Maimonides—Die man wat Judaïsme opnuut omskryf het
“VAN Moses tot Moses was daar niemand soos Moses nie.” Baie Jode sal hierdie kriptiese gesegde herken as ’n uitdrukking van bewondering vir die 12de-eeuse Joodse filosoof, kodifiseerder en kommentator oor die Talmoed en die Skrif, Moses Ben Maimon—wat ook as Maimonides en as Rambam bekend staan.a Vandag is Maimonides vir baie mense ’n onbekende, en tog het sy geskrifte die denke van Jode, Moslems en die kerke van sy tyd grootliks beïnvloed. Hy het Judaïsme in wese opnuut omskryf. Wie was Maimonides, en waarom sien baie Jode hom as “die tweede Moses”?
Wie was Maimonides?
Maimonides is in 1135 in Cordoba, Spanje, gebore. Sy vader, Maimon, wat baie van sy vroeë godsdiensopleiding voorsien het, was ’n bekende geleerde uit ’n vooraanstaande rabbynse familie. Toe die Almohade Cordoba in 1148 ingeneem het, het die Jode voor die keuse te staan gekom om hulle tot die Islam te bekeer of te vlug. Dit was die begin van ’n lang tydperk van rondtrekkery vir Maimonides se gesin. In 1160 het hulle in Fez, Marokko, gaan woon, waar hy as ’n geneesheer opleiding ontvang het. In 1165 moes sy gesin na Palestina vlug.
Maar die situasie in Israel was onbestendig. Die Christendom se kruisvaarders sowel as die Moslemmagte het vir die klein Joodse gemeenskappie gevaar ingehou. Ná minder as ses maande in die “Heilige Land” het Maimonides en sy gesin in Foestat, die Ou Stad van Kaïro, Egipte, ’n toevlug gevind. Dit is hier waar Maimonides se talente ten volle waardeer is. In 1177 het hy die hoof van die Joodse gemeenskap geword, en in 1185 is hy as geneesheer aan die hof van die bekende Moslemleier Saladin aangestel. Maimonides het albei hierdie posisies tot sy dood in 1204 behou. Sy mediese kundigheid was so bekend dat koning Richard Leeuehart glo probeer het om Maimonides, van so ver daarvandaan as Engeland, as sy persoonlike geneesheer te verkry.
Wat het hy geskryf?
Maimonides was ’n produktiewe skrywer. Toe hy weens vervolging deur die Moslems gevlug en as ’n voortvlugtige weggekruip het, het hy ’n groot deel van sy eerste vername werk, Commentary on the Mishnah, saamgestel.b Dit is in Arabies geskryf en verklaar baie van die begrippe en uitdrukkings in die Misjna, terwyl dit soms afwyk en Maimonides se filosofie oor Judaïsme verduidelik. In die deel wat die verhandeling Sanhedrin verduidelik, het Maimonides 13 grondbeginsels van die Joodse geloof geformuleer. Judaïsme het tot op daardie stadium nooit ’n formele credo, of geloofsbelydenis, omskryf nie. Nou het Maimonides se 13 Beginsels van Geloof ’n prototipe van ’n reeks formulerings van die Joodse geloofsbelydenis geword.—Sien venster, bladsy 23.
Maimonides het daarna gestreef om die logiese orde van alle dinge, hetsy fisies of geestelik, te omskryf. Hy het blinde geloof verwerp en vir alles verduidelikings gesoek op grond van wat hy as redelike bewyse en logika beskou het. Hierdie natuurlike neiging het daartoe gelei dat hy sy belangrikste werk—Mishneh Torah—geskryf het.c
In Maimonides se dag het die Jode geglo dat “Tora”, of “Wet”, nie net betrekking het op die geskrewe woorde wat deur Moses opgeteken is nie, maar op al die rabbynse vertolkings van hierdie Wet deur die eeue heen. Hierdie idees is in die Talmoed en in duisende rabbynse beslissings en geskrifte oor die Talmoed opgeteken. Maimonides het besef dat die blote omvang en wanorde van al hierdie inligting dit vir die gewone Jood onmoontlik maak om besluite te neem wat sy daaglikse lewe raak. Die meeste was nie in staat om ’n lewenslange studie van al die rabbynse geskrifte te maak nie, waarvan baie in moeilike Aramees geskryf is. Maimonides se oplossing was om hierdie inligting te redigeer deur die praktiese beslissings te beklemtoon en dit daarna in een ordelike stelsel van 14 boeke te rangskik wat volgens onderwerpe ingedeel is. Hy het dit meesterlik in duidelike, vloeiende Hebreeus geskryf.
Mishneh Torah was so ’n praktiese handleiding dat party Joodse leiers bang was dat dit die Talmoed heeltemal sou vervang. Maar selfs dié wat daarteen beswaar gemaak het, het die voortreflike kundigheid van daardie werk erken. Hierdie hoogs georganiseerde wetboek was ’n revolusionêre prestasie wat nuwe lewe gegee het aan ’n stelsel van Judaïsme waarmee die gewone man hom nie meer kon vereenselwig en wat vir hom niks meer beteken het nie.
Daarna het Maimonides nog ’n groot werk—The Guide for the Perplexed—begin skryf. Met die vertaling van Griekse klassieke werke in Arabies het meer Jode met Aristoteles en ander filosowe bekendgeraak. Party was verward en het gesukkel om die letterlike betekenis van Bybelse uitdrukkings met die filosofie te versoen. In The Guide for the Perplexed het Maimonides, wat ’n groot bewonderaar van Aristoteles was, die kern van die Bybel en Judaïsme probeer verduidelik op ’n manier wat met filosofiese denke en logika gestrook het.—Vergelyk 1 Korintiërs 2:1-5, 11-16.
Benewens hierdie vername werke en ander godsdiensgeskrifte het Maimonides ook as deskundige op die gebied van die geneeskunde en astronomie geskryf. ’n Ander aspek van sy produktiewe pen moenie oor die hoof gesien word nie. Die Encyclopaedia Judaica sê: “Die briewe van Maimonides is epogmakend wat die skryf van briewe betref. Hy is die eerste Joodse briefskrywer wie se korrespondensie grotendeels behoue gebly het. . . . Sy briewe het die verstand en hart van sy korrespondente geraak, en hy het sy styl verander om hulle te pas.”
Wat was sy leer?
In sy 13 Beginsels van Geloof het Maimonides ’n duidelike geloofsuiteensetting voorsien, wat gedeeltelik op die Skrif gegrond is. Die sewende en negende beginsel bots egter met die kern van die skriftuurlike geloof in Jesus as die Messias.d As ’n mens die Christendom se afvallige leringe, soos die Drie-eenheid, in aanmerking neem asook die skaamtelose skynheiligheid waarvan die bloedbad van die Kruistogte ’n voorbeeld is, is dit nie verbasend dat Maimonides die kwessie van Jesus se Messiasskap nie verder ondersoek het nie.—Matteus 7:21-23; 2 Petrus 2:1, 2.
Maimonides skryf: “Kan daar ’n groter struikelblok as [die Christelike godsdiens] wees? Al die profete het van die Messias as die verlosser en redder van Israel gepraat . . . [In teenstelling daarmee het die Christelike godsdiens] gemaak dat die Jode met die swaard omgebring is, dat dié wat oorgebly het, verstrooi en verneder is, dat die Tora verander is en dat die meerderheid van die wêreld sondig en ’n ander god as die Here dien.”—Mishneh Torah, “Die wette van konings en hulle oorloë”, hoofstuk 11.
Maar al word Maimonides so gerespekteer, verkies baie Jode om hom te ignoreer wanneer dit by sekere kwessies kom waaroor hy baie openlik gepraat het. Met die toenemende invloed van mistieke Judaïsme (Kabbala) het astrologie al hoe meer byval onder Jode begin vind. Maimonides het geskryf: “Enigiemand wat iets met astrologie te doen het en sy werk of ’n reis beplan op grond van die tyd wat deur diegene bepaal is wat die hemele ondersoek, moet met ’n sweep geslaan word . . . Al hierdie dinge is leuens en bedrog . . . Enigiemand wat aan hierdie dinge glo . . . is ’n dwaas en is sonder verstand.”—Mishneh Torah, “Wette van afgodediens”, hoofstuk 11; vergelyk Levitikus 19:26; Deuteronomium 18:9-13.
Maimonides het ook ’n ander gebruik sterk afgekeur: “[Rabbi’s] het geldelike eise aan individue en gemeenskappe gestel en het mense, in die opperste dwaasheid, laat dink dat dit verpligtend en gepas is . . . Dit alles is verkeerd. Daar is nie in die Tora of in die gesegdes van die [Talmoediese] wysgere ’n enkele woord wat dit regverdig nie” (Commentary on the Mishnah, Avot 4:5). In teenstelling met hierdie rabbi’s het Maimonides hard gewerk om homself as ’n geneesheer te onderhou en nooit betaling vir godsdienstige werk aanvaar nie.—Vergelyk 2 Korintiërs 2:17; 1 Tessalonisense 2:9.
Hoe is Judaïsme en ander opvattings geraak?
Professor Jesjaiahoe Leibowitz van die Hebreeuse Universiteit in Jerusalem het gesê: “Maimonides is die invloedrykste figuur in die geskiedenis van Judaïsme, van die tyd van die Aartsvaders en die Profete af tot nou toe.” Die Encyclopaedia Judaica sê: “Maimonides se invloed op die toekomstige ontwikkeling van Judaïsme is onberekenbaar. . . . C. Tsjernowitz . . . sê selfs dat Judaïsme tot verskillende sektes en gelowe sou verbrokkel het as dit nie vir Maimonides was nie . . . Sy groot prestasie was om die verskillende denkrigtings te verenig.”
Maimonides het Judaïsme opnuut omskryf deur Joodse denke in ooreenstemming met sy eie idees van orde en logika te herorganiseer. Die geleerdes sowel as die volk het hierdie nuwe omskrywing prakties en aanneemlik gevind. Selfs Maimonides se teenstanders het sy beskouing later grotendeels aanvaar. Hoewel sy geskrifte bedoel was om Jode te bevry van die nodigheid om eindelose kommentare te raadpleeg, is daar kort voor lank lang kommentare oor sy werke geskryf.
Die Encyclopaedia Judaica sê: “Maimonides was . . . die vernaamste Joodse filosoof van die Middeleeue, en sy Guide of the Perplexed is die belangrikste filosofiese werk wat deur ’n Jood geskryf is.” Hoewel The Guide for the Perplexed in Arabies geskryf is, is dit gedurende Maimonides se lewe in Hebreeus en kort daarna in Latyn vertaal sodat dit oor die hele Europa vir studie beskikbaar was. Gevolglik het Maimonides se unieke vereniging van Aristoteles se filosofie met Judaïese idees gou ’n deel van die Christendom se algemene denke geword. Die Christendom se geleerdes van daardie tydperk, soos Albertus Magnus en Thomas van Aquino, verwys dikwels na Maimonides se idees. Islamitiese geleerdes is ook beïnvloed. Maimonides se filosofiese beskouing het latere Joodse filosowe, soos Baruch Spinoza, beïnvloed om hulle heeltemal van ortodokse Judaïsme af te skei.
Maimonides kan as ’n Renaissanceman beskou word wat voor die Renaissance gelewe het. Hy het gesê dat geloof met die rede moet strook, en dit is vandag nog ’n geldige beginsel. Hierdie beginsel het daartoe gelei dat hy hom sterk teen godsdiensbygelowigheid uitgespreek het. Maar die Christendom se slegte voorbeeld en Aristoteles se filosofiese invloed het dikwels verhinder dat sy gevolgtrekkings heeltemal met Bybelwaarheid ooreenstem. Hoewel nie almal met die woorde op Maimonides se graf sal saamstem nie—“Van Moses tot Moses was daar niemand soos Moses nie”—moet ’n mens erken dat hy die verloop en inhoud van Judaïsme opnuut omskryf het.
[Voetnote]
a “Rambam” is ’n Hebreeuse akroniem, ’n naam wat uit die eerste letters van die woorde “Rabbi Moses Ben Maimon” gevorm is.
b Die Misjna is ’n versameling rabbynse aantekeninge wat gegrond is op wat die Jode as die mondelinge wet beskou. Dit is laat in die tweede en vroeg in die derde eeu G.J. op skrif gestel en het die begin van die Talmoed uitgemaak. Vir meer inligting, sien die brosjure Will There Ever Be a World Without War?, bladsy 10, wat deur die Watch Tower Bible & Tract Society of Pennsylvania uitgegee word.
c Die naam Mishneh Torah is ’n Hebreeuse uitdrukking wat aan Deuteronomium 17:18 ontleen is, dit wil sê ’n afskrif, of herhaling, van die Wet.
d Vir meer inligting oor die bewyse dat Jesus die beloofde Messias is, sien bladsye 24-30 van die brosjure Will There Ever Be a World Without War?, wat deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania uitgegee word.
[Venster op bladsy 23]
MAIMONIDES SE 13 BEGINSELS VAN GELOOFe
1. God is die Skepper en Heerser van alle dinge. Dit is Hy alleen wat alle dinge gemaak het, nou maak en sal maak.
2. God is een. Daar is geen eenheid wat in enige opsig soos Syne is nie.
3. God het nie ’n liggaam nie. Fisiese begrippe het nie op Hom betrekking nie.
4. God is eerste en laaste.
5. Dit is gepas om net tot God te bid. ’n Mens mag nie tot enigiemand of enigiets anders bid nie.
6. Al die woorde van die profete is waar.
7. Die profesie van Moses is heeltemal waar. Hy was die hoof van alle profete, voor sowel as ná hom.
8. Die hele Tora wat ons nou het, is dít wat aan Moses gegee is.
9. Die Tora sal nie verander word nie, en God sal nooit ’n ander een gee nie.
10. God ken al die mens se dade en gedagtes.
11. God beloon diegene wat Sy gebooie hou en straf diegene wat teen Hom sondig.
12. Die Messias gaan kom.
13. Die dooies gaan opgewek word.
[Voetnoot]
e Maimonides het hierdie beginsels in sy Commentary on the Mishnah, (Sanhedrin 10:1), omskryf. Judaïsme het dit later as ’n amptelike geloofsbelydenis aangeneem. Die teks hierbo is ’n verkorte weergawe van hoe dit in die Joodse gebedeboek verskyn.
[Foto-erkenning op bladsy 21]
Jewish Division / The New York Public Library / Astor, Lenox, and Tilden Foundations