Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 6/1 bl. 25-27
  • Gileadgegradueerdes vind ‘groter geluk daarin om te gee’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gileadgegradueerdes vind ‘groter geluk daarin om te gee’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Afskeidswoorde van vermaning
  • ’n Middagprogram met verskeidenheid
  • Meer sendelinge vir die wêreldoes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Gileadskool—Floreer nog ná 50 jaar!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Gileadgegradueerdes—“Ware sendelinge!”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Verheug julle in Jehovah en wees bly
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 6/1 bl. 25-27

Gileadgegradueerdes vind ‘groter geluk daarin om te gee’

OP SONDAG, 6 Maart 1994, het die Bethelgesin van die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies saam met gaste vir ’n heuglike geleentheid byeengekom—die graduering van die 96ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead. Die programvoorsitter Karl F. Klein, wat byna twee dekades al op die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies dien, het in sy inleidende kommentare vir die 46 studente gesê: “Jesus het gesê dat dit groter geluk verskaf om te gee as om te ontvang. Dit sal ook in julle sendingtoewysing geld—hoe meer julle gee, hoe gelukkiger sal julle wees.”—Handelinge 20:35, NW.

Afskeidswoorde van vermaning

Vervolgens was daar ’n reeks toesprake wat tot die studente gerig was. Leon Weaver, ’n lid van die Diensafdelingkomitee, het die tema “Volharding verheerlik Jehovah” ontwikkel. Ons kom almal voor beproewinge te staan (2 Korinthiërs 6:3-5, NW). “Wanneer ons onder druk verkeer”, het broer Weaver gesê, “is dit so maklik om op onsself staat te maak.” Maar hy het die studente aan die volgende herinner: “Ongeag voor watter menslike beproewinge julle te staan kom, Jehovah stel daarin belang. Hy sal nooit toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie.”—1 Korinthiërs 10:13.

“Koester altyd jou toewysing” was die titel van die volgende toespraak, wat deur Lyman Swingle van die Bestuursliggaam gehou is. Die Israeliete het nie altyd ’n keuse gehad oor waar hulle sou woon en wat hulle sou doen nie. Elke stam is ’n stuk grond toegeken en die Leviete is spesifieke pligte gegee wat hulle moes uitvoer. Baie wat vandag in die spesiale voltydse diens is—soos sendelinge en Bethelgesinslede—besluit eweneens nie self waar hulle gaan woon en watter werk hulle gaan doen nie. Sê nou jy ondervind gevoelens van onsekerheid oor jou toewysing? “As jy jou oog op die Leidsman van ons geloof, Jesus, gevestig hou en noukeurig op sy voorbeeld ag gee, sal jy nie verslap nie”, het broer Swingle gesê.—Hebreërs 12:2, 3.

Leonard Pearson, van die Watchtower Farms-komitee, het vervolgens die onderwerp “Bly doelgerig” bespreek. Hy het gesê: “Jy kan die beste kamera, die pragtigste onderwerp en ’n ideale agtergrond hê en steeds ’n swak foto neem—as jou kamera nie in fokus is nie.” Soos ’n wyehoeklens moet ons siening die wêreldwye predikingswerk insluit. Ons moet nooit die geheelbeeld uit die oog verloor nie. “Diegene wie se aandag net op hulleself toegespits is, sal ongelukkig in hulle toewysing wees”, het broer Pearson gesê. “Diegene wat hulle toespits op Jehovah en op die werk wat hy hulle gegee het om te doen, sal slaag.”

“Soveel om voor dankbaar te wees” was die titel van die volgende toespraak, wat deur John E. Barr, nog ’n lid van die Bestuursliggaam, gehou is. “Moet nooit jou dankbaarheid teenoor Jehovah verloor nie”, het broer Barr die studente vermaan. “Dit is een van die grootste bronne van vergenoegdheid, ongeag watter toewysing jy het.” ’n Dankbare gesindheid het Dawid beweeg om te skryf: “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi” (Psalm 16:6). “Dit is so ’n kosbare besitting om na aan Jehovah te voel in julle daaglikse lewe”, het broer Barr gesê. “Jehovah sal nooit daardie verhouding van julle wegneem nie mits julle dit bly beskou as iets baie aangenaams waarvoor julle dankbaar is.”

Gileadinstrukteur Jack Redford het die volgende toespraak gehou, met die tema “Hoe sal jy jou tong gebruik?” Watter verwoesting kan onbedagsame woorde tog saai! (Spreuke 18:21). Hoe kan die tong beheers word? “Jy moet eers jou verstand oplei”, het broer Redford geantwoord, “want die tong weerspieël wat in die verstand en hart is” (Mattheüs 12:34-37). Jesus het ’n uitstekende voorbeeld gestel; hy het sy tong gebruik om Jehovah se naam te verheerlik. “Vandag is daar ’n honger na die woorde van Jehovah”, het broer Redford vir die klas gesê. “Julle ken hierdie woorde. Julle het ‘die tong van die geleerdes’. Laat julle tong dus altyd gelei word deur ’n verstand en ’n hart wat ten volle aan Jehovah toegewy is.”—Jesaja 50:4, NW.

Die belangrikheid van gebed is beklemtoon in die toespraak “Wandel jy soos iemand wat in Jehovah se teenwoordigheid is?” Ulysses Glass, die registrateur van die skool, het gesê: “As ’n vader hard werk om sy gesin te onderhou, maar nooit met hulle praat en nooit vir hulle sê en wys dat hy hulle liefhet nie, kan sy gesin tereg tot die gevolgtrekking kom dat sy beweegrede nie liefde is nie, maar ’n onaangename pligsgevoel. Dit is dieselfde met ons. Ons kan besig wees in God se diens. Maar as ons nie bid nie, is ons bloot aan ’n werk toegewy eerder as aan ’n liefdevolle hemelse Vader.”

Theodore Jaracz, van die Bestuursliggaam, het ’n toespraak gehou met die tema “Waarom menigtes met God se volk assosieer”. Elke jaar stroom honderdduisende na Jehovah se organisasie (Sagaria 8:23). Wat identifiseer Jehovah se Getuies as God se volk? Eerstens aanvaar hulle die hele Bybel as God se Woord (2 Timotheüs 3:16). Tweedens is hulle neutraal wat politieke aangeleenthede betref (Johannes 17:16). Derdens getuig hulle van God se naam (Johannes 17:26). Vierdens lê hulle selfopofferende liefde aan die dag (Johannes 13:35; 15:13). Aangesien ons hierdie dinge doen, kan ons met vrymoedigheid ‘die deugde verkondig van Hom wat ons uit die duisternis tot sy wonderbare lig geroep het’.—1 Petrus 2:9.

Ná hierdie inspirerende toesprake het al 46 studente diplomas ontvang. Hulle is na 16 lande regdeur die wêreld aangewys.

’n Middagprogram met verskeidenheid

In die middag het Donald Krebs van die Bethelkomitee ’n verkorte Wagtoring-studie gehou. Daarna het die gegradueerdes ’n program aangebied met die titel “Wysheid roep hardop in die straat” (Spreuke 1:20, NW). Hulle het lonende ondervindinge opgevoer wat hulle in die getuieniswerk op straat sowel as in die sakegebied gehad het. Jehovah seën waarlik diegene wat die moed bymekaarskraap om informeel te preek. “Vir my is ons soos sekels in die hande van engele-maaiers”, het een gegradueerde gesê. “Hoe bekwamer ons is, hoe meer werk kan daardie engele deur middel van ons doen.” (Vergelyk Openbaring 14:6.) Die studente se program het ook ’n skyfievertoning ingesluit wat die gehoor op ’n opvoedkundige toer geneem het deur Bolivia, Malta en Taiwan—drie van die lande waarheen gegradueerdes van hierdie klas gestuur is.

Vervolgens is ’n onderhoud met Wallace en Jane Liverance gevoer—wat al 17 jaar lank sendelinge is. Hulle is in Oktober 1993 na Watchtower Farms genooi, waar broer Liverance nou as een van die Gileadinstrukteurs dien.

Toe het ’n aanbieding bestaande uit vier tonele gevolg met die titel “Betoon eer aan bejaardes wat dit waardig is”. Wanneer mense ouer word, kan die vrees dat hulle nutteloos sal raak en aan hulle lot oorgelaat sal word hulle selfvertroue gaandeweg afbreek (Psalm 71:9). Hierdie roerende aanbieding het getoon hoe almal in die gemeente sulke getroue bejaardes kan ondersteun.

Ná ’n slotlied en -gebed het al 6 220 wat teenwoordig was in die Jersey City-Byeenkomssaal en in ander sale wat by die verrigtinge ingeskakel was verkwik gevoel. Ons gebede vergesel die gegradueerdes in hulle nuwe toewysings. Mag hulle voortgaan om die groter geluk te ervaar wat dit verskaf wanneer ’n mens gee.

[Venster op bladsy 26]

Klasstatistiek

Aantal lande verteenwoordig: 9

Aantal lande waarheen gestuur: 16

Aantal studente: 46

Gemiddelde ouderdom: 33,85

Gemiddelde jare in waarheid: 16,6

Gemiddelde jare in voltydse bediening: 12,2

[Venster op bladsy 27]

Malta in die kollig

DIE Christendom het Bybelwaarheid baie jare lank in Malta gesmoor. Die laaste Gileadsendelinge wat soontoe gestuur is, Frederick Smedley en Peter Bridle, was gegradueerdes van die agtste klas in 1947. Maar hulle is kort ná hulle aankoms in hegtenis geneem en uit Malta verban. Die 1948 Yearbook of Jehovah’s Witnesses berig: “Hierdie twee sendelinge het net soveel tyd in die howe en by die amptenare van die land deurgebring as in die uitvoering van hulle pligte as bedienaars, en dít net weens die teëstand van die Rooms-Katolieke Hiërargie. Die priesters sê dat Malta aan die Katolieke behoort en dat al die ander moet padgee.” Nou, sowat 45 jaar later, is vier sendelinge van die 96ste Gileadklas na Malta toe gestuur.

[Prent op bladsy 26]

96ste Klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead

In die lys hieronder word rye van voor na agter genommer en name word van links na regs in elke ry aangegee.

(1) Ehlers, P.; Giese, M.; Sellman, S.; Zusperregui, J.; Rowe, S.; Jackson, K.; Scott, T. (2) Liehr, T.; Garcia, I.; Garcia, J.; Fernández, A.; Davidson, L.; Liidemann, P.; Gibson, L.; Juárez, C. (3) Fouts, C.; Pastrana, G.; Claeson, D.; Fernández, L.; Walls, M.; Dressen, M.; Pastrana, F.; Burks, J. (4) Burks, D.; Scott, S.; Jackson, M.; Mauray, H.; Juárez, L.; Zusperregui, A.; Brorsson, C.; Rowe, C. (5) Sellman, K.; Liidemann, P.; Davidson, C.; Mauray, S.; Walls, D.; Dressen, D.; Schaafsma, G.; Liehr, S. (6) Claeson, T.; Gibson, T.; Giese, C.; Ehlers, D.; Fouts, R.; Schaafsma, S.; Brorsson, L.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel