was bewus van ’n tyd toe daar oral in die heelal harmonie was: “Daar was geen vrees en verskrikking nie en die mens het geen mededinger gehad nie. . . . Die ganse heelal, alle mense, het Enlil eendragtig in dieselfde taal geloof”, het ’n ou Mesopotamiese gedig gesê. Party, soos die eertydse Egiptenaars, het gehoop om ná hulle dood na ’n beter wêreld toe te gaan. Hulle het geglo dat ’n onsterflike siel na die sogenoemde land van Aaru toe gaan. Maar aanvanklik het net die aristokrasie hierdie hoop gehad; vir die armes is daar geen hoop gebied om ’n gelukkige wêreld te bereik nie.
Die Hindoes weer wag al eeue op die koms van ’n beter wêreldeeu (joega). Volgens Hindoeleringe herhaal vier joegas hulle in ’n voortdurende kringloop en lewe ons tans in die ergste joega. Ongelukkig sal hierdie Kali-joega (donker eeu), met al sy lyding en goddeloosheid, volgens sommige tot 432 000 jaar duur. Getroue Hindoes wag nogtans op die goue eeu, die Krita-joega.
Daarteenoor het die Grieke en die Romeine daarvan gedroom om die mitiese Gelukkige Eilande in die Atlantiese Oseaan te bereik. En baie skrywers, soos Hesiodos, Vergilius en Ovidius, het van ’n wonderlike, oorspronklike goue eeu gepraat en gehoop dat dit eendag herstel sou word. Teen die einde van die eerste eeu v.G.J. het die Latynse digter Vergilius voorspel dat die koms van ’n nuwe en blywende aetas aurea (goue eeu) op hande is. In die daaropvolgende eeue “het nie minder nie as sestien Romeinse keisers beweer dat hulle heerskappy die Goue Eeu herstel het”, sê The Encyclopedia of Religion. Soos ons egter vandag maar te goed weet, was dit net politieke propaganda.
Baie Kelte het gehunker na wat hulle beskou het as ’n sonnige land op ’n eiland (of in ’n eilandgroep) anderkant die see, waar hulle geglo het mense in volmaakte geluk woon. Volgens een legende het koning Arthur, hoewel hy dodelik gewond was, voortgelewe nadat hy die wonderlike eiland Avalon gevind het.
In die ou tyd en in die Middeleeue het baie gedink dat ’n tuin van letterlike genot, die tuin van Eden, steeds êrens “op ’n onbeklimbare berg of aan die ander kant van ’n onoorkombare oseaan” bestaan, verduidelik die geskiedkundige Jean Delumeau. Hoewel die Italiaanse digter Dante aan ’n hemelse paradys geglo het, het hy gedink dat daar steeds ’n aardse paradys op sy Louteringsberg, aan die ander kant van die aarde as die stad Jerusalem, bestaan. Sommige het geglo dat dit in Asië, in Mesopotamië of in die Himalajagebergte gevind kon word. En daar was ook talle Middeleeuse legendes oor ’n Edeniese paradys. Baie het geglo dat daar naby daardie paradys ’n wonderlike koninkryk was waaroor die vrome Priester Johannes geregeer het. Danksy die nabyheid van die aardse paradys was die lewe in Priester Johannes se koninkryk glo lank en gelukkig, ’n standhoudende bron van oorvloed en rykdom. Ander, wat die antieke Griekse legendes in gedagte gehad het, het steeds gedink dat die eilande van die paradys in die Atlantiese Oseaan aangetref kon word. Middeleeuse kaarte bewys dat mense wel aan die bestaan van die tuin van Eden geglo het, en soms het hulle selfs sy moontlike ligging daarop aangedui.
Seevaarders wat in die 15de en 16de eeu die Atlantiese Oseaan deurkruis het, het in werklikheid na ’n wêreld gesoek wat tegelykertyd nuut en oud was. Hulle het gedink dat hulle Indië asook die tuin van Eden aan die ander kant van die oseaan gaan aantref. Christophorus Columbus het byvoorbeeld tussen die berge van die gematigde en die tropiese lande van Suid- en Sentraal-Amerika na Eden gesoek. As gevolg van Brasilië se matige klimaat en die oorvloed van voedsel en plantegroei was die Europese ontdekkingsreisigers wat daar aangekom het seker dat die verlore paradys dáár moet wees. Maar hulle moes spoedig noodgedwonge die wrede werklikheid aanvaar.
Utopias—Ideale plekke?
Pleks van die ideale wêreld op die een of ander afgeleë plek op aarde te soek, het ander dit probeer beplan. Daarom het die Engelse humanis, Thomas More, in 1516 die eiland Utopia beskryf, ’n wonderlike, vreedsame plek van verdraagsaamheid wat heeltemal anders as die verdorwe wêreld was wat hy geken het. Ander het ook beter wêrelde, regverdiger wêrelde, probeer beplan: in die sesde eeu v.G.J. was dit Plato met sy Republiek; in 1602 was dit die Italiaanse monnik Tommaso Campanella en sy hoogs georganiseerde Stad van die Son; net ’n paar jaar later was dit die Engelse filosoof Francis Bacon wat vertel het van “die gelukkige en welvarende staat” van sy New Atlantis. Deur die eeue heen het allerlei denkers (of hulle nou gelowiges was of nie) tientalle Utopias beskryf. Maar min van hulle, indien enige, is ernstig geneem.
Dan was daar selfs dié wat probeer het om hulle Utopias te bou. In 1824 het ’n ryk Engelsman, Robert Owen, byvoorbeeld besluit om na Indiana, VSA, te immigreer sodat hy sy Utopiese idees kon verwesenlik in die dorpie wat hy New Harmony genoem het. Hy was oortuig dat mense onder die regte omstandighede sou verbeter, en daarom het hy byna al sy middele gebruik om ’n nuwe sedelike wêreld wat hy in die vooruitsig gestel het op te rig. Maar die resultate het getoon dat nuwe lewensomstandighede nie genoeg is om nuwe mense voort te bring nie.
Volgens byna alle politieke ideologieë moet die mens die wêreld volgens sy eie kennis en sy eie sin van waarheid beplan om die verlangde paradys op aarde te bewerkstellig. Maar vreemd genoeg het pogings om sulke strewes te verwesenlik tot oorloë en revolusies gelei, soos die Franse Revolusie in 1789 en die Bolsjewistiese Revolusie in 1917. Pleks van paradystoestande tot stand te bring, het hierdie pogings dikwels groter pyn en lyding tot gevolg gehad.
Strewes, planne, Utopias en pogings om dit te verwesenlik—dit is ’n verhaal van die een teleurstelling na die ander. Tans praat sommige van ’n “verydelde droom” en die “einde van die era van utopias” en nooi hulle ons om te leer “om sonder utopias klaar te kom”. Is daar enige hoop dat ons ’n beter wêreld sal sien of is dit bestem om net ’n droom te bly?
Christene en ’n beter wêreld
’n Nuwe wêreld is glad nie ’n droom nie—dit is ’n vaste hoop! Jesus Christus, die Stigter van die Christelike godsdiens, het geweet dat hierdie huidige wêreld nie die beste wêreld is wat daar kan wees nie. Hy het geleer dat sagmoediges die aarde sal beërwe en dat God se wil daar gedoen sal word (Mattheüs 5:5; 6:9, 10). Hy sowel as sy dissipels het geweet dat hierdie wêreld deur God se vyand, Satan die Duiwel, beheer word en dat dit die vernaamste rede vir die mensdom se talle ellendes is (Johannes 12:31; 2 Korinthiërs 4:4; 1 Johannes 5:19; Openbaring 12:12). Getroue Jode het die dag verwag waarop God die aarde vir eens en vir altyd van oorloë, pyn en siekte sou bevry sodat hy dit met liefhebbers van vrede en geregtigheid kon bevolk. Die eerste-eeuse Christene het eweneens vol vertroue daarop gewag dat hierdie huidige wêreld deur ’n nuwe stelsel van dinge, “nuwe hemele en ’n nuwe aarde”, vervang word.—2 Petrus 3:13; Psalm 37:11; 46:9, 10; Jesaja 25:8; 33:24; 45:18; Openbaring 21:1.
Toe Jesus Christus aan die folterpaal gehang het, het hy die belofte van ’n beter wêreld herhaal aan ’n kwaaddoener wat ’n mate van geloof in Hom getoon het. “[Jesus] het vir hom gesê: ‘Voorwaar, ek sê vir jou vandag: Jy sal saam met my in die Paradys wees’” (Lukas 23:40-43, NW). Hoe het die kwaaddoener daardie woorde verstaan? Het Jesus bedoel dat die kwaaddoener daardie selfde dag ‘saam met hom’ in die hemel sou wees, soos sekere Katolieke en Protestantse Bybelvertalings te kenne wil gee? Nee, dit is nie wat Jesus bedoel het nie, aangesien Jesus ná sy opstanding vir Maria Magdalena gesê het dat Hy ‘nog nie na sy Vader opgevaar het nie’ (Johannes 20:11-18). Hoewel Jesus sy apostels voor Pinkster 33 G.J. drie en ’n half jaar lank onderrig het, het selfs nie eens hulle ’n hemelse paradys verwag nie (Handelinge 1:6-11). Die kwaaddoener het verstaan wat die meeste Jode wat destyds geleef het, sou verstaan het: Jesus het belowe dat ’n beter wêreld op ’n paradysaarde sou kom. Een Duitse geleerde het erken: “Die leerstelling van vergelding in ’n hiernamaals verskyn eenvoudig nie in die Ou Testament nie.”
Die feit dat daar ’n paradys op ons aarde gaan wees, word deur die apostel Paulus in sy brief aan die Hebreërs bevestig. Waar Paulus sy medegelowiges aanmoedig om nie ‘die groot redding te verontagsaam wat deur Jesus Christus gespreek is nie’, bevestig hy dat Jehovah God Jesus mag oor die “toekomstige bewoonde aarde [Grieks, oi·kou·meʹne]” gegee het (Hebreërs 2:3, 5, NW). In die Christelike Griekse Geskrifte verwys die woord oi·kou·meʹne altyd na ons aarde wat deur mense bewoon word, en nie na ’n hemelse wêreld nie. (Vergelyk Mattheüs 24:14, NW; Lukas 2:1, NW; 21:26, NW; Handelinge 17:31, NW.) God se Koninkryk onder Christus Jesus sal dus heerskappy oor die bewoonde aarde uitoefen. Dit sal waarlik ’n ideale plek wees om in te woon!
Hoewel die Koninkryk self in die hemel is, sal dit nogtans by die aarde se aangeleenthede betrokke wees. Wat sal die resultate wees? Daar sal nie meer aan siektes, wreedaardighede, armoede en die dood gedink word nie. Selfs frustrasie en ontevredenheid sal verdwyn (Openbaring 21:3-5). Die Bybel sê dat ‘God sy hand sal oopmaak en alles wat lewe met welbehae sal versadig’ (Psalm 145:16). Daar sal ’n praktiese en blywende oplossing vir probleme soos werkloosheid en besoedeling wees (Jesaja 65:21-23; Openbaring 11:18). Maar bowenal sal waarheid, geregtigheid en vrede—eienskappe wat op die oog af feitlik heeltemal verdwyn het—danksy God se seën seëvier!—Psalm 85:8-14; Galasiërs 5:22.
Is al hierdie dinge ’n droom, ’n Utopia? Nee, die tye waarin ons lewe, wat die swaarste tye tot nog toe is, toon dat ons in “die laaste dae” van hierdie wêreld lewe en dat die nuwe wêreld dus naby is (2 Timotheüs 3:1-5). Sal jy graag daar wil woon? Jy kan uitvind hoe dit moontlik is deur die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer. ’n Beter wêreld, baie beter as wat ons ooit kan droom, is naby. Dit is nie ’n Utopia nie—dit is ’n werklikheid!
[Prent op bladsy 7]
’n Beter wêreld sal binnekort ’n werklikheid wees