Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w05 12/1 bl. 13-17
  • Vasbeslote om aan te hou om my Skepper te dien

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vasbeslote om aan te hou om my Skepper te dien
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons neem Bybelwaarheid aan
  • Die voltydse bediening
  • Ons raak gevestig in ons toewysing
  • Ondervindinge as sendelinge
  • Ons bied uitdagings die hoof
  • Nog ’n droewige gebeurtenis
  • Ek hou aan in my diens
  • Ek het my oë en hart op die prys gevestig gehou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Bly oor my aandeel aan die wêreldwye Bybelonderrigtingswerk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • ’n Ryk lewe in Jehovah se diens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • ’n Kosbare skat om te deel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
w05 12/1 bl. 13-17

Lewensverhaal

Vasbeslote om aan te hou om my Skepper te dien

SOOS VERTEL DEUR CONSTANCE BENANTI

Alles het so vinnig gebeur! Binne ses dae het Camille, ons 22 maande oue dogtertjie, ’n hoë koors ontwikkel en gesterf. My droefheid was ondraaglik. Ek wou ook sterf. Waarom het God so iets toegelaat? Ek was verward.

MY OUERS was immigrante uit Castellammare del Golfo, ’n dorp in Sisilië, Italië. Hulle het na die stad New York getrek, waar ek op 8 Desember 1908 gebore is. Ons gesin het bestaan uit my pa en ma en hulle agt kinders, vyf seuns en drie dogters.a

In 1927 het my pa, Santo Catanzaro, die vergaderinge van ’n klein groepie Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is, begin bywoon. Giovanni de Cecca, ’n Italiaanse broer wat by die hoofkwartier (wat Bethel genoem word) in Brooklyn, New York, gedien het, het vergaderinge gehou waar ons gewoon het, in nabygeleë New Jersey. My pa het na verloop van tyd aan die predikingswerk begin deelneem en die voltydse diens betree, waarmee hy tot sy dood in 1953 volgehou het.

Toe my ma jonk was, wou sy ’n non word, maar haar ouers het dit nie toegelaat nie. Aanvanklik het my ma my beïnvloed om nie die Bybel saam met my pa te studeer nie. Ná ’n rukkie het ek egter veranderinge in hom gesien. Hy het kalmer en sagmoediger geword, en daar was meer vrede in die gesin. Ek het daarvan gehou.

Intussen het ek Charles ontmoet, ’n man van my ouderdom wat in Brooklyn gebore is. Sy gesin het, soos myne, van Sisilië af gekom. Kort daarna het ons verloof geraak, en nadat my pa teruggekeer het van die byeenkoms van Jehovah se Getuies wat in 1931 in Columbus, Ohio, gehou is, is ons getroud. Binne ’n jaar is ons dogter Camille gebore. Toe sy oorlede is, was ek ontroosbaar. Eendag het Charles, wat in trane was, vir my gesê: “Camille was net soveel my dogter as joune. Waarom kan ons nie net met ons lewe voortgaan en mekaar vertroos nie?”

Ons neem Bybelwaarheid aan

Charles het my daaraan herinner dat my pa van die opstandingshoop gepraat het toe hy die toespraak by Camille se begrafnis gehou het. “Glo jy werklik aan die opstanding?” het ek gevra.

“Ja!” het hy geantwoord. “Waarom vind ons nie meer uit oor wat die Bybel sê nie?”

Daardie nag kon ek nie slaap nie. Sesuur die oggend, voordat my pa werk toe is, het ek na hom toe gegaan en vir hom gesê dat ek en Charles die Bybel wil bestudeer. Hy was verheug en het my ’n drukkie gegee. My ma, wat nog in die bed was, het ons hoor praat. Sy het my gevra wat gebeur het. “Niks nie”, het ek gesê. “Ek en Charles het net besluit om die Bybel te bestudeer.”

“Ons moet almal die Bybel bestudeer”, het sy geantwoord. Ons almal, insluitende my broers en susters—altesaam 11 van ons—het dus as ’n gesin saam begin studeer.

Die Bybelstudie het my vertroos, en stadigaan is my verwardheid en droefheid deur hoop vervang. ’n Jaar later, in 1935, het ek en Charles Bybelwaarhede aan ander begin verkondig. In Februarie 1937, nadat ons ’n toespraak by die hoofkwartier in Brooklyn gehoor het wat die belangrikheid van waterdoop uit die Bybel verduidelik het, is ons saam met baie ander by ’n nabygeleë hotel gedoop. Ek het hierdie stap nie net geneem omdat ek my dogter weer eendag wou sien nie, maar ook omdat dit my begeerte was om ons Skepper te dien, wat ek leer ken en liefkry het.

Die voltydse bediening

Dit was opwindend en lonend om met ander te praat oor wat ek geleer het, veral omdat baie destyds op die Koninkryksboodskap gereageer en dit ook begin verkondig het (Matteus 9:37). In 1941 het ek en Charles pioniers geword, soos Jehovah se Getuies hulle voltydse bedienaars noem. Nie lank daarna nie het ons ’n woonwa gekoop, en Charles het ons familie se langbroekfabriek in die beheer van my broer Frank gelaat. Ons was baie opgewonde toe ons later ’n brief ontvang het wat ons in kennis gestel het dat ons as spesiale pioniers aangestel is. Aanvanklik het ons in New Jersey gedien, en later is ons na die staat New York gestuur.

In 1946, terwyl ons ’n byeenkoms in Baltimore, Maryland, bygewoon het, is ons gevra om ons by ’n vergadering met spesiale verteenwoordigers van Jehovah se Getuies aan te meld. Daar het ons Nathan H. Knorr en Milton G. Henschel ontmoet. Hulle het met ons oor die sendingwerk gepraat, en in die besonder oor die predikingswerk in Italië. Hulle het ons gevra om die moontlikheid te oorweeg om die Wagtoring-Bybelskool Gilead by te woon.

“Dink daaroor”, is daar vir ons gesê, “en gee ons dan julle antwoord.” Toe ek en Charles by die kantoor uitstap, het ons vir mekaar gekyk, omgedraai en weer ingestap. “Ons het daaroor gedink”, het ons gesê. “Ons is gereed vir Gilead.” Tien dae later het ons die sewende klas van Gilead bygewoon.

Die maande van opleiding was onvergeetlik. Ons is veral beïndruk deur die geduld en liefde van die instrukteurs, wat ons voorberei het om moeilike omstandighede in ’n vreemde land die hoof te bied. Nadat ons in Julie 1946 gegradueer het, het ons die toewysing gekry om ’n ruk lank die predikingswerk in die stad New York te doen, waar daar ’n groot Italiaanse bevolking was. Toe het die groot dag aangebreek! Op 25 Junie 1947 het ons vertrek na Italië, ons sendingtoewysing.

Ons raak gevestig in ons toewysing

Ons het daarheen gereis in ’n skip wat tevore vir militêre doeleindes gebruik is. Ná 14 dae op see het ons by die Italiaanse hawe Genua vasgemeer. Ons kon die skade sien wat in die stad aangerig is gedurende die Tweede Wêreldoorlog, wat net twee jaar tevore geëindig het. Die treinstasie het byvoorbeeld weens die bombardering geen vensterruite gehad nie. Ons het van Genua af per goederetrein na Milaan gereis, waar die takkantoor en ’n sendinghuis was.

Ná die oorlog was die lewenstoestande in Italië haglik. Herbouingspogings was aan die gang, maar armoede was iets algemeens. Ek het kort voor lank ’n ernstige gesondheidsprobleem ontwikkel. Volgens ’n dokter was my hart in so ’n slegte toestand dat hy gedink het dit sou vir my beter wees om na die Verenigde State terug te keer. Ek is bly dat sy diagnose heeltemal verkeerd was. Ná 58 jaar is ek nog steeds in my toewysing in Italië.

Ons was net ’n paar jaar in ons toewysing toe my broers in die Verenigde State vir ons ’n kar wou gee. Maar Charles het hulle aanbod van die hand gewys, ’n besluit wat ek waardeer het. Sover ons geweet het, het geen Getuie in Italië destyds ’n kar gehad nie, en Charles het gemeen dat dit beter sou wees om ’n lewenstandaard te handhaaf wat met dié van ons Christenbroers ooreenkom. Ons het eers in 1961 ’n karretjie gekry.

Ons eerste Koninkryksaal in Milaan was in ’n kelder met ’n kleivloer. Daar was geen badkamer nie, en al water wat daar was, was dié onder ons voete wanneer dit gereën het. Daar was ook klein muisies wat rondgeskarrel het. Twee gloeilampe het lig voorsien vir ons vergaderinge. Ondanks hierdie ongeriewe was dit aanmoedigend om te sien dat opregte mense na ons vergaderinge toe kom en uiteindelik saam met ons in die bediening uitgaan.

Ondervindinge as sendelinge

Ons het eenkeer die boekie Peace—Can It Last? vir ’n man gegee. Toe ons op pad uit was, het sy vrou, Santina, daar aangekom met sakke vol kruideniersware. Sy het haar ’n bietjie vererg en gesê dat sy agt dogters het om voor te sorg en nie tyd het nie. Toe ek Santina weer besoek, was haar man nie tuis nie en was sy besig om te brei. “Ek het nie tyd om te luister nie”, het sy gesê. “Ek kan buitendien nie lees nie.”

Ek het in my hart tot Jehovah gebid en haar toe gevra of ek haar kon betaal om vir my man ’n trui te brei. Twee weke later was die trui klaar, en ek en Santina het die Bybel gereeld begin studeer met behulp van die boek “Die waarheid sal julle vrymaak”. Santina het leer lees, en ondanks haar man se teenstand het sy vooruitgang gemaak en is sy gedoop. Vyf van haar dogters het Getuies geword, en Santina het ook baie ander gehelp om Bybelwaarheid aan te neem.

In Maart 1951 is ons saam met twee ander sendelinge—Ruth Cannonb en Loyce Callahan, wat later met Bill Wengert getroud is—na Brescia gestuur, waar daar geen Getuies was nie. Ons het ’n gemeubileerde kamer gevind, maar twee maande later het die eienaar ons gevra om die huis binne 24 uur te verlaat. Aangesien daar nie ander Getuies in die gebied was nie, het ons geen ander keuse gehad as om na ’n hotel te gaan nie, waar ons byna twee maande lank gebly het.

Ons het nie ’n groot verskeidenheid kos gehad nie: cappuccino en croissants vir ontbyt, vrugte en broodstokkies met kaas vir middagete en vrugte en broodstokkies met kaas vir aandete. Hoewel ons ongeriewe verduur het, is ons werklik geseën. Later het ons ’n klein woonstel gevind, en by die Herdenking van Christus se dood in 1952 was 35 teenwoordig in die kamertjie wat ons as ’n Koninkryksaal gebruik het.

Ons bied uitdagings die hoof

Gedurende daardie tyd het die geestelikes nog baie mag oor die mense uitgeoefen. Byvoorbeeld, terwyl ons die predikingswerk in Brescia gedoen het, is ’n paar seuns deur die priester aangehits om ons met klippe te gooi. Mettertyd het 16 mense egter die Bybel saam met ons begin studeer, en hulle het binne ’n kort tydjie Getuies geword. En wie was onder hulle? Een van die seuns wat van plan was om ons met klippe te gooi! Hy dien nou as ’n ouer man in een van die gemeentes in Brescia. Toe ons in 1955 weg is uit Brescia, was daar 40 Koninkryksverkondigers wat die predikingswerk gedoen het.

Daarna het ons drie jaar lank in Livorno gedien, waar die meeste van die Getuies vroue was. Dit het beteken dat ons as susters take in die gemeente moes behartig wat gewoonlik deur broers verrig word. Toe het ons na Genua getrek, waar ons 11 jaar tevore begin het. Teen dié tyd was daar ’n gemeente. Die Koninkryksaal was op die grondverdieping in die gebou waar ons woonstel was.

Toe ons in Genua aangekom het, het ek begin studeer met ’n vrou wie se man ’n afgetrede bokser en die bestuurder van ’n boksgimnasium was. Die vrou het geestelike vooruitgang gemaak en kort voor lank ons Christensuster geword. Haar man het haar egter lank teëgestaan. Toe het hy saam met sy vrou na die vergaderinge begin gaan. Hy het nie in die saal ingegaan nie, maar het buite gesit en luister. Later, nadat ons weg is uit Genua, het ons gehoor dat hy ’n Bybelstudie gevra het. Mettertyd is hy gedoop en het hy ’n liefdevolle Christenopsiener geword. Hy het tot sy dood toe getrou gebly.

Ek het ook die Bybel gestudeer met ’n vrou wat aan ’n polisieman verloof was. Hy het aanvanklik ’n bietjie belangstelling getoon, maar ná die troue het sy gesindheid verander. Hy het haar teëgestaan, en sy het ophou studeer. Toe sy later die Bybelstudie hervat, het haar man haar gedreig en gesê dat hy ons albei sou skiet as hy ons ooit sien studeer. Wel, sy het geestelike vooruitgang gemaak en ’n gedoopte Getuie geword. Hy het ons natuurlik nooit geskiet nie. Trouens, toe ek jare later ’n byeenkoms in Genua bygewoon het, het iemand agter my kom staan, my oë met sy hande toegehou en gevra of ek kan raai wie hy is. Ek kon die trane nie keer toe ek die man van daardie vrou sien nie. Nadat hy my ’n drukkie gegee het, het hy vir my gesê dat hy daardie dag sy toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer het!

Van 1964 tot 1972 het ek die voorreg gehad om saam met Charles te gaan wanneer hy gemeentes besoek het om hulle geestelik te versterk. Ons het in byna die hele Noord-Italië gedien—in Piëmont, Lombardye en Ligurië. Toe het ons weer pionierdiens gedoen naby Florence en later in Vercelli. In 1977 was daar net een gemeente in Vercelli, maar toe ons in 1999 daar weg is, was daar drie. Ek het daardie jaar 91 geword, en ons is aangemoedig om te trek na die sendinghuis in Rome, ’n pragtige geboutjie in ’n betreklik rustige gebied.

Nog ’n droewige gebeurtenis

In Maart 2002 het Charles, wat altyd goeie gesondheid geniet het, ’n ineenstorting gehad. Sy gesondheid het agteruitgegaan totdat hy op 11 Mei 2002 oorlede is. Ons het 71 jaar lank saam gehuil tydens droewige tye en ons saam verbly wanneer ons seëninge ontvang het. Sy dood was vir my ’n ontsaglike en pynlike verlies.

Ek sien Charles dikwels in my geestesoog in sy dubbelborspak en sy hoed uit die 1930’s. Dit is asof ek nog sy glimlag kan sien of sy bekende lag kan hoor. Met Jehovah se hulp en danksy die liefde van talle dierbare Christenbroers en -susters kon ek gedurende hierdie droewige tyd volhard. Ek wag gretig op die tyd wanneer ek Charles weer sal sien.

Ek hou aan in my diens

Dit is vir my die wonderlikste ding in my lewe om my Skepper te dien. Deur die jare heen ‘het ek gesmaak en gesien dat Jehovah goed is’ (Psalm 34:8). Ek het sy liefde gevoel en sy sorg ondervind. Hoewel ek my baba verloor het, het Jehovah my baie geestelike seuns en dogters gegee—regoor Italië—wat my hart en sy hart verbly het.

Ek het dit nog altyd baie geniet om met ander oor my Skepper te praat. Daarom hou ek aan om die predikingswerk te doen en Bybelstudies te hou. Soms is ek spyt dat ek weens my gesondheid nie meer kan doen nie. Maar ek besef dat Jehovah my beperkings ken en dat hy lief is vir my en waardeer wat ek kan doen (Markus 12:42). Ek probeer die woorde van Psalm 146:2 naleef: “Ek sal Jehovah gedurende my lewe loof. Ek sal my God met melodieë besing solank ek daar is.”c

[Voetnote]

a Die ondervinding van my broer Angelo Catanzaro is gepubliseer in The Watchtower van 1 April 1975, bladsye 205-7.

b Sien The Watchtower van 1 Mei 1971, bladsye 277-80, vir haar lewensverhaal.

c Suster Benanti is op 16 Julie 2005 oorlede, terwyl hierdie artikel voorberei is. Sy was 96.

[Prent op bladsy 13]

Camille

[Prent op bladsy 14]

Op ons troudag, 1931

[Prent op bladsy 14]

My ma, wat aanvanklik nie belanggestel het nie, het ingestem dat ons almal die Bybel bestudeer

[Prent op bladsy 15]

Saam met broer Knorr by die Gileadgraduering, 1946

[Prent op bladsy 17]

Saam met Charles kort voor sy dood

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel