Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 10/1 bl. 21-25
  • ’n Dor land word vrugbaar

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Dor land word vrugbaar
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Geestelike erfenis
  • Deelname aan die predikingswerk
  • Saaiwerk by die see
  • Voortgesette diens saam met my vrou
  • Teëkanting word oorkom
  • Moeilikhede op see
  • Verdere aanpassings
  • Die land het vrugbaar geword
  • Gestrand op ’n eiland
    My boek met Bybelverhale
  • Deel 2—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Vertroue in Jehovah bring geluk mee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Die Galilese boot—’n Skat uit Bybeltye
    Ontwaak!—2006
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 10/1 bl. 21-25

’n Dor land word vrugbaar

SOOS VERTEL DEUR ARTHUR MELIN

Dit was ’n helder lentedag in 1930, en ek het op ’n kaai in Prince Rupert, Brits-Columbië, gestaan. Ek het afgekyk na die boot wat op die seebodem gerus het en gewonder: ‘Waar is al die water heen?’ Dit was my eerste kennismaking met die getye van die Stille Oseaan aan die Kanadese Weskus, waar die seevlak binne net ses uur met tot sewe meter kan daal. Maar hoe het dit gebeur dat ’n plaasseun van die prêries hom aan die kus van die Stille Oseaan bevind het?

EK IS uitgenooi om my voorreg van voltydse diens aan Jehovah uit te brei deur my by die bemanning van die boot Charmian aan te sluit. Ons toewysing was om die predikingswerk vir die eerste keer al langs die afgesonderde weskus van Vancouver tot in Alaska te doen. Hierdie gebied het die grootste gedeelte van Brits-Columbië se baie lang kuslyn beslaan waar daar geen bedrywige lowers van Jehovah was nie. Die enigste uitsondering was ’n groepie Koninkryksverkondigers in die dorp Prince Rupert.

Ek was gretig om te begin, en toe ek van die trein afgeklim het, is ek dadelik na die kaai toe om die boot Charmian te sien en om die bemanning, Arne en Christina Barstad, te ontmoet. Daar was niemand aan boord nie, en ek is dus daar weg. Toe ek later daardie dag teruggaan, was ek geskok. Dit het gelyk of die oseaan besig was om leeg te loop!

Maar wat het tot hierdie interessante toewysing gelei?

’n Geestelike erfenis

My waardering vir geestelike dinge het tuis op die vlaktes van Alberta, Kanada, begin. My pa het ’n traktaat gevind wat deur Charles Taze Russell van die Zion’s Watch Tower Tract Society geskryf is en wat sy lewe ingrypend verander het. Pa het vir sy bure begin preek ten spyte van sy tydrowende werk as boer in Calmar, Alberta. Dit was honderd jaar gelede, gedurende die vroeë 1890’s.

Dit was in hierdie godvresende gesin wat ek op 20 Februarie 1905 gebore is, die agtste van wat uiteindelik tien broers en susters was. Pa, sowel as ander in hierdie Sweedse gemeenskap, het met die Internasionale Bybelstudente begin assosieer. Mettertyd het hulle ’n vergaderplek gebou, wat later Koninkryksaal genoem is. Dit was een van die eerstes in Kanada.

Plaaswerk het nooit verhoed dat ons Christelike vergaderinge bywoon nie, waar ons soms na toesprake geluister het van besoekende sprekers wat deur die Wagtoringgenootskap uitgestuur is. Hierdie toesprake het in ons ’n opregte begeerte gewek om aan die predikingswerk deel te neem. Gevolglik het feitlik almal in ons gesin standvastig in die lig van Bybelwaarheid gewandel.

Deelname aan die predikingswerk

Vroeg in die twintigerjare het ek my eerste predikingstoewysing ontvang. Ek moes uitnodigings na die openbare toespraak in die stad Edmonton van deur tot deur versprei. Toe ek daardie dag alleen daar staan, het ek ’n waardevolle les geleer: Vertrou op Jehovah (Spreuke 3:5, 6). Hoe bly was ek tog dat ek daardie eerste toewysing met Jehovah se hulp kon uitvoer!

My vertroue in Jehovah se sigbare organisasie en in sy “getroue en verstandige dienskneg”-klas het voortdurend toegeneem namate ons gehelp is om ’n beter begrip van sy Woord van waarheid te verkry. Baie van die Christendom se gebruike, soos die viering van Kersfees en verjaarsdae, is afgeskaf. Persoonlike redding was nie meer so belangrik nie; Koninkryksprediking het eerder tereg ’n belangrike plek begin inneem. Dit alles het ’n diepgaande uitwerking op my lewe gehad. Kort nadat ek op 23 April 1923 my lewe aan Jehovah toegewy het, het ek dus die voltydse bediening my doelwit gemaak.

Gedurende die prêrie-winters wanneer dit kouer as -18 grade Celsius geword het, het ons met ’n perd en slee in die plattelandse gebiede getuig. Ek het eenkeer twee weke saam met ’n groep deurgebring in wat bekend gestaan het as die kampmotor-werk. Dit was prakties om met hierdie spesiale motors op die uitgestrekte vlaktes van die Kanadese prêries te getuig. Ten spyte van finansiële probleme, gure weerstoestande en groot afstande wat afgelê moes word, kon ek met tussenposes ongeveer drie jaar lank in die pionierbediening in Alberta volhard tot daardie heuglike dag in 1930 toe ek uitgenooi is om aan die Weskus te gaan dien. Aangesien ek niks van die see of van bote geweet het nie, het daardie uitnodiging my dronkgeslaan.

Wel, ek het gou ná my aankoms in Prince Rupert tuis gevoel by my nuwe medewerkers op die boot. Broer Barstad was ’n gesoute matroos, aangesien hy baie jare lank by die vissersbedryf betrokke was. Die volgende ses jaar was ’n tydperk van intensiewe predikingswerk terwyl ons heen en weer op die kuswaters van Brits-Columbië van Vancouver af tot in Alaska gevaar het. Ek het nog ’n les geleer: Aanvaar altyd ’n toewysing van Jehovah af, en moet nooit aarsel nie.

Saaiwerk by die see

Ons eerste aanloophawe daardie lente van 1930 was Ketchikan, Alaska, waar ons 60 kartonne Bybellektuur opgelaai het. ’n Paar weke lank het ons al die huise in Ketchikan, Wrangell, Petersburg, Juneau, Skagway, Haines, Sitka en ander verspreide nedersettings besoek. Daarna het ons die hele kusgebied van Brits-Columbië gedek, en ons het dit voor die einde van die somer gedoen. Afgeleë houtkappers- en visinmaakkampe, Indianedorpies, klein dorpies sowel as afgesonderde nedersetters en pelsjagters is besoek. Dit was soms moeilik om weg te kom van eensame vuurtoringopsigters wat geselskap verwelkom het.

Mettertyd het die Genootskap ons met draagbare grammofone en opnames van Bybeltoesprake toegerus. Ons het dit saam met ons gedra, tesame met boeke, Bybels en tydskrifte. Ons moes dit dikwels saamdra terwyl ons oor rotse langs die kus geklouter het. Gedurende laaggety moes ons dit soms teen lendelam lere uit tot op hoë kaaie saampiekel. Ek was dankbaar vir die fisiese oefening wat ek gedurende my jeug gekry het toe ek op ’n prêrieplaas gewerk het.

Die luidsprekerstelsel op ons boot was ’n kragtige middel om die Koninkryksnuus te versprei. Die opnames van die toesprake is deur die water weerkaats, en dit is dikwels kilometers ver gehoor. Terwyl ons eenkeer in ’n afgesonderde inham van Vancouver-eiland geanker was, het ons een van hierdie Bybel-toesprake gespeel. Die volgende dag het mense wat in die binneland gewoon het opgewonde vir ons gesê: “Ons het gister ’n preek reg uit die hemel gehoor!”

By ’n ander geleentheid het ’n bejaarde egpaar gesê dat hulle gehoor het hoe daar musiek deur hulle skoorsteen kom, maar toe hulle buitentoe gegaan het, het hulle niks gehoor nie. Hulle het weer ingegaan en ’n stem gehoor. Waarom het dit gebeur? Wel, terwyl hulle buite was, het ons plate omgeruil. Ons het eers musiek gespeel om mense se aandag te trek en daarna ’n Bybeltoespraak.

By nog ’n ander geleentheid, toe ons naby ’n eiland met ’n Indianedorpie geanker was, het twee jong inboorlingseuns uit geroei om te sien waar die stemme vandaan kom. Sommige mense op die eiland het gedink dit was die stemme van hulle dooies wat lewend geword het!

Dit was niks ongewoons om in ’n dag honderd boeke onder werkers by afgeleë visinmaakfabrieke te versprei nie. Aangesien daar vir hulle min afleiding was, het hulle tyd gehad om aan geestelike dinge te dink. Baie van hierdie afgesonderde mense het later Getuies geword. Tydens daaropvolgende reise het ons daarna uitgesien om hulle vir “’n uitwisseling van aanmoediging” te besoek.—Romeine 1:12, NW.

Voortgesette diens saam met my vrou

In 1931 het ek met Christina Barstad se suster, Anna, getrou. Daarna het ons ons pionierdiens saam op die boot voortgesit, en ons het oor die jare baie lonende ondervindinge geniet. Walvisse, seeleeus, robbe, dolfyne, herte, bere en arende was ons metgeselle teen ’n agtergrond van majestueuse berge, beskutte inhamme en rustige baaie met woude van seders, dennebome en reusagtige Douglas-sparbome. Ons het by verskeie geleenthede uitgeputte herte en hulle lammers gehelp terwyl hulle oor snelvloeiende kanale probeer swem het om roofdiere te ontvlug.

Een middag het ons ’n witkoparend laag oor die water sien vlieg met ’n groot salm stewig in sy kloue. Die vis was te swaar om dit heeltemal uit die water te lig, en die arend het die salm dus na die kus toe gesleep. Frank Franske, ’n bemanningslid, het die kans gesien en al langs die water gehardloop om by die uitgeputte arend te kom, en hy het hom van sy vangs laat afsien. Ons pionierbemanning het daardie aand heerlike salm vir aandete gehad, en die arend het geleer om te deel, al was dit teësinnig.

Op een eilandjie aan die noordekant van Vancouver-eiland het ’n egpaar met die naam Thuot Bybelwaarheid aangeneem. Hý was ’n ongeletterde, eiewillige, onafhanklike man in sy middel-negentigerjare, en sý was in haar middel-tagtigerjare. Maar die waarheid het sy belangstelling so geprikkel dat hy sy trots gesluk het en toegelaat het dat sy vrou hom leer lees. Kort voor lank kon hy die Bybel en die Genootskap se publikasies self bestudeer. Minder as drie jaar later het ek die vreugde gesmaak om hulle albei by hulle afgeleë eilandtuiste te doop deur ons roeiboot as ’n doopbad te gebruik!

Ons het ook die vreugde gesmaak om te sien hoe die Sallis-gesin in Powell River die Koninkryksboodskap aanneem. Walter het die boekie War or Peace—Which? gelees en dadelik die waarheid herken. Dit was nie lank nie of die hele gesin het hulle as pioniers by Walter in Vancouver aangesluit, waar ons Charmian gewoonlik vir die winter vasgemeer het. Hy was baie ywerig en het hom oor die jare geliefd gemaak by die hele broederskap in die Vancouver-gebied. Hy het sy aardse loopbaan in 1976 voltooi en ’n groot familie Getuies agtergelaat.

Teëkanting word oorkom

Die geestelikes in die Indianedorpies was dikwels ontsteld oor ons werk en het ons as oortreders in hulle geestelike gebied beskou. In Port Simpson het die plaaslike geestelike daarop aangedring dat die hoofman van die dorpie ons verbied om die mense by hulle huise te besoek. Ons het met die hoofman in aanraking gekom en gevra of hy meen dat die geestelike tereg gesê het dat sy mense te onkundig is om vir hulleself te dink. Ons het voorgestel dat sy mense die kans gegee word om ’n bespreking van God se Woord te hoor en self te besluit wat hulle wil glo. Die gevolg: Hy het ons toestemming gegee om met ons predikingswerk in die dorpie voort te gaan.

’n Ander hoofman van ’n dorpie het dekades lank alle pogings van raadslede en godsdiensgroepe gedwarsboom om die Getuies te verhinder om met sy mense in aanraking te kom. “Solank ek die hoofman is”, het hy gesê, “is Jehovah se Getuies hier welkom.” Ons was weliswaar nie altyd oral welkom nie, maar ten spyte van die teëstand is ons nooit gedwing om ’n gebied te verlaat nie. Sodoende kon ons elke keer wat ons vasgemeer het ons bediening vervul.

Moeilikhede op see

Deur die jare heen het ons probleme ondervind met storms, getye, rotse wat nie op kaarte aangedui is nie en soms enjinmoeilikheid. Eenkeer het ons te na aan Lasqueti-eiland gedryf, ongeveer 160 kilometer noord van Vancouver. Ons het op ’n rif vasgeval vanweë die uitgaande gety en was aan die genade van die elemente oorgelewer. As die weer versleg het, sou die boot teen die rotse verpletter geword het. Ons almal het tot op die rotse geklouter en onder die slegte omstandighede gedoen wat ons kon. Ons het middagete gehad, gestudeer en gewag dat die gety weer opstoot.

Ten spyte van die talle risiko’s en ongeriewe was dit ’n gesonde, gelukkige lewe. Die geboorte van ons twee seuns het egter ’n groot verandering meegebring. Ons het steeds op die boot gewoon, maar wanneer ons ook al noord tot by Oona River gevaar het, het Anna en die seuns daar by haar ouers gebly terwyl die res van ons verder noord gevaar het tot in Alaska. Dan, wanneer ons na die suide toe teruggekeer het, het Anna en die seuns hulle weer by ons aangesluit.

Ek kan nie onthou dat die kinders ooit gekla het of siek was nie. Hulle het te alle tye reddingsgordels gedra, en soms het ons selfs ’n tou om hulle vasgebind. Ja, daar was ’n paar spannende oomblikke.

Verdere aanpassings

In 1936 moes ons die Charmian verlaat, en ek het sekulêre werk gekry. Later het ons ’n derde seun gehad. Mettertyd het ek ’n vissersboot gekoop wat nie net ’n bestaansmiddel was nie, maar ons ook in staat gestel het om met die predikingswerk langs die kus voort te gaan.

Ons het ons gevestig op Digby-eiland oorkant die baai van Prince Rupert, en kort voor lank is daar ’n gemeentetjie gestig. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog, toe die predikingswerk van Jehovah se Getuies in Kanada verbied was, het ons gewoonlik ná middernag per boot na Prince Rupert gevaar en ’n “blitsaanval” op die gebied gedoen deur by elke huis lektuur te laat. Niemand het ons middernagtelike besoeke ooit met die verspreiding van verbode lektuur in verband gebring nie!

Die land het vrugbaar geword

Gaandeweg het meer mense met Jehovah se Getuies begin assosieer, en in 1948 was dit duidelik dat Prince Rupert ’n Koninkryksaal nodig gehad het. Nadat ons ’n gebou aan die oorkant van die hawe by die leër gekoop het, het ons dit uitmekaargehaal, met vlotte na die oorkant vervoer en dit toe met vragmotors na die bouterrein vervoer. Jehovah het ons harde werk geseën, en ons het ons eie Koninkryksaal gehad.

In 1956 het ek die pionierdiens hervat, en Anna het haar in 1964 by my aangesluit. Ons het weer per boot met die Weskus langs gewerk. ’n Tyd lank het ons ook aan die kringwerk deelgeneem en gemeentes besoek van die Koningin Charlotte-eilande af ooswaarts oor die berge na die Fraser-meer en later tot by Prince George en Mackenzie. Oor die jare het ons duisende kilometers per motor, boot en vliegtuig deur die Pasifiese Noordweste gereis.

In Prince Rupert geniet ons steeds goeie ondervindinge in die bediening. Ek en Anna het albei met mense gestudeer wat later die Wagtoring-Bybelskool Gilead bygewoon het en daarna as sendelinge in die buiteland gedien het. Wat ’n vreugde is dit tog om te sien hoe ons geestelike kinders die kosbare Koninkryksboodskap na afgeleë lande uitdra!

Nou is ons albei al ver oor die 80 en het met verslegtende gesondheid te kampe, maar ons is steeds gelukkig in Jehovah se diens. Die natuurtonele wat ons in Alaska en Brits-Columbië gesien het, bring kosbare herinneringe terug. Maar dit verskaf ons selfs groter vreugde om te sien dat die eens dorre geestelike wildernis van hierdie uitgestrekte gebied nou met baie gemeentes van Jehovah se lowers pryk.

Dit het ons hart veral goed gedoen om te sien hoe ons eie kinders, sowel as ons geestelike kinders, grootword en Jehovah loof. Ons is verheug dat ons ’n klein aandeel aan die geestelike groei in hierdie deel van die aarde gehad het. Alaska het byvoorbeeld nou sy eie takkantoor wat die werk van meer as 25 gemeentes koördineer.

Hier in Prince Rupert het ons in 1988 die voorreg gehad om ’n pragtige nuwe Koninkryksaal toe te wy, reg in die hartjie van die stad. Ja, ons is verheug dat ons, soos Jesaja, kan sê: “U het, o HERE, die nasie vermeerder; U het . . . Uself verheerlik; U het al die grense van die land uitgebrei.”—Jesaja 26:15.

[Prent op bladsy 21]

Ons dien in die kringwerk 1964-67

[Prent op bladsy 24]

Die soort boot wat gebruik is om langs die kus te getuig

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel