Wat het van gesag geword?
DENKENDE mense besef dat gesag nodig is. Sonder die een of ander soort gesagstruktuur sal die mensegemeenskap vinnig chaoties raak. Daarom sê ’n klassieke Franse handboek van die staatsreg: “Elke groep mense bestaan uit twee kategorieë: dié wat kommandeer en dié wat gehoorsaam, dié wat bevele gee en die wat gehoor gee, leiers en lede, die heersers en dié oor wie daar geheers word. . . . Alle mensegemeenskappe is bewys daarvan dat gesag wel bestaan.”a
Maar gesindhede ten opsigte van gesag het sedert die Tweede Wêreldoorlog en veral sedert die sestigerjare verander. Waar die Franse Encyclopædia Universalis oor daardie tydperk kommentaar lewer, praat dit van ’n “antihiërargie- en ’n antigesagskrisis”. So ’n krisis verbaas Bybelstudente nie. Die apostel Paulus het voorspel: “Onthou, die laaste dae van hierdie wêreld sal ’n tyd van beroering wees! Mense sal net hulleself en geld liefhê; hulle sal grootpraterig, hooghartig en lasterend wees; ongehoorsaam aan hulle ouers . . . ; hulle sal onversoenlik wees in hulle haat, . . . bandeloos en gewelddadig, . . . opgeblase. Hulle sal hulle genot meer liefhê as hulle God.”—2 Timotheüs 3:1-4, The Revised English Bible.
Gesagskrisis
Hierdie profesie is ’n goeie beskrywing van ons dag. Gesag word op alle vlakke uitgedaag—in die gesin, in die openbare skool, op universiteit, in sakeondernemings en in plaaslike en nasionale regerings. Die seksuele revolusie, eksplisiete rap-musiek, studentebetogings, onwettige stakings, burgerlike ongehoorsaamheid en terreurdade is alles tekens dat respek vir gesag aan die verbrokkel is.
By ’n simposium wat in Parys deur die Franse Instituut vir Staatsleer en die Paryse dagblad Le Monde gereël is, het professor Yves Mény gesê: “Gesag kan net bestaan as dit deur wettigheid gerugsteun word.” Een rede vir die hedendaagse gesagskrisis is dat baie die wettigheid van diegene in magsposisies betwyfel. Dit wil sê, hulle twyfel of hulle die reg het om gesag te dra. ’n Meningsopname het getoon dat 9 persent van die bevolking in die Verenigde State, 10 persent in Australië, 24 persent in Brittanje, 26 persent in Frankryk en 41 persent in Indië in die vroeë tagtigerjare hulle regering as onwettig beskou het.
Die mens se soeke na wettige gesag
Volgens die Bybel het die mens in die begin onder die direkte gesag van God gestaan (Genesis 1:27, 28; 2:16, 17). Maar mense het baie vroeg reeds getoon dat hulle moreel onafhanklik van hulle Skepper wil wees (Genesis 3:1-6). Aangesien hulle teokrasie, of heerskappy deur God, verwerp het, moes hulle ander gesagstelsels vind (Prediker 8:9). Party het hulle gesag deur geweld laat geld. Volgens hulle het mag hulle die reg daartoe gegee. Dit was voldoende dat hulle sterk genoeg was om hulle wil af te dwing. Maar die meeste het gemeen dat hulle hulle reg om te regeer, moet wettig.
Van die vroegste tye af het baie heersers dit gedoen deur te sê dat hulle gode is of dat hulle hulle mag van die gode ontvang. Dit is die mitiese konsep van “heilige koningskap” waarvolgens die vroeë heersers van Mesopotamië en die Farao’s van eertydse Egipte geregeer het.
Alexander die Grote, die Hellenistiese konings wat hom opgevolg het en baie van die Romeinse keisers het ook beweer dat hulle gode is en het selfs daarop aangedring dat hulle aanbid word. Stelsels onder sulke heersers het as “heerserskultusse” bekend gestaan, en die doel daarvan was om die heerser se gesag oor verskillende verowerde volke te bevestig. Weiering om die heerser te aanbid, is as ’n oortreding teen die Staat veroordeel. Professor Ernest Barker het in The Legacy of Rome geskryf: “Die vergoddeliking van die [Romeinse] keiser en die trou wat hy op grond van sy goddelikheid ontvang, is klaarblyklik die grondslag, of ten minste die bindmiddel, van die ryk.”
Dit was die geval selfs nadat “die Christelike geloof” deur keiser Konstantyn (wat van 306-337 G.J. geheers het) gewettig is en later deur keiser Theodosius I (wat van 379-395 G.J. geheers het) as die Staatsgodsdiens van die Romeinse Ryk aangeneem is. Party “Christen”-keisers is tot diep in die vyfde eeu G.J. as gode aanbid.
“Twee magte”, “twee swaarde”
Namate die pousdom magtiger geraak het, het daar ernstige probleme tussen die Kerk en die Staat ontstaan. Daarom het pous Gelasius I aan die einde van die vyfde eeu G.J. die beginsel van die “twee magte” uiteengesit: die heilige gesag van die pouse wat gelyktydig met die koninklike mag van die konings bestaan het—terwyl die konings aan die pouse ondergeskik was. Hierdie beginsel het later tot die leerstelling van die “twee swaarde” ontwikkel: “Die geestelike swaard is deur die pouse self gebruik, terwyl hulle die wêreldlike swaard aan sekulêre heersers oorgedra het, maar laasgenoemdes moes nogtans die wêreldlike swaard volgens pouslike voorskrifte gebruik” (The New Encyclopædia Britannica). Op grond van hierdie leerstelling het die Katolieke Kerk gedurende die Middeleeue beweer dat hulle die reg het om keisers en konings te kroon om hulle gesag te wettig en het só die eertydse mite van “heilige koningskap” laat voortbestaan.
Dit moet egter nie met die so genoemde goddelike reg van konings verwar word nie—’n latere ontwikkeling wat daarop gemik was om politieke leiers van onderdanigheid aan die pousdom te bevry. Die beginsel van goddelike reg gaan van die standpunt uit dat konings hulle gesag om te heers direk van God af ontvang en nie deur die pous van Rome nie. Die New Catholic Encyclopedia sê: “Gedurende ’n tyd toe die pous ’n universele geestelike en selfs wêreldlike mag oor die staatshoofde uitgeoefen het, het die idee van goddelike reg die konings van nasionale state in staat gestel om hulle gesag te regverdig as iets wat net so goddelik as dié van die pous is.”b
Die mite van volksoewereiniteit
Met verloop van tyd het mense ander bronne van gesag voorgestel. Een was die soewereiniteit van die volk. Baie glo dat hierdie idee sy oorsprong in Griekeland gehad het. Maar die eertydse Griekse demokrasie is net in ’n paar stadstate beoefen, en selfs hier het net die manlike burgers gestem. Vroue, slawe en buitelandse inwoners—wat na skatting die helfte tot vier vyfdes van die bevolking uitgemaak het—is nie in ag geneem nie. Beslis nie volksoewereiniteit nie!
Wie het die idee van die soewereiniteit van die volk bevorder? Dit is verbasend genoeg in die Middeleeue deur Rooms-Katolieke teoloë bekend gestel. In die 13de eeu het Thomas van Aquino gesê dat hoewel soewereiniteit sy oorsprong by God het dit by die volk berus. Dit was ’n gewilde idee. Die New Catholic Encyclopedia sê: “Hierdie idee dat die volk die bron van gesag is, is deur die meeste Katolieke teoloë van die 17de eeu ondersteun.”
Waarom sou die teoloë van ’n kerk waarin die volk hoegenaamd geen seggenskap in die keuse van pous, biskop of priester gehad het nie die idee van die soewereiniteit van die volk bevorder? Omdat party Europese konings al hoe rusteloser onder pouslike gesag geraak het. Die teorie van volksoewereiniteit het die pous die mag gegee om ’n keiser of vors te onttroon as dit nodig gelyk het. Die geskiedskrywers Will en Ariel Durant het geskryf: “Die voorstanders van volksoewereiniteit het baie Jesuïete ingesluit, wat hierdie beskouing gesien het as ’n manier om koninklike gesag teenoor pouslike gesag te verswak. Kardinaal Bellarmine het geredeneer dat indien die gesag van konings by die volk berus en daarom van die volk afhang dit duidelik is dat die gesag van konings aan die gesag van die pouse ondergeskik is . . . Luis Molina, ’n Spaanse Jesuïet, het tot die slotsom gekom dat die volk, as die bron van sekulêre gesag, die reg het om ’n onregverdige koning te onttroon—indien ordelike prosedure gevolg word.”
Die “ordelike prosedure” sou natuurlik deur die pous vasgestel word. Waar die Franse Katolieke Histoire Universelle de l’Eglise Catholique dit bevestig, haal dit uit die Biographie universelle aan wat sê: “Bellarmine . . . leer dat prinse volgens die gewone Katolieke leerstelling hulle mag deur die keuse van die volk verkry en dat die volk hierdie reg net onder die pous se invloed kan uitoefen.” (Ons kursiveer.) Volksoewereiniteit het dus ’n instrument geword wat die pous kon gebruik om die keuse ten opsigte van heersers te beïnvloed en hulle, indien dit nodig sou word, te laat onttroon. In onlangser tye het dit die Katolieke hiërargie in staat gestel om Katolieke kiesers in verteenwoordigende demokrasieë te beïnvloed.
In hedendaagse demokrasieë is die wettigheid van die regering gegrond op wat die “goedvinde van die geregeerdes” genoem word. Dit is egter ten beste die “goedvinde van die meerderheid”, en vanweë kiesersonverskilligheid en politieke kullery is hierdie “meerderheid” dikwels in werklikheid net ’n minderheid van die bevolking. Vandag beteken die “goedvinde van die geregeerdes” dikwels weinig meer as die “gelatenheid, of berusting, van die geregeerdes”.
Die mite van nasionale soewereiniteit
Die mite van heilige koningskap wat deur die vroeë pouse bevorder is, het vir die pousdom geboemerang toe dit in die goddelike reg van konings verander het. Die teorie van volksoewereiniteit het eweneens vir die Katolieke Kerk ’n boemerang geword. Gedurende die 17de en 18de eeu het sekulêre filosowe, soos die Britte Thomas Hobbes en John Locke en die Fransman Jean-Jacques Rousseau, die idee van volksoewereiniteit bepeins. Hulle het weergawes ontwikkel van die teorie van ’n “sosiale kontrak” tussen heersers en dié oor wie daar geheers is. Hulle beginsels was nie op teologie gegrond nie, maar op “natuurreg”, en die konsep het uitgeloop op idees wat die Katolieke Kerk en die pousdom ernstige skade berokken het.
Die Franse Revolusie het kort ná die dood van Jean-Jacques Rousseau uitgebreek. Hierdie revolusie het sekere idees ten opsigte van wettigheid vernietig, maar dit het ’n nuwe idee, die idee van nasionale soewereiniteit, geskep. The New Encyclopædia Britannica sê: “Die Franse het die goddelike reg van konings, adelheerskappy en die voorregte van die Rooms-Katolieke Kerk verwerp.” Die Britannica sê egter dat “die Revolusie die nuwe uitvindsel, die volkstaat, tot rypheid laat kom het”. Die revolusionêre het hierdie nuwe “uitvindsel” nodig gehad. Waarom?
Omdat alle burgers onder die stelsel wat deur Jean-Jacques Rousseau voorgestaan is gelyke seggenskap in die keuse van heersers sou hê. Dit sou ’n demokrasie tot gevolg gehad het wat op algemene stemreg gegrond sou wees—iets waarvan die leiers van die Franse Revolusie nie ten gunste was nie. Professor Duverger verduidelik: “Dit was juis om hierdie gevolg, wat as onwenslik beskou is, te vermy dat die bourgeois wat tot die Grondwetgewende Vergadering behoort het van 1789 tot 1791 die teorie van nasionale soewereiniteit ontwikkel het. Hulle het die volk met die ‘Nasie’ geïdentifiseer, wat hulle as ’n ware entiteit, afsonderlik van sy onderdele, beskou het. Net die Nasie, deur middel van sy verteenwoordigers, het die reg om soewereiniteit uit te oefen . . . Hoewel die leerstelling van nasionale soewereiniteit demokraties voorkom, is dit in werklikheid glad nie demokraties nie omdat dit gebruik kan word om feitlik enige regeringsvorm, veral ’n outokrasie, te regverdig.” (Hy kursiveer.)
Mensepogings misluk
Die aanvaarding van die Volkstaat as ’n wettige bron van gesag het tot nasionalisme gelei. The New Encyclopædia Britannica sê: “Daar word dikwels gedink dat nasionalisme baie oud is; dit word soms verkeerdelik as ’n permanente faktor van politieke optrede beskou. Die Amerikaanse en Franse revolusies kan in werklikheid as die eerste kragtige voorbeelde daarvan beskou word.” Sedert daardie revolusies het nasionalisme soos ’n veldbrand deur die Amerikas, Europa, Afrika en Asië versprei. Wrede oorloë is onder die naam van nasionalisme gewettig.
Die Britse geskiedskrywer Arnold Toynbee het geskryf: “Die gees van Nasionaliteit is ’n suur gismiddel van die nuwe wyn van Demokrasie in die ou bottels van die Stamstelsel. . . . Hierdie vreemde kompromis tussen Demokrasie en die Stamstelsel was baie magtiger in die praktiese politiek van ons moderne Westerse Wêreld as Demokrasie self.” Nasionalisme het nie ’n vreedsame wêreld voortgebring nie. Arnold Toynbee het gesê: “Die Nasionale Oorloë het kort op die Godsdiensoorloë gevolg; en in ons moderne Westerse Wêreld is die gees van godsdiensfanatisme en die gees van nasionale fanatisme klaarblyklik een en dieselfde bose passie.”
Deur middel van die mites van “heilige koningskap”, “die goddelike reg van konings”, “volksoewereiniteit” en “nasionale soewereiniteit” het heersers hulle gesag oor hulle medemens probeer wettig. Maar wanneer ’n Christen na die geskiedenis van menseheersers kyk, kan hy nie anders as om met hierdie woorde van Salomo saam te stem nie: “Die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk.”—Prediker 8:9.
Christene aanbid nie die politieke Staat nie, maar eerder God, en hulle beskou hom as die wettige bron van alle gesag. Hulle stem saam met die psalmis Dawid wat gesê het: “Aan u, Jahweh, behoort die grootheid, die mag, die prag, lengte van dae en heerlikheid, alles in die hemel en op die aarde behoort aan u. Aan u behoort die soewereiniteit, Jahweh; u is verhewe, oppermagtig oor alles” (1 Kronieke 29:11, The New Jerusalem Bible). Tog betoon hulle uit eerbied vir God gepaste respek vir gesag op sekulêre sowel as geestelike gebied. Presies hoe en waarom hulle dit vreugdevol kan doen, sal in die volgende twee artikels bespreek word.
[Voetnote]
a Droit constitutionnel et institutions politiques, deur Maurice Duverger.
b The Catholic Encyclopedia sê: “Hierdie ‘goddelike reg van konings’ (wat grootliks verskil van die leerstelling dat alle gesag, of dit nou ’n koning of ’n republiek se gesag is, van God af kom) is nooit deur die Katolieke Kerk goedgekeur nie. Tydens die Hervorming het dit ’n vorm aangeneem wat al hoe minder met Katolisisme versoen kon word toe vorste soos Hendrik VIII en Jakobus I van Engeland beweer het dat hulle algehele geestelike sowel as burgerlike gesag het.”
[Prent op bladsy 15]
Die Katolieke Kerk het beweer dat hulle die gesag het om keisers en konings te kroon
[Erkenning]
Consecration of Charlemagne: Bibliothèque Nationale, Paris