Koninkryksverkondigers berig
Die evangelie van die Koninkryk sal verkondig word
GOD se vernaamste vyand, Satan die Duiwel, gebruik al eeue lank die politieke regerings en valse godsdiens op ’n listige manier in sy pogings om die verspreiding van die ware Christelike geloof te keer. Maar hierdie metodes sal misluk. Jesus het voorspel dat die ‘evangelie van die koninkryk verkondig sal word [nie “dalk verkondig sal word” of “verkondig kan word” nie] in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies’.—Mattheüs 24:14.
In Griekeland is dit duidelik dat Satan misluk het. In daardie land het die Grieks-Ortodokse Kerk Jehovah se Getuies probeer keer om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig. Maar soos die volgende ondervinding toelig, bereik Bybelwaarhede opregtes van hart mettertyd ondanks teenkanting.
Ongeveer 30 jaar gelede het ’n Grieks-Ortodokse priester die goeie nuus aangeneem en selfs ’n begeerte uitgespreek om een van Jehovah se Getuies te word. Sy familie het egter hierdie stap hewig teëgestaan en druk op hom uitgeoefen sodat hy opgehou het om met die Getuies te assosieer. Om sy familie tevrede te stel, het hy sy loopbaan as ’n priester voortgesit; tog het hy altyd erken dat Jehovah se Getuies hom gehelp het om die waarheid te leer en dat hy daarvan afstand gedoen het in ruil vir ’n vername posisie in ’n valse godsdiens.
Hy het hom nietemin soms ten gunste van Jehovah se Getuies uitgespreek wanneer die geleentheid hom voorgedoen het. By verskeie geleenthede het hy mense selfs aangeraai om saam met die Getuies te studeer as hulle Bybelwaarhede wou leer. Met verloop van jare het sommige inderdaad sy raad gevolg.
Die priester het onlangs baie siek geword en besef dat hy dalk kort voor lank sou sterf. Terwyl hy in die hospitaal was, het hy sy kinders laat roep, en hulle het almal om sy bed byeengekom.a Hy het toe vir hulle verduidelik dat, as hy sou sterf, hulle hom dalk weer sal sien. Hy het met hulle gepraat oor die Bybel se leerstelling dat Jehovah mense sal opwek om in ’n paradys op aarde te lewe, maar as hulle dit werklik wil sien gebeur, moet hulle die waarheid uit die Bybel leer en hulle van valse godsdiens dissosieer. Hy het hulle gesoebat om met Jehovah se Getuies te assosieer en by hulle te leer hoe om ware Christene te word.
Kort daarna het die priester gesterf. Maar sy afskeidsraad aan sy kinders het goeie vrugte afgewerp. Sy dogter was, soos die meeste van sy familielede, hewig gekant teen Jehovah se Getuies en hulle werk. Sy kon egter nie die opregte versoek van haar sterwende vader ignoreer nie, en daarom het sy kort daarna met Jehovah se Getuies in aanraking gekom en die Bybel begin bestudeer. Sy het onlangs self ’n Getuie geword, haar lewe aan Jehovah God toegewy en haar toewyding deur waterdoop gesimboliseer.
In Griekeland en in meer as 230 ander lande, vertrou Jehovah se Getuies op die krag van God se heilige gees. Dit is met die volle steun van die heilige gees dat hulle ’n deel het aan die vervulling van Jesus se profesie: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.”—Handelinge 1:8.
[Voetnoot]
a Die Grieks-Ortodokse Kerk laat hulle priesters toe om te trou.