Flitse van lig in apostoliese tye
“Lig het vir die regverdige opgegaan, en vreugde selfs vir die opregtes van hart.”—PSALM 97:11, NW.
1. Hoe kom Jehovah se Getuies vandag met die vroeë Christene ooreen?
HOE waardeer ons, as ware Christene, tog nie die woorde van Psalm 97:11 nie! Daar het herhaaldelik vir ons ‘lig opgegaan’. Trouens, party van ons sien Jehovah se flitsende verligting al dekades lank. Dit herinner ons aan Spreuke 4:18, wat sê: “Die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe.” Ons, as Getuies van Jehovah, kom met die vroeë Christene ooreen, aangesien ons die Skrif belangriker as tradisie ag. Ons kan duidelik sien wat hulle gesindheid was deur te kyk na die geskiedkundige boeke van die Christelike Griekse Geskrifte en die briewe daarin, wat onder Goddelike inspirasie geskryf is.
2. Wat was van die eerste flitse van lig wat Jesus se volgelinge ontvang het?
2 Van die eerste flitse van lig wat Jesus Christus se vroeë volgelinge ontvang het, het met die Messias verband gehou. Andreas het vir sy broer Simon Petrus gesê: “Ons het die Messias gevind” (Johannes 1:41). ’n Ruk later het die hemelse Vader die apostel Petrus in staat gestel om hiervan te getuig toe hy vir Jesus Christus gesê het: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”—Matteus 16:16, 17; Johannes 6:68, 69.
Lig in verband met hulle predikingsopdrag
3, 4. Watter verligting aangaande hulle toekomstige bedrywigheid het Jesus sy volgelinge ná sy opstanding gegee?
3 Jesus Christus het ná sy opstanding flitse van lig gegee aangaande ’n verpligting wat op al sy volgelinge rus. Dit was heel waarskynlik vir die 500 dissipels wat in Galilea byeen was wat hy gesê het: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het. En kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Matteus 28:19, 20; 1 Korintiërs 15:6). Vervolgens moes al Christus se volgelinge predikers wees, en hulle predikingsopdrag moes nie tot “die verlore skape van die huis van Israel” beperk word nie (Matteus 10:6). Hulle moes mense ook nie met Johannes se doop as simbool van berou vir die vergifnis van sondes doop nie. Hulle moes mense eerder “in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees” doop.
4 Net voor Jesus na die hemel opgevaar het, het sy 11 getroue apostels gevra: “Here, herstel u in hierdie tyd die koninkryk vir Israel?” Jesus het nie daardie vraag beantwoord nie, maar het eerder verdere onderrigting oor hulle predikingsopdrag gegee en gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die heilige gees op julle kom, en julle sal getuies van my wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde.” Tot op daardie tydstip was hulle net getuies van Jehovah, maar nou sou hulle ook getuies van Christus wees.—Handelinge 1:6-8.
5, 6. Watter flitse van lig het Jesus se dissipels op Pinkster ontvang?
5 Watter helder flitse van lig het Jesus se volgelinge skaars tien dae later ontvang! Op Pinkster 33 G.J. het hulle vir die eerste keer besef wat Joël 2:28, 29 beteken: “Ek [Jehovah, sal] my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet.” Jesus se dissipels het die heilige gees gesien in die vorm van tonge soos van vuur bo die koppe van almal—ongeveer 120 manne en vroue—wat in Jerusalem byeen was.—Handelinge 1:12-15; 2:1-4.
6 Die dissipels het ook op Pinkster eers verstaan dat die woorde van Psalm 16:10 op die verrese Jesus Christus van toepassing is. Die psalmis het gesê: “U [Jehovah God] sal my siel aan die doderyk nie oorgee nie; U sal nie toelaat dat u gunsgenoot verderwing sien nie.” Die dissipels het besef dat daardie woorde nie op koning Dawid van toepassing kon gewees het nie, want sy graf was tot daardie dag toe nog by hulle. Dit is geen wonder nie dat ongeveer 3 000 van dié wat die verduideliking van hierdie nuwe lig gehoor het so oortuig was dat hulle daardie selfde dag nog gedoop is!—Handelinge 2:14-41.
7. Watter helder lig het die apostel Petrus tydens sy besoek aan die Romeinse leëroffisier Kornelius ontvang?
7 Baie eeue lank het die Israeliete waardeer wat God oor hulle gesê het: “Julle alleen het Ek geken uit al die geslagte van die aarde” (Amos 3:2). Dit was dus inderdaad ’n helder flits van lig wat die apostel Petrus en diegene wat hom na die huis van die Romeinse leëroffisier Kornelius vergesel het, ontvang het toe die heilige gees die eerste keer op onbesnede nie-Joodse gelowiges neergedaal het. Dit is noemenswaardig dat dit die enigste keer is wat die heilige gees aan mense gegee is voor hulle gedoop is. Maar dit was nodig. Anders sou Petrus nie geweet het dat hierdie onbesnede nie-Jode aan die vereistes vir doop voldoen het nie. Petrus het die belangrikheid van hierdie verskynsel ten volle besef en gevra: “Kan enigeen water verbied sodat hierdie mense [nie-Jode], wat net soos ons die heilige gees ontvang het, nie gedoop word nie?” Niemand daar kon natuurlik tereg daarteen beswaar maak nie, en hierdie nie-Jode is derhalwe gedoop.—Handelinge 10:44-48; vergelyk Handelinge 8:14-17.
Geen besnydenis meer nie
8. Waarom was dit vir party vroeë Christene moeilik om van die besnydenis af te sien?
8 Daar was ’n verdere helder flits van waarheid in verband met die besnydeniskwessie. Die besnydenisgebruik het in 1919 v.G.J. begin toe Jehovah sy verbond met Abraham gesluit het. God het toe beveel dat Abraham en al die manlike lede in sy huis besny moet word (Genesis 17:9-14, 23-27). Die besnydenis het dus ’n kenmerk van Abraham se nakomelinge geword. En hoe trots was hulle tog op hierdie gebruik! “Onbesnedene” het gevolglik ’n uitdrukking van veragting geword (Jesaja 52:1; 1 Samuel 17:26, 27). Dit is maklik om te sien waarom sekere vroeë Joodse Christene hierdie teken wou behou. Party van hulle het ’n groot bespreking met Paulus en Barnabas hieroor gehad. Om dit op te los, het Paulus en ander na Jerusalem toe gegaan om die Christelike bestuursliggaam te raadpleeg.—Handelinge 15:1, 2.
9. Watter flitse van lig is aan die vroeë bestuursliggaam geopenbaar, soos in Handelinge hoofstuk 15 opgeteken is?
9 Hierdie keer was dit nie deur middel van ’n onmiskenbare wonderwerk wat daardie vroeë Christene die lig ontvang het dat die besnydenis nie meer ’n vereiste vir Jehovah se knegte is nie. Hulle het eerder hierdie helderder lig ontvang deur die Skrif te ondersoek, op die heilige gees vir leiding staat te maak en Petrus en Paulus se ondervindinge in verband met die bekering van onbesnede nie-Jode aan te hoor (Handelinge 15:6-21). Die beslissing is in ’n brief bekend gemaak wat deels gesê het: “Die heilige gees en ons het dit goedgedink om geen verdere las vir julle by te voeg nie, behalwe hierdie noodsaaklike dinge: om julle voortdurend te onthou van afgodsofferandes en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery” (Handelinge 15:28, 29). Die vroeë Christene is dus van die bevel om hulle te besny en van die ander vereistes van die Mosaïese Wet vrygestel. Paulus kon derhalwe vir die Christene in Galasië sê: “Vir sulke vryheid het Christus ons vrygemaak.”—Galasiërs 5:1.
Lig in die Evangelies
10. Wat is party van die flitse van lig wat in Matteus se Evangelie geopenbaar is?
10 Dit ly geen twyfel nie dat die Evangelie van Matteus, wat omstreeks 41 G.J. geskryf is, baie flitse van lig bevat wat die lesers daarvan tot voordeel strek. Betreklik min van die eerste-eeuse Christene het self gehoor hoe Jesus sy leringe uiteensit. Matteus se Evangelie het veral beklemtoon dat die tema van Jesus se predikingswerk die Koninkryk was. En watter klem het Jesus tog gelê op die belangrikheid daarvan om die regte beweegrede te hê! Watter flitse van lig was daar tog nie in sy Bergpredikasie, in sy gelykenisse (soos dié wat in hoofstuk 13 opgeteken is) en in sy groot profesie in hoofstukke 24 en 25 nie! Al hierdie dinge is onder die vroeë Christene se aandag gebring in Matteus se Evangelieverslag wat eers ongeveer agt jaar ná Pinkster 33 G.J. geskryf is.
11. Wat kan oor die inhoud van die Evangelies van Lukas en Markus gesê word?
11 Sowat 15 jaar later het Lukas sy Evangelie geskryf. Hoewel baie daarvan met Matteus se verslag ooreenkom, is 59 persent bykomende inligting. Lukas het ses van Jesus se wonderwerke en meer as twee keer soveel van Sy illustrasies opgeteken wat nie deur die ander Evangelieskrywers gemeld word nie. Markus het sy Evangelie blykbaar net ’n paar jaar later geskryf en het klem gelê op Jesus Christus as ’n man van die daad, ’n wonderdoener. Hoewel Markus merendeels gebeure gemeld het wat vroeër deur Matteus en Lukas gedek is, het hy een gelykenis opgeteken wat hulle nie opgeteken het nie. In daardie illustrasie het Jesus die Koninkryk van God vergelyk met saad wat uitspruit, groot word en geleidelik vrug voortbring.a—Markus 4:26-29.
12. In watter mate het Johannes se Evangelie verdere lig voorsien?
12 Dan was daar Johannes se Evangelie, wat geskryf is meer as 30 jaar nadat Markus sy verslag geskryf het. Wat ’n groot straal van lig het Johannes tog op Jesus se bediening gewerp, veral deur baie verwysings na Sy voormenslike bestaan! Net Johannes praat van Lasarus se opstanding, en hy alleen gee aan ons talle van Jesus se uitstekende opmerkings aan sy getroue apostels sowel as sy aangrypende gebed die nag toe hy verraai is, soos in hoofstukke 13 tot 17 opgeteken is. Trouens, daar word gesê dat 92 persent van Johannes se Evangelie uniek is.
Flitse van lig in Paulus se briewe
13. Waarom beskou sommige Paulus se brief aan die Romeine as ’n Evangelie?
13 Die apostel Paulus is veral gebruik om vir Christene wat in apostoliese tye geleef het flitse van waarheid te bring. Daar is byvoorbeeld Paulus se brief aan die Romeine, wat omstreeks 56 G.J. geskryf is—ongeveer dieselfde tyd as wat Lukas sy Evangelie geskryf het. In hierdie brief beklemtoon Paulus die feit dat regverdigheid as gevolg van God se onverdiende goedhartigheid en deur geloof in Jesus Christus toegereken word. Paulus se beklemtoning van hierdie aspek van die goeie nuus het daartoe gelei dat sommige sy brief aan die Romeine as ’n vyfde Evangelie beskou.
14-16. (a) Watter lig het Paulus in sy eerste brief aan die Christene in Korinte op die behoefte aan eensgesindheid gewerp? (b) Watter verdere lig bevat Eerste Korintiërs wat gedrag betref?
14 Paulus het oor sekere sake geskryf waarmee die Christene in Korinte probleme ondervind het. Sy brief aan die Korintiërs is vol geïnspireerde raad wat Christene tot vandag toe tot voordeel strek. Eerstens moes hy die Korintiërs inlig omtrent die fout wat hulle begaan het deur groepe te vorm wat sekere individue aanhang. Die apostel het hulle reggehelp en reguit vir hulle gesê: “Ek vermaan julle dan nou, broers, deur die naam van ons Here Jesus Christus, dat julle almal eenstemmig moet spreek en dat daar nie verdeeldhede onder julle moet wees nie, maar dat julle paslik verenig kan wees in dieselfde denke en in dieselfde gedagtegang.”—1 Korintiërs 1:10-15.
15 Growwe onsedelikheid is in die Christengemeente in Korinte geduld. ’n Man daar het sy vader se vrou geneem en sodoende hoerery beoefen ‘van so ’n aard as wat nie eens onder die nasies voorgekom het nie’. Paulus het onomwonde geskryf: “Verwyder die goddelose mens onder julle uit” (1 Korintiërs 5:1, 11-13). Dit was iets nuuts vir die Christengemeente—uitsetting. Nog iets waaroor die gemeente in Korinte ingelig moes word, het verband gehou met die feit dat party gemeentelede hulle geestelike broers voor wêreldse howe gebring het ten einde griewe uit die weg te ruim. Paulus het hulle streng berispe omdat hulle dit gedoen het.—1 Korintiërs 6:5-8.
16 Nog ’n saak waarmee die gemeente in Korinte probleme gehad het, het met geslagsgemeenskap verband gehou. In 1 Korintiërs hoofstuk 7 het Paulus getoon dat dit weens die algemeenheid van geslagsonsedelikheid goed is as elke man sy eie vrou en elke vrou haar eie man het. Paulus het ook getoon dat ongetroude mense Jehovah wel kan dien sonder om te veel afgelei te word, maar dat nie almal die gawe van die ongetroude lewe het nie. En as ’n vrou se man sou sterf, sou sy vry wees om weer te trou, maar “net in die Here”.—1 Korintiërs 7:39.
17. Watter lig het Paulus op die opstandingsleer gewerp?
17 Watter flitse van lig het die Here Paulus tog nie op die opstanding laat werp nie! Met watter soort liggaam sal gesalfde Christene opgewek word? “Dit word as ’n fisiese liggaam gesaai, dit word as ’n geestelike liggaam opgewek”, het Paulus geskryf. Geen vleeslike liggame sal hemel toe geneem word nie, aangesien “vlees en bloed God se koninkryk nie kan beërf nie”. Paulus het bygevoeg dat nie al die gesalfdes in die dood sal slaap nie, maar dat party gedurende Jesus se teenwoordigheid oombliklik tot onsterflike lewe opgewek sal word wanneer hulle sterf.—1 Korintiërs 15:43-53.
18. Watter lig omtrent die toekoms het Paulus se eerste brief aan die Tessalonisense bevat?
18 In sy brief aan die Christene in Tessalonika is Paulus gebruik om lig op die toekoms te werp. Jehovah se dag sal soos ’n dief in die nag kom. Paulus het ook verduidelik: “Wanneer hulle ook al sê: ‘Vrede en veiligheid!’ dan gaan skielike vernietiging oombliklik oor hulle kom net soos die barenswee oor ’n swanger vrou; en hulle sal hoegenaamd nie ontkom nie.”—1 Tessalonisense 5:2, 3.
19, 20. Watter flitse van lig het die Christene in Jerusalem en Judea in Paulus se brief aan die Hebreërs ontvang?
19 Deur sy brief aan die Hebreërs te skryf, het Paulus flitse van lig aan die vroeë Christene in Jerusalem en Judea oorgedra. Hoe kragtig het hy tog getoon dat die Christelike stelsel van aanbidding voortrefliker as die Mosaïese stelsel van aanbidding is! Christene leef nie volgens die Wet wat deur engele oorgedra is nie, maar hulle het eerder geloof in ’n redding wat eerste deur God se Seun verkondig is, en hy is ver bo sulke engeleboodskappers verhewe (Hebreërs 2:2-4). Moses was net ’n dienaar in die huis van God. Maar Jesus Christus het toesig oor die hele huis. Christus is ’n hoëpriester volgens die wyse van Melgisedek en het ’n posisie wat ver bo die Aäronitiese priesterskap verhewe is. Paulus het ook daarop gewys dat die Israeliete weens ongeloof en ongehoorsaamheid nie in God se rus kon ingaan nie, maar Christene gaan weens hulle getrouheid en gehoorsaamheid in daardie rus in.—Hebreërs 3:1–4:11.
20 Dan is die nuwe verbond ook ver bo die Wetsverbond verhewe. Soos daar 600 jaar vroeër in Jeremia 31:31-34 voorspel is, is God se wet in die hart geskryf van diegene wat in die nuwe verbond is, en hulle geniet ware vergifnis van sondes. Christene het nie ’n hoëpriester wat elke jaar vir sy eie sondes en dié van die volk offers moes bring nie, maar hulle het Jesus Christus as hulle Hoëpriester, wat sonder sonde is en wat eens en vir altyd ’n offer vir sondes gebring het. Hy het nie in ’n heilige plek wat met hande gemaak is, ingegaan om sy offerande aan te bied nie, maar in die hemel self om daar voor die persoon van Jehovah te verskyn. Bowendien kon diereofferandes onder die Mosaïese Wetsverbond sondes nie heeltemal wegneem nie, anders sou hulle dit nie elke jaar geoffer het nie. Maar Christus se offerande, wat eens en vir altyd gebring is, neem wel sondes weg. Al hierdie dinge werp lig op die groot geestelike tempel, in die voorhowe waarvan die gesalfde oorblyfsel en die “ander skape” vandag dien.—Johannes 10:16; Hebreërs 9:24-28.
21. Wat het hierdie bespreking getoon met betrekking tot die vervulling van Psalm 97:11 en Spreuke 4:18 in apostoliese tye?
21 Die ruimte ontbreek om nog voorbeelde te noem, soos flitse van lig wat in die briewe van die apostel Petrus en dié van die dissipels Jakobus en Judas aangetref word. Maar die voorgaande behoort voldoende te wees om te toon dat Psalm 97:11 en Spreuke 4:18 in apostoliese tye op merkwaardige wyse vervul is. Die waarheid het van sinnebeelde en afbeeldings tot vervullings en werklikhede begin vorder.—Galasiërs 3:23-25; 4:21-26.
22. Wat het ná die dood van die apostels gebeur, en wat sal die volgende artikel toon?
22 Ná die dood van Jesus se apostels en die begin van die voorspelde afvalligheid het die lig van waarheid baie flou geskyn (2 Tessalonisense 2:1-11). Maar in ooreenstemming met Jesus se belofte het die Heer ná baie eeue teruggekeer en gevind dat “die getroue en verstandige slaaf” die “huisknegte” hulle voedsel op die regte tyd gee. Gevolglik het Jesus Christus daardie slaaf “oor al sy besittings” aangestel (Matteus 24:45-47). Watter flitse van lig het hierop gevolg? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.
[Voetnoot]
a Die grond het hier betrekking op die milieu waarin die Christen verkies om persoonlikheidseienskappe aan te kweek.—Sien Die Wagtoring, 1 September 1980, bladsye 18-19.
Onthou jy?
◻ Watter Bybeltekste toon dat begrip van die waarheid progressief is?
◻ Wat is party van die flitse van lig wat in die boek Handelinge opgeteken is?
◻ Watter lig word in die Evangelies aangetref?
◻ Watter flitse van lig kom in Paulus se briewe voor?