’n Beter wêreld—Net ’n droom?
AS JY ’n aanhanger van Mazdaïsme was, soos dit deur die Iraanse profeet Zoroaster verkondig is, sou jy gewag het vir die dag waarop die aarde na sy oorspronklike skoonheid sou terugkeer. As jy in antieke Griekeland gewoon het, sou jy miskien daarvan gedroom het om die idilliese Gelukkige Eilande te bereik of van die terugkeer van die Goue Eeu, soos die digter Hesiodos dit in die agtste eeu v.G.J. beskryf het. ’n Guarani-Indiaan in Suid-Amerika soek dalk nog na die Land Sonder Boosheid. Aangesien jy in ons tyd lewe, hoop jy miskien dat die wêreld danksy die een of ander politieke ideologie of as gevolg van die hedendaagse ekologiese bewustheid sal verbeter.
Goue Eeu, Gelukkige Eilande, Land Sonder Boosheid—dit is ’n paar van die baie name wat gebruik word om dieselfde begeerte, die hoop op ’n beter wêreld, te beskryf.
Hierdie wêreld, ons wêreld, is beslis nie ’n ideale plek nie. Misdaad wat al hoe wreder word, broederoorlog wat met ongekende geweld gepaardgaan, volksmoord, onverskilligheid teenoor ander se lyding, armoede en honger, werkloosheid en ’n gebrek aan solidariteit, ekologiese probleme, ongeneeslike siektes wat miljoene teister—die lys van hedendaagse ellendes is klaarblyklik eindeloos. Met die oog op die oorloë wat tans gevoer word, het ’n Italiaanse joernalis gesê: “Die vraag wat natuurlikerwys ontstaan, is of vyandigheid nie die sterkste sentiment van ons tyd is nie.” Dink jy, as jy die situasie in oënskou neem, dat dit realisties is om na iets anders, iets beters, te strewe? Of is so ’n strewe net ’n hunkering na Utopia, ’n droom wat nooit bewaarheid sal word nie? Lewe ons in die beste wêreld wat daar kan wees?
Dit is iets waaroor baie mense lankal wonder. Die mens droom al eeue lank van ’n wêreld waarin daar harmonie, geregtigheid, welvaart en liefde heers. Talle filosowe het met verloop van tyd oor hulle begrip van ideale State, of beter wêrelde, uitgewei. Maar ongelukkig kon hulle nog nooit verduidelik hoe om dit met welslae te laat funksioneer nie.
Kan hierdie eeue-oue lys van drome, Utopias, en die mens se strewes na ’n beter gemeenskap ons enigiets leer?
[Prente op bladsy 3]
Is hierdie die beste wêreld wat daar kan wees?