Wat is die toestand van die dooies?
VREES vir die dooies is op een veronderstelling gegrond—dat die oorledene ’n siel of gees het wat ná die dood voortlewe. As die Bybel wel leer dat hierdie siening vals is, bestaan daar geen twyfel oor die vraag of die dooies ’n mens kan kwaad aandoen of nie. Wat sê die Bybel dan?
Aangaande die toestand van die dooies sê God se Woord: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet. Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie.”—Prediker 9:5, 6.
Kan die dooies jou met die oog hierop help of jou kwaad aandoen? Die Skrif sê nee. Die dooies is in ’n toestand van onbewustheid en stilte. Hulle kan nie met die lewendes kommunikeer of enige emosie toon nie—nie liefde nie en ook nie haat nie—en hulle kan ook geen plan uitvoer nie. Niemand hoef hulle te vrees nie.
‘Wel, ja, dit is dalk waar as jy na die dood van die fisiese liggaam verwys’, sê party miskien. ‘Maar ’n fisiese dood is nie die einde van die lewe nie; dit bevry net die gees van die liggaam. Daardie gees kan die lewendes moontlik help of hulle kwaad aandoen.’ Miljoene mense deur die hele wêreld dink so.
In Madagaskar word die lewe byvoorbeeld bloot as ’n oorgangstadium beskou, met die gevolg dat ’n begrafnis en ’n opgrawing as belangriker beskou word as ’n troue. Daar word gemeen dat die persoon van sy voorouers af gekom het en ná die dood na hulle toe terugkeer. Daarom word die lewendes se huise van hout en klei gemaak, materiale wat mettertyd disintegreer, terwyl grafkelders, die “huise” van die dooies, oor die algemeen beter afgewerk en duursamer is. Die familie en vriende meen dat ’n opgrawing vir hulle seëninge sal meebring, en vroue glo dat hulle vrugbaar sal word as hulle aan die dooie familielid se beendere raak. Maar ons kan weer eens vra: Wat sê God se Woord hieroor?
Die mens is nie veronderstel om te sterf nie
Dit is interessant om te sien dat Jehovah God die mens geskep het om te lewe, en hy het van die dood slegs as ’n gevolg van ongehoorsaamheid gepraat (Genesis 2:17). Ongelukkig het die eerste man en vrou wel gesondig, en as gevolg daarvan het die sonde as ’n dodelike erfenis tot alle mense deurgedring (Romeine 5:12). ’n Mens kan dus sê dat die dood ’n lewensfeit is, ja, ’n pynlike lewensfeit, sedert die eerste mensepaar ongehoorsaam was. Ons is geskep om te lewe, wat gedeeltelik verduidelik waarom dit vir soveel miljoene mense so moeilik is om die dood as die einde te beskou.
Volgens die Bybelverslag het Satan die eerste mensepaar oor die dood probeer mislei deur God se waarskuwing te weerspreek dat ongehoorsaamheid die dood tot gevolg sou hê (Genesis 3:4). Maar met die verloop van tyd kon daar duidelik gesien word dat mense sterf net soos God gesê het hulle sou. Satan het gevolglik deur die eeue heen nog ’n leuen verkondig—dat die een of ander geestelike deel van die mens ná die dood van die liggaam voortleef. So ’n leuen kan verwag word van Satan die Duiwel, wat deur Jesus as ‘die vader van die leuen’ beskryf is (Johannes 8:44). Daarenteen is God se antwoord op die dood ’n bemoedigende belofte.
Watter belofte?
Dit is die belofte van ’n opstanding vir baie. Die Griekse woord wat met “opstanding” vertaal word, is a·naʹsta·sis. Dit beteken letterlik “om weer op te staan”, en dit verwys na ’n opwekking uit die dood. Ja, die mens gaan lê wanneer hy sterf, maar God kan ’n persoon deur sy krag weer laat opstaan. Die mens verloor die lewe, maar God kan hom die lewe teruggee. Die Seun van God, Jesus Christus, het gesê “daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan” (Johannes 5:28, 29). Die apostel Paulus het gepraat van sy “hoop op God . . . dat daar ’n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges” (Handelinge 24:15). Job, ’n getroue kneg van God in voor-Christelike tye, het ook sy hoop op ’n opstanding uitgespreek: “As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe? Dan sou ek hoop al die dae van my stryd totdat my aflossing kom; U [God] sou roep, en ek sou U antwoord.”—Job 14:14, 15.
Is dit nie so dat die duidelike belofte van die opstanding die idee weerlê dat die dooies as geeste voortlewe nie? Wat sou die doel van die opstanding dan wees indien die dooies reeds gelewe het en ’n genotvolle bestaan in die hemel of in die een of ander geesteryk gevoer het? Sou hulle nie reeds hulle beloning ontvang het of hulle bestemming bereik het nie? ’n Studie van God se Woord toon dat die dooies werklik dood is, onbewus is, dat hulle slaap totdat die groot ontwaking plaasvind deur middel van ’n opstanding in ’n nuwe wêreld—’n paradys—wat ons liefdevolle Vader, Jehovah, aan ons belowe het. Maar as die dood nie beteken dat die liggaam van die gees skei nie, en as die gees nie voortlewe nie, wat dan van die gevalle waar mense blykbaar boodskappe uit die geesteryk ontvang het?
Boodskappe uit die geesteryk
Ontelbare gevalle is al gemeld van mense wat beweer het dat hulle boodskappe uit die geesteryk ontvang het. Waar kom dit eintlik vandaan? Die Bybel waarsku ons dat “Satan homself voordoen as ’n engel van die lig. Daarom is dit ook nie vreemd dat sy agente hulle voordoen as agente van die goeie nie” (2 Korinthiërs 11:14, 15, The New English Bible). Ja, om mense makliker te bedrieg en te mislei, kommunikeer die demone (opstandige engele) met die lewendes en gee hulle soms voor dat hulle behulpsaam probeer wees.
Die apostel Paulus gee ’n verdere waarskuwing teen hierdie veldtog van bedrog: “Sommige [sal] van die geloof afvallig . . . word en verleidende geeste en leringe van duiwels . . . aanhang” (1 Timotheüs 4:1). Enigiets wat dus aan die dooies toegeskryf word, is waarskynlik van die demone afkomstig wat hulle as “agente van die goeie” voordoen en ’n godsdiensleuen bevorder, waardeur hulle mense slawe maak van bygelowe wat hulle van die waarheid van God se Woord weglei.
Psalm 146:3, 4 bevestig dat die dooies niks kan sê, doen of voel nie waar dit sê: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.” Watter gees is dit wat ‘uitgaan’? Dit is die persoon se lewenskrag, wat deur asemhaling onderhou word. Wanneer die oorledene dus opgehou het om asem te haal, het sy sintuie opgehou werk. Hy gaan ’n toestand van algehele onbewustheid binne. Dit is dus vir hom onmoontlik om beheer oor die lewendes te hê.
Dit is waarom die Bybel die dood van ’n mens met dié van ’n dier vergelyk, deur te sê dat albei met die dood ’n toestand van onbewustheid binnegaan en terugkeer na die stof waaruit hulle gemaak is. Prediker 3:19, 20 sê: “Die lot van die mensekinders is ook die lot van die veediere: hulle het een en dieselfde lot; soos die een sterwe, so sterwe die ander, en hulle almal het dieselfde asem, en ’n voorkeur van die mens bo die veediere is daar nie; want alles is tevergeefs. Alles gaan na een plek toe; alles is uit die stof, en alles keer na die stof terug.”
Jehovah God weet dat die demone mense probeer bedrieg deur hulle te laat dink dat hulle met die dooies kan kommunikeer en deur hulle beïnvloed kan word, en daarom het hy sy volk, die eertydse Israeliete, gewaarsku: “Daar mag niemand by jou gevind word wat . . . met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie, of wat met besweringe omgaan, of wat ’n gees van ’n afgestorwene vra of ’n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die HERE ’n gruwel.”—Deuteronomium 18:10-12.
Die idee dat die dooies ons kan kwaad aandoen, kom beslis nie van God af nie. Hy is ’n God van waarheid (Psalm 31:5, NW; Johannes 17:17). En daar wag ’n wonderlike toekoms op liefhebbers van waarheid wat hom “in gees en waarheid” aanbid.—Johannes 4:23, 24.
Jehovah, ’n God van waarheid en liefde
Ons liefdevolle hemelse Vader, “wat nie kan lieg nie”, het belowe: Miljoene der miljoene wat gesterf het en in die grafte is, sal opgewek word met die vooruitsig op die ewige lewe in ’n nuwe wêreld van regverdigheid! (Titus 1:1, 2; Johannes 5:28). Hierdie liefdevolle belofte van ’n opstanding toon dat Jehovah opreg belangstel in die welsyn van sy menseskepping en ’n hartgrondige begeerte het om ’n einde aan die dood, droefheid en pyn te maak. Daarom is dit glad nie nodig om die dooies te vrees of om oormatig besorg oor hulle en hulle vooruitsigte te wees nie (Jesaja 25:8, 9; Openbaring 21:3, 4). Ons liefdevolle en regverdige God, Jehovah, kan en sal hulle opwek en die pyn van die dood ongedaan maak.
In God se Woord, die Bybel, is daar talle beskrywings van hoe toestande op die aarde in daardie beloofde nuwe wêreld van regverdigheid sal wees (Psalm 37:29; 2 Petrus 3:13). Dit sal ’n tyd wees van vrede en geluk en van liefde vir ons medemens (Psalm 72:7; Jesaja 9:6; 11:6-9; Miga 4:3, 4). Almal sal veilige, pragtige huise sowel as aangename werk hê (Jesaja 65:21-23). Daar sal vir almal volop goeie dinge wees om te eet (Psalm 67:7; 72:16). Almal sal uitstekende gesondheid geniet (Jesaja 33:24; 35:5, 6). Hoewel die apostels en ’n bykomende, beperkte aantal mense saam met Jesus in die hemel gaan regeer, maak die Bybel nie melding van geseënde toestande in die hemel vir die siele van ander ná die dood nie (Openbaring 5:9, 10; 20:6). Dit sou vreemd gewees het as die miljarde wat al gesterf het ná die dood voortlewe.
Maar dit is nie vreemd as ons met hierdie duidelike leerstelling van die Bybel bekend is nie: Die dooies het opgehou om as lewende siele te bestaan. Hulle kan jou nie kwaad aandoen nie. Dié in die gedenkgrafte rus eenvoudig; hulle is in ’n toestand van onbewustheid tot hulle op God se bestemde tyd opgewek gaan word (Prediker 9:10; Johannes 11:11-14, 38-44). Ons verwagtinge en ideale berus gevolglik by God. “Laat ons bly wees en ons verheug in die redding deur hom.”—Jesaja 25:9, NW.
[Prent op bladsy 7]
Soos God se Woord duidelik toon, is die dooies in ’n toestand van algehele onbedrywigheid tot die opstanding