Is jy vergewensgesind?
BILL en sy 16-jarige dogter, Lisa, het nie goed met mekaar oor die weg gekom nie. Onbenullige meningsverskille tussen hulle het dikwels in hewige rusies ontaard. Uiteindelik het die spanning so erg geword dat Lisa gevra is om die huis te verlaat.a
Mettertyd het Lisa besef dat dit haar skuld was en haar pa om vergifnis gevra. Pleks van Lisa se foute van die verlede oor te sien, het haar verbitterde pa dit nie aanvaar toe sy wou vrede maak nie. Stel jou voor! Hy was nie bereid om sy eie dogter genade te betoon nie!
Eeue gelede is ’n onskuldige man tot die dood veroordeel vir ’n misdaad wat hy nie gepleeg het nie. Getuies het valse getuienis gelewer, en politieke amptenare het anderpad gekyk, blind vir geregtigheid. Daardie onskuldige man was Jesus Christus. Kort voor sy dood het hy God biddend gevra: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”—Lukas 23:34.
Jesus het vrylik, uit sy hart, vergewe, en sy volgelinge is gemaan om hom in hierdie opsig na te volg (Efesiërs 4:32). Maar baie is, soos Bill, hard en onwillig om te vergewe. Hoe vaar jy in hierdie verband? Is jy bereid om ander te vergewe wanneer hulle teen jou sondig? En wat van ernstige sondes? Moet dit ook vergewe word?
Vergifnis is ’n uitdaging
Ons gee toe dat dit nie altyd maklik is om ander te vergewe nie. En in hierdie kritieke tye word dit al hoe moeiliker om goeie menseverhoudinge te handhaaf. Veral die gesinslewe is dikwels onderhewig aan baie spanning en druk. Die Christenapostel Paulus het lank gelede gesê dat sulke toestande in “die laaste dae” sou heers. Hy het gesê: “Mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, . . . sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand.”—2 Timotheüs 3:1-4.
Ons het dus almal noodwendig te kampe met eksterne druk wat ons vermoë beproef om ander te vergewe. Daarbenewens worstel ons ook teen innerlike druk. Paulus het gekla: “Die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon” (Romeine 7:19, 20). Gevolglik is baie van ons nie so vergewensgesind as wat ons graag wil wees nie. Oorgeërfde onvolmaaktheid en sonde oefen per slot van rekening ’n kragtige invloed op ons almal uit en beroof ons soms van ons medelye vir ons medemens.
Toe een vrou aangemoedig is om iemand ’n geringe oortreding te vergewe, het sy geantwoord: “Niemand is die inspanning werd wat dit verg om ander te vergewe nie.” Op die oog af klink so ’n kommentaar miskien kil, ongevoelig of selfs sinies. Maar as ons dieper kyk, sien ons dat dit die frustrasie openbaar wat baie mense voel wanneer hulle te doen het met ’n wêreld wat in hulle oë selfsugtig, liefdeloos en vyandig is. Een man het gesê: “Mense maak misbruik van jou wanneer jy hulle vergewe. Hulle vertrap jou as ‘t ware.”
Dit verbaas ’n mens dus nie dat dit in hierdie laaste dae moeilik is om vergewensgesindheid aan te kweek nie. Nogtans moedig die Bybel ons aan om goedgunstig te vergewe. (Vergelyk 2 Korinthiërs 2:7, NW.) Waarom moet ons vergewensgesind wees?
[Voetnoot]
a Name is verander.