Kan die dooies ons sien?
’NVROU vermoor haar man. Sewe jaar later word sy verskrik deur ’n droom wat sy glo ’n teken van haar oorlede man se wraak is. Om sy “gees” te paai, stuur sy haar dogter om drankoffers op sy graf uit te giet.
Die dogter weet nie wat om vir die gees van haar pa te sê nie, aangesien die offerandes van haar ma, wat hom doodgemaak het, af kom. Vanuit ’n skuilplek hou haar broer haar dop. Hy kom vorentoe, en hy en sy suster bid tot hulle pa om hulp sodat hulle sy moord kan wreek.
Hierdie toneel kom uit Die drankofferdraers, ’n Griekse toneelstuk wat meer as 2 400 jaar gelede geskryf is. In sommige wêrelddele, veral in Afrika, word soortgelyke offerandes vandag nog by grafte gebring.
Neem byvoorbeeld die ondervinding van Ibe, wat in Nigerië woon. Nadat hy drie kinders aan die dood afgestaan het, raadpleeg hy die tradisionele toordokter wat vir Ibe sê dat die sterftes nie sonder rede is nie—Ibe se oorlede pa is kwaad omdat sy begrafnis nie op die regte manier uitgevoer is nie.
Ibe volg die toordokter se raad, offer ’n bok en giet ’n offerande van jenewer en wyn op sy pa se graf uit. Hy roep sy pa se gees aan, smeek om vergifnis, bevestig sy liefde en vra om geseën te word.
Ibe twyfel nie dat sy pa hom kan sien en hoor nie. Hy glo nie dat sy pa leweloos is nie, maar dat hy met sy dood van die sigbare wêreld na die onsigbare wêreld “oorgegaan het”. Ibe glo dat sy pa van die wêreld van vlees en bloed na die geesteswêreld, die domein van die voorvaders, gegaan het.
Ibe redeneer soos volg daaroor: ‘Hoewel pa nie meer in hierdie wêreld is nie, onthou hy my nog en stel hy belang in my welsyn. En aangesien hy nou ’n gees met groter krag is, is hy in ’n baie beter posisie om my te help as toe hy ’n man op aarde was. Boonop kan hy God direk namens my nader, aangesien God ook ’n gees is. Pa is dalk nóú kwaad, maar as ek die gepaste respek aan hom betoon, sal hy my vergewe en my seën.’
In Afrika is die opvatting dat die dooies mense op aarde sien en hulle lewe beïnvloed iets algemeens onder diegene wat tradisionele godsdiens beoefen. Dit kom ook onder verklaarde Christene voor. Nadat ’n vrou in die kerk getrou het, is dit byvoorbeeld nie ongewoon dat sy na haar ouers se huis toe gaan om ’n tradisionele seën te ontvang nie. Daar word die voorvaders opgeroep, en ’n drankoffer word vir hulle uitgegiet. Baie mense glo dat versuim om dit te doen rampspoedige gevolge vir die huwelik sal inhou.
Daar word geglo dat die voorvaders, of voorvaderlike geeste, die voortbestaan en voorspoed van hulle gesinne op aarde verseker. Volgens hierdie beskouing is hulle kragtige bondgenote wat in staat is om ’n goeie oes te bring, welsyn te bevorder en mense teen die kwaad te beskerm. Hulle is ’n voorspraak vir die mens. As hulle egter geïgnoreer of te na gekom word, veroorsaak hulle rampe—siekte, armoede en selfs die dood. Daarom probeer mense deur offerandes en rituele om goeie verhoudinge met die dooies te behou.
Glo jy dat die dooies ’n aktiewe rol in die lewe van die lewendes speel? Het jy al ooit by die graf van ’n geliefde gestaan en gevind dat jy ’n paar woorde sê, net ingeval hy of sy jou kan hoor? Wel, of die dooies ons sien en hoor of nie hang af van wat by die dood gebeur. Kom ons ondersoek die Bybel se beskouing van hierdie belangrike onderwerp.