Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 5/15 bl. 26-27
  • Sy was nie te oud om Jehovah te dien nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sy was nie te oud om Jehovah te dien nie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Sy het nie weggebly van die tempel nie”
  • ’n Onverwagte seën
  • Anna se goeie voorbeeld
  • ’n Onderwyseres verander haar beskouing
    Ontwaak!—2009
  • Letland reageer gunstig op die goeie nuus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Floreer geestelik in die grysheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Dien Jehovah voordat die rampspoedige dae kom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 5/15 bl. 26-27

Sy was nie te oud om Jehovah te dien nie

BAIE bejaardes meen dat daar min hoop op geluk in hulle oorblywende jare is. ’n Bekende, bejaarde aktrise het selfs gesê: “Ek het my lewe verwoes, en dit is te laat om dit te verander . . . Wanneer ek alleen gaan stap, dink ek terug aan my lewe, en ek is nie ingenome met die lewe wat ek gelei het nie . . . Ek is oral rusteloos en kan nêrens gevestig raak nie.”

’n Bejaarde vrou wat byna 2 000 jaar gelede gelewe het, het nie so ’n probleem gehad nie. Sy was ’n 84-jarige weduwee, maar sy was aktief, gelukkig en is op ’n wonderlike wyse deur God begunstig. Haar naam was Anna, en sy het ’n besondere rede gehad om vreugdevol te wees. Wat was dit?

“Sy het nie weggebly van die tempel nie”

Die Evangelieskrywer Lukas stel ons aan Anna bekend. “En daar was Anna”, sê hy, “’n profetes, die dogter van Fanuel, uit die stam van Aser” in Israel. As ’n profetes het sy in ’n besondere sin die gawe van God se heilige gees, of werkende krag, gehad. En Anna het veral een keer ’n wonderlike geleentheid gehad om te profeteer.

Lukas vertel: “Sy was op baie ver gevorderde leeftyd en het van haar maagdom af sewe jaar lank met haar man saamgelewe; en sy was ’n weduwee van omtrent vier-en-tagtig jaar” (Lukas 2:36, 37). Anna het waarskynlik ’n weduwee geword toe sy nog taamlik jonk was. Christenvroue van enige ouderdom wat weduwees is, weet hoe hartverskeurend dit is om ’n geliefde eggenoot aan die dood af te staan. Maar soos talle godvrugtige vroue van ons dag het Anna nie toegelaat dat hierdie hartseer ondervinding haar diens aan God beëindig nie.

Lukas sê vir ons Anna “het nie weggebly van die tempel” in Jerusalem nie (Lukas 2:37). Sy het diepe waardering gehad vir die geluk wat diens by God se huis meebring. Haar optrede het geopenbaar dat sy, soos Israel se psalmis-koning Dawid, net een ding gehad het wat sy van Jehovah gevra het. En wat was dit? Dawid het gesing: “Een ding het ek van die HERE begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel” (Psalm 27:4). In hierdie opsig was Anna ook soos hedendaagse Christenvroue wat vreugde daaruit put om gereeld by Jehovah se plek van aanbidding te wees.

Anna het dag en nag heilige diens aan Jehovah verrig. Sy het dit gedoen “met vaste en gebede” wat ’n aanduiding van droefheid en groot verlange was (Lukas 2:37). Die feit dat die Jode eeue lank deur Heidense nasies onderwerp is en die verslegtende godsdienstige toestand wat selfs aan die tempel en die priesterdom daarvan gesien kon word, was heel moontlik die rede vir Anna se vaste en gebede tot Jehovah God. Maar sy het ook rede gehad om gelukkig te wees, veral vanweë iets buitengewoons wat op ’n waarlik gebeurtenisvolle dag in die jaar 2 v.G.J. plaasgevind het.

’n Onverwagte seën

Die kindjie Jesus is op hierdie uiters betekenisvolle dag deur sy moeder, Maria, en sy pleegvader, Josef, na Jerusalem se tempel geneem. Die bejaarde Simeon het die kindjie gesien en by daardie geleentheid profetiese woorde geuiter (Lukas 2:25-35). Anna was soos gewoonlik by die tempel. “Sy het in dieselfde uur daar gekom”, sê Lukas (Lukas 2:38). Hoe opgewonde moes Anna tog nie gewees het nie toe haar oë wat al dof was van die ouderdom die toekomstige Messias gesien het!

Veertig dae vantevore het God se engel herders naby Betlehem met hierdie woorde verras: “Kyk, ek bring julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.” ’n Menigte van die hemelse leërskare het Jehovah geprys en gesê: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ’n welbehae!” (Lukas 2:8-14). Anna is nou eweneens beweeg om te getuig van die Een wat die Messias sou wees!

Toe Anna die kindjie Jesus sien, het sy “die Here geprys en van Hom gespreek met almal in Jerusalem wat die verlossing verwag het” (Lukas 2:38). Soos die bejaarde Simeon, wat ook bevoorreg was om die kindjie Jesus by die tempel te sien, het sy ongetwyfeld na die koms van die beloofde Verlosser uitgesien, daarom gebid en daarvoor gewag. Die goeie nuus dat Jesus daardie Een is, was vir haar net te goed om daaroor te swyg.

Wat het Anna gedoen, hoewel sy moontlik nie verwag het om nog te lewe wanneer Jesus volwasse sou wees nie? Sy het vreugdevol vir ander getuig van die verlossing wat deur hierdie komende Messias bewerkstellig sou word.

Anna se goeie voorbeeld

Hoeveel godsdienstige mense van die wêreld sal nog op 84 so ’n getuienis gee of God dag en nag dien? Hulle sal tien teen een lank voor hulle hierdie ouderdom bereik om ’n pensioen aansoek doen. Anna en Simeon was anders. Hulle het ’n goeie voorbeeld vir alle bejaarde knegte van Jehovah gestel. Hulle het waarlik Jehovah se huis van aanbidding liefgehad en hom van ganser harte geloof.

Anna is ’n uitstekende voorbeeld van ’n godvrugtige weduwee. Trouens, Lukas se beskrywing van hierdie nederige, bejaarde vrou kom ooreen met die vereistes ten opsigte van ’n waardige weduwee, soos dit in 1 Timotheüs 5:3-16 uiteengesit word. Daar sê die apostel Paulus so ’n weduwee “bly in smekinge en gebede nag en dag”, was “die vrou van een man” en het “elke goeie werk nagestreef”. Anna was so ’n vrou.

Vandag is daar getroue, bejaarde weduwees wat dag en nag heilige diens aan God verrig in duisende gemeentes van Jehovah se Getuies oor die wêreld. Hoe moet ons tog nie hierdie hedendaagse “Annas” in ons midde waardeer nie!

Mans en vroue kan hulle selfs op ’n gevorderde leeftyd aan God toewy en dit deur waterdoop simboliseer. Die bejaardes is nooit te oud om Jehovah te dien en van die Messiaanse Koninkryk te getuig nie wat nou in die hemele opgerig is en binnekort ryk seëninge vir die gehoorsame mensdom gaan bring. Bejaardes wat nou heilige diens aan God verrig, kan van Jehovah se seën op hulle getuig, net soos Anna eeue gelede ’n spesiale seën ontvang het. Sy was nie te oud om Jehovah te dien en sy heilige naam te loof nie—en hulle is ook nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel