Kan godsdienswaarheid gevind word?
IN Swede het ’n geestelik weetgierige man in die universiteitsdorp Uppsala besluit om die opvattings van verskillende godsdienste in sy dorp te ondersoek, en hy het selfs hulle plekke van aanbidding besoek. Hy het na hulle geestelikes geluister wanneer hulle gepreek het en onderhoude met van die lidmate gevoer. Hy het opgemerk dat dit net Jehovah se Getuies was wat oortuig gelyk het dat hulle “die waarheid gevind het”. Omdat daar so ’n verskeidenheid van godsdiensbeskouings bestaan, het hy gewonder hoe die Getuies so ’n bewering kon maak.
Dink jy persoonlik dat dit moontlik is om die waarheid omtrent godsdiens te vind? Sou dit selfs moontlik wees om dít wat die algehele waarheid genoem kan word te bepaal?
Filosofie en die waarheid
Diegene wat filosofie bestudeer het, het die beskouing ontwikkel dat die algehele waarheid nie binne die mens se bereik is nie. Jy weet dalk dat filosofie omskryf word as “die wetenskap wat daarna strewe om die oorsprong en bestaan van die lewe te verduidelik”. Maar dit gaan in der waarheid selde so ver. Die Sweedse outeur Alf Ahlberg het in Filosofins Historia (Die geskiedenis van die filosofie) geskryf: “Baie filosofiese vrae is van so ’n aard dat dit nie moontlik is om ’n definitiewe antwoord daarop te gee nie. . . . Baie mense huldig die mening dat alle metafisiese probleme [wat met die basiese beginsels van dinge verband hou] by hierdie . . . groep hoort.”
Gevolglik het dié wat deur filosofie daarna gestrewe het om ’n antwoord op hierdie wesenlike lewensvrae te verkry, gevind dat dit baie keer op teleurstelling of angs uitloop. Die Sweedse skrywer Gunnar Aspelin het in sy boek Tankelinjer och trosformer (Denkrigtings en godsdiensoortuigings) geskryf: “Wat ons wel sien, is dat die natuur net so min in die mens as in die vlinder en die muskiet belangstel . . . Ons staan magteloos, heeltemal magteloos, teenoor die kragte wat hulle in die kosmos en in ons innerlike wêreld afspeel. Dit is die lewensbeskouing wat so dikwels in lektuur verskyn het aan die einde van ’n eeu waarin mense geloof in vooruitgang gestel en van ’n beter toekoms gedroom het.”
Is ’n openbaring van waarheid nodig?
Dit is duidelik dat blote menslike pogings om die waarheid omtrent die lewe te vind nie suksesvol is nie, en dit lyk ook nie of hulle dit ooit sal kan vind nie. Daar kan dus tereg tot die gevolgtrekking gekom word dat die een of ander Goddelike openbaring nodig is. Sekere openbaringe word verskaf in die so genoemde boek van die natuur. Al verskaf dit nie onweerlegbare besonderhede aangaande die oorsprong van die lewe nie, toon dit wel dat daar iets baie meer bevredigends as ’n suiwer materialistiese verduideliking van die lewe is. ’n Grashalm wat opwaarts groei, is in werklikheid aan ander wette onderworpe as ’n hoop rotse in ’n verbrokkelende gat. Lewende dinge in die natuur bou en organiseer hulleself op ’n wyse waarop dooie dinge dit nie doen nie. ’n Bekende kenner van die wet en van godsdiens het dus met goeie rede tot die slotsom gekom dat “[God se] onsigbare eienskappe . . . van die wêreld se skepping af duidelik gesien [word], omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is”.—Romeine 1:20.
Maar om vas te stel wie vir al hierdie bouwerk en organisasie verantwoordelik is, het ons ’n verdere openbaring nodig. Moet ons nie verwag dat so ’n openbaring wel bestaan nie? Sou dit nie redelik wees om te verwag dat die Een wat verantwoordelik is vir lewe op die aarde hom aan sy skepsele sou openbaar nie?
Die Bybel beweer dat dit so ’n openbaring is. Ons het al dikwels in hierdie tydskrif goeie redes voorgelê waarom hierdie bewering aanvaar kan word en baie denkende mense het dit ook aanvaar. Dit is op sigself nogal merkwaardig dat die manne wat die Bybel geskryf het besorg daaroor was om dit duidelik te maak dat wat hulle geskryf het nie hulle eie was nie. Ons vind dat die profete van die Bybel meer as 300 keer uitdrukkings gebruik soos: “So sê die HERE” (Jesaja 37:33; Jeremia 2:2; Nahum 1:12). Jy weet waarskynlik dat mans en vrouens wat boeke of artikels skryf gewoonlik taamlik besorg daaroor is om hulle werk te onderteken. Nogtans het diegene wat die Bybel geskryf het hulle op die agtergrond gehou; in sommige gevalle is dit moeilik om te bepaal wie sekere dele van die Bybel geskryf het.
’n Ander sy van die Bybel wat jy moontlik betekenisvol sal vind, is die innerlike harmonie daarvan. Dit is werklik merkwaardig as daar in ag geneem word dat die 66 boeke van die Bybel oor ’n tydperk van 1 600 jaar geskryf is. Gestel jy gaan na ’n openbare biblioteek en kies 66 godsdiensboeke wat oor ’n tydperk van 16 eeue geskryf is. Dan laat jy hierdie individuele boeke in een bundel saambind. Sou jy verwag dat daardie bundel ’n gemeenskaplike tema en harmoniese boodskap moet hê? Beswaarlik. Dit sou ’n wonderwerk vereis. Beskou die volgende: Die boeke van die Bybel het wel so ’n gemeenskaplike tema, en hulle ondersteun mekaar. Dit bewys dat daar een opperbrein, of outeur, is wat gerig het wat die Bybelskrywers opgeteken het.
Daar is egter iets wat die Goddelike oorsprong van die Bybel meer as enigiets anders bewys. Profesieë—inligting wat vooruit geskryf is oor wat definitief in die toekoms sou gebeur. Uitdrukkings soos: “Dit moet op dié dag geskied”, en: “Dit moet geskied in die laaste dae”, is eie aan die Bybel (Jesaja 2:2, NW; 11:10, 11, NW; 23:15, NW; Esegiël 38:18, NW; Hosea 2:20-23, NW; Sagaria 13:2-4, NW). Honderde jare voordat Jesus Christus op die aarde verskyn het, het profesieë in die Hebreeuse Geskrifte besonderhede omtrent sy lewe verskaf—van sy geboorte tot sy dood. Daar kan tot geen ander redelike slotsom gekom word buiten dat die Bybel die bron van waarheid oor die lewe is nie. Jesus het dit self bevestig met die woorde: “U woord is waarheid.”—Johannes 17:17.
Godsdiens en die waarheid
Selfs mense wat beweer dat hulle geloof in die Bybel stel, glo nie dat algehele waarheid gevind kan word nie. John S. Spong, ’n Amerikaanse geestelike, het gesê: “Ons moet . . . wegbeweeg van die idee dat ons die waarheid het en dat ander ons sienswyse moet aanvaar, en ons moet tot die besef kom dat algehele waarheid buite ons almal se bereik is.” ’n Rooms-Katolieke skrywer, Christopher Derrick, verskaf een rede vir sulke negatiewe beskouings oor pogings om die waarheid te vind: “Enige verwysing na godsdienstige ‘waarheid’ impliseer die een of ander aanspraak dat jy weet . . . Jy impliseer dat iemand anders moontlik verkeerd is; en dit sal hoegenaamd nie deug nie.”
As ’n denkende persoon sal dit egter goed wees as jy sekere pertinente vrae oorweeg. Indien die waarheid nie gevind sou kon word nie, waarom het Jesus Christus gesê: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak”? En waarom het een van Jesus se apostels gesê dat dit God se wil is dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom”? Waarom kom die woord “waarheid” meer as honderd keer in die Christelike Griekse Geskrifte voor in verband met geloof? Ja, waarom, indien die waarheid nie gevind kan word nie?—Johannes 8:32; 1 Timoteus 2:3, 4.
Jesus het getoon dat die waarheid nie net gevind kan word nie, maar dat dit gevind moet word voordat ons aanbidding deur God goedgekeur sal word. Toe ’n Samaritaanse vrou gewonder het wat die ware vorm van aanbidding is—die aanbidding wat deur die Jode in Jerusalem beoefen word of wat deur die Samaritane op die berg Gerisim beoefen word—het Jesus nie geantwoord deur te sê dat die waarheid onbereikbaar is nie. Hy het eerder gesê dat “ware aanbidders die Vader met gees en waarheid sal aanbid, want die Vader soek inderdaad sulke mense om hom te aanbid. God is ’n Gees, en dié wat hom aanbid, moet met gees en waarheid aanbid.”—Johannes 4:23, 24.
Baie mense beweer: ‘Die Bybel kan op verskeie maniere vertolk word, en daarom kan ’n mens nie werklik met sekerheid sê wat waarheid is nie.’ Maar is die Bybel werklik op so ’n vae manier geskryf dat jy nie seker kan wees hoe dit verstaan moet word nie? Daar moet toegegee word dat sekere profetiese en simboliese taal moeilik is om te begryp. God het byvoorbeeld vir Daniël gesê dat sy boek, wat baie profetiese taal bevat, eers in die “tyd van die einde” ten volle verstaan sou kon word (Daniël 12:9). En dit is voor die hand liggend dat sekere gelykenisse en simbole vertolk moet word.
Maar dit is duidelik dat die Bybel baie reguit is wanneer dit by basiese Christelike leerstellings en sedelike waardes kom wat noodsaaklik is om God in waarheid te aanbid. Dit laat geen ruimte vir teenstrydige vertolkings nie. In die brief aan die Efesiërs word daar van die Christelike geloof as “een” gepraat, wat toon dat daar nie baie gelowe moes wees nie (Efesiërs 4:4-6). Jy wonder miskien: ‘Waarom is daar soveel “Christen”-denominasies as die Bybel nie met reg op verskillende maniere vertolk kan word nie?’ Ons vind die antwoord as ons na die tydperk terugkyk kort nadat Jesus se apostels gesterf het en ’n afvalligheid van die ware Christelike geloof ontwikkel het.
‘Die koring en die onkruid’
Jesus het hierdie afvalligheid in sy gelykenis van die koring en die onkruid voorspel. Jesus self het verduidelik dat “die koring” ware Christene voorstel; “die onkruid” stel valse, of afvallige, Christene voor. “Terwyl die mense geslaap het”, het Jesus gesê, sou ’n “vyand” onkruid in die koringland saai. Hierdie saaiwerk het begin nadat die apostels in die dood ontslaap het. Die gelykenis toon dat hierdie verwarring van ware Christene met valse Christene tot aan “die voleinding van die stelsel van dinge” sou aanhou. Gevolglik is die identiteit van ware Christene deur die eeue heen verborge, omdat die godsdiensgebied oorheers word deur diegene wat bloot naamchristene is. Daar sou egter met “die voleinding van die stelsel van dinge” ’n verandering plaasvind. “Die Seun van die mens” sou “sy engele uitstuur” om die valse Christene van ware Christene af te skei. Dit beteken dat die Christengemeente dan maklik herkenbaar sou wees en dieselfde status sou hê as wat dit in die tyd van die apostels gehad het.—Matteus 13:24-30, 36-43.
Beide Jesaja en Miga se profesieë voorspel so ’n herinsameling van ware aanbidders “aan die einde van die dae”. Jesaja sê: “Aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel.” ’n Nugtere ontleding van die feite toon dat Jesaja se profesie in ons tyd vervul word.—Jesaja 2:2, 3; Miga 4:1-3.
Die groei van die Christengemeente vind egter nie plaas deur die een of ander menslike poging nie. Jesus het voorspel dat hy ‘sy engele sal uitstuur’ om ’n insamelingswerk te doen. Hy het ook ’n baie spesiale doel daarvoor aangedui: “In dié tyd sal die regverdiges so helder soos die son skyn in die koninkryk van hulle Vader” (Matteus 13:43). Dit toon dat ’n verligtende, of opvoedkundige, werk wêreldwyd deur die Christengemeente gedoen sou word.
Jehovah se Getuies sien ’n vervulling van hierdie profesieë in die opvoedkundige werk wat hulle vandag in 232 lande doen. Deur die Getuies se geloof, gedragstandaarde en organisasie met die Bybel te vergelyk, kan onbevooroordeelde persone duidelik sien dat dit ooreenstem met dié van die eerste-eeuse Christengemeente. Die Getuies praat van hulle geloof as “die waarheid”, maar nie omdat hulle verwaand is en dink dat hulle beter as ander is nie. Hulle doen dit eerder omdat hulle God se Woord, die Bybel, intensief bestudeer het en dit as die enigste maatstaf gebruik waarmee godsdiens tereg gemeet kan word.
Die vroeë Christene het na hulle geloof as “die waarheid” verwys (1 Timoteus 3:15; 2 Petrus 2:2; 2 Johannes 1). Wat vir hulle die waarheid was, moet ook vir ons vandag die waarheid wees. Jehovah se Getuies nooi almal uit om self daarvan seker te maak deur die Bybel te bestudeer. Ons vertrou dat jy, deur dit te doen, ook die vreugde sal ervaar wat nie net daaruit spruit dat jy ’n godsdiens gevind het wat ander oortref nie, maar dat jy die waarheid gevind het!
[Venster op bladsy 5]
SOMMIGE FILOSOFIEË VERSUS DIE WAARHEID
POSITIVISME: Die beskouing dat alle idees van ’n godsdienstige aard onbewysbare onsin is en dat die doel van filosofie is om die positiewe wetenskappe te verenig om ’n geheel te vorm.
EKSISTENSIALISME: Die voorstanders daarvan is baie sterk beïnvloed deur die gruwels van die Tweede Wêreldoorlog en het dus ’n pessimistiese beskouing van die lewe gekry. Dit beklemtoon dat die mensdom se angs in die lig van die dood en die leegheid van die lewe ondersoek moet word. Die eksistensialistiese skrywer Jean-Paul Sartre het gesê dat, aangesien daar geen God is nie, die mens verlate is en in ’n heelal bestaan wat volkome gevoelloos is.
SKEPTISISME: Die beskouing dat dit onmoontlik is om deur waarneming en rede enige objektiewe, universele kennis—enige waarheid—omtrent ons bestaan te verkry.
PRAGMATISME: Hiervolgens word die werklike waarde van ons oortuiging alleenlik geëvalueer op grond van hoe dit prakties verband hou met menslike belange, soos in die hervorming van opvoeding, sedes en die politiek. Dit heg geen waarde aan die waarheid as sodanig nie.
[Foto-erkenning op bladsy 2]
Page 3: Second from left: Courtesy of The British Museum; Right: Sung Kyun Kwan University, Seoul, Korea