Naḥmanides—Het hy die Christelike geloof weerlê?
DIE Middeleeue. Waaraan herinner dit ’n mens? Kruistogte? Inkwisisies? Marteling? Hoewel dit nie ’n tydperk is wat gewoonlik met ope godsdiensbespreking geassosieer word nie, het een van die uniekste debatte tussen Jode en Christene in die Europese geskiedenis gedurende dié tydperk, in 1263, plaasgevind. Wie was daarby betrokke? Wat was die geskille? Hoe kan dit ons vandag help om die ware godsdiens te identifiseer?
Wat het tot die debat aanleiding gegee?
Deur die Middeleeue heen het die Rooms-Katolieke Kerk hom as die ware godsdiens voorgedoen. Maar die Jode het voet by stuk gehou dat húlle die uitverkore volk van God is. Die kerk se onvermoë om die Jode daarvan te oortuig dat hulle hulle moet bekeer, het tot frustrasie en dikwels ook tot geweld en vervolging gelei. Gedurende die Kruistogte het tienduisende Jode hulle lewe op wrede wyse verloor of op die brandstapel gesterf toe hulle die keuse tussen doop of die dood gebied is. In baie lande het anti-Semitisme wat deur die kerk aangestig is hoogty gevier.
’n Ander gees het egter in Katolieke Spanje van die 12de en 13de eeu geheers. Jode het godsdiensvryheid geniet—solank hulle nie die Christelike geloof aangeval het nie—en is selfs belangrike posisies aan die koning se hof gegee. Maar nadat hulle ongeveer ’n eeu lank sodanige guns geniet het, het Dominikaanse priesters stappe gedoen om die Joodse invloed in die gemeenskap te verminder en om die Jode tot Katolisisme te bekeer. Die Dominikane het druk op koning Jakobus I van Aragon uitgeoefen om ’n amptelike debat te reël, waarvan die doel was om te bewys dat die Joodse godsdiens minderwaardig was en dat dit vir alle Jode nodig was om hulle te bekeer.
Dit was nie die eerste debat tussen Jode en Christene nie. In 1240 is ’n amptelike redetwis in Parys, Frankryk, gehou. Die hoofdoel daarvan was om die Talmoed, ’n heilige boek vir die Jode, op die proef te stel. Die Joodse deelnemers is egter min vryheid van spraak gegun. Nadat die kerk sy oorwinning in hierdie redetwis verklaar het, is hope eksemplare van die Talmoed op die openbare pleine verbrand.
Maar die verdraagsamer gees van koning Jakobus I van Aragon het nie so ’n skynverhoor geduld nie. Die Dominikane het dit besef en ’n ander benadering probeer. Soos Hyam Maccoby dit in sy boek Judaism on Trial gestel het, het hulle die Jode “eerder onder die skyn van hoflikheid en oorreding as veroordeling soos in Parys” na ’n debat genooi. Die Dominikane het Pablo Christiani, ’n Jood wat hom tot Katolisisme bekeer het en ’n Dominikaanse priester geword het, as hulle vernaamste verteenwoordiger aangestel. Deur Pablo Christiani se kennis van die Talmoed en rabbynse geskrifte te gebruik, was die Dominikane seker daarvan dat hulle hulle saak kon bewys.
Waarom Naḥmanides?
Net een persoon in Spanje het die geestelike kaliber gehad om die Joodse kant van die debat te verteenwoordig—Moses ben Naḥman, oftewel Naḥmanides.a Naḥmanides is omstreeks 1194 in die stad Gerona gebore en het hom reeds in sy tienerjare as ’n Bybelkenner en Talmoedis onderskei. Teen 30-jarige ouderdom het hy kommentare op die grootste deel van die Talmoed geskryf, en kort daarna het hy ’n vername stem gehad in die bemiddeling van die geskil oor Maimonides se geskrifte wat gedreig het om die Joodse gemeenskap te verdeel.b Naḥmanides word as die grootste Joodse Bybelkenner en Talmoedis van sy geslag beskou en word dalk net deur Maimonides oortref wat sy invloed op Judaïsme gedurende daardie tydperk betref.
Naḥmanides het groot invloed op die Joodse gemeenskap in Katalonië uitgeoefen, en selfs koning Jakobus I het hom oor verskeie sake rakende die staat geraadpleeg. Sy skerp denkvermoë is deur Jood sowel as nie-Jood gerespekteer. Die Dominikane het besef dat hy, die Jode se vernaamste rabbi, die een sou moes wees met wie hulle die debat voer as hulle die Jode doeltreffend wou verneder.
Naḥmanides wou nie werklik tot die debat toestem nie, want hy het besef dat die Dominikane glad nie van plan was om onpartydig te wees nie. Hy sou vrae moes beantwoord, maar sou geen vrae kon stel nie. Hy het egter aan die koning se versoek voldoen en toestemming gevra om hom vryelik uit te spreek wanneer hy sy antwoorde gee. Koning Jakobus I het hiertoe toegestem. Só ’n vergunning vir relatiewe vryheid van spraak was sonder presedent en is nie gedurende die Middeleeue herhaal nie, wat ’n duidelike bewys van die koning se hoë agting vir Naḥmanides was. Naḥmanides het nogtans sy bedenkinge gehad. As hy na hulle mening té vyandig in die debat was, sou dit rampspoedige gevolge vir hom sowel as vir die Joodse gemeenskap hê. Geweld kon enige tyd losbars.
Naḥmanides versus Pablo Christiani
Die debat is hoofsaaklik in die koning se paleis in Barcelona gevoer. Vier sessies is gehou—20, 23, 26 en 27 Julie 1263. Die koning self was die voorsitter by elke sessie, wat ook deur verskeie hooggeplaastes van die Kerk en die Staat sowel as deur Jode van die plaaslike gemeenskap bygewoon is.
Die kerk het nooit aan die uitslag van die debat getwyfel nie. Die Dominikane het in hulle amptelike verslag gesê dat die doel van die debat ‘nie was om die geloof te betwis asof dit ’n saak is waaroor twyfel bestaan nie, maar om die dwaalbegrippe van die Jode tot niet te maak en die vaste geloof van baie Jode te vernietig’.
Hoewel Naḥmanides byna 70 jaar oud was, het hy sy helder denkvermoë getoon deur te versoek dat slegs wesenlike geskille bespreek word. Hy het begin deur te sê: “[Vorige] redetwiste tussen nie-Jode en Jode het oor baie fasette van godsdiensgebruike gehandel waarvan die grondbeginsels van die geloof nie afhanklik is nie. Maar in hierdie koninklike hof wil ek slegs oor sake debatteer waarop die hele geskil betrekking het.” Daar is toe ooreengekom dat die onderwerpe beperk sou word tot: of die Messias reeds gekom het, of hy God of ’n mens was en of Jode of Christene die ware wet het.
Tydens sy openingsrede het Pablo Christiani gesê dat hy uit die Talmoed sal bewys dat die Messias reeds gekom het. As dít die geval was, het Naḥmanides vinnig geantwoord, waarom het die rabbi’s wat die Talmoed aanvaar dan nie vir Jesus aanvaar nie? In plaas van sy argumente op duidelike skriftuurlike redenasies te grond, het Christiani herhaaldelik na onduidelike rabbynse skrifgedeeltes verwys om sy argumente te staaf. Naḥmanides het dit puntsgewyse weerlê deur te toon dat dit buite verband aangehaal is. Dit spreek vanself dat Naḥmanides hom sou kon onderskei as iemand wat bevoegder is om te debatteer oor hierdie geskrifte wat hy sy hele lewe lank bestudeer het. Selfs wanneer Christiani na die Skrif verwys het, het sy argumente punte uitgelig wat maklik weerlê kon word.
Hoewel Naḥmanides net toegelaat is om vrae te beantwoord, kon hy kragtige argumente voorlê wat getoon het waarom die posisie van die Katolieke Kerk vir Jode sowel as ander denkers onaanvaarbaar is. Hy het oor die Drie-eenheidsleer gesê: “Die verstand van enige Jood of enige mens sal hom nie toelaat om te glo dat die Skepper van hemel en aarde . . . deur die baarmoeder van ’n Jodin sou gaan . . . en later oorgegee [sou word] in die hande van sy vyande, wat . . . hom doodgemaak het nie.” Naḥmanides het saaklik verklaar: “Wat jy glo—en dit is die grondslag van jou geloof—is nie aanvaarbaar vir die [redelike] verstand nie.”
Ter beklemtoning van ’n teenstrydigheid wat veroorsaak dat baie Jode tot vandag toe nie eers die moontlikheid wil oorweeg dat Jesus die Messias is nie, het Naḥmanides die aandag op die groot bloedskuld van die kerk gevestig. Hy het gesê: “Die profeet sê dat mense in die tyd van die Messias . . . van hulle swaarde ploegskare sal smee en van hulle spiese snoeimesse; nasie sal nie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. Sedert die dae van die Nasarener tot vandag toe is die ganse wêreld vol geweld en roof. [Ja], die Christene vergiet meer bloed as die res van die nasies, en hulle lei ook onsedelike lewens. Hoe moeilik sou dit tog wees vir u, my heer die koning, en u ridders as hulle nie meer sou leer om oorlog te voer nie!”—Jesaja 2:4.
Ná die vierde sessie het die koning die debat stopgesit. Hy het vir Naḥmanides gesê: “Ek het nog nooit ’n man wat verkeerd is so goed soos jy sien redeneer nie.” Trou aan sy belofte, wat vryheid van spraak en beskerming vir Naḥmanides gewaarborg het, het koning Jakobus I van Aragon hom huis toe gestuur, tesame met ’n geskenk van 300 dinar. Op versoek van die biskop van Gerona het Naḥmanides die debat op skrif gestel.
Hoewel die Dominikane ’n beslissende oorwinning verklaar het, was hulle merkbaar ontsteld. Hulle het later beskuldigings teen Naḥmanides ingebring vir lasteringe teen die kerk en het sy geskrifte oor die debat as bewyse gebruik. Die Dominikane was ontevrede oor hoe die koning Naḥmanides behandel het en het hulle op pous Clemens IV beroep. Hoewel Naḥmanides oor die 70 jaar oud was, is hy uit Spanje verban.c
Waar lê die waarheid?
Het die argument van enige van die twee kante die ware godsdiens help identifiseer? Terwyl elke kant die foute van die ander uitgelig het, het nie een ’n duidelike boodskap van waarheid aangebied nie. Wat Naḥmanides op so ’n bekwame wyse weerlê het, was nie die ware Christelike geloof nie, maar eerder mensgemaakte leerstellings, soos die Drie-eenheidsleer, wat eeue ná Jesus deur die Christendom versin is. Die Christendom se onsedelike gedrag en moedswillige bloedvergieting, waarop Naḥmanides so moedig die aandag gevestig het, is ook onbetwisbare geskiedenisfeite.
Onder hierdie omstandighede is dit nie moeilik om te verstaan waarom Naḥmanides en ander Jode nie deur die argumente ten gunste van die Christelike geloof beïndruk is nie. Daarbenewens was Pablo Christiani se argumente nie op duidelike redenasies uit die Hebreeuse Geskrifte gegrond nie, maar op die wantoepassing van rabbynse bronne.
Nee, Naḥmanides het nie die ware Christelike geloof weerlê nie. Teen die tyd dat hy gelewe het, was die ware lig van Jesus se leringe en die bewyse van sy Messiasskap deur wanvoorstellings verduister. Jesus en die apostels het in werklikheid voorspel dat sulke afvallige leringe sou ontstaan.—Matteus 7:21-23; 13:24-30, 37-43; 1 Timoteus 4:1-3; 2 Petrus 2:1, 2.
Maar die ware godsdiens kan vandag duidelik geïdentifiseer word. Jesus het aangaande sy ware volgelinge gesê: “Aan hulle vrugte sal julle hulle herken. . . . Net so bring elke goeie boom goeie vrugte voort, maar elke slegte boom bring waardelose vrugte voort” (Matteus 7:16, 17). Ons nooi jou uit om daardie identifisering te doen. Laat Jehovah se Getuies jou help om die skriftuurlike bewyse onbevooroordeeld te ondersoek. Sodoende sal jy die ware betekenis leer van al God se beloftes wat met die Messias en sy heerskappy verband hou.
[Voetnote]
a Baie Jode verwys na Naḥmanides as “Ramban”, ’n Joodse akroniem gevorm uit die beginletters van die woorde “Rabbi Moses Ben Naḥman”.
b Sien die artikel “Maimonides—Die man wat Judaïsme opnuut omskryf het” in Die Wagtoring van 1 Maart 1995, bladsye 20-3.
c In 1267 het Naḥmanides aangekom in die land wat nou Israel genoem word. Gedurende sy laaste jare het hy baie bereik. Hy het weer ’n sterk Joodse teenwoordigheid en ’n studiesentrum in Jerusalem tot stand gebring. Hy het ook ’n kommentaar op die Tora, die eerste vyf boeke van die Bybel, voltooi en die geestelike hoof van die Joodse gemeenskap in die noordelike kusstad Acre geword, waar hy in 1270 oorlede is.
[Prent op bladsy 20]
Naḥmanides het sy saak in Barcelona beredeneer
[Foto-erkenning op bladsy 19]
Illustrasies op bladsye 19-20: Weergegee uit Illustrirte Pracht - Bibel/Heilige Schrift des Alten und Neuen Testaments, nach der deutschen Uebersetzung D. Martin Luther’s