Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 12/1 bl. 3-7
  • Aanvalle op godsdiensvryheid in Griekeland

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Aanvalle op godsdiensvryheid in Griekeland
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die ondermyning van vryheid en reputasie
  • Aanvalle en inhegtenisneming
  • Middeleeuse mentaliteit
  • ‘Klandestien’?
  • Wie is die Christene?
  • Is hulle “antichriste”?
  • ‘Voorstanders van Joodse heerskappy op aarde’?
  • Onbybelse leerstellings
  • Handhaaf demokrasie in Griekeland
  • Die Grieks-Ortodokse Kerk—’n verdeelde godsdiens
    Ontwaak!—1996
  • Jehovah Se Getuies wen ’n hofsaak in Griekeland
    Ontwaak!—1997
  • “Deur al die nasies gehaat”
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Die evangelie van die koninkryk sal verkondig word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 12/1 bl. 3-7

Aanvalle op godsdiensvryheid in Griekeland

WAARDEER jy vryheid? Die meeste mense sal ja sê. Hulle wil die vryheid hê om verskillende menings te huldig oor dinge soos politiek, ekonomie en godsdiens, mits dit natuurlik binne die perke van wet en orde is. Die vervolging van mense weens hulle opinies herinner ons andersyds aan die Inkwisisie van die Middeleeue.

Wat het dit te doen met Griekeland, ’n lieflike land geleë aan die oostelike Middellandse See? In daardie land bestaan daar ’n eienaardige situasie wat nie met demokratiese vryheid klop nie.

Die ondermyning van vryheid en reputasie

Griekeland is lank reeds bekend as “die geboorteplek van die demokrasie”. In 1975 het Griekeland inderdaad ’n demokratiese Grondwet aangeneem om die vryhede te waarborg waaraan mense waarde heg. En die regering van Griekeland probeer om daardie waarborge gestand te doen.

Daar is egter sekere elemente in Griekeland wat probeer om vryhede te ondermyn en wat Griekeland se internasionale reputasie ernstige skade berokken. Hierdie wanordelikes het gepeupelbendes opgesweep en aangevoer om vreedsame Griekse burgers aan te val, het druk uitgeoefen op beamptes om hulle in hegtenis te neem en in die tronk te gooi, en het gesorg dat hierdie wetsgehoorsame Grieke hulle vryhede ontsê word. Dit is al jare lank aan die gang, ondanks die grondwetlike waarborge.

Wat het hiertoe aanleiding gegee? Wie is die slagoffers? Wie is die vervolgers? Laat die Griekse pers jou iets omtrent die situasie vertel.

Aanvalle en inhegtenisneming

Die Grondwet van Griekeland verklaar dat “Grieke die reg sal hê om vreedsaam en ongewapen byeen te kom”. Dit verklaar ook dat ‘die vryheid van die godsdiensgewete onskendbaar is’, en voeg by: “Alle bekende gelowe sal vry wees en sal hulle godsdiensgebruike ongehinderd en onder beskerming van die wet kan uitoefen.”

Op grond hiervan het honderde getuies van Jehovah vanjaar op Sondag, 15 Junie, vreedsaam in ’n bioskoop in Lárisa, Griekeland, byeengekom. Hulle was daar om die Bybel te bestudeer en om maniere te bespreek waarop hulle Christelike beginsels beter in hulle daaglikse lewe kan toepas.

Maar kyk wat gebeur het. Die plaaslike koerant I Larisa het berig: “Honderde mense, veral lede van [Grieks-Ortodokse] organisasies van ons dorp, met ’n paar priesters aan die spits, het begin saamdrom en hulle misnoeë te kenne gegee met diegene in die bioskoop​—meer as 700 van Jehovah se Getuies. Dit het gelyk asof die skare op die punt staan om in die bioskoop in te gaan en die byeenkoms te beëindig.”

Dit het ongeveer drie uur so aangehou. Die gepeupel is eindelik deur ’n groot getal polisiemanne uiteengejaag. Die luim van die geestelikes wat die gepeupel-optrede aangestook het, spreek uit die woorde van ’n Grieks-Ortodokse priester, soos in die Lárisase koerant Eleftheria aangehaal is: “As die burgermeester weer die bioskoop vir [die Getuies] gee, sal ons ons grawe vat en alles stukkend slaan!” En ’n biskop het die gepeupel-optrede in die openbaar goedgepraat.

In die Lárisase koerant I Alithia het skrywer Sarantos Vounatsos sy verontwaardiging oor die optrede van die priesters uitgespreek. Hy het opgemerk dat die mentaliteit van die gepeupel ooreengekom het met dié van die skare wat Jesus dood wou hê en geskreeu het: “Laat hom gekruisig word!” Van die gepeupel in Lárisa het hy geskryf: “Hulle ‘leier’ was ’n dweepsiek . . . priester! Hy het gedreig, gevloek, vertonerig gepreek en op een stadium . . . almal in die bioskoop vyf minute gegee om dit te verlaat, . . . ‘anders sal ons inkom en hulle koppe inmekaarslaan.’”

Die koerantartikel rig hom dan tot die priester en sê: “Wil jy jou gesag met dade van Fariseërs laat geld? Wel, wees versigtig, want as jy aanhou, sal jy nie meer [God se] genade of guns geniet nie, en ook nie ons s’n nie.”

Hierdie vervolging is nie bloot ’n alleenstaande voorval nie. Gedurende die afgelope paar jaar is honderde nie-Ortodokse gelowiges in hegtenis geneem, “waaronder 890 Jehovahsgetuies in 1983 alleen”, het The Wall Street Journal gesê. En die Atheense koerant Eleftherotipia het berig dat ’n priester vanjaar ’n 76-jarige Getuie, Vasili Kapeleri, so erg aangerand het dat Kapeleri later beswyk het.

Middeleeuse mentaliteit

Die probleem lê eintlik by die geestelikes van die Grieks-Ortodokse Kerk. Omdat dit die oorheersende godsdiens in Griekeland is, meen die geestelikes dat Jehovah se Getuies geen bestaansreg het nie. Daarom probeer hulle die Getuies hulle vryhede ontsê deur gepeupeloptrede, aanranding, gevangesetting en druk op howe. Vroeër vanjaar het teenstand van die geestelikes daartoe gelei dat ’n hof in Kreta geweier het om aan die Getuies wetlike status te verleen.

In die saakskrif het die Ortodokse Kerk beweer dat Jehovah se Getuies nie ’n “welbekende en erkende godsdiens” is nie en dat hulle “nie met reg Christene genoem kan word nie”. Die Kerk voer dus aan dat die Getuies nie die reg behoort te hê om hulle eie geboue vir aanbidding te besit of om met ander oor godsdiens te praat nie. Maar dit is ’n middeleeuse mentaliteit. Dit weerspieël die gees van die Inkwisisie, nie dié van ‘die bakermat van die demokrasie’ nie.

Jehovah se Getuies probeer nie die Ortodokse Kerk die reg ontsê om kerke te hê en te preek wat hy wil nie. Maar moet daardie Kerk, in hierdie moderne eeu, sy godsdiensopvattings aan almal opdwing? En dit veral in ’n demokratiese gemeenskap waar daar talle uiteenlopende menings bestaan? In geen ander Westerse demokrasie word so iets gedoen nie.

Jehovah se Getuies word oral in die wêreld wetlik as ’n Christelike godsdiens erken. Regerings met uiteenlopende politieke sieninge het aan hulle die wetlike reg toegestaan om plekke van aanbidding te bou en hulle opvattings te huldig. Dat hulle ’n welbekende, internasionale Christelike godsdiens is, blyk uit die feit dat hulle meer as driemiljoen aktiewe bedienaars het, met nog vyfmiljoen wat hulle vergaderinge bywoon. En hulle is ingedeel in 50 000 gemeentes in meer as 200 lande.

Dit is dus absurd van die geestelikes om te beweer dat Jehovah se Getuies nie ’n ‘bekende Christelike godsdiens’ is nie. Die geestelikes se gesindheid doen afbreuk aan die reputasie van die demokratiese regering van Griekeland. Dit is ook ’n belediging vir die miljoene Getuies wêreldwyd wat vroom Christene is en wat weet dat baie van hulle medegelowiges al doodgemaak is vir hulle geloof.

‘Klandestien’?

Die Kerk se bewering in die Kretensiese hof dat Jehovah se Getuies ’n “klandestiene” organisasie is, is ewe absurd. Die Kerk het gesê: “Die oortuigings van Jehovah se Getuies is nòg ten volle bekend nòg openlik onthul . . . Hulle het nie ‘gebedshuise’ of ander openbare plekke van aanbidding waar enigiemand vryelik mag ingaan nie. Ook hulle godsdiensgebruike is nog nooit ten volle geopenbaar nie.”

Enigiemand wat selfs verlangs met Jehovah se Getuies bekend is, weet dat daardie aantygings van alle waarheid ontbloot is. Hulle leerstellings is op skrif sodat enigiemand dit kan ondersoek, en hulle vergaderinge is oop vir alle ordelike persone en boonop gratis. Trouens, die Getuies verskaf wêreldwyd Bybelonderrig aan miljoene mense in hulle huise om hulle met daardie opvattings vertroud te maak! En die Wagtoringtakkantore wêreldwyd ontvang elke week duisende besoekers.

Maar hier is ’n paradoks. Waarom kan die Getuies in Griekeland nie in “gebedshuise” vergader nie? Omdat hulle die reg ontsê is om sulke plekke van aanbidding te bou! Aangesien hulle nie sale kan bou nie, moet hulle in privaat huise byeenkom. En dan sê die Kerk dat hulle geheime vergaderinge hou! In ander dele van die wêreld het Jehovah se Getuies egter duisende groot geboue vir aanbidding opgerig. Maar in Griekeland kan hulle dit nie doen nie.

Dit help jou miskien om beter te verstaan waarom die bewerings van die Kerk, soos John Manoledakis, professor in die strafreg aan die Universiteit van Thessalonika in Griekeland, dit gestel het, “glad nie vleiend is vir die beoogde doel van die [Grieks-Ortodokse] Kerk of die intelligensie van sy kudde nie”.

Wie is die Christene?

In die eerste eeu was Jesus en sy volgelinge die slagoffers van vervolging, gepeupeloptrede, gevangesetting en die dood. Wie was hulle vernaamste vervolgers? Die geestelikes van daardie tyd.

Kyk byvoorbeeld wat gebeur het toe Jesus Lasarus uit die dood opgewek het: “Die owerpriesters en die Fariseërs het . . . saam beraadslaag om [Jesus] om die lewe te bring.” Maar hulle was nog nie tevrede nie, want ons lees: “Die owerpriesters het besluit om Lasarus ook om die lewe te bring, omdat baie van die Jode deur hom weggegaan en in Jesus geglo het.” En uiteindelik het “die owerpriesters en die ouderlinge . . . die skare oorgehaal dat hulle Barabbas moes begeer en Jesus ombring”.​—Johannes 11:47, 53; 12:10, 11; Mattheüs 27:20.

Dis geen wonder nie dat Jesus vir hulle gesê het: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is. So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid” (Mattheüs 23:27, 28). Boonop het die geestelikes ander dikwels teen die dissipels van Jesus opgestook.

Ons lees nêrens dat Jesus Christene beveel het om die wat met hulle verskil te vervolg, in die tronk te gooi, aan te rand of gepeupelgeweld teen hulle te pleeg nie. In die eerste eeu was die ware Christene derhalwe die vervolgdes, nie die vervolgers nie. Die vervolgers was die geestelikes en diegene wat deur hulle opgestook is. So is dit ook vandag in Griekeland.

Is hulle “antichriste”?

Die Grieks-Ortodokse Kerk het ook beweer: “Nie alleen kan die Jehovahsgetuies nie met reg Christene, dit wil sê, dissipels van Christus, genoem word nie, maar hulle is inteendeel . . . die antichriste.”

Wat sê die Bybel van “die Antichris”? In 1 Johannes 2:22 sê dit: “Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën.”

God se geïnspireerde Woord stel dit dus baie duidelik dat ’n antichris nie Jesus aanvaar nie. Maar Jehovah se Getuies aanvaar hom beslis! Hulle glo met hulle hele hart in Jesus en volg sy leerstellings! Trouens, niemand kan een van Jehovah se Getuies word sonder om te aanvaar dat Jesus die goddelike Seun van God is wat uit die hemel neergedaal het, aan ’n folterpaal gesterf het, opgewek is en na die hemel teruggekeer het nie.

Iemand wat sê dat Jehovah se Getuies “antichriste” is, is dus òf erg mislei, òf deur vooroordeel verblind, òf het bose beweegredes.

‘Voorstanders van Joodse heerskappy op aarde’?

Nog ’n bewering deur die Ortodokse Kerk is dat Jehovah se Getuies Joodse heerskappy op aarde voorstaan. Die Kerk sê: “Hulle eintlike, verdoeselde doel, wat vir die grootste gros van hulle aanhangers ’n goed bewaarde geheim is, is die oprigting van ’n ‘Wêreldwye Teokratiese Joodse Koninkryk’, wat uit Jerusalem bestuur sal word.”

Vra die miljoene Getuies of hulle dit glo! Nie een sal ja sê nie. Ofskoon sommige eens gedink het dat sekere profesieë moontlik in hierdie eeu op letterlike Palestina van toepassing is, is daardie siening meer as 50 jaar gelede laat vaar!

Spreuke 4:18 sê dat ‘die pad van die regverdiges soos die lig van die môreglans is wat al helderder word’. Hierdie toenemende lig, versterk deur die vervulling van Bybelprofesie, toon duidelik dat die hedendaagse Republiek van Israel nooit Jesus Christus as die Messias sal aanvaar nie. Die bewering dat die Christengetuies ’n aardse Joodse Koninkryk met Jerusalem as hoofstad voorstaan, is dus nog ’n absurditeit. Hulle staan eerder die hemelse heerskappy van God se Koninkryk voor, soos Jesus verkondig het.​—Mattheüs 4:17; 6:10.

Onbybelse leerstellings

Onder die dinge wat die geestelikes gebruik om ander teen Jehovah se Getuies op te stook, is dat die Getuies sekere kerkleerstellings verwerp. Die belangrikste hiervan is die Drie-eenheid. Maar waarom sou dit ’n invloed hê op die uitoefening van die demokrasie in Griekeland? Waarom moet almal aan die Drie-eenheid glo om burgerlike vryhede in daardie land te geniet?

Jehovah se Getuies loën nie Jesus se goddelikheid nie. Hulle aanvaar wat Johannes 1:1 (NW) van hom sê, dat hy “’n god” is. Maar die Kerk sê dat Jesus nie net “’n god” is nie, maar dat hy die almagtige God is, een van drie mede-ewige persone wat gelyk is in mag.

Die Bybel, God se geïnspireerde Woord, leer dit nie. Dit sê eerder uitdruklik: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het” (Johannes 3:16). Jesus het nooit gesê dat hy die almagtige God is nie. Hy het gesê dat hy “die eniggebore Seun van God” is. Enigiemand wat die Skrif onbevooroordeeld lees, sal dit sien.​—Johannes 3:18; 10:34-36.

Jesus het keer op keer gesê: “Die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie.” “Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.” “My leer is nie myne nie, maar van Hom wat My gestuur het.” ‘My Vader is groter as Ek.’ En God sê Woord voeg by: “Die Seun self [sal] Hom onderwerp aan [God].”​—Johannes 5:19; 6:38; 7:16; 14:28; 1 Korinthiërs 15:28.

Die Drie-eenheid is dus onskriftuurlik. Waar kom dit dan vandaan? Dit is in 325 G.J. deur die Konsilie van Nicea aanvaar, toe afvalliges hulle goedkeuring geheg het aan ’n heidense idee wat in eertydse Egipte en Babilon ontstaan het. Soos geskiedskrywer Will Durant in The Story of Civilization: Part III opgemerk het: “Die Christendom het nie die heidendom vernietig nie; hy het dit aangeneem. . . . Die idee van ’n goddelike drie-eenheid het uit Egipte gekom.” En The New Encyclopaedia Britannica sê: “Nòg die woord Drie-eenheid, nòg die uitdruklike leerstelling word in die Nuwe Testament aangetref . . . Die leerstelling het geleidelik oor ’n tydperk van etlike eeue en deur talle geskille heen ontwikkel.”

As die Ortodokse Kerk egter aan die Drie-eenheid wil glo, is dit sy reg. Maar hy het geen reg om Jehovah se Getuies in ’n demokratiese land te vervolg, gepeupelgeweld en inhegtenisnemings teen hulle aan te blaas en hulle hul vryhede te ontsê omdat hulle nie aan die Drie-eenheid glo nie.

Handhaaf demokrasie in Griekeland

Die Grondwet van Griekeland is duidelik: “Die vryheid van die godsdiensgewete is onskendbaar. . . . Alle bekende gelowe sal vry wees en sal hulle godsdiensgebruike ongehinderd en onder beskerming van die wet kan uitoefen.”

Jehovah se Getuies, wat internasionaal bekend is en wetlike erkenning geniet, handhaaf daardie demokratiese beginsels. Hulle wil hê dat Griekeland dit ook handhaaf en nie toelaat dat ’n kerk sy inkwisitoriale mentaliteit aan ander opdwing deur diegene te vervolg wat dit nie met sy beskouings eens is nie.

Die geestelikes van die Grieks-Ortodokse Kerk kan gerus die advies van ’n regsgeleerde van die eerste eeu, Gamaliël, volg. Hy het aan die geestelikes wat Christus se volgelinge vervolg het, gesê: “Nou sê ek vir julle, bly af van hierdie manne en laat hulle staan; want as hierdie voorneme of hierdie werk uit mense is, sal dit vernietig word; maar as dit uit God is, kan julle dit nie vernietig nie​—dat dit nie miskien bevind word dat julle selfs teen God stry nie.”​—Handelinge 5:34-39.

By daardie selfde geleentheid het die Christen-volgelinge van Jesus Christus gesê: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.” Dit is ook vandag die siening van die Christengetuies van Jehovah. En dit is wat hulle in Griekeland sal aanhou om te doen, ongeag die eise van die geestelikes.​—Handelinge 5:29.

[Prent op bladsy 7]

Petrus en die ander apostels het aan die geestelikes van hulle dag gesê: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel