Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 1/1 bl. 20-23
  • ’n Kosbare skat om te deel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Kosbare skat om te deel
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My ma se besielende voorbeeld
  • Ons deel ons skat voltyds met ander
  • Ons bereik ’n doel
  • Malta en Libië
  • ’n Nuwe toewysing
  • Die melaatsekolonie
  • Onderskraag deur die skat
  • Jehovah het my geleer om sy wil te doen
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Malta se gasvryheid bring seëninge mee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Ek het my oë en hart op die prys gevestig gehou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Vasbeslote om aan te hou om my Skepper te dien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 1/1 bl. 20-23

’n Kosbare skat om te deel

SOOS VERTEL DEUR GLORIA MALASPINA

Toe die kuslyn van Sisilië uit die gesig verdwyn het, het ek en my man ons aandag op ons bestemming, die eiland Malta in die Middellandse See, begin toespits. Wat ’n opwindende vooruitsig! Tydens die seereis het ons aan die apostel Paulus se ondervinding op Malta gedurende die eerste eeu gedink.—HANDELINGE 28:1-10.

DIE jaar was 1953, en Malta het nie destyds die predikingsbedrywigheid van Jehovah se Getuies erken nie. Ons het die vorige jaar aan die Wagtoring-Bybelskool Gilead gegradueer en is na Italië gestuur. Nadat ons net ’n kort rukkie Italiaans geleer het, was ons gretig om te sien wat op Malta vir ons wag.

Hoe het ek, ’n jong vrou, ’n buitelandse sendeling geword? Laat ek verduidelik.

My ma se besielende voorbeeld

In 1926, toe ons gesin in Fort Frances, Ontario, Kanada, gewoon het, het my ma die boekie Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie by ’n Bybelstudent (soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het) geneem. Sy het dit met groot belangstelling gelees, en daardie selfde week nog het sy ’n groepbybelstudie bygewoon waar die Watch Tower gebruik is. My ma was ’n geesdriftige Bybelleser, en sy het die boodskap oor God se Koninkryk aangeneem as die skat waarna sy gesoek het (Mattheüs 6:33; 13:44). Ondanks my pa se hewige teenkanting en al het sy drie dogtertjies gehad om voor te sorg, het sy haar standpunt ingeneem vir wat sy geleer het.

My ma se onwrikbare geloof gedurende die volgende 20 jaar het my en my twee ouer susters, Thelma en Viola, van die wonderlike hoop van die ewige lewe in ’n nuwe wêreld van regverdigheid bewus laat bly (2 Petrus 3:13). Sy het voor talle moeilike beproewinge te staan gekom, maar ons het nooit getwyfel dat sy die regte weg gekies het nie.

In 1931, toe ek maar tien was, het ons na ’n plaas in noordelike Minnesota, VSA, verhuis. Daar was ons van gereelde omgang met Jehovah se Getuies afgesny, maar nie van Bybelonderrigting deur my ma nie. Haar toegewyde diens as ’n kolporteur, of voltydse bedienaar, het by my die begeerte gewek om by haar aan te sluit in daardie werk. In 1938 het ek en my twee susters ons toewyding aan Jehovah gesimboliseer deur by ’n byeenkoms in Duluth, Minnesota, gedoop te word.

Nadat ek in 1938 my hoërskoolopleiding voltooi het, het my ma my aangemoedig om ’n sakekursus te volg sodat ek myself as ’n pionier (die nuwe naam vir kolporteur) kon onderhou. Dit was goeie raad, veral aangesien my pa besluit het om sy eie weg in te slaan en ons aan ons lot oorgelaat het.

Ons deel ons skat voltyds met ander

Ek het later na Kalifornië verhuis, en in 1947 het ek met die pionierwerk in San Francisco begin. Terwyl ek met voorbyeenkomswerk vir die “Alle Nasies se Uitbreiding”-Byeenkoms in Los Angeles besig was, het ek Francis Malaspina ontmoet. Ons gemeenskaplike doel om sendingwerk te doen, het tot die begin van ’n liefdevolle verhouding gelei. Ons is in 1949 getroud.

In September 1951 is ek en Francis na die 18de klas van Gilead genooi. Op ons gradueringsdag, 10 Februarie 1952, ná vyf maande van intensiewe opleiding, het die president van die skool, Nathan H. Knorr, die lande waarheen ons gestuur sou word in alfabetiese volgorde afgelees. Toe hy sê: “Italië, broer en suster Malaspina”, was ons in ons gedagtes reeds op reis!

’n Paar weke later het ons in New York op die skip geklim vir die tien dae lange seereis na Genua, Italië. Giovanni DeCecca en Max Larson, van die Brooklynse hoofkwartierpersoneel, was daar op die dok om ons af te sien. In Genua is ons deur sendelinge verwelkom wat goed bekend was met die ingewikkelde prosedures om die land binne te gaan.

Ons was opgewonde oor alles om ons en het op ’n trein na Bologna geklim. By ons aankoms het ons ’n stad gesien wat nog deur die bomaanvalle van die Tweede Wêreldoorlog ontsier was. Maar daar was ook talle aangename dinge, soos die onweerstaanbare aroma van geroosterde koffie wat die oggendlug gevul het en die speserygeur van heerlike souse wat vir tallose soorte pastageregte voorberei word.

Ons bereik ’n doel

Ons het met ’n gememoriseerde aanbieding in die bediening begin uitgaan en het dit herhaal totdat die boodskap aangeneem of die deur toegemaak is. Die begeerte om ons goed uit te druk, het ons aangespoor om die taal ywerig te bestudeer. Ná vier maande is ons na ’n nuwe sendinghuis in Napels gestuur.

Iets merkwaardigs omtrent hierdie groot stad is sy pragtige tonele. Ons het ons diens daar geniet, maar ná nog vier maande is my man in die kring-, of reisende, werk aangestel en het hy gemeentes van Rome af tot in Sisilië besoek. Later het ons ook in Malta en selfs Libië in Noord-Afrika besoek afgelê.

Die treinritte van Napels na Sisilië het gedurende daardie jare ’n mens se fisiese uithouvermoë beproef. Ons het op ’n stampvol trein geklim en in die vol gangetjies gestaan, soms ses tot agt uur lank. Maar dit het ons ’n goeie geleentheid gebied om diegene om ons te bestudeer. Baie keer het ’n groot karba tuisgemaakte wyn as ’n sitplek vir sy eienaar gedien, wat af en toe daaruit gedrink het om sy dors tydens die lang reis te les. Vriendelike passasiers het dikwels aangebied om hulle brood en salami met ons te deel—’n gasvrye, hartverblydende gebaar wat ons waardeer het.

In Sisilië het vriende ons ontmoet en ons tasse teen die berg uit gedra tydens ’n onafgebroke klimtog van drie en ’n half uur na die gemeente heel bo. Ons Christenbroers se hartlike verwelkoming het ons van ons moegheid laat vergeet. Ons het soms op muile gery wat vas op die voete was, maar ons het nooit na die dieptes daaronder gekyk waarin ons sou beland het as die muil net een keer mis getrap het nie. Ons broers se ferm standpunt vir Bybelwaarheid ondanks hulle ontberinge het ons versterk, en die liefde wat aan ons betoon is, het ons dankbaar gemaak dat ons by hulle kon wees.

Malta en Libië

Propvol herinneringe aan ons broers in Sisilië het ons per skip na Malta vertrek. Die apostel Paulus het vriendelike mense daar aangetref, en ons het ook. ’n Storm in St. Paulus-baai het ons laat besef aan watter gevaar skepies in die eerste eeu blootgestel was (Handelinge 27:39–28:10). Libië het nog voorgelê. Hoe sou ons vaar in hierdie Afrikaland waar ons werk verbied was?

Ons het weer eens ’n heeltemal ander kultuur belewe. Die tonele en geluide van die stad Tripoli het my aandag getrek terwyl ons deur die middestadgebied se strate met hulle rye pilare gestap het. Mans het klere van geweefde kameelhaar gedra as beskerming teen die Saharawoestyn se ondraaglike hitte bedags en teen die koelheid snags. Ons het geleer om waardering en respek te hê vir die manier waarop mense hulle aanpas by die klimaatstoestande waar hulle woon.

Die broers se waaksame ywer het ons geleer om ten volle op Jehovah te vertrou en die opdragte uit te voer van diegene wat meer van die predikingswerk onder sulke omstandighede weet. Ons Christenbroers was van baie nasionaliteite; tog was hulle eensgesind in hulle diens aan Jehovah.

’n Nuwe toewysing

Ons moes Italië verlaat omdat ons predikingswerk teëgestaan is, maar ons het in 1957 met graagte ’n nuwe predikingstoewysing in Brasilië aanvaar. Ek en Francis het ons by die lewe en gebruike aangepas, en ná agt maande is Francis genooi om kringwerk te doen. Ons het per bus, per vliegtuig en te voet gereis. Hierdie uitgestrekte, pragtige land het soos ’n aardrykskundeles voor ons ontvou.

Ons eerste kring het uit tien gemeentes in die stad Sao Paulo sowel as tien dorpies in die binneland en langs die suidelike kusgebied van die staat Sao Paulo bestaan. Destyds was daar geen gemeentes in daardie dorpies nie. Ons het eers blyplek gekry en dan, nadat ons ons ingerig het, met die Koninkryksboodskap van huis tot huis gegaan. Ons het ook uitnodigings na ’n vertoning van een van die Wagtoringgenootskap se opvoedkundige rolprente by mense gelaat.

Dit was nie ’n maklike taak om op ’n bus te klim met die rolprente, projektor, transformator, lêers, lektuur, uitnodigings en die toerusting om die plek waar die rolprent vertoon sou word met die hand op die uitnodigings te stempel nie. Ons tassie klere was iets kleins in vergelyking daarmee. Ons moes die projektor op ons skoot hou sodat dit nie uitmekaarskud van die ritte oor die hobbelrige paaie nie.

Nadat ons ’n plek gekry het om die rolprent te vertoon, het ons van deur tot deur gegaan en uitnodigings na die rolprentvertoning by mense gelaat. Ons het soms toestemming verkry om die rolprent in ’n restaurant of ’n hotel te vertoon. Ander kere het ons in die buitelug ’n laken tussen twee pale gespan. Die waarderende gehoor, waarvan baie nooit vantevore ’n rolprent gesien het nie, het aandagtig gestaan en luister terwyl Francis die kommentaar gelees het. Daarna het ons Bybellektuur versprei.

Ons het bus gery om die dorpies te bereik. Party van die riviere het nie ’n brug gehad nie, en die bus is dan op ’n groot vlot gesit en na die oorkant laat dryf. Ons is aangeraai om uit die bus te klim en om, as ons die bus in die rivier in sien gly, aan die ander kant van die vlot af te spring sodat ons nie ingesuig word nie. Ons bus het gelukkig nooit in die rivier beland nie—en dit is ’n goeie ding, veral aangesien daar klaarblyklik vleisetende piranhavisse in die rivier was!

Nadat ons in 1958 die internasionale byeenkoms in New York bygewoon het, is ons terug na Brasilië, waar ons kort daarna weer in die reisende werk was. Ons streek het ons tot by die Uruguaanse grens in die suide, Paraguay in die weste, die staat Pernambuco in die noorde en die Atlantiese Oseaan aan die oostekant van Brasilië geneem.

Die melaatsekolonie

In die middel-sestigerjare het ons ’n uitnodiging aangeneem om een van die Genootskap se rolprente in ’n melaatsekolonie te vertoon. Ek moet erken dat ek nogal skrikkerig was. Afgesien van wat ons in die Bybel gelees het, het ons maar min van melaatsheid geweet. Toe ons in die witgeverfde kamp ingegaan het, is ons na ’n groot ouditorium geneem. ’n Deel in die middel was vir ons en ons toerusting met toue afgebaken.

Die elektrisiën wat ons gehelp het, was al 40 jaar lank ’n inwoner van die kolonie. Hy het sy hande tot by die gewrigte verloor asook party ander liggaamsdele sodat hy erg vermink was. Ek was aanvanklik verskrik, maar sy opgeruimdheid en die behendigheid waarmee hy sy werk gedoen het, het my op my gemak laat voel. Ons het kort voor lank oor baie dinge gesels terwyl ons die nodige voorbereidings afgehandel het. Van die duisend siekes wat in die inrigting gehuisves is, het oor die tweehonderd opgedaag. Terwyl hulle met moeite ingekom het, het ons talle verskillende stadiums van die siekte gesien waaraan hulle gely het. Wat ’n hartroerende, emosionele ondervinding was dit tog vir ons!

Ons het gedink aan wat Jesus vir die melaatse gesê het wat gesmeek het: “Here, as U wil, kan U my reinig.” Jesus het die man aangeraak en hom die versekering gegee: “Ek wil; word gereinig!” (Mattheüs 8:2, 3). Aan die einde van die program het baie ons kom bedank omdat ons gekom het, en hulle verminkte liggame was ’n duidelike bewys van die mensdom se groot lyding. Later het plaaslike Getuies die Bybel studeer met dié wat meer wou leer.

In 1967 is ons terug na die Verenigde State om van ’n paar ernstige gesondheidsprobleme werk te maak. Terwyl ons steeds hieraan aandag gegee het, het ons weer die voorreg gehad om in die kringwerk te dien. Die volgende 20 jaar het ek saam met Francis aan die reisende werk in die Verenigde State deelgeneem. Gedurende hierdie tyd het hy ook die Koninkryksbedieningskool onderrig.

Wat ’n bron van bemoediging was dit tog vir my om ’n liefdevolle man en getroue metgesel te hê wat omgesien het na watter aanwysing hy ook al ontvang het! Ons het die voorreg gehad om saam in dele van vier vastelande die skat van Bybelwaarheid met ander te deel.

Onderskraag deur die skat

In 1950 is my ma getroud met David Easter, ’n getroue broer wat in 1924 gedoop is. Hulle het baie jare lank saam in die voltydse bediening gedien. Maar gedurende die laaste deel van my ma se lewe het Alzheimer se siekte begin kop uitsteek. Sy het baie versorging nodig gehad aangesien die siekte haar redeneervermoë belemmer het. My behulpsame susters en David het die groot verantwoordelikheid van haar versorging op hulle geneem, aangesien hulle nie wou hê dat ons ons spesiale voorregte van voltydse diens prysgee nie. My ma se getroue voorbeeld reg tot haar dood in 1987 het baie gedoen om ons ons koers in die lewe te help bepaal, en die hoop wat sy gekoester het van ’n hemelse beloning het ons vertroos.

Teen 1989 het ek agtergekom dat Francis nie meer so energiek soos altyd is nie. Ons het nie besef dat bilharzia, ’n siekte wat in baie wêrelddele goed bekend is, hom aangetas het nie. In 1990 het hierdie meedoënlose vyand oorgeneem, en ek het my geliefde lewensmaat verloor saam met wie ek meer as 40 jaar in Jehovah se diens deurgebring het.

Aanpassings is ’n deel van die lewe. Party is maklik, en party is moeilik. Maar Jehovah, die Gewer van die kosbare skat van Bybelwaarheid, het my deur middel van sy organisasie en die liefde en aanmoediging van my familie onderskraag. Ek vind steeds bevrediging terwyl ek na die vervulling van al Jehovah se betroubare beloftes uitsien.

[Prent op bladsy 23]

Toe ek en my man sendelinge in Italië was

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel